Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wandel deur gees en leef jou toewyding na

Wandel deur gees en leef jou toewyding na

Wandel deur gees en leef jou toewyding na

“Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie.”—GAL. 5:16.

1. Watter dope het op Pinksterdag plaasgevind?

 NADAT Jesus se volgelinge op Pinksterdag 33 HJ met heilige gees gedoop is, het hulle in tale gepraat. Hulle het ’n wonderdadige gawe van die gees geopenbaar (1 Kor. 12:4-10). Watter uitwerking het hierdie gawe en die toespraak wat die apostel Petrus gehou het, gehad? Baie mense is “diep in die hart getref”. Op Petrus se aansporing het hulle berou getoon en is hulle gedoop. Die geskiedkundige verslag sê: “Dié wat sy woord van harte aangeneem het, is . . . gedoop, en op daardie dag is omtrent drieduisend siele bygevoeg” (Hand. 2:22, 36-41). Hulle is, soos Jesus beveel het, in water gedoop in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees.—Matt. 28:19.

2, 3. (a) Verduidelik die verskil tussen doop met heilige gees en doop in die naam van die heilige gees. (b) Waarom word daar van almal wat vandag ware Christene word, verwag om in water gedoop te word?

2 Maar is daar enige verskil tussen doop met heilige gees en doop in die naam van die heilige gees? Ja. Diegene wat met die heilige gees gedoop word, word weer gebore as geesverwekte kinders van God (Joh. 3:3). Hulle word gesalf om toekomstige medekonings en onderpriesters in God se hemelse Koninkryk te wees en is deel van die geestelike liggaam van Christus (1 Kor. 12:13; Gal. 3:27; Op. 20:6). Dit is dus hierdie doop—doop met heilige gees—wat Jehovah uitgevoer het toe hy, op Pinksterdag en daarna, individue gekies het om mede-erfgename met Christus te word (Rom. 8:15-17). Maar wat van waterdoop in die naam van die heilige gees, wat in ons dag gereeld by byeenkomste van Jehovah se volk plaasvind?

3 Waterdoop is ’n stap wat ware Christene doen as ’n simbool van hulle onvoorwaardelike toewyding aan Jehovah God. Dit is waar in die geval van diegene wat die hemelse roeping ontvang het. Maar waterdoop is ook ’n noodsaaklike stap vir miljoene manne en vroue in hedendaagse tye wat nou die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Ongeag watter hoop ’n persoon het, as hy vir God aanneemlik wil wees, moet hy in water gedoop word in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees. Daar word van alle Christene wat so gedoop word, verwag om ‘aan te hou om deur gees te wandel’. (Lees Galasiërs 5:16.) Wandel jy deur gees, en leef jy sodoende jou toewyding na?

Wat dit beteken om “deur gees te wandel”

4. Wat beteken dit om “deur gees te wandel”?

4 Om “deur gees te wandel”, behels dat jy die werking van die heilige gees op jou aanvaar, oftewel toelaat dat die heilige gees jou beïnvloed. Met ander woorde, dit beteken dat jy in jou daaglikse bedrywighede deur die heilige gees gerig word. Galasiërs hoofstuk 5 toon die verskil tussen die invloed wat die heilige gees uitoefen en dié wat die vlees uitoefen.—Lees Galasiërs 5: 17, 18.

5. Watter werke sal jy vermy as jy onder die invloed van die heilige gees is?

5 As jy onder die invloed van die heilige gees is, sal jy die werke van die vlees probeer vermy. Dit sluit dinge in soos “hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, afgodediens, die beoefening van spiritisme, vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes, afgunstighede, dronkenskap, swelgerye” (Gal. 5:19-21). In sekere sin ‘maak jy deur die gees die gebruike van die liggaam dood’ (Rom. 8:5, 13). Dit sal jou help om jou verstand gerig te hou op die dinge van die gees en om met die leiding daarvan saam te werk en nie toe te laat dat jy deur vleeslike begeertes oorheers word nie.

6. Lig toe wat nodig is om die vrug van die gees aan die dag te lê.

6 Namate die heilige gees op jou inwerk, sal jy godvrugtige eienskappe, die vrug van die gees, aan die dag lê (Gal. 5:22, 23). Jy besef egter dat dit inspanning van jou sal verg. Ter toeligting: ’n Boer bewerk sy landerye. Sonskyn en water is natuurlik nodig; daarsonder kan hy nie ’n oes verwag nie. Ons kan heilige gees met sonskyn vergelyk. Heilige gees is nodig sodat ons die vrug van die gees aan die dag kan lê. Maar wat sou groei as die boer nie hard werk nie? (Spr. 10:4). Ja, die manier waarop jy die grond van jou hart bewerk, maak ’n verskil in die gehalte en hoeveelheid van die vrug van die heilige gees wat jy voortbring. Vra jou dus af: ‘Laat ek toe dat die heilige gees sy vrug in my voortbring deur daarmee saam te werk?’

7. Waarom is studie en bepeinsing so belangrik as jy die vrug van die heilige gees wil aankweek?

7 Om ’n goeie oes te hê, moet boere ook hulle gesaaides water gee. Om die vrug van die gees aan te kweek, het jy die waters van die waarheid nodig wat in die Bybel gevind word en vandag deur middel van die Christengemeente beskikbaar is (Jes. 55:1). Jy het waarskynlik al vir baie mense daarop gewys dat die Heilige Skrif ’n produk van die heilige gees is (2 Tim. 3:16). Daarbenewens voorsien die “getroue en verstandige slaaf”-klas lewensbelangrike insig in die suiwer waters van Bybelwaarheid (Matt. 24:45-47). Die toepassing is duidelik. Om onder die invloed van die heilige gees te kom, moet ons God se Woord lees en daaroor peins. As jy dit doen, volg jy die goeie voorbeeld van die profete wat die inligting wat voorsien is, “ywerig nagevors en sorgvuldig ondersoek” het. Dit is merkwaardig dat selfs die engele groot belangstelling getoon het in geestelike waarhede aangaande die beloofde Saad en die gesalfde Christengemeente.—Lees 1 Petrus 1:10-12.

Beïnvloed deur die gees—Hoe?

8. Waarom is dit noodsaaklik dat jy Jehovah vra vir sy gees?

8 ’n Blote studie van die Skrif en bepeinsing is nie al wat nodig is nie. Jy moet aanhou vra vir Jehovah se hulp en leiding. Hy kan “oneindig meer . . . doen as alles wat ons vra of wat ons ons voorstel” (Ef. 3:20; Luk. 11:13). Maar hoe sou jy antwoord as iemand sê: “Waarom moet ek aanhou vra as God reeds weet ‘watter dinge ek nodig het nog voordat ek hom vra’?” (Matt. 6:8). Om maar een ding te noem, deur vir heilige gees te bid, erken jy dat jy op Jehovah moet vertrou. Byvoorbeeld, as iemand jou om hulp nader, sal jy alles in jou vermoë doen om hom te help, onder andere omdat hy jou om hulp gevra het, wat toon dat hy jou vertrou. (Vergelyk Spreuke 3:27.) Net so behaag dit Jehovah as jy hom vir sy gees vra, en hy sal dit vir jou gee.—Spr. 15:8.

9. Hoe kan die bywoning van Christelike vergaderinge jou help om onder die invloed van God se gees te kom?

9 Jy besef waarskynlik dat nog ’n manier om onder die invloed van God se gees te kom, te doen het met ons vergaderinge en byeenkomste. Dit is baie belangrik dat jy moeite doen om dit by te woon en dat jy aandagtig na die program luister. As jy dit doen, sal dit jou help om “die diep dinge van God” te verstaan (1 Kor. 2:10). Dit hou ook voordele in as jy gereeld kommentaar lewer. Dink terug aan die vergaderinge wat jy oor die afgelope vier weke bygewoon het. Hoe dikwels het jy jou hand opgesteek om te antwoord sodat jy aan jou geloof uiting kan gee? Kan jy moontlik op hierdie gebied verbeter? Indien wel, besluit wat jy in die komende weke gaan doen. Jehovah sal sien dat jy gewillig is om deel te neem en sal jou van sy gees voorsien, wat jou sal help om selfs meer baat te vind by die vergaderinge wat jy bywoon.

10. Watter uitnodiging moet ons aan ander rig as ons deur gees wil wandel?

10 As jy deur gees wil wandel, moet jy ook reageer op die uitnodiging in Openbaring 22:17: “Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” Die gees, wat deur middel van die gesalfde bruidsklas werk, rig hierdie uitnodiging aangaande die water van die lewe. As jy reeds die uitnodiging om te “kom!” aanvaar het, is jy dan vasbeslote om te sê: “Kom!”? Wat ’n voorreg is dit tog om aan hierdie lewensreddende werk te kan deelneem!

11, 12. Hoe is die heilige gees betrokke by die predikingswerk?

11 Hierdie lewensbelangrike werk word nou onder leiding van die heilige gees gedoen. Ons lees hoe die heilige gees in die eerste eeu daarby betrokke was om nuwe gebiede vir sendelinge te open. Die apostel Paulus en sy metgeselle is “deur die heilige gees verbied . . . om die woord in die landstreek Asië te spreek”, en hulle is ook nie toegelaat om in Bitinië in te gaan nie. Ons weet nie presies hoe die gees hulle gekeer het om in hierdie plekke in te gaan nie, maar dit is duidelik dat die gees Paulus na die uitgestrekte gebied van Europa gelei het. Hy het ’n visioen ontvang van ’n Masedoniese man wat om hulp gesmeek het.—Hand. 16:6-10.

12 Jehovah se gees rig eweneens vandag die wêreldwye predikingswerk. Geen wonderdadige visioene word gebruik om leiding te gee nie; Jehovah rig eerder die gesalfdes deur die heilige gees. En die gees beweeg broers en susters om alles in hulle vermoë te doen om te preek en te onderrig. Jy neem ongetwyfeld deel aan hierdie lewensbelangrike werk. Kan jy meer vreugde put uit hierdie opwindende bedrywigheid?

13. Hoe kan jy jou aan die leiding van die heilige gees onderwerp? Lig toe.

13 Jy kan jou aan die leiding van heilige gees onderwerp deur die inligting toe te pas wat aan God se volk voorsien word. Beskou die geval van jong Mihoko van Japan. As ’n nuwe pionier het sy onbekwaam gevoel om herbesoeke te doen; sy het gevoel dat sy nie weet hoe om die huisbewoner se belangstelling te wek nie. Omtrent daardie tyd het praktiese wenke oor hoe om kort herbesoeke te doen, in Ons Koninkryksbediening verskyn. Daarna is die brosjure A Satisfying Life—How to Attain It vrygestel. Dit was besonder nuttig in die Japannese veld. Mihoko het die wenke toegepas oor hoe om die brosjure te gebruik, veral oor hoe om kort herbesoeke te doen. Kort voor lank het sy Bybelstudies begin met mense wat dalk voorheen ’n studie van die hand sou gewys het. Sy sê: “Ek het soveel studies gehad—tot 12 op ’n stadium—dat ek van hulle op ’n waglys moes sit!” Ja, wanneer jy deur gees wandel en die leiding volg wat aan Jehovah se knegte gegee word, kan jy oorvloedig maai.

Vertrou op God se gees

14, 15. (a) Hoe is dit vir onvolmaakte mense moontlik om hulle toewyding na te leef? (b) Hoe kan jy die beste vriende vind?

14 As ’n geordende bedienaar het jy ’n bediening om uit te voer (Rom. 10:14). Jy voel dalk nie heeltemal bekwaam om hierdie verantwoordelikheid te dra nie. Maar, soos in die geval van die gesalfdes, is dit God wat jou bekwaam maak. (Lees 2 Korintiërs 3:5.) Jy kan jou toewyding naleef deur jou bes te doen en op God se gees te vertrou.

15 Toegegee, vir ons as onvolmaakte mense is dit nie maklik om ons toewyding aan ons volmaakte God, Jehovah, na te leef nie. Iets wat dit moeilik maak, is dat party met wie jy voorheen geassosieer het, jou nuwe lewenswyse moontlik vreemd vind en jou dalk “smaad” (1 Pet. 4:4). Maar moenie die feit oor die hoof sien dat jy sedertdien nuwe vriendskappe aangeknoop het nie, waarvan die belangrikste jou vriendskap met Jehovah en met Jesus Christus is. (Lees Jakobus 2:21-23.) Dit is ook noodsaaklik om die broers en susters in jou plaaslike gemeente te leer ken, wat deel is van “die hele gemeenskap van broers” regoor die wêreld (1 Pet. 2:17; Spr. 17:17). Jehovah sal jou deur sy gees help om vriende te maak wat sal voortgaan om ’n goeie invloed op jou te hê.

16. Waarom kan jy, soos Paulus, ‘behae skep in swakhede’?

16 Selfs met behulpsame vriende om jou in die gemeente, vind jy dit dalk nog steeds moeilik om die daaglikse uitdagings die hoof te bied. Die dinge waarvoor jy te staan kom, kan jou soms moedeloos laat voel, asof jy in ’n lang tonnel van probleme is. Dit is veral dan dat jy jou tot Jehovah moet wend en hom vir sy heilige gees moet vra. “Wanneer ek swak is”, het die apostel Paulus geskryf, “dan is ek sterk.” (Lees 2 Korintiërs 4:7-10; 12:10.) Paulus het geweet dat God se gees kan vergoed vir menslike swakhede, ongeag wat dit is. God se werkende krag kan jou dus versterk wanneer jy swak voel en hulp nodig het. Paulus het geskryf dat hy ‘behae geskep het in swakhede’. Juis wanneer hy swak was, het hy gevoel hoe die heilige gees op hom inwerk. Jy kan dieselfde gevoel ervaar!—Rom. 15:13.

17. Hoe kan heilige gees jou help terwyl jy na jou bestemming beweeg?

17 Ons het God se gees nodig sodat ons ’n lewe kan lei wat aan hom toegewy is. Dink aan jouself as die kaptein van ’n seilboot. Jou doelwit is om Jehovah vir ewig te dien. Heilige gees is soos die wind wat jy nodig het om veilig by jou bestemming aan te kom. Jy wil nie deur die gees van Satan se wêreld heen en weer geslinger word nie (1 Kor. 2:12). Jy moet as ’t ware die regte wind identifiseer en dit benut. Dit is die heilige gees. Heilige gees sal jou deur middel van God se Woord en sy geesgerigte organisasie in die regte rigting laat beweeg.

18. Wat is jy nou vasbeslote om te doen, en waarom?

18 As jy saam met Jehovah se Getuies studeer en geestelike assosiasie met hulle geniet, maar nog nie die noodsaaklike stappe van toewyding en doop gedoen het nie, moet jy jou afvra: ‘Waarom huiwer ek?’ As jy die rol erken wat die heilige gees vandag in die uitvoering van Jehovah se wil speel en die werking daarvan waardeer, moet jy doen wat jy geleer het reg is. Jehovah sal jou ryklik seën. Hy sal jou in oorvloedige mate van sy heilige gees voorsien. As jy jare of dekades gelede gedoop is, het jy sekerlik al die invloed van die heilige gees ervaar. Jy het gesien en ondervind hoe God jou deur middel van sy gees kan versterk. Dit kan altyd die geval wees—ja, tot in alle ewigheid. Wees dus vasbeslote om aan te hou om deur heilige gees te wandel.

Onthou jy?

• Wat beteken dit om “deur gees te wandel”?

• Wat kan jou help om ‘aan te hou om deur gees te wandel’?

• Hoe kan jy jou toewyding naleef?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Dit verg inspanning om die grond van jou hart te bewerk

[Prente op bladsy 16, 17]

Word jy deur God se gees beïnvloed?