Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die engele—“Geeste vir openbare diens”

Die engele—“Geeste vir openbare diens”

Die engele—“Geeste vir openbare diens”

“Is hulle nie almal geeste vir openbare diens, wat uitgestuur word om te dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf nie?”—HEB. 1:14.

1. Watter vertroosting kan ons uit Matteus 18:10 en Hebreërs 1:14 put?

 JESUS CHRISTUS het enigiemand wat moontlik sy volgelinge sal laat struikel, gewaarsku: “Sorg dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want ek sê vir julle dat hulle engele in die hemel altyd die aangesig aanskou van my Vader wat in die hemel is” (Matt. 18:10). Die apostel Paulus het met verwysing na die regverdige engele geskryf: “Is hulle nie almal geeste vir openbare diens, wat uitgestuur word om te dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf nie?” (Heb. 1:14). Hierdie woorde bied ’n vertroostende versekering dat God hierdie hemelse wesens gebruik om mense te help. Wat sê die Bybel vir ons oor engele? Hoe help hulle ons? Wat kan ons uit hulle voorbeeld leer?

2, 3. Wat is van die pligte van hemelse geesskepsele?

2 Daar is miljoene getroue engele in die hemel. Hulle is almal ‘magtig in krag en voer sy woord uit’. (Ps. 103:20; lees Openbaring 5:11.) Hierdie geesseuns van God het ’n persoonlikheid, goddelike eienskappe en wilsvryheid. Hulle is op wonderlike wyse georganiseer en beklee hoë posisies in God se reëling, waarin Migael (Jesus se hemelse naam) die aartsengel is (Dan. 10:13; Jud. 9). Hierdie “eersgeborene van die hele skepping” is “die Woord”, of Woordvoerder, van God en is deur Jehovah gebruik om alle ander dinge te maak.—Kol. 1:15-17; Joh. 1:1-3.

3 Onder die aartsengel is die serafs, wat Jehovah se heiligheid bekend maak en help om sy volk geestelik rein te hou. Daar is ook die gerubs, wat as ondersteuners van sy majesteit dien (Gen. 3:24; Jes. 6:1-3, 6, 7). Ander engele, of boodskappers, het verskillende pligte in die uitvoering van God se wil.—Heb. 12:22, 23.

4. Hoe het die engele gereageer toe die aarde gegrondves is, en wat kon die regte gebruik van wilsvryheid vir mense beteken het?

4 Al die engele het gejuig toe “die aarde gegrondves” is en het hulle toegewese werk met vreugde uitgevoer terwyl hierdie unieke juweel in die ruimte die mensdom se tuiste geword het (Job 38:4, 7). Jehovah het die mens “’n bietjie laer as engele”, maar na Sy “beeld”, geskep, wat mense in staat stel om die Skepper se verhewe eienskappe te weerspieël (Heb. 2:7; Gen. 1:26). As Adam en Eva die gawe van wilsvryheid reg gebruik het, kon hulle en hulle nakomelinge die lewe in ’n paradystuiste geniet het as deel van Jehovah se universele gesin van intelligente skepsele.

5, 6. Watter opstand het in die hemel plaasgevind, en hoe het God gereageer?

5 Die heilige engele was ongetwyfeld geskok toe hulle die begin van opstand in God se huisgesin gesien het. Een uit hulle midde was nie meer tevrede om Jehovah te loof nie, maar wou aanbid word. Hy het homself Satan gemaak (wat “Teenstander” beteken) deur die regmatigheid van Jehovah se heerskappy te bevraagteken en deur ’n ambisieuse poging aan te wend om ’n mededingende soewereiniteit in te stel. Met die eerste opgetekende leuen het Satan die eerste mensepaar op slinkse wyse oorgehaal om by hom aan te sluit en teen hulle liefdevolle Skepper in opstand te kom.—Gen. 3:4, 5; Joh. 8:44.

6 Jehovah het sonder versuim oordeel teen Satan uitgespreek deur in die eerste Bybelprofesie te sê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Gen. 3:15). Vyandskap tussen Satan en God se “vrou” sou voortduur. Ja, Jehovah het die hemelse organisasie van getroue geesskepsele beskou as ’n geliefde vrou wat aan hom as hulle Eggenoot verbind is. Hierdie profesie het ’n vaste grondslag vir hoop voorsien, hoewel die besonderhede ’n “heilige geheim” gebly het wat progressief geopenbaar sou word. Dit was God se voorneme dat iemand uit die hemelse deel van sy organisasie alle opstandelinge sou verbrysel en dat “die dinge in die hemele en die dinge op die aarde” deur hom byeengebring sou word.—Ef. 1:8-10.

7. Wat het sommige engele in Noag se dag gedoen, en wat was die gevolg vir hulle?

7 In Noag se dag het ’n aantal engele hulle “gepaste woonplek” verlaat en vleeslike liggame aangeneem om selfsugtige genot op die aarde na te jaag (Jud. 6; Gen. 6:1-4). Jehovah het hierdie opstandelinge in dik duisternis gewerp, en hulle het dus by Satan aangesluit en “bose geesmagte” en boosaardige vyande van God se knegte geword.—Ef. 6:11-13; 2 Pet. 2:4.

Hoe help engele ons?

8, 9. Hoe het Jehovah engele gebruik om mense te help?

8 Abraham, Jakob, Moses, Josua, Jesaja, Daniël, Jesus, Petrus, Johannes en Paulus is onder dié wat deur engele bedien is. Regverdige engele het God se oordele voltrek en profesieë en instruksies oorgedra, met inbegrip van die Mosaïese Wet (2 Kon. 19:35; Dan. 10:5, 11, 14; Hand. 7:53; Op. 1:1). Aangesien ons nou die volledige Woord van God het, hoef engele miskien nie goddelike boodskappe oor te dra nie (2 Tim. 3:16, 17). Maar die engele is agter die skerms baie besig om God se wil uit te voer en sy knegte te ondersteun.

9 Die Bybel verseker ons: “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees, en hy red hulle” (Ps. 34:7; 91:11). Weens die geskil oor onkreukbaarheid laat Jehovah Satan toe om allerhande beproewinge oor ons te bring (Luk. 21:16-19). Maar God weet op watter stadium ’n toets niks verder in verband met ons onkreukbaarheid teenoor hom sal bewys nie. (Lees 1 Korintiërs 10:13.) Engele is altyd gereed om in ooreenstemming met God se wil in te gryp. Hulle het Sadrag, Mesag, Abednego, Daniël en Petrus gered, maar het nie die dood van Stefanus en Jakobus deur die hand van vyande verhoed nie (Dan. 3:17, 18, 28; 6:22; Hand. 7:59, 60; 12:1-3, 7, 11). Die omstandighede en geskille het verskil. So ook is party van ons broers in Nazi-konsentrasiekampe tereggestel, terwyl Jehovah toegesien het dat die meeste van hulle behoue bly.

10. Watter hulp benewens dié van engele kan ons ontvang?

10 Die Skrif leer nie dat elke persoon op die aarde ’n beskermengel het nie. Ons bid met die vertroue dat God “ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Joh. 5:14). Jehovah kan natuurlik ’n engel stuur om ons te help, maar hulp kan op ’n ander manier kom. Mede-Christene word dalk beweeg om hulp en vertroosting te bied. God gee ons moontlik die nodige wysheid en innerlike krag om “’n doring in die vlees” te verduur wat ons teister asof ons deur “’n engel van Satan” geslaan word.—2 Kor. 12:7-10; 1 Tess. 5:14.

Volg Jesus na

11. Hoe is engele gebruik om Jesus te help, en wat het hy bereik deur aan God getrou te bly?

11 Kyk hoe Jehovah engele in Jesus se geval gebruik het. Hulle het sy geboorte en opstanding aangekondig en het hom bedien toe hy op die aarde was. Die engele kon sy inhegtenisname en wrede dood verhoed het. Maar ’n engel is eerder gestuur om hom te versterk (Matt. 28:5, 6; Luk. 2:8-11; 22:43). In ooreenstemming met Jehovah se voorneme het Jesus ’n offerdood gesterf en bewys gelewer dat ’n volmaakte mens onkreukbaarheid teenoor God kan handhaaf al word hy tot die uiterste beproef. Daarom het Jehovah Jesus tot onsterflike hemelse lewe opgewek en “alle gesag” aan hom gegee en engele aan hom onderwerp (Matt. 28:18; Hand. 2:32; 1 Pet. 3:22). Jesus was dus die vernaamste lid van die “saad” van God se “vrou”.—Gen. 3:15; Gal. 3:16.

12. Hoe kan ons Jesus se gebalanseerde voorbeeld volg?

12 Jesus het geweet dat dit verkeerd sou wees om Jehovah op die proef te stel deur te verwag dat engele hom moet red as hy roekeloos optree. (Lees Matteus 4:5-7.) Laat ons dan Jesus se voorbeeld volg deur met “gesonde verstand” te lewe en ons nie aan onnodige risiko’s bloot te stel nie, terwyl ons nietemin vervolging met vertroue verduur.—Tit. 2:12.

Wat ons by die getroue engele kan leer

13. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van die regverdige engele wat in 2 Petrus 2:9-11 gemeld word?

13 Waar die apostel Petrus dié teregwys wat ‘smadend praat’ van Jehovah se gesalfde knegte, wys hy op die goeie voorbeeld van die regverdige engele. Die engele het wel groot krag, maar “uit respek vir Jehovah” weerhou hulle hulle nederig daarvan om veroordelende beskuldigings in te bring. (Lees 2 Petrus 2:9-11.) Net so moet ons ander nie verkeerdelik oordeel nie, respek toon vir diegene aan wie toesig oor die gemeente toevertrou is en sake in die hande van Jehovah, die Opperregter, laat.—Rom. 12:18, 19; Heb. 13:17.

14. Watter voorbeelde van nederige diens voorsien die engele?

14 Jehovah se engele voorsien aan ons goeie voorbeelde van nederige diens. Sekere engele het geweier om hulle naam aan mense te onthul (Gen. 32:29; Rigt. 13:17, 18). Hoewel daar miljoene geesskepsele in die hemel is, openbaar die Bybel net die name van Migael en Gabriël. Dit is moontlik om te verhoed dat ons ongepaste eer aan engele gee (Luk. 1:26; Op. 12:7). Toe die apostel Johannes neergeval het om voor ’n engel te aanbid, is hy gemaan: “Pas op! Moet dit nie doen nie! Ek is maar net ’n medeslaaf van jou en van jou broers” (Op. 22:8, 9). Ons aanbidding, insluitende ons gebede, moet net tot God gerig word.—Lees Matteus 4:8-10.

15. Hoe stel die engele vir ons ’n voorbeeld in geduld?

15 Die engele stel ook ’n voorbeeld in geduld. Hoewel hulle intens daarin belang stel om God se heilige geheime te wete te kom, is dit nie alles aan hulle bekend gemaak nie. “In juis hierdie dinge is engele begerig om te tuur”, sê die Bybel (1 Pet. 1:12). Wat doen hulle gevolglik? Hulle wag geduldig op God se bestemde tyd wanneer sy ‘veelsydige wysheid deur middel van die gemeente bekend gemaak word’.—Ef. 3:10, 11.

16. Watter uitwerking kan ons gedrag op die engele hê?

16 Christene wat beproewing verduur, is ‘’n teaterskouspel vir engele’ (1 Kor. 4:9). Die engele aanskou ons getroue dade met groot bevrediging en is selfs verheug wanneer ’n sondaar berou het (Luk. 15:10). Die engele let op die godvrugtige gedrag van Christenvroue. Die Bybel toon dat “die vrou ’n teken van gesag op haar hoof [behoort] te hê weens die engele” (1 Kor. 11:3, 10). Ja, engele is bly om te sien dat Christenvroue en al God se ander aardse knegte hulle aan teokratiese orde en hoofskap onderwerp. Sulke gehoorsaamheid dien as ’n gepaste herinnering vir hierdie hemelse seuns van God.

Engele ondersteun die predikingswerk daadwerklik

17, 18. Waarom kan ons sê dat engele ons predikingswerk ondersteun?

17 Engele is betrokke by party van die merkwaardige dinge wat in “die dag van die Here” plaasvind. Dit sluit die geboorte van die Koninkryk in 1914 in en die uitwerping van Satan en sy demone uit die hemel deur “Migael en sy engele” (Op. 1:10; 11:15; 12:5-9). Die apostel Johannes het ’n “engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon”. Die engel het gesê: “Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het” (Op. 14:6, 7). Jehovah se knegte is dus verseker van die engele se ondersteuning terwyl hulle die goeie nuus van die opgerigte Koninkryk ondanks die Duiwel se boosaardige teenstand verkondig.—Op. 12:13, 17.

18 Vandag rig engele ons nie na opregtes van hart deur met ons te praat soos ’n engel met Filippus gepraat en hom na die Etiopiese eunug gerig het nie (Hand. 8:26-29). Maar talle hedendaagse ondervindinge bewys dat engele agter die skerms ons Koninkrykspredikingswerk ondersteun en ons na diegene rig “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Hand. 13:48). a Hoe belangrik is dit tog om gereeld aan die bediening deel te neem sodat ons beskikbaar is om ons deel te doen om diegene te vind wat “die Vader met gees en waarheid [wil] aanbid”!—Joh. 4:23, 24.

19, 20. Watter rol speel engele in die gebeure wat “die voleinding van die stelsel van dinge” kenmerk?

19 Met verwysing na ons dag het Jesus gesê dat die engele “in die voleinding van die stelsel van dinge . . . die goddeloses onder die regverdiges uit [sal] afskei” (Matt. 13:37-43, 49). Engele speel ’n rol in die finale insameling en verseëling van gesalfdes. (Lees Matteus 24:31; Op. 7:1-3.) Wat meer is, Jesus word deur engele vergesel wanneer hy “die skape van die bokke afskei”.—Matt. 25:31-33, 46.

20 “By die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy magtige engele” sal almal vernietig word “wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” (2 Tess. 1:6-10). Toe Johannes hierdie selfde gebeurtenis in ’n visioen gesien het, het hy Jesus en die hemelse engeleleërs beskryf waar hulle op wit perde uitry om oorlog in regverdigheid te voer.—Op. 19:11-14.

21. Hoe sal die engel “met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand” teen Satan en sy demone optree?

21 Johannes het ook “’n engel uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand”. Dit is niemand anders nie as die aartsengel Migael, wat die Duiwel sal bind en hom—en klaarblyklik die demone—in die afgrond sal werp. Hulle sal aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy vir ’n kort rukkie losgelaat word wanneer die volmaakte mensdom aan ’n finale toets onderwerp sal word. Daarna sal Satan en alle ander opstandelinge vernietig word (Op. 20:1-3, 7-10; 1 Joh. 3:8). Alle opstand teen God sal uit die weg geruim wees.

22. Hoe is die engele betrokke by gebeure wat voor die deur is, en hoe moet ons oor hulle rol voel?

22 Wonderlike verlossing van Satan se goddelose stelsel van dinge is voor die deur. Engele sal ’n definitiewe rol speel in hierdie betekenisvolle gebeure wat Jehovah se soewereiniteit sal regverdig en sy voorneme vir die aarde en die mensdom ten volle sal vervul. Die regverdige engele is inderdaad “geeste vir openbare diens, wat uitgestuur word om te dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf”. Laat ons dus dankbaar wees teenoor Jehovah God vir die manier waarop hy die engele gebruik om ons te help om die goddelike wil te doen en die ewige lewe te verkry.

[Voetnoot]

a Sien Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 549-551.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe is hemelse geesskepsele georganiseer?

• Wat het sommige engele in Noag se dag gedoen?

• Hoe gebruik God engele om ons te help?

• Watter rol speel regverdige engele in ons tyd?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Engele verheug hulle daarin om God se wil uit te voer

[Prent op bladsy 23]

Soos in Daniël se geval is engele altyd gereed om in ooreenstemming met God se wil in te gryp

[Prente op bladsy 24]

Wees moedig, want engele ondersteun die Koninkrykspredikingswerk!

[Erkenning]

Aardbol: NASA photo