Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die krag om enige beproewing die hoof te bied

Die krag om enige beproewing die hoof te bied

Die krag om enige beproewing die hoof te bied

“Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—FIL. 4:13.

1. Waarom het Jehovah se volk met baie soorte teëspoed te kampe?

 JEHOVAH se volk het dikwels met die een of ander soort teëspoed te kampe. Party beproewinge ontstaan weens ons eie onvolmaakthede of as gevolg van die stelsel van dinge waarin ons lewe. Ander ontstaan weens die vyandskap wat bestaan tussen dié wat God dien en dié wat hom nie dien nie (Gen. 3:15). Sedert vroeg in die mensegeskiedenis het God sy getroue knegte gehelp om godsdiensvervolging die hoof te bied, skadelike portuurdruk te weerstaan en allerhande ander soorte teëspoed te verduur. Sy heilige gees kan ons die krag gee om dieselfde te doen.

Hulp om godsdiensvervolging die hoof te bied

2. Wat is die doel van godsdiensvervolging, en watter vorme kan dit aanneem?

2 Godsdiensvervolging behels dat mense opsetlik geteister of skade aangedoen word weens hulle geloof of oortuigings. Die doel daarvan is om hierdie oortuigings uit te roei, te keer dat dit versprei of gelowiges hulle onkreukbaarheid te laat prysgee. Vervolging kan verskillende vorme aanneem—soms is dit openlik, ander kere subtiel. Die Bybel vergelyk Satan se aanvalle met dié van ’n jong leeu sowel as ’n kobra.—Lees Psalm 91:13.

3. Wat is die kenmerke van leeuagtige en kobra-agtige vervolging?

3 Soos ’n wrede leeu het Satan al dikwels openlike frontaanvalle gedoen deur middel van geweld, gevangenskap of ’n verbod (Ps. 94:20). Verslae in die Jaarboek wat die bedrywighede van Jehovah se Getuies in hedendaagse tye beskryf, bevat talle voorbeelde van hierdie taktiek. Oproerige skares, soms met geestelikes of politieke fanatici aan die spits, het God se volk al in baie wêrelddele mishandel. Hierdie leeuagtige aanvalle het ’n paar al laat struikel. Soos ’n kobra gebruik die Duiwel ook verraderlike aanvalle uit verborge plekke om verstande te vergiftig en mense te bedrieg sodat hulle sy wil doen. Hierdie soort aanval is bedoel om ons geestelik te verswak of te verderf. Maar deur middel van God se heilige gees kan ons albei vorme van vervolging die hoof bied.

4, 5. Wat is die beste manier om vir vervolging voor te berei, en waarom? Gee ’n voorbeeld.

4 Om ’n mens verskillende scenario’s van moontlike toekomstige vervolging voor te stel, is nie die beste manier om daarvoor voor te berei nie. Die feit is dat dit eenvoudig vir ons onmoontlik is om te weet wat die toekoms inhou wanneer dit by sulke sake kom, en daarom sal ons nie juis daarby baat vind om ons te bekommer oor dinge wat dalk nooit sal gebeur nie. Daar is egter iets wat ons kan doen. Die meeste van dié wat vervolging suksesvol verduur het, het dit gedoen deur te peins oor wat die Skrif sê van die getroue weg van dié wat hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het, sowel as oor die leringe en voorbeeld van Jesus. Dit het hulle in staat gestel om hulle liefde vir Jehovah te vergroot. En hierdie liefde het hulle gehelp om enige beproewinge waarmee hulle te kampe gehad het, te verduur.

5 Beskou die voorbeeld van twee van ons susters in Malawi. In ’n poging om hulle te kry om ’n politieke partykaart te koop, het ’n gewelddadige, oproerige skare hulle geslaan, kaal uitgetrek en gedreig om hulle te verkrag. Die skare het hulle die leuen vertel dat selfs lede van die Bethelgesin partykaarte gekoop het. Wat was die susters se reaksie? “Ons dien slegs Jehovah God. As die broers by die takkantoor kaarte gekoop het, maak dit dus geen verskil aan ons nie. Ons sal nie ons geloof prysgee nie, al maak julle ons dood!” Nadat hulle hierdie moedige standpunt ingeneem het, is die susters vrygelaat.

6, 7. Hoe stel Jehovah sy knegte in staat om vervolging te verduur?

6 Die apostel Paulus het gesê dat Christene in Tessalonika die boodskap van waarheid “onder groot verdrukking” en tog “met vreugde van die heilige gees” aangeneem het (1 Tess. 1:6). Baie Christene, van die verlede en die hede, wat vervolging verduur en oorkom het, sê dat hulle gedurende die moeilikste deel van hulle beproewing innerlike vrede ervaar het, wat ’n aspek van die vrug van God se heilige gees is (Gal. 5:22). En hierdie vrede het gehelp om hulle harte en verstandelike vermoëns te bewaak. Ja, Jehovah gebruik sy werkende krag om sy knegte in staat te stel om beproewinge te verduur en om verstandig op te tree wanneer hulle met teëspoed te kampe het. a

7 Omstanders is al verbaas deur die vasbeslotenheid van God se volk om hulle onkreukbaarheid te handhaaf, al word hulle wreed vervolg. Dit het gelyk asof die Getuies bomenslike krag het, en dit was ook die geval. Die apostel Petrus verseker ons: “As julle vir die naam van Christus gesmaad word, is julle gelukkig, omdat die gees van heerlikheid, ja, die gees van God, op julle rus” (1 Pet. 4:14). Die feit dat ons vervolg word omdat ons regverdige standaarde handhaaf, toon dat ons goddelike goedkeuring geniet (Matt. 5:10-12; Joh. 15:20). Watter vreugde verskaf hierdie bewys van Jehovah se seën ons tog!

Hulp om portuurdruk te weerstaan

8. (a) Wat het Josua en Kaleb in staat gestel om portuurdruk te weerstaan? (b) Wat kan ons uit Josua en Kaleb se voorbeeld leer?

8 ’n Subtieler vorm van teenstand wat Christene moet verduur, is negatiewe portuurdruk. Maar omdat Jehovah se gees baie sterker is as die gees van die wêreld, kan ons mense weerstaan wat ons bespot, wat onwaarhede oor ons versprei of wat ons probeer dwing om aan hulle standaarde te voldoen. Wat het Josua en Kaleb byvoorbeeld in staat gestel om te verskil met die mening van die tien ander spioene wat in die land Kanaän ingestuur is? Die heilige gees het ’n ander “gees”, of geestesneiging, in hulle aangewakker.—Lees Numeri 13:30; 14:6-10, 24.

9. Waarom moet Christene bereid wees om anders as die meeste mense te wees?

9 Die heilige gees het ook Jesus se apostels krag gegee om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan dié wat deur baie mense as onderrigters van ware godsdiens hooggeag is (Hand. 4:21, 31; 5:29, 32). Die meeste mense verkies om met die meerderheid saam te gaan om konfrontasie of konflik te vermy. Ware Christene moet egter dikwels ’n standpunt inneem vir wat hulle weet reg is. Hulle is nogtans nie bang om anders te wees nie, omdat God se werkende krag hulle versterk (2 Tim. 1:7). Beskou ’n gebied waarop ons nie voor portuurdruk moet swig nie.

10. Voor watter dilemma kom party Christene dalk te staan?

10 Party jongmense kom dalk voor ’n dilemma te staan as hulle uitvind dat ’n vriend hom aan onskriftuurlike gedrag skuldig gemaak het. Hulle dink dalk dat hulle ’n ongeskrewe kode van stilswye sal skend as hulle geestelike hulp vir hulle vriend probeer kry, en hulle weier dus weens misplaaste lojaliteit om oor die saak te praat. ’n Oortreder plaas dalk selfs druk op sy vriende om sy sonde geheim te hou. Hierdie soort probleem bestaan natuurlik nie net onder jongmense nie. Party volwassenes vind dit miskien ook moeilik om gemeentelike ouer manne in verband met ’n vriend of familielid se oortreding te nader. Maar hoe moet ware Christene op hierdie druk reageer?

11, 12. Wat is die beste manier om te reageer as ’n lid van die gemeente jou aanspoor om nie sy of haar oortreding bekend te maak nie, en waarom?

11 Stel jou hierdie situasie voor. Gestel Johan, ’n jong broer, vind uit dat Stefan, sy vriend in die gemeente, die gewoonte het om na pornografie te kyk. Johan sê vir Stefan dat hy diep besorg is oor wat sy vriend doen. Maar Stefan steur hom nie juis aan wat hy sê nie. Wanneer Johan hom aanspoor om met die ouer manne hieroor te praat, sê Stefan dat Johan sal stilbly as hulle twee werklik vriende is. Moet Johan bang wees dat hy sy vriend sal verloor? Hy wonder dalk wie die ouer manne sal glo as Stefan alles ontken. Maar die situasie gaan nie verbeter as Johan daaroor stilbly nie. Om die waarheid te sê, dit kan daartoe lei dat Stefan sy verhouding met Jehovah verloor. Dit sal verstandig van Johan wees om die volgende in gedagte te hou: “Om vir mense te bewe, span ’n strik, maar hy wat op Jehovah vertrou, sal beskerm word” (Spr. 29:25). Wat kan Johan nog doen? Hy kan Stefan weer liefdevol nader en sy fout blootlê. Dit sal moed verg. Maar Stefan sal heel moontlik nou die geleentheid verwelkom om oor sy probleem te praat. Johan moet Stefan weer eens aanspoor om met die ouer manne te gaan praat en vir hom sê dat hy self met hulle sal gaan praat as Stefan dit nie binne ’n redelike tyd doen nie.—Lev. 5:1.

12 As jy ooit voor so ’n situasie te staan kom, sal jou vriend dalk aanvanklik nie jou pogings om te help, waardeer nie. Maar mettertyd sal hy dalk besef dat jy dit vir sy eie beswil doen. As die oortreder hulp ontvang en aanvaar, sal hy jou miskien ewig dankbaar wees vir jou moed en lojaliteit. As hy aan die ander kant vir jou kwaad bly, is hy nie werklik die soort vriend wat jy wil hê nie, of hoe? Om ons grootste Vriend, Jehovah, gelukkig te maak, is altyd die regte ding om te doen. Wanneer ons hom eerste stel, sal ander wat vir hom lief is, ons respekteer vir ons lojaliteit en ons ware vriende word. Ons moet nooit in die Christengemeente plek toelaat vir die Duiwel nie. As ons dit sou doen, sou ons Jehovah se heilige gees werklik bedroef. Ons tree egter in ooreenstemming daarmee op deur ons in te span om die Christengemeente rein te hou.—Ef. 4:27, 30.

Die krag om allerhande soorte teëspoed te verduur

13. Met watter soorte teëspoed het Jehovah se volk te kampe, en waarom is dit so algemeen?

13 Teëspoed kan baie vorme aanneem—’n finansiële terugslag, afdanking, ’n natuurramp, die dood van ’n geliefde, ’n gesondheidskrisis, ensovoorts. Aangesien ons in “kritieke tye” lewe, kan ons verwag dat ons almal vroeër of later die een of ander soort beproewing sal moet verduur (2 Tim. 3:1). Wanneer dit gebeur, is dit belangrik om nie paniekerig te raak nie. Die heilige gees kan ons die krag gee om enige soort teëspoed te verduur.

14. Wat het Job die krag gegee om sy beproewinge te verduur?

14 Job het die een beproewing ná die ander verduur. Hy het sy bron van inkomste, sy kinders, vriende en gesondheid verloor, en sy vrou het haar vertroue in Jehovah verloor (Job 1:13-19; 2:7-9). Maar Elihu was vir Job ’n ware vertrooster. Sy boodskap, sowel as die kern van Jehovah se boodskap aan Job, was: “Staan stil en gee ag op die wonderlike werke van God” (Job 37:14). Wat het Job gehelp om sy beproewinge te verduur? En wat kan ons help om ons s’n te verduur? Bepeinsing oor die verskillende maniere waarop Jehovah se heilige gees en krag geopenbaar word (Job 38:1-41; 42:1, 2). Ons onthou dalk tye in ons lewe toe ons kon sien dat God persoonlik in ons belangstel. Hy stel nog steeds in ons belang.

15. Wat het die apostel Paulus versterk om beproewinge te verduur?

15 Die apostel Paulus het talle lewensgevaarlike beproewinge ter wille van sy geloof verduur (2 Kor. 11:23-28). Hoe het hy onder hierdie moeilike omstandighede gebalanseerd en emosioneel bestendig gebly? Deur biddend op Jehovah te vertrou. Gedurende die tyd van beproewing wat blykbaar op Paulus se marteldood uitgeloop het, het hy geskryf: “Die Here het naby my gestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking ten volle uitgevoer kon word en al die nasies dit kon hoor; en ek is uit die leeu se bek verlos” (2 Tim. 4:17). Uit persoonlike ondervinding kon Paulus dus sy medegelowiges verseker dat hulle hulle ‘oor niks hoef te kwel nie’.—Lees Filippense 4:6, 7, 13.

16, 17. Gee ’n voorbeeld van hoe Jehovah vandag sy volk die krag gee om teëspoed te verduur.

16 ’n Pionier met die naam Roxana het al gesien hoe Jehovah vir sy volk sorg. Toe sy haar werkgewer toestemming vra om ’n paar dae verlof te neem sodat sy een van ons streekbyeenkomste kan bywoon, het hy kwaad geword en gesê dat hy haar sou afdank as sy sou gaan. Roxana het nogtans gegaan en vurig gebid dat sy haar werk sou behou. Daarna het sy kalm gevoel. Die Maandag ná die byeenkoms het haar werkgewer haar wel afgedank. Roxana was ontsteld. Sy het die werk nodig gehad om haar gesin te help onderhou, al het dit nie goed betaal nie. Sy het weer gebid en het gepeins oor die feit dat God by die byeenkoms geestelik vir haar gesorg het en dus sekerlik ook fisies vir haar kon sorg. Terwyl sy huis toe geloop het, het Roxana ’n teken gesien wat werk aangebied het vir ervare operateurs van industriële naaimasjiene, en sy het vir die werk aansoek gedoen. Die bestuurder het besef dat sy geen ondervinding het nie, maar het haar tog ’n werk aangebied, teen byna dubbel die loon wat sy voorheen verdien het. Roxana het gevoel dat haar gebede verhoor is. Die grootste seën was egter dat sy ’n hele paar van haar medewerkers van die goeie nuus kon vertel. Vyf van hulle, waaronder die bestuurder, het die waarheid aangeneem en is gedoop.

17 Soms lyk dit dalk asof ons gebede nie verhoor word nie—ten minste nie dadelik of op die manier wat ons verwag nie. Indien wel, is daar ongetwyfeld ’n goeie rede daarvoor. Jehovah weet wat die rede is, maar dit word dalk eers in die toekoms vir ons duidelik. Ons kan seker wees van een ding—God verlaat nie sy getroues nie.—Heb. 6:10.

Hulp om beproewinge te verduur en versoekings te weerstaan

18, 19. (a) Waarom kan ons verwag om voor beproewinge en versoekings te staan te kom? (b) Hoe kan jy beproewinge suksesvol die hoof bied?

18 Jehovah se volk is nie verbaas wanneer hulle voor versoeking, ontmoediging, vervolging en portuurdruk te staan kom nie. Oor die algemeen is die wêreld ons vyandiggesind (Joh. 15:17-19). Maar die heilige gees kan ons opgewasse maak teen enige uitdaging waarvoor ons te staan kom in ons diens aan God. Jehovah sal nie toelaat dat ons versoek word bo wat ons kan verdra nie (1 Kor. 10:13). Hy sal ons hoegenaamd nooit verlaat of versaak nie (Heb. 13:5). Gehoorsaamheid aan sy geïnspireerde Woord beskerm en versterk ons. Daarbenewens kan God se gees medegelowiges beweeg om die nodige hulp te verleen wanneer ons dit die nodigste het.

19 Mag ons almal aanhou om heilige gees te probeer verkry deur middel van gebed en Bybelstudie. Mag ons voortgaan “om na die mate van [God se] glorieryke mag kragtig gemaak te word met alle krag om ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde”.—Kol. 1:11.

[Voetnoot]

a Vir voorbeelde, sien Die Wagtoring van 1 Mei 2001, bladsy 16; en die Ontwaak! van 8 Februarie 1993, bladsye 21 en 22.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe kan jy voorberei om vervolging die hoof te bied?

• Hoe moet jy reageer as iemand jou aanspoor om nie ’n oortreding bekend te maak nie?

• Watter vertroue kan jy hê wanneer jy voor enige soort teëspoed te staan kom?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 28]

Wat kan ons by Josua en Kaleb leer?

[Prent op bladsy 29

Hoe kan jy ’n vriend help wat die een of ander oortreding begaan?