Laat jy toe dat Jehovah jou uitvra?
Laat jy toe dat Jehovah jou uitvra?
DIE Bybel bevat honderde vrae wat tot diep in ’n mens se hart kan dring. Trouens, Jehovah God self gebruik vrae om mense belangrike waarhede te leer. Jehovah het byvoorbeeld verskeie vrae gebruik toe hy Kain gewaarsku het om sy skadelike weg te laat vaar (Gen. 4:6, 7). By ander geleenthede het Jehovah net een vraag gestel, en dit was genoeg om ’n persoon tot positiewe optrede aan te spoor. Toe die profeet Jesaja Jehovah hoor vra: “Wie sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?” het hy geantwoord: “Hier is ek! Stuur my.”—Jes. 6:8.
Ook Jesus, die Groot Leermeester, het vrae doeltreffend gebruik. Die Evangelies bevat meer as 280 van Jesus se vrae. Hoewel hy soms vrae gebruik het om sy kritici die swye op te lê, was sy hoofdoel meestal om die hart van sy toehoorders te bereik en hulle aan te spoor om oor hulle eie geestelike toestand na te dink (Matt. 22:41-46; Joh. 14:9, 10). Die apostel Paulus, wat 14 boeke van die Christelike Griekse Geskrifte geskryf het, het eweneens vrae op oortuigende wyse gebruik (Rom. 10:13-15). Byvoorbeeld, sy brief aan die Romeine bevat ’n menigte vrae. Paulus se vrae laat sy lesers waardering opbou vir “die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis”.—Rom. 11:33.
Hoewel party vrae ’n gesproke antwoord vereis, is ander bedoel om ’n dieper reaksie uit te lok. In die Evangelies lees ons hoe dikwels Jesus laasgenoemde soort vraag gebruik het. By een geleentheid het Jesus sy dissipels gewaarsku: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes”, met ander woorde hulle huigelary en valse leringe (Mark. 8:15; Matt. 16:12). Jesus se dissipels het nie die punt gesnap nie en het met mekaar begin argumenteer omdat hulle vergeet het om brood te bring. Let op Jesus se gebruik van vrae in die kort gesprek wat gevolg het. “Hy het . . . vir hulle gesê: ‘Waarom argumenteer julle daaroor dat julle geen brode het nie? Begryp julle nog nie en verstaan julle nog nie die betekenis nie? Is julle hart stomp van begrip? “Hoewel julle oë het, sien julle dan nie; en hoewel julle ore het, hoor julle dan nie?” . . . Verstaan julle nog nie die betekenis nie?’” Jesus se vrae het ’n verstandelike antwoord vereis, wat sy dissipels oor die ware betekenis van sy woorde sou laat nadink.—Mark. 8:16-21.
“Laat ek jou uitvra”
Jehovah God het vrae gebruik om die denke van sy kneg Job reg te stel. Deur middel van etlike vrae het Jehovah Job geleer hoe nietig hy is in vergelyking met sy Maker (Job, hfst. 38-41). Het Jehovah ’n hoorbare antwoord op elkeen van hierdie vrae verwag? Dit is onwaarskynlik. Vrae soos “Waar was jy toe ek die aarde gegrondves het?” was blykbaar bedoel om Job se denke en emosies te stimuleer. Ná ’n paar van hierdie diep vrae is Job byna sprakeloos gelaat. Hy het eenvoudig gesê: “Wat sal ek u antwoord? My hand het ek op my mond gelê” (Job 38:4; 40:4). Job het die punt gesnap en hom verneder. Maar Jehovah het Job nie bloot nederigheid geleer nie. Job se denke is ook reggestel. Hoe?
Hoewel Job “’n onberispelike en regskape man” was, het sy woorde soms geopenbaar dat hy ’n verkeerde beskouing gehad het, wat Elihu onder Job se aandag gebring het toe hy Job tereggewys het “omdat hy eerder sy eie siel regverdig verklaar het as God” (Job 1:8; 32:2; 33:8-12). Jehovah se vrae het dus ook Job se denke reggestel. God het uit ’n windstorm met Job gepraat en gesê: “Wie is dit wat raad verduister deur woorde sonder kennis? Omgord asseblief jou lendene soos ’n man, en laat ek jou uitvra, en lig jy my in” (Job 38:1-3). Deur middel van vrae het Jehovah toe die aandag gevestig op sy eindelose wysheid en krag, wat deur sy wonderlike werke getoon word. Hierdie inligting het Job gehelp om meer vertroue as ooit in Jehovah se oordeel en handelswyse te hê. Wat ’n ontsagwekkende ondervinding vir Job—om deur God die Almagtige self uitgevra te word!
Hoe ons kan toelaat dat Jehovah ons uitvra
Wat van ons? Kan ons ook baat vind by die vrae wat in die Bybel opgeteken is? Ja, ons kan! As ons oor hierdie vrae nadink, kan dit vir ons ryk geestelike seëninge meebring. Die deurdringende vrae in God se Woord dra by tot die doeltreffendheid daarvan. Ja, “die woord van God . . . oefen krag uit . . . en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Heb. 4:12). Maar om die meeste baat te vind, moet ons hierdie vrae op onsself toepas, asof Jehovah ons persoonlik uitvra (Rom. 15:4). Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.
“Sal die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?” (Gen. 18:25). Abraham het hierdie retoriese vraag aan Jehovah gestel toe God sy oordeel oor Sodom en Gomorra uitgespreek het. Abraham het dit as ondenkbaar beskou dat Jehovah ooit onregverdig sou optree—deur die regverdiges saam met die goddeloses dood te maak. Abraham se vraag weerspieël sy sterk geloof in Jehovah se regverdigheid.
Vandag is party dalk geneig om te bespiegel oor sake aangaande Jehovah se toekomstige oordele, soos oor presies wie Armageddon sal oorleef of wie ’n opstanding sal ontvang. In plaas van toe te laat dat sulke gedagtes ons ontstel, kan ons aan Abraham se vraag dink. Omdat ons Jehovah as ’n welwillende hemelse Vader ken en, soos Abraham, volkome vertroue in sy geregtigheid en barmhartigheid het, verkwis ons nie tyd en energie met onnodige kwellinge, afbrekende twyfelgedagtes en nuttelose debatte nie.
“Wie van julle kan deur hom te kwel een el by sy lewensduur voeg?” (Matt. 6:27). Toe Jesus ’n groot skare toegespreek het wat sy dissipels ingesluit het, het hy deur middel van hierdie vraag beklemtoon hoe belangrik dit is dat hulle hulle in Jehovah se liefdevolle hande laat. Die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge veroorsaak baie sorge, maar as ons daarop konsentreer, sal dit nie ons lewe verleng of ons lewensgehalte verbeter nie.
As ons ons aan Jesus se vraag herinner wanneer ons ook al bekommerd is oor onsself of ons geliefdes, kan dit ons help om ons sorge in perspektief te bring. Dit kan ons help om ’n einde te maak aan bekommernisse en negatiewe gedagtes wat ons verstandelik, emosioneel en fisies uitput. Soos Jesus ons verseker het, weet ons hemelse Vader, wat die voëls van die hemel voed en die plantegroei van die veld klee, presies wat ons nodig het.—Matt. 6:26-34.
“Kan iemand vuur in sy boesem bymekaarkrap sonder dat sy klere verbrand?” (Spr. 6:27). Die eerste nege hoofstukke van Spreuke sluit kort gedeeltes in waarin ’n vader praktiese wysheid aan sy seun oordra. Die vraag wat hierbo aangehaal word, verwys na die skadelike gevolge van egbreuk (Spr. 6:29). As ons vind dat ons ons aan flankeerdery skuldig maak of enige verkeerde seksuele begeerte koester, moet hierdie vraag as ’t ware ’n alarm in ons verstand laat afgaan. In beginsel kan hierdie vraag gevra word wanneer ’n persoon ook al in die versoeking kom om ’n onwyse weg in te slaan. Hoe duidelik lig dit tog die praktiese Bybelbeginsel toe: ‘Jy sal maai wat jy saai’!—Gal. 6:7.
“Wie is jy om ’n ander se huiskneg te oordeel?” (Rom. 14:4). In sy brief aan die Romeine het Paulus probleme bespreek wat in die eerste-eeuse gemeente ontstaan het. Aangesien Christene uit ’n verskeidenheid kulturele agtergronde gekom het, was party geneig om die besluite en dade van hulle medegelowiges te oordeel. Paulus se vraag het hulle daaraan herinner om mekaar te verwelkom en om die oordeel in Jehovah se hande te laat.
Vandag kom Jehovah se knegte eweneens uit alle vlakke van die samelewing. Maar Jehovah het ons in kosbare eenheid byeengebring. Dra ons tot hierdie eenheid by? As ons geneig is om maklik ons afkeer uit te spreek wanneer ’n broer iets doen wat sy gewete hom toelaat, hoe verstandig sal dit tog wees as ons ons Paulus se bogenoemde vraag afvra!
Vrae laat ons nader aan Jehovah kom
Hierdie paar voorbeelde toon hoe kragtig die vrae in God se Woord is. As ons die konteks van elke vraag in ag neem, kan dit ons help om dit op ons eie omstandighede toe te pas. En terwyl ons die Bybel lees, sal ons ook ander nuttige vrae vind.—Sien die venster op bladsy 14.
As ons toelaat dat die deurdringende vrae in God se Woord ons diep raak, sal dit ons help om ons verstand en hart met Jehovah se regverdige weë in ooreenstemming te bring. Nadat Jehovah Job uitgevra het, het Job bevestig: “Van hoorsê het ek van u gehoor, maar nou sien my eie oog u” (Job 42:5). Ja, Jehovah het vir Job werkliker geword, asof Hy reg voor sy oë gestaan het. Die dissipel Jakobus het dit later soos volg uitgedruk: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jak. 4:8). Mag ons toelaat dat elke deel van God se Woord, insluitende die vrae daarin, ons help om geestelik te groei en Jehovah steeds duideliker te “sien”!
[Venster op bladsy 14]
Hoe kan dit jou help om Jehovah se beskouing van sake aan te neem as jy jou hierdie vrae afvra?
▪ “Skep Jehovah soveel behae in brandoffers en offerandes as in gehoorsaamheid aan die stem van Jehovah?”—1 Sam. 15:22.
▪ “Kan Hy wat die oog vorm, nie kyk nie?”—Ps. 94:9.
▪ “As mense hulle eie heerlikheid soek, is dit dan heerlikheid?”—Spr. 25:27.
▪ “Het jy met reg kwaad geword?”—Jona 4:4.
▪ “Van watter nut sal dit vir ’n mens wees as hy die hele wêreld wen, maar sy siel inboet?”—Matt. 16:26.
▪ “Wie sal ons van die liefde van die Christus skei?”—Rom. 8:35.
▪ “Wat het jy wat jy nie ontvang het nie?”—1 Kor. 4:7.
▪ “Watter deelgenootskap het lig met duisternis?”—2 Kor. 6:14.
[Prent op bladsy 15]
Wat het Job uit Jehovah se vrae geleer?