Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom stiptelik wees?

Waarom stiptelik wees?

Waarom stiptelik wees?

DIT is nie altyd maklik om stiptelik, of op tyd, te wees nie. Party van die uitdagings wat ons dalk die hoof moet bied, is groot afstande, druk verkeer en ’n vol program. Maar dit is belangrik om op tyd te wees. In die werksplek word ’n stiptelike persoon byvoorbeeld oor die algemeen as betroubaar en vlytig beskou. Daarenteen kan iemand wat laat opdaag, die werk van ander en die gehalte van produkte en dienste benadeel. Laatkommery kan ’n leerder sekere klasse laat misloop en sy akademiese vordering belemmer. As ’n mens laat is vir ’n dokters- of tandartsafspraak, kan dit ’n uitwerking hê op die behandeling wat jy ontvang.

Maar op party plekke word stiptelikheid nie juis as belangrik beskou nie. In so ’n milieu kan ons maklik in die gewoonte verval om laat te kom. As dit die geval is, is dit noodsaaklik dat ons ’n begeerte aankweek om op tyd te wees. As ons verstaan waarom stiptelikheid belangrik is, sal dit ons beslis help om stiptelik te wees. Wat is ’n paar redes om stiptelik te wees? Hoe kan ons die uitdaging om stiptelik te wees, die hoof bied? En watter voordele kan ons verwag as ons op tyd is?

Jehovah—’n stiptelike God

Die vernaamste rede waarom ons stiptelik wil wees, is dat ons die God wat ons aanbid, wil navolg (Ef. 5:1). Jehovah is ’n uitstekende voorbeeld van stiptelikheid. Hy is nooit laat nie. Hy bly streng by sy rooster wat die vervulling van sy voornemens betref. Byvoorbeeld, toe Jehovah besluit het om die goddelose wêreld deur ’n vloed te vernietig, het hy vir Noag gesê: “Maak vir jou ’n ark van die hout van ’n harsagtige boom.” Toe die tyd vir die einde naby gekom het, het Jehovah vir Noag gesê om in die ark in te gaan en hom ingelig: “Oor nog net sewe dae laat ek dit veertig dae en veertig nagte op die aarde reën; en ek sal alles wat bestaan wat ek gemaak het, van die oppervlak van die aarde af wegvee. . . . Sewe dae later het die waters van die sondvloed oor die aarde gekom”, presies op tyd (Gen. 6:14; 7:4, 10). Stel jou voor wat kon gebeur het as Noag en sy gesin nie betyds in die ark was nie. Soos die God wat hulle aanbid het, moes hulle stiptelik wees.

Sowat 450 jaar ná die Vloed het Jehovah vir die aartsvader Abraham gesê dat hy ’n seun sou hê deur wie die beloofde Saad sou kom (Gen. 17:15-17). God het gesê dat Isak “op hierdie vasgestelde tyd volgende jaar” gebore sou word. Het dit gebeur? Die Skrif sê vir ons: “Sara het swanger geword en toe vir Abraham op sy oudag ’n seun gebaar op die vasgestelde tyd wat God vir hom gesê het.”—Gen. 17:21; 21:2.

Daar is baie voorbeelde in die Bybel wat toon dat God stiptelik is (Jer. 25:11-13; Dan. 4:20-25; 9:25). Die Bybel sê vir ons om in afwagting van Jehovah se toekomstige oordeelsdag te bly. Al lyk dit vanuit ’n menslike oogpunt asof dit “talm”, word ons verseker dat “dit . . . nie laat [sal] wees nie”.—Hab. 2:3.

Stiptelikheid is belangrik in aanbidding

Alle Israelitiese mans moes teenwoordig en op tyd wees by die plek wat vir “die seisoenfeeste van Jehovah” aangewys is (Lev. 23:2, 4). God het ook bepaal op watter tye sekere offerandes gebring moes word (Eks. 29:38, 39; Lev. 23:37, 38). Toon dit nie dat God van sy knegte verwag om stiptelik in hulle aanbidding te wees nie?

Toe die apostel Paulus in die eerste eeu vir die Korintiërs gesê het hoe Christelike vergaderinge gehou moet word, het hy hulle aangespoor: “Laat alles welvoeglik en volgens reëling geskied” (1 Kor. 14:40). Christelike samekomste vir aanbidding moes dus op ’n vasgestelde tyd begin. Jehovah se beskouing van stiptelikheid het nie verander nie (Mal. 3:6). Watter stappe kan ons dan doen om betyds by hierdie Christelike samekomste te wees?

Bied die uitdaging van stiptelikheid die hoof

Party het gevind dat vooruitbeplanning baie nuttig is (Spr. 21:5). Sê nou ons moet ’n sekere afstand aflê om op ’n vasgestelde tyd êrens te wees, sou dit dan verstandig wees om te vertrek wanneer daar net-net genoeg tyd is om daar te kom? Sou dit nie verstandig wees om ’n paar ekstra minute toe te laat sodat ons nie laat sal wees nie, al sou ’n ‘onvoorsiene gebeurtenis’ op pad plaasvind? (Pred. 9:11). “Iets wat enigiemand kan help om betyds te wees, is om ’n goeie idee te hê van hoeveel reistyd nodig is”, sê ’n stiptelike jong man met die naam José. a

Vir party is dit moontlik nodig om reëlings te tref om hulle werksplek vroeg genoeg te verlaat sodat hulle betyds vir Christelike vergaderinge kan opdaag. Dit is wat een Getuie in Etiopië gedoen het toe hy besef het dat hy weens skofwerk 45 minute laat sou wees vir gemeentelike vergaderinge. Hy het gereël dat ’n werksmaat op vergaderingaande vroeër werk toe kom om hom af te los. Op sy beurt het die Getuie ingestem om ’n ekstra sewe uur lange skof vir sy werksmaat te werk.

As ons jong kinders het, is dit ’n groot uitdaging om betyds te wees vir vergaderinge. Die verantwoordelikheid om die kinders gereed te maak, rus gewoonlik op die ma, maar ander gesinslede kan en moet help. ’n Mexikaanse ma met die naam Esperanza het alleen vir agt kinders gesorg. Hulle ouderdomme wissel nou van 5 tot 23. Esperanza verduidelik hoe haar gesin dit regkry om stiptelik te wees: “My ouer dogters help die jonger kinders om gereed te maak. Dit gee my tyd om my huiswerk klaar te maak en myself gereed te kry om op die vasgestelde tyd vergadering toe te gaan.” Hierdie gesin het ’n vasgestelde tyd om die huis te verlaat, en almal werk saam om dit dan te kan doen.

Vind baat by stiptelikheid in jou aanbidding

Wanneer ons nadink oor die seëninge wat ons ontvang wanneer ons betyds by Christelike vergaderinge opdaag, kan dit ons ’n groter begeerte gee en ons meer vasbeslote maak om alles in ons vermoë te doen om stiptelik te wees. ’n Jong vrou met die naam Sandra, wat die gewoonte aangekweek het om vroeg by die vergaderinge op te daag, sê: “Ek hou daarvan om vroeg te kom, want dit gee my ’n kans om die broers en susters te groet, met hulle te gesels en hulle beter te leer ken.” As ons vroeg by die Koninkryksaal opdaag, kan ons baat vind wanneer ons hoor van die volharding en getroue diens van ander wat aanwesig is. Deur ons teenwoordigheid en opbouende gesprekke kan ons ook ’n goeie invloed op ons broers en susters hê en hulle ‘tot liefde en goeie werke aanspoor’.—Heb. 10:24, 25.

Die lied en gebed waarmee elke Christelike vergadering geopen word, is ’n noodsaaklike deel van ons aanbidding (Ps. 149:1). Ons liedere loof Jehovah, herinner ons aan eienskappe wat ons moet aankweek en moedig ons aan om vreugdevol aan die bediening deel te neem. En wat van die openingsgebed? In die ou tyd het Jehovah die tempel sy “huis van gebed” genoem (Jes. 56:7). Vandag kom ons by ons vergaderinge byeen om tot God te bid. Die openingsgebed vra nie net vir Jehovah se leiding en heilige gees nie, maar berei ook ons verstande en harte voor om die inligting wat bespreek gaan word, in te neem. Ons moet vasbeslote wees om betyds vir die openingslied en -gebed by ons vergaderinge op te daag.

Die 23-jarige Helen verduidelik waarom sy vroeg by die vergaderinge opdaag: “Ek dink dit is ’n manier waarop ek my liefde vir Jehovah toon, aangesien hy al die inligting voorsien wat aangebied word, insluitende die liedere en die openingsgebed.” Moet ons nie dieselfde beskouing hê nie? Ja, ons moet. Laat ons dus daarna streef om stiptelikheid in al ons bedrywighede aan te kweek, veral in dié wat te doen het met ons aanbidding van die ware God.

[Voetnoot]

a Name is verander.

[Prent op bladsy 26]

Maak vroeg klaar

[Prent op bladsy 26]

Laat tyd toe vir “onvoorsiene gebeurtenisse”

[Prent op bladsy 26]

Maai die voordele daarvan om vroeg by vergaderinge op te daag