‘Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom ons’
‘Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom ons’
Soos vertel deur Christabel Connell
Ons was so besig om Christopher se Bybelvrae te beantwoord, dat nie een van ons besef het hoe laat dit is nie; ons het ook nie opgemerk dat Christopher kort-kort by die venster uitkyk nie. Uiteindelik het hy vir ons gesê: “Dis nou veilig om te gaan.” Toe het hy saam met ons na ons fietse gestap en vir ons totsiens gesê. Wat het hy gesien wat so gevaarlik was?
EK IS in 1927 as Christabel Earl gebore in Sheffield, Engeland. Ons huis is gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur ’n bom verwoes, en ek is dus gestuur om by my ouma te gaan bly terwyl ek met skool klaargemaak het. In een kloosterskool wat ek bygewoon het, het ek die nonne bly vra waarom daar soveel boosheid en geweld is. Nie hulle of ander godsdienstige mense wat ek gevra het, kon my ’n bevredigende antwoord gee nie.
Ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog het ek opleiding as ’n verpleegster ontvang. Ek het na Londen getrek om in die Paddington- Algemene Hospitaal te gaan werk, maar in die stad het ek nog meer geweld gesien. Kort nadat my ouer broer in die Koreaanse Oorlog gaan veg het, het ek ’n hewige bakleiery net buite die hospitaal gesien. Niemand het die slagoffer, wat só geslaan is dat hy sy sig verloor het, gehelp nie. Omstreeks hierdie tyd het my ma saam met my na die vergaderinge van spiritualiste gegaan, maar ek het nog steeds nie verstaan waarom daar soveel goddeloosheid is nie.
Aansporing om die Bybel te bestudeer
Eendag het my oudste broer, John, wat een van Jehovah se Getuies geword het, vir my kom kuier. “Weet jy waarom al hierdie slegte dinge gebeur?” het hy gevra. “Nee”, het ek geantwoord. Hy het sy Bybel oopgemaak en Openbaring 12:7-12 gelees. Toe kon ek sien dat Satan en die demone eintlik verantwoordelik is vir die boosheid in die wêreld. Ek het John se raad gevolg en dus kort daarna ’n Bybelstudie aanvaar. Maar op daardie stadium het ek toegelaat dat mensevrees my daarvan weerhou om gedoop te word.—Spr. 29:25.
My suster, Dorothy, het ook ’n Getuie geword. Toe sy en haar verloofde, Bill Roberts, van die internasionale byeenkoms in New York (1953) teruggekeer het, het ek vir hulle gesê dat ek die Bybel gestudeer het. Bill het my gevra: “Het jy al die tekste nageslaan? Het jy die antwoorde in die boek onderstreep?” Toe ek nee antwoord, het hy gesê: “Dan het jy nooit gestudeer nie! Kontak daardie suster en begin weer!” Omstreeks dié tyd het die
demone my begin teister. Ek kan onthou dat ek Jehovah gevra het om my te beskerm en my van hulle invloed te bevry.Pionierdiens in Skotland en Ierland
Ek is op 16 Januarie 1954 gedoop, het my verpleegkontrak in Mei voltooi en het in Junie begin pionier. Agt maande later is ek as ’n spesiale pionier na Grangemouth, Skotland, gestuur. In hierdie afgesonderde toewysing het ek gesien hoe Jehovah se engele ‘kamp opslaan rondom my’.—Ps. 34:7.
In 1956 is ek genooi om in Ierland te gaan dien. Ek en twee ander susters is na die stad Galway gestuur. Op die heel eerste dag het ek aan ’n priester se deur geklop. Minute later het ’n polisieman opgedaag en my en my velddiensmaat na die polisiestasie geneem. Toe hy ons naam en adres gekry het, het hy onmiddellik na die telefoon gestap. Ons het hom hoor sê: “Ja, Vader, ek weet presies waar hulle woon.” Hy is deur die priester gestuur! Die eienaar van die huis waar ons gebly het, is onder druk geplaas om ons uit te sit, en die takkantoor het dus voorgestel dat ons die gebied verlaat. Ons het tien minute laat by die stasie aangekom. Maar die trein was nog daar, en ’n man het gewag om seker te maak dat ons daarop klim. En dít ná net drie weke in Galway!
Ons is na Limerick gestuur, nog ’n stad waar die Katolieke Kerk groot invloed uitgeoefen het. Skares het ons voortdurend uitgejou. Baie mense was bang om hulle deur oop te maak. ’n Jaar tevore is ’n broer in die nabygeleë dorpie Cloonlara aangerand. Ons was dus bly om Christopher te ontmoet, wat aan die begin genoem is en wat ons gevra het om terug te kom om sy Bybelvrae te bespreek. Gedurende ons besoek het ’n priester ingeloop en geëis dat Christopher ons wegstuur. Hy het die priester gekonfronteer en gesê: “Hierdie vroue is in my huis ingenooi, en hulle het geklop voordat hulle ingekom het. Jy is nie genooi nie, en jy het ook nie geklop nie.” Die priester is woedend daar weg.
Ons het nie geweet dat die priester ’n groot groep mans bymekaargekry het, wat buite Christopher se huis op ons gewag het nie. Omdat Christopher geweet het dat hulle vyandiggesind is, het hy opgetree soos aan die begin beskryf is. Hy het seker gemaak dat ons daar bly totdat hulle almal padgegee het. Ons het later uitgevind dat hy en sy gesin kort daarna gedwing is om uit die gebied te trek en dat hulle na Engeland geïmmigreer het.
’n Uitnodiging na Gilead
Ek het reeds beplan om in 1958 die “Goddelike Wil”- internasionale byeenkoms in New York by te woon toe ek ’n uitnodiging na die 33ste klas van Gilead ontvang het. Ná die byeenkoms het ek nie teruggekeer huis toe nie, maar in Collingwood, Ontario, Kanada, gedien totdat die Gileadskool in 1959 begin het. Maar gedurende die byeenkoms het ek Eric Connell ontmoet. Hy het die waarheid in 1957 geleer en het in 1958 begin pionier. Ná die byeenkoms het hy elke dag vir my geskryf terwyl ek in Kanada en later by Gilead was. Ek het gewonder wat ons ná my graduering sou doen.
Gilead was ’n hoogtepunt in my lewe. Dorothy en haar man was in dieselfde klas. Hulle sendingtoewysing was Portugal. Tot my verbasing is ek na Ierland gestuur. Ek was baie teleurgesteld dat ek nie saam met my suster sou gaan nie! Ek het een van die instrukteurs gevra of ek iets verkeerd gedoen het. “Nee”, het hy geantwoord. “Jy en jou maat, Eileen Mahoney, het ingestem om na enige plek in die wêreld te gaan”, en dit het beslis Ierland ingesluit.
Terug na Ierland
Ek het in Augustus 1959 weer in Ierland aangekom en is na die Dun Laoghaire-gemeente gestuur. Eric het intussen na Engeland teruggekeer en was baie bly dat ek so naby was. Hy wou ook ’n sendeling wees. Hy het geredeneer dat hy in Ierland sou pionier, aangesien dit
destyds ’n sendingveld was. Hy het na Dun Laoghaire getrek, en ons is in 1961 getroud.Ses maande later was Eric in ’n ernstige motorfietsongeluk. Hy het skedelbreuk opgedoen, en die dokters was nie seker of hulle sy lewe sou kon red nie. Nadat hy drie weke in die hospitaal was, het ek hom vyf maande lank by die huis verpleeg totdat hy herstel het. Ek het so goed as wat ek kon, met my bediening voortgegaan.
In 1965 is ons na ’n gemeente van agt verkondigers gestuur in Sligo, ’n hawestad aan die noordwestelike kus. Drie jaar later het ons na ’n ander klein gemeente in Londonderry, verder noord, gegaan. Toe ons eendag van velddiens af terugkeer, was daar ’n doringdraadheining dwarsoor die straat gespan waar ons gewoon het. Die probleme in Noord-Ierland het begin. Bendes jongmense het motors verbrand. Die stad was reeds in Protestantse en Katolieke gebiede verdeel. Dit was gevaarlik om van een gebied in die stad na ’n ander te gaan.
Die lewe en getuieniswerk tydens die probleme
Ons bediening het ons egter oral geneem. Dit het weer eens vir ons gevoel asof die engele rondom ons kamp opslaan. Wanneer onluste uitgebreek het in die gebied waar ons gewerk het, het ons dit vinnig verlaat en later teruggekom wanneer dinge bedaar het. Eenkeer, toe daar onluste naby ons woonstel was, het brandende puin van ’n nabygeleë verfwinkel op ons vensterbank geval. Ons kon nie gaan slaap nie ingeval ons woonstelgebou aan die brand raak. Nadat ons in 1970 na Belfast getrek het, het ons gehoor dat ’n petrolbom ’n brand in die verfwinkel laat ontstaan het en dat ons vorige woonstelgebou wel dié keer afgebrand het.
By ’n ander geleentheid het ek en ’n suster velddiens gedoen en ’n eienaardige stuk pyp op ’n vensterbank sien lê. Ons het verder gestap. Minute later het dit ontplof. Mense in die omgewing wat uitgekom het, het gedink dat óns die pypbom laat ontplof het! Juis toe het ’n suster wat in die gebied woon, ons by haar huis ingenooi. Haar bure het dit as ’n bewys van ons onskuld aanvaar.
In 1971 het ons na Londonderry teruggekeer om ’n suster te besoek. Toe ons haar vertel watter roete ons gevolg het en van die versperring waardeur ons gekom het, het sy gevra: “Was daar niemand by die versperring nie?” Toe ons sê: “Ja, maar hulle het ons net geïgnoreer”, was sy verstom. Waarom? Omdat ’n dokter en ’n polisieman se motor gedurende die vorige paar dae gekaap en verbrand is.
In 1972 het ons na Cork verhuis. Daarna het ons in Naas en toe in Arklow gedien. Later, in 1987, is ons na Castlebar gestuur, waar ons vandag nog is. Hier het ons die groot voorreg gehad om ’n Koninkryksaal te help bou. Eric het in 1999 ernstig siek geword. Maar met Jehovah se hulp en die liefdevolle ondersteuning van die gemeente was ek weer eens in staat om te volhard en hom te verpleeg totdat hy gesond was.
Ek en Eric het die Pionierdiensskool twee keer bygewoon. Hy dien nog steeds as ’n ouer man. Ek ly aan ernstige gewrigsontsteking en moes albei heupe en knieë laat vervang. Hoewel ek bittere godsdiensteenstand verduur het en tye van groot politieke en maatskaplike onrus beleef het, was een van my grootste uitdagings die feit dat ek moes ophou bestuur. Dit was ’n beproewing omdat ek ’n groot mate van my onafhanklikheid moes prysgee. Die gemeente help baie en is uiters ondersteunend. Ek loop nou met behulp van ’n kierie, en ek gebruik ’n batteryaangedrewe driewieler vir groter afstande.
Ek en Eric het gesamentlik meer as 100 jaar as spesiale pioniers gedien—98 daarvan hier in Ierland. Ons dink glad nie daaraan om af te tree nie. Ons verwag nie wonderwerke nie, maar ons glo dat Jehovah se kragtige engele ‘kamp opslaan rondom’ dié wat hom vrees en hom getrou dien.