Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het Jesus ’n Bybel besit?

Het Jesus ’n Bybel besit?

Het Jesus ’n Bybel besit?

NEE, Jesus het nie ’n Bybel besit nie. Waarom nie? Omdat die Bybel in sy geheel soos ons dit vandag het, nie in Jesus se tyd bestaan het nie. Sinagoges het egter versamelings boekrolle gehad van geskrifte wat sedertdien deel geword het van die Bybel soos ons dit ken. Jesus het in die sinagoge in Nasaret uit die boekrol van Jesaja gelees (Lukas 4:16, 17). Die apostel Paulus het “die openbare voorlesing van die Wet en van die Profete” in Antiogië in Pisidië gehoor (Handelinge 13:14, 15). En die dissipel Jakobus het gesê dat Moses “elke sabbat in die sinagoges voorgelees” is.—Handelinge 15:21.

Het individue in die eerste eeu boekrolle van die Heilige Skrif besit? Die Etiopiese eunug aan die hof van koningin Kandake het blykbaar, want hy het “in sy wa gesit en die profeet Jesaja hardop gelees” toe die dissipel Filippus hom op die pad na Gasa teëgekom het (Handelinge 8:26-30). Die apostel Paulus het Timoteus gevra om “die boekrolle, veral die perkamente”, te bring (2 Timoteus 4:13). Hoewel Paulus nie gesê het watter boekrolle nie, was dit heel moontlik dele van die Hebreeuse Geskrifte.

Volgens Alan Millard, professor in Semitiese tale, was dit onder die Jode waarskynlik net “bevoorregte manne in Palestina, almal wat beweer het dat hulle geleerd is, party van die Fariseërs en leermeesters soos Nikodemus” wat persoonlik boekrolle van die Skrif kon besit. Een rede hiervoor was die koste. Millard skat dat “’n eksemplaar van Jesaja ses tot tien denarius sou gekos het” en sê dat ’n volledige Hebreeuse Bybel “uit 15 tot 20 boekrolle sou bestaan”, of ongeveer ’n halwe jaar se loon kon kos.

Die Bybel sê nie of Jesus of sy dissipels persoonlike eksemplare van Bybelrolle besit het nie. Daar bestaan egter geen twyfel dat Jesus goed vertroud was met die Skrif en daarna kon verwys of dit uit die hoof kon aanhaal nie (Matteus 4:4, 7, 10; 19:4, 5). Moet dit ons nie vandag beweeg om goed vertroud te raak met die Bybel, aangesien dit oor die algemeen so bekostigbaar en so geredelik beskikbaar is nie?