Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Maai seëninge deur God se geesgerigte Koning!

Maai seëninge deur God se geesgerigte Koning!

Maai seëninge deur God se geesgerigte Koning!

“Op hom sal die gees van Jehovah rus.”—JES. 11:2.

1. Hoe het party al hulle besorgdheid oor die wêreld se probleme uitgespreek?

 “HOE kan die menseras nog 100 jaar voortbestaan in ’n wêreld waar daar op politieke, maatskaplike en omgewingsgebied chaos heers?” Dit is wat die astrofisikus Stephen Hawking in 2006 gevra het. ’n Artikel in die tydskrif New Statesman het die volgende opmerking gemaak: “Ons het nie ’n einde aan armoede gemaak of wêreldvrede tot stand gebring nie. Inteendeel, dit lyk of ons presies die teenoorgestelde gedoen het. Dit is nie asof ons nie probeer het nie. Ons het al alles probeer: van Kommunisme tot die vryemarkekonomie; van die Volkebond tot kernwapens wat as afskrikmiddel gebruik word. Ons het al te veel ‘oorloë wat oorlog sou beëindig’, gevoer om te glo dat ons weet hoe om oorlog te beëindig.”

2. Hoe sal Jehovah binnekort sy regmatige soewereiniteit oor die aarde uitoefen?

2 Jehovah se knegte is nie verbaas wanneer sulke dinge gesê word nie. Die Bybel sê vir ons dat mense nie geskep is om oor hulleself te regeer nie (Jer. 10:23). Net Jehovah is ons regmatige Soewerein. Hy het dus die reg om vir ons standaarde te stel, om te bepaal wat die doel van ons lewe moet wees en om ons na daardie doel te rig. Wat meer is, hy sal binnekort sy gesag uitoefen en ’n einde maak aan die mensdom se mislukte pogings om oor hulleself te regeer. Hy sal ook almal vernietig wat sy regmatige soewereiniteit verwerp het en sodoende mense in slawerny gehou het aan sonde, aan onvolmaaktheid en aan “die god van hierdie stelsel van dinge”, Satan die Duiwel.—2 Kor. 4:4.

3. Wat het Jesaja oor die Messias voorspel?

3 Op die nuwe Paradysaarde sal Jehovah se liefdevolle soewereiniteit deur middel van die Messiaanse Koninkryk oor die mensdom uitgeoefen word (Dan. 7:13, 14). Jesaja het oor die Koning daarvan geprofeteer: “Daar sal ’n takkie uit die stomp van Isai voortkom; en uit sy wortels sal ’n spruit vrugbaar wees. En op hom sal die gees van Jehovah rus, die gees van wysheid en van begrip, die gees van raad en van mag, die gees van kennis en van die vrees van Jehovah” (Jes. 11:1, 2). Op watter spesifieke maniere het God se heilige gees die “takkie uit die stomp van Isai”—Jesus Christus—bekwaam gemaak om oor die mensdom te regeer? Watter seëninge sal sy heerskappy meebring? En wat moet ons doen om hierdie seëninge te maai?

Deur God bekwaam gemaak om te regeer

4-6. Watter noodsaaklike kennis sal Jesus in staat stel om ’n wyse en medelydende Koning, Hoëpriester en Regter te wees?

4 Jehovah wil hê dat sy menslike onderdane volmaaktheid moet bereik onder die leiding van ’n Koning, Hoëpriester en Regter wat werklik wys en medelydend is. Daarom het God Jesus Christus gekies, wat hy deur middel van heilige gees bekwaam gemaak het om hierdie baie belangrike verantwoordelikhede na te kom. Kyk na party van die redes waarom Jesus sy godgegewe rolle volmaak sal vervul.

5 Jesus ken God beter as enigiemand anders. Die enigverwekte Seun ken die Vader langer as enigiemand anders, heel moontlik baie miljarde jare lank. In daardie tyd het Jesus Jehovah so deeglik leer ken dat hy beskryf kon word as “die beeld van die onsigbare God” (Kol. 1:15). Jesus self het gesê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.”—Joh. 14:9.

6 Naas Jehovah het Jesus die omvattendste kennis van die hele skepping, wat die mensdom insluit. Kolossense 1:16, 17 sê: “Deur middel van hom [God se Seun] is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep, die sigbare dinge en die onsigbare dinge . . . En hy is voor alle ander dinge, en deur middel van hom is alle ander dinge tot stand gebring.” Dink net daaraan! As God se “meesterwerker” het Jesus ’n aandeel gehad aan al die ander aspekte van die skepping. Gevolglik verstaan hy al die besonderhede van die ganse heelal, van subatomiese deeltjies tot die verstommende mensebrein. Ja, Christus is waarlik die verpersoonliking van wysheid!—Spr. 8:12, 22, 30, 31.

7, 8. Hoe het God se gees Jesus in sy bediening gehelp?

7 Jesus is met God se heilige gees gesalf. “Jehovah se gees is op my”, het Jesus gesê, “want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak, hy het my uitgestuur om ’n vrylating aan die gevangenes te verkondig en ’n herstel van gesig aan die blindes, om die verbryseldes in vryheid weg te stuur, om Jehovah se aanneemlike jaar te verkondig” (Luk. 4:18, 19). Toe Jesus gedoop is, het heilige gees hom klaarblyklik bewus gemaak van dinge wat hy tydens sy voormenslike bestaan geleer het, insluitende wat God wou hê dat hy gedurende sy aardse bediening as die Messias moes bereik.—Lees Jesaja 42:1; Lukas 3:21, 22; Johannes 12:50.

8 Aangesien Jesus krag van die heilige gees ontvang het en ’n volmaakte liggaam en verstand gehad het, was hy nie net die grootste mens wat nog op die aarde gelewe het nie, maar ook die grootste Onderrigter. Trouens, sy toehoorders was “verstom . . . oor die manier waarop hy geleer het” (Matt. 7:28). Om maar een ding te noem, Jesus kon aandag skenk aan die grondoorsake van die mensdom se probleme—sonde, onvolmaaktheid en geestelike onkunde. Hy kon ook sien wat mense werklik in hulle hart is en hulle dienooreenkomstig behandel.—Matt. 9:4; Joh. 1:47.

9. Hoe word jou vertroue in Jesus as Heerser versterk wanneer jy oor sy ondervindinge op die aarde nadink?

9 Jesus het as ’n mens gelewe. Sy eie ondervindinge as ’n mens en sy noue omgang met onvolmaakte mense het baie gehelp om Jesus as Koning te bekwaam. Die apostel Paulus het geskryf: “[Jesus was] verplig om in alle opsigte soos sy ‘broers’ te word, sodat hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester in die dinge in verband met God kon word, om ’n soenoffer vir die sondes van die volk te bring. Want deurdat hy self gely het toe hy op die proef gestel is, kan hy dié wat op die proef gestel word, te hulp kom” (Heb. 2:17, 18). Omdat Jesus “op die proef gestel is”, kan hy simpatie hê met dié wat voor beproewinge te staan kom. Jesus se medelye het gedurende sy aardse bediening duidelik na vore gekom. Die siekes, die gestremdes, die verdruktes—selfs kinders—het hom met vrymoedigheid genader (Mark. 5:22-24, 38-42; 10:14-16). Die sagmoediges en dié wat geestelik honger was, het ook tot hom aangetrokke gevoel. Daarenteen het die trotses, die verwaandes en diegene wat “nie die liefde vir God” in hulle gehad het nie, hom verwerp, gehaat en teëgestaan.—Joh. 5:40-42; 11:47-53.

10. Op watter uitsonderlike manier het Jesus sy liefde vir ons bewys?

10 Jesus het sy lewe ten behoewe van ons gegee. Jesus se bereidwilligheid om vir ons te sterf, lewer seker die grootste bewys dat hy die beste Heerser is. (Lees Psalm 40:6-10.) Christus het gesê: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Joh. 15:13). Ja, in teenstelling met onvolmaakte menseheersers, wat dikwels ten koste van hulle onderdane bevoorregte lewens lei, het Jesus selfs sy lewe vir die mensdom gegee.—Matt. 20:28.

Gemagtig om die losprys aan te wend

11. Waarom kan ons volle vertroue stel in Jesus as ons Verlosser?

11 Hoe gepas is dit tog dat Jesus as Hoëpriester die leiding daarin neem om die voordele van sy losprysoffer ten behoewe van ons aan te wend! Om die waarheid te sê, tydens Jesus se aardse bediening het hy ons ’n voorskou gegee van wat hy as ons Verlosser sal doen gedurende sy Duisendjarige Heerskappy, waaronder ons kan lewe as ons getrou is. Hy het die siekes en die gestremdes genees, die dooies opgewek, skares gevoed en selfs die elemente beheer (Matt. 8:26; 14:14-21; Luk. 7:14, 15). Wat meer is, hy het hierdie dinge gedoen, nie om met sy gesag en krag te spog nie, maar om sy medelye en liefde te toon. “Ek wil”, het hy vir ’n melaatse gesê wat hom gesoebat het om genees te word (Mark. 1:40, 41). Jesus sal gedurende sy Duisendjarige Heerskappy ook sulke medelye toon—maar op ’n wêreldskaal.

12. Hoe sal Jesaja 11:9 vervul word?

12 Christus en sy medeheersers sal ook voortgaan met die geestelike onderrigtingsprogram waarmee Jesus sowat 2 000 jaar gelede begin het. Die woorde in Jesaja 11:9 sal dus vervul word: “Die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.” Hierdie goddelike onderrigting sal ongetwyfeld instruksies insluit oor hoe om vir die aarde en al sy dierelewe te sorg, wat Adam oorspronklik beveel is om te doen. Teen die einde van die 1 000 jaar sal God se oorspronklike voorneme, wat in Genesis 1:28 gemeld word, verwesenlik wees, en die losprysoffer sal ten volle aangewend wees.

Gemagtig om te oordeel

13. Hoe het Jesus sy liefde vir regverdigheid getoon?

13 Christus is “die Een . . . wat deur God verorden is om regter van die lewendes en die dooies te wees” (Hand. 10:42). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jesus onverderflik is, dat regverdigheid en getrouheid soos ’n gordel is waarmee sy lendene stewig omgord is! (Jes. 11.5). Hy het gierigheid, skynheiligheid en ander euwels gehaat en het mense bestraf wat ongevoelig gestaan het teenoor ander se lyding (Matt. 23:1-8, 25-28; Mark. 3:5). Jesus het ook getoon dat hy nie deur die uiterlike mislei word nie, “want hy het self geweet wat in die mens is”.—Joh. 2:25.

14. Hoe toon Jesus nou sy liefde vir regverdigheid en geregtigheid, en wat moet ons ons afvra?

14 Jesus toon nog steeds sy liefde vir regverdigheid en geregtigheid deur toesig te hou oor die grootste predikings- en onderrigtingskampanje in die geskiedenis van die wêreld. Geen mens, geen menseregering en geen bose gees kan keer dat hierdie werk tot God se algehele bevrediging uitgevoer word nie. Ons kan dus die volle vertroue hê dat goddelike geregtigheid sal seëvier wanneer Armageddon verby is. (Lees Jesaja 11:4; Matteus 16:27.) Vra jou af: ‘Weerspieël ek Jesus se gesindheid teenoor mense in die bediening? Gee ek Jehovah my beste, al beperk my gesondheid of persoonlike omstandighede dalk wat ek kan doen?’

15. Wat moet ons in gedagte hou as ons God ons beste wil gee?

15 As ons in gedagte hou dat die predikingswerk God se werk is, sal dit ons help om hom heelhartig te dien. Hy het beveel dat dit gedoen moet word; hy rig dit deur sy Seun; en Hy gee dié wat daaraan deelneem, krag deur middel van heilige gees. Waardeer jy die voorreg wat jy het om as God se medewerker saam met sy geesgerigte Seun te dien? Kan enigiemand behalwe Jehovah meer as sewemiljoen mense, waarvan die meeste as “ongeleerde en gewone mense” beskou word, beweeg om die Koninkryksboodskap aan mense in 236 lande te verkondig?—Hand. 4:13.

Seën jouself deur Christus!

16. Wat dui Genesis 22:18 aan omtrent God se seëninge?

16 Jehovah het vir Abraham gesê: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën omdat jy na my stem geluister het” (Gen. 22:18). Dit dui aan dat mense wat waardering het, vol vertroue kan uitsien na die seëninge wat die Messiaanse Saad sal meebring. En hulle is vandag bedrywig in hulle diens aan God met hierdie seëninge in gedagte.

17, 18. Van watter belofte van Jehovah lees ons in Deuteronomium 28:2, en wat beteken dit vir ons?

17 God het eenkeer vir Abraham se vleeslike saad, die nasie Israel, gesê: “Al hierdie seëninge [wat in die Wetsverbond uiteengesit is,] sal oor jou kom en jou inhaal, omdat jy na die stem van Jehovah jou God bly luister” (Deut. 28:2). Dieselfde kan van God se knegte van vandag gesê word. As jy deur God geseën wil word, moet jy na sy stem “bly luister”. Dan sal sy seëninge “oor jou kom en jou inhaal”. Maar wat behels dit om te “luister”?

18 Om te luister, sluit beslis in dat ’n mens dít wat in God se Woord gesê word en die geestelike voedsel wat hy voorsien, ter harte neem (Matt. 24:45). Dit beteken ook dat ons aan God en sy Seun gehoorsaam moet wees. Jesus het gesê: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). En om na God te luister, beteken dat ’n mens jou gewillig onderwerp aan die reëling wat hy ingestel het, die Christengemeente met die aangestelde ouer manne, “gawes in die vorm van mense”.—Ef. 4:8.

19. Hoe kan ons vir ’n seën in aanmerking kom?

19 Hierdie “gawes in die vorm van mense” sluit die lede van die Bestuursliggaam in, wat as verteenwoordigers van die hele Christengemeente optree (Hand. 15:2, 6). Om die waarheid te sê, ons gesindheid teenoor Christus se geestelike broers sal in ’n groot mate bepaal hoe ons gedurende die komende groot verdrukking geoordeel sal word (Matt. 25:34-40). Een manier waarop ons ’n seën kan verkry, is dus deur God se gesalfdes lojaal te ondersteun.

20. (a) Wat is ’n belangrike verantwoordelikheid van die “gawes in die vorm van mense”? (b) Hoe kan ons toon dat ons hierdie broers waardeer?

20 Die “gawes in die vorm van mense” sluit ook lede van Takkomitees, reisende opsieners en gemeentelike ouer manne in—wat almal deur heilige gees aangestel is (Hand. 20:28). Hierdie broers se vernaamste verantwoordelikheid is om God se volk op te bou “totdat . . . almal kom tot die eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God, tot ’n volgroeide man, tot die mate van die groei wat tot die volheid van die Christus behoort” (Ef. 4:13). Hulle is weliswaar onvolmaak, soos die res van ons. Maar ons seën onsself wanneer ons met waardering op hulle liefdevolle herderswerk reageer.—Heb. 13:7, 17.

21. Waarom is dit dringend dat ons gehoorsaam is aan God se Seun?

21 Christus sal binnekort teen Satan se goddelose stelsel optree. Wanneer dit gebeur, sal ons lewe in Jesus se hande wees, want God het hom gemagtig om die voorspelde “groot menigte” na die “fonteine van waters van die lewe” te lei (Op. 7:9, 16, 17). Laat ons dus nou ons uiterste bes doen om ons gewillig en met waardering aan Jehovah se geesgerigte Koning te onderwerp.

Wat het jy geleer uit . . . 

Jesaja 11:1-5?

Markus 1:40, 41?

Handelinge 10:42?

Genesis 22:18?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 17]

Jesus se medelye het duidelik na vore gekom toe hy Jaïrus se dogter opgewek het

[Prente op bladsy 18]

Jesus Christus hou toesig oor die grootste predikingskampanje in die geskiedenis