Ken Jehovah jou?
Ken Jehovah jou?
“Jehovah ken dié wat aan hom behoort.”—2 TIM. 2:19.
1, 2. (a) Waaroor was Jesus besorg? (b) Watter vrae moet ons oorweeg?
EENDAG het ’n Fariseër na Jesus toe gekom en gevra: “Wat is die grootste gebod in die Wet?” Jesus het geantwoord: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matt. 22:35-37). Jesus het sy hemelse Vader innig liefgehad en het werklik in ooreenstemming met hierdie woorde gelewe. Jesus was ook besorg oor sy posisie voor Jehovah en het dit getoon deur sy getroue lewenswandel. Daarom kon hy kort voor sy dood sê dat God hom ken as iemand wat Sy gebooie getrou gehoorsaam. Jesus het dus in Jehovah se liefde gebly.—Joh. 15:10.
2 Vandag sê baie mense dat hulle God liefhet. Ons sluit ons ongetwyfeld onder hulle in. Maar ernstige vrae om te oorweeg, is: ‘Ken God my? Hoe beskou Jehovah my? Staan ek bekend as iemand wat aan hom behoort?’ (2 Tim. 2:19). Wat ’n voorreg is dit tog om so ’n hegte verhouding met die Soewerein van die heelal te kan hê!
3. Waarom twyfel party dat hulle aan Jehovah kan behoort, en wat sal help om sulke gedagtes teë te werk?
3 Maar party wat Jehovah innig liefhet, vind dit moeilik om te glo dat God hulle in ’n positiewe lig kan beskou. Party voel onwaardig en twyfel dus of hulle aan Jehovah kan behoort. Hoe bly kan ons tog wees dat God ons uit ’n ander perspektief kan sien! (1 Sam. 16:7). Die apostel Paulus het vir sy mede-Christene gesê: “As iemand God liefhet, word dié deur hom geken” (1 Kor. 8:3). Jou liefde vir God is ’n belangrike voorvereiste om deur hom geken te word. Dink net: Waarom lees jy hierdie tydskrif? Waarom probeer jy Jehovah met jou hele hart, siel, verstand en krag dien? As jy jou aan God toegewy en laat doop het, wat het jou dit laat doen? Die Bybel verduidelik dat Jehovah, wat harte ondersoek, dié trek wat vir hom begeerlik is. (Lees Haggai 2:7; Johannes 6:44.) Jy kan dus aflei dat jy Jehovah dien omdat hy jou getrek het. Hy sal nooit dié wat hy getrek het, verlaat as hulle getrou bly nie. God beskou hulle as baie kosbaar, en hy het hulle innig lief.—Ps. 94:14.
4. Waarom moet dit vir ons altyd van belang wees om deur God geken te word?
4 As Jehovah ons getrek het, moet dit vir ons belangrik wees om in sy liefde te bly. (Lees Judas 20, 21.) Onthou, die Bybel toon dat dit vir iemand moontlik is om weg te dryf of hom terug te trek van God af (Heb. 2:1; 3:12, 13). Byvoorbeeld, net voor die stelling in 2 Timoteus 2:19 het die apostel Paulus Himeneus en Filetus genoem. Dié twee manne het blykbaar op die een of ander stadium aan Jehovah behoort, maar hulle het later van die waarheid afgewyk (2 Tim. 2:16-18). Onthou ook dat party in die gemeentes in Galasië wat deur God geken is, nie in die geestelike lig gebly het wat hulle vroeër geniet het nie (Gal. 4:9). Mag ons nooit ons kosbare posisie voor God as vanselfsprekend aanneem nie.
5. (a) Wat is van die eienskappe wat God op prys stel? (b) Watter voorbeelde gaan ons ondersoek?
5 Daar is sekere eienskappe wat Jehovah hoog op prys stel (Ps. 15:1-5; 1 Pet. 3:4). Geloof en nederigheid het party wat deur God geken is, onderskei. Kom ons ondersoek die voorbeeld van twee manne om te sien hoe hierdie eienskappe daartoe gelei het dat Jehovah hulle liefhet. Ons sal ook na ’n man kyk wat gedink het dat God hom ken, maar wat ’n trotse weg ingeslaan het en uitgevind het dat Jehovah hom verwerp het. Ons kan waardevolle lesse uit hierdie voorbeelde leer.
Die vader van dié wat geloof het
6. (a) Watter geloof het Abraham in Jehovah se beloftes geopenbaar? (b) Hoe het Jehovah Abraham geken?
6 Abraham was ’n man wat “geloof in Jehovah gestel” het. Trouens, hy word “die vader . . . van almal wat geloof het”, genoem (Gen. 15:6; Rom. 4:11). In geloof het Abraham sy huis, sy vriende en sy besittings verlaat en na ’n ver land gegaan (Gen. 12:1-4; Heb. 11:8-10). Abraham se geloof was baie jare later nog sterk. Dit kon gesien word toe hy in gehoorsaamheid aan Jehovah se bevel sy seun “Isak so goed as geoffer” het (Heb. 11:17-19). Abraham het geloof in Jehovah se beloftes geopenbaar, en daarom het God hom as spesiaal beskou; hy het Abraham werklik geken. (Lees Genesis 18:19.) Jehovah was nie net bewus van Abraham se bestaan nie; hy het Abraham as ’n vriend beskou.—Jak. 2:22, 23.
7. Wat is noemenswaardig oor die vervulling van Jehovah se beloftes, en watter uitwerking het dit op Abraham gehad?
7 Dit is noemenswaardig dat Abraham nie gedurende sy leeftyd die land wat aan hom beloof is, beërf het nie. Hy het ook nie gesien dat sy saad “soos die sandkorrels wat aan die seestrand is”, word nie (Gen. 22:17, 18). Al is hierdie beloftes nie gedurende Abraham se leeftyd vervul nie, het hy sterk geloof in Jehovah behou. Hy het geweet dat as God iets belowe het, dit beslis sal gebeur. Ja, Abraham het sy lewe in ooreenstemming met daardie oortuiging gelei. (Lees Hebreërs 11:13.) Ken Jehovah ons as mense wat geloof soos dié van Abraham het?
Om op Jehovah te wag, is ’n teken van geloof
8. Watter gepaste begeertes wil party graag vervul sien?
8 Dalk het ons begeertes wat ons graag vervul wil sien. Om te trou, kinders te hê en goeie gesondheid te geniet, is alles natuurlike en gepaste begeertes. Maar vir baie sal een of meer van hierdie begeertes onvervuld bly. As dit met jou die geval is, kan die manier hoe jy die situasie hanteer, toon hoe sterk jou geloof is.
9, 10. (a) Hoe het party hulle begeertes probeer vervul? (b) Hoe voel jy oor die vervulling van God se beloftes?
9 Hoe onverstandig sou dit tog wees om hierdie begeertes te probeer vervul op ’n manier wat in stryd is met goddelike wysheid. Dit sal jou geestelik skade doen. Party het byvoorbeeld vorms van gesondheidsorg gekies wat in stryd is met Jehovah se raad. Ander het werk aanvaar wat hulle van hulle gesin of gemeentelike vergaderinge weghou. Of dalk het hulle ’n romantiese verhouding met ’n ongelowige aangekweek. As ’n Christen so ’n weg volg, wil hy werklik deur Jehovah geken word? Hoe sou Jehovah gevoel het as Abraham ongeduldig geraak het oor die vervulling van God se beloftes aan hom? Sê nou Abraham het sake in eie hande geneem om hom weer iewers te vestig en ’n roemryke naam vir hom te maak eerder as om op Jehovah te wag? (Vergelyk Genesis 11:4.) Sou Jehovah hom nog in gunstige sin geken het?
10 Watter begeertes wil jy graag vervul sien? Is jou geloof sterk genoeg om op Jehovah te wag, wat belowe om jou gepaste begeertes te bevredig? (Ps. 145:16). Soos in die geval van Abraham, word party van God se beloftes dalk nie so gou vervul as wat ons wil hê nie. Jehovah stel dit nogtans op prys as ons geloof soos dié van Abraham aankweek en in ooreenstemming daarmee optree. As ons dit doen, sal dit ons beslis tot voordeel strek.—Heb. 11:6.
’n Kontras tussen nederigheid en trots
11. Watter voorregte het Korag moontlik geniet, en wat toon dit blykbaar oor sy gesindheid teenoor God?
11 Moses en Korag staan in skerp teenstelling met mekaar ten opsigte van die betoning van respek vir Jehovah se reëling en sy besluite. Hulle reaksies het ’n uitwerking gehad op hoe Jehovah hulle beskou het. Korag was ’n Kehatitiese Leviet en het baie voorregte geniet, wat waarskynlik ingesluit het dat hy die verlossing van die nasie deur die Rooisee heen gesien het, Jehovah se veroordeling van ongehoorsame Israeliete by die berg Sinai ondersteun het en dat hy ’n deel gehad het in die vervoer van die verbondsark (Eks. 32:26-29; Num. 3:30, 31). Hy was blykbaar reeds jare lank lojaal aan Jehovah en gevolglik het baie in die kamp van Israel na hom opgekyk.
12. Watter uitwerking het trots gehad op die manier waarop Korag deur God geken is, soos op bladsy 28 uitgebeeld word?
12 Nietemin, terwyl die nasie Israel op pad na die Beloofde Land was, het Korag dinge gesien wat na sy mening probleme in God se reëling is. Toe het 250 ander vooraanstaande manne in die nasie hulle by hom gevoeg om veranderinge te probeer bewerkstellig. Korag en die ander het heel moontlik seker gevoel oor hulle verhouding met Jehovah. Hulle het vir Moses gesê: “Dit is nou genoeg, want die hele vergadering, hulle almal, is heilig, en Jehovah is in hulle midde” (Num. 16:1-3). Wat ’n selfversekerde en trotse gesindheid! Moses het vir hulle gesê: “Jehovah [sal] bekend maak wie aan hom behoort.” (Lees Numeri 16:5.) Teen die einde van die volgende dag was Korag en al dié wat hulle in sy opstand by hom geskaar het, dood.—Num. 16:31-35.
13, 14. Op watter maniere het Moses sy nederigheid geopenbaar?
13 In teenstelling hiermee was Moses “verreweg die sagmoedigste van al die mense . . . op die oppervlak van die aarde” (Num. 12:3). Hy het sy sagmoedigheid en nederigheid geopenbaar deur sy vasbeslotenheid om Jehovah se leiding te volg (Eks. 7:6; 40:16). Daar is geen aanduiding dat Moses die manier waarop Jehovah dinge doen, dikwels bevraagteken het of dat hy kwaad geword het omdat hy prosedures moes volg wat Jehovah ingestel het nie. Jehovah het byvoorbeeld tot in die fynste besonderhede bevele gegee oor die bou van die tabernakel, soos die kleur van die draad en die aantal lissies aan die tentdoeke (Eks. 26:1-6). As ’n menslike opsiener in God se organisasie jou besonder uitvoerige instruksies gee, voel jy dalk soms gefrustreerd. Maar Jehovah is ’n volmaakte opsiener wat vryelik delegeer en sy knegte vertrou. Wanneer hy baie besonderhede voorsien, doen hy dit met goeie rede. Let egter daarop dat Moses nie geïrriteerd geraak het met Jehovah omdat hy soveel besonderhede gegee het, asof Jehovah hom verneder het of sy kreatiwiteit of vryheid aan bande gelê het nie. Moses het eerder gesorg dat die werkers “net so gedoen” het om God se instruksies uit te voer (Eks. 39:32). Hoe nederig tog! Moses het besef dat dit Jehovah se werk is en dat hy net ’n werktuig is om daardie werk gedoen te kry.
14 Moses se nederigheid kon ook gesien word toe hy te staan gekom het voor negatiewe omstandighede wat hom persoonlik geraak het. By een geleentheid het Moses sy selfbeheersing verloor en God nie verheerlik in sy handelinge met die klaende volk nie. Gevolglik het Jehovah vir Moses gesê dat hy nie die volk in die Beloofde Land sal inbring nie (Num. 20:2-12). Hy en sy broer, Aäron, het die gekla van die Israeliete jare lank verduur. En toe, omdat Moses by daardie een geleentheid ’n fout gemaak het, sou hy nie die geleentheid hê om te ondervind waarvoor hy so lank gewag het nie! Hoe het Moses gereageer? Al was hy begryplikerwys teleurgesteld, het Moses Jehovah se besluit nederig aanvaar. Hy het geweet dat Jehovah ’n regverdige God is, by wie daar geen onreg is nie (Deut. 3:25-27; 32:4). Sien jy, wanneer jy aan Moses dink, hom nie as iemand wat deur Jehovah geken is nie?—Lees Eksodus 33:12, 13.
Dit verg nederigheid om jou aan Jehovah te onderwerp
15. Wat kan ons uit Korag se trotse weg leer?
15 Ons reaksie op aanpassings in die wêreldwye Christengemeente en besluite wat geneem word deur dié wat die leiding daarin neem, het ’n uitwerking op die manier waarop ons deur Jehovah geken word. Korag en sy metgeselle het hulle van God vervreem deur hulle selfversekerdheid, trots en gebrek aan geloof. Al het dit vir Korag gelyk asof dit die bejaarde Moses is wat daaglikse besluite neem, was dit in werklikheid Jehovah wat die nasie gelei het. Korag het hierdie feit uit die oog verloor en was gevolglik nie lojaal aan dié wat deur God gebruik is nie. Hoeveel verstandiger sou dit tog van Korag gewees het om op Jehovah te wag vir ’n duideliker begrip of vir aanpassings as dit werklik nodig was. Op die ou end het Korag dus sy rekord van getroue diens deur sy trotse optrede vernietig!
16. Watter uitwerking kan dit hê op die manier waarop Jehovah ons ken, as ons Moses se voorbeeld van nederigheid volg?
16 Dié verslag voorsien vandag ’n ernstige waarskuwing vir ouer manne en ander in die gemeente. Om op Jehovah te wag en riglyne te volg van dié wat aangestel is om die leiding te neem, verg nederigheid. Toon ons dat ons so nederig en saggeaard soos Moses is? Kan ons die posisie erken van dié wat die leiding neem onder ons en ons onderwerp aan die riglyne wat ons ontvang? Kan ons bo ons persoonlike gevoelens uitstyg wanneer ons teleurstellings moet hanteer? Indien wel, sal ons ook gunstig geken word deur Jehovah. Ons nederigheid en onderdanigheid sal sy liefde wen.
Jehovah ken dié wat aan hom behoort
17, 18. Wat kan ons help om altyd bekend te staan as mense wat aan Jehovah behoort?
17 Dit is voordelig om na te dink oor dié wat Jehovah getrek en gunstig geken het. Abraham en Moses was onvolmaak en het swakhede gehad, soos ons ook het. Maar Jehovah het hulle geken as persone wat aan hom behoort. Maar Korag se voorbeeld lig toe dat dit moontlik is dat ons ons van Jehovah kan terugtrek en gevolglik nie meer met goedkeuring deur hom geken sal word nie. Dit is goed as elkeen van ons ons afvra: ‘Hoe sien Jehovah my? Wat kan ek uit hierdie Bybelse voorbeelde leer?’
18 Jy kan groot vertroosting put uit die wete dat Jehovah getroues wat hy getrek het, beskou as mense wat aan hom behoort. Hou aan om geloof, nederigheid en ander eienskappe aan te kweek wat jou selfs dierbaarder maak vir ons God. Om deur Jehovah geken te word, is ongetwyfeld ’n kosbare voorreg wat nou vir ons bevrediging in die lewe bring, en dit bied wonderlike seëninge vir die toekoms.—Ps. 37:18.
Onthou jy?
• Watter kosbare posisie kan jy voor Jehovah geniet?
• Hoe kan jy die geloof van Abraham navolg?
• Watter lesse kan ons by Korag en Moses leer?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 26]
Glo ons, soos Abraham, dat Jehovah sy beloftes ten volle sal nakom?
[Prent op bladsy 28]
Korag was nie bereid om hom nederig aan leiding te onderwerp nie
[Prent op bladsy 29]
Ken Jehovah jou as iemand wat hom nederig aan riglyne onderwerp?