Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet jy net vir vandag lewe?

Moet jy net vir vandag lewe?

Moet jy net vir vandag lewe?

“EK DINK nooit aan die toekoms nie. Dit kom gou genoeg.” Hierdie woorde wat so dikwels aangehaal word, word toegeskryf aan die welbekende wetenskaplike Albert Einstein. Baie mense spreek soortgelyke gevoelens uit. “Waarom jou oor die toekoms bekommer?” sê hulle miskien. Of dalk het jy mense al hoor sê: “Gaan net voort met jou lewe.” “Lewe vir vandag.” “Vergeet van môre.”

Hierdie algemene beskouing is natuurlik nie nuut nie. “Eet, drink, geniet jou lewe. Die res maak nie saak nie.” Dit was die leuse van die eertydse Epikureërs. Party van die apostel Paulus se tydgenote het ’n soortgelyke beskouing gehad. “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf”, was hulle beskouing (1 Korintiërs 15:32). Hulle het geglo dat hierdie kort lewe al is wat ons ooit sal hê, en daarom het hulle die idee bevorder dat ons hierdie lewe ten beste moet benut.

Om die lewe ten beste te benut, is vir miljoene van die aarde se bewoners allesbehalwe ’n hedonistiese najaging van plesier. Die haglike omstandighede waarin baie hulle bevind, maak dat hulle lewe vandag net ’n meedoënlose, bitter stryd om oorlewing is. Waarom moet hulle aan die toekoms dink, ’n “môre” wat dikwels ontsettend bleek en hopeloos lyk?

Beplan vir môre?

Selfs mense wat hulle nie in sulke moeilike omstandighede bevind nie, meen dikwels dat dit sinloos is om vir môre te beplan. “Waarom die moeite doen?” vra hulle miskien. Party redeneer moontlik dat dié wat wel planne maak, op die ou end ontnugter en teleurgestel word. Selfs die eertydse aartsvader Job het baie wanhopig gevoel toe hy gesien het dat sy planne eenvoudig ‘tot niet is’, wat die einde beteken het van alles wat hom en sy gesin van ’n gelukkige toekoms moes verseker het.—Job 17:11; Prediker 9:11.

Die Skotse digter Robert Burns het ons benarde toestand vergelyk met dié van ’n veldmuis wie se nes Burns per ongeluk met die lem van sy ploeg vernietig het. Die muis het gevlug vir sy lewe nadat sy wêreld onderstebo gekeer is. ‘Ja’, het die digter gedink, ‘hoe dikwels staan ons nie hulpeloos voor gebeure waaroor ons glad geen beheer het nie, sodat selfs die beste planne dikwels deur die mat val.’

Is dit dus sinloos om vir die toekoms te beplan? Die feit is dat ’n gebrek aan voldoende beplanning verwoestende gevolge kan hê wanneer orkane of ander natuurrampe plaasvind. Dit is wel so dat niemand byvoorbeeld die orkaan Katrina sou kon keer nie. Maar sou beter voorsorg en beplanning nie grootliks gehelp het om die verwoestende gevolge vir die stad en sy inwoners te verminder nie?

Wat dink jy? Maak dit werklik sin om net vir vandag te lewe en môre te ignoreer? Kyk wat die volgende artikel oor hierdie onderwerp sê.

[Prente op bladsy 3]

“Eet, drink, geniet jou lewe. Die res maak nie saak nie.”

[Prent op bladsy 4]

Sou voorsorg en beplanning die verwoestende gevolge van die orkaan Katrina verminder het?

[Erkenning]

U.S. Coast Guard Digital