Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie ‘na die dinge kyk wat agter is nie’

Moenie ‘na die dinge kyk wat agter is nie’

Moenie ‘na die dinge kyk wat agter is nie’

“Geen mens wat sy hand aan ’n ploeg geslaan het en na die dinge kyk wat agter is, is geskik vir die koninkryk van God nie.”—LUK. 9:62.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Waarom moet ons “dink aan die vrou van Lot”?

Oor watter drie dinge moet ons nie tob nie?

Hoe hou ons tred met Jehovah se organisasie?

1. Watter waarskuwing het Jesus gegee, en watter vraag ontstaan?

“DINK aan die vrou van Lot” (Luk. 17:32). Hierdie waarskuwing wat byna 2 000 jaar gelede deur Jesus Christus gegee is, is nou belangriker as ooit tevore. Maar wat het Jesus bedoel met hierdie ernstige waarskuwing? Sy Joodse gehoor het geen verdere verduideliking nodig gehad nie. Hulle het geweet wat met Lot se vrou gebeur het. Terwyl sy saam met haar gesin uit Sodom gevlug het, was sy ongehoorsaam deur om te kyk en is sy in ’n soutpilaar verander.—Lees Genesis 19:17, 26.

2. Waarom het Lot se vrou moontlik omgekyk, en wat het haar ongehoorsame daad haar gekos?

2 Maar waarom het Lot se vrou omgekyk? Was sy nuuskierig oor wat gebeur het? Het sy omgedraai uit ongeloof of ’n gebrek aan geloof? Of het sy eerder verlangend gekyk na al die dinge wat sy in Sodom agtergelaat het? (Luk. 17:31). Ongeag waarom sy omgekyk het, sy het met haar lewe betaal vir haar ongehoorsame daad. Dink net daaraan! Sy het op dieselfde dag gesterf as daardie verdorwe inwoners van Sodom en Gomorra. Geen wonder nie dat Jesus gesê het: “Dink aan die vrou van Lot”!

3. Hoe het Jesus beklemtoon dat ons nie in figuurlike sin moet omkyk nie?

3 Ons lewe ook in ’n tyd wanneer dit noodsaaklik is dat ons nie in figuurlike sin omkyk nie. Jesus het hierdie punt beklemtoon toe hy ’n man geantwoord het wat gevra het of hy na sy gesin kan terugkeer om van hulle afskeid te neem voordat hy ’n dissipel word. Jesus het gesê: “Geen mens wat sy hand aan ’n ploeg geslaan het en na die dinge kyk wat agter is, is geskik vir die koninkryk van God nie” (Luk. 9:62). Was Jesus te streng of onredelik toe hy hierdie antwoord gegee het? Nee, want hy het geweet dat die man se versoek bloot ’n verskoning is om verantwoordelikheid te ontduik. Jesus het gesê dat sulke uitstellery dieselfde is as om “na die dinge [te] kyk wat agter is”. Maak dit saak of die persoon wat ploeg, net vlugtig kyk na wat agter is en of hy die ploeg heeltemal neersit en omdraai? In albei gevalle word sy aandag afgetrek van wat hy moet doen, en dit kan sy werk benadeel.

4. Waarop moet ons ons oë gerig hou?

4 Ons moenie ons aandag op die verlede vestig nie, maar moet eerder ons oë gerig hou op wat nog voorlê. Let op hoe dít duidelik in Spreuke 4:25 na vore kom: “Wat jou oë betref, hulle moet reguit vorentoe kyk, ja, jou stralende oë moet reg voor jou uit kyk.”

5. Watter rede het ons om nie na die dinge te kyk wat agter is nie?

5 Ons het goeie rede om nie na die dinge te kyk wat agter is nie. Wat is die rede? Ons lewe in “die laaste dae” (2 Tim. 3:1). Ons staan nou nie voor die uitwissing van net twee goddelose stede nie, maar voor die vernietiging van ’n ganse wêreldstelsel van dinge. Wat sal ons help om te verhoed dat iets soortgelyks met ons gebeur as wat met Lot se vrou gebeur het? Eerstens moet ons party van die dinge identifiseer wat agter ons is en waarna ons dalk wil omkyk (2 Kor. 2:11). Kom ons bespreek dan wat hierdie dinge is en stel vas wat ons kan help om nie daarop te fokus nie.

DIE GOEIE OU DAE

6. Waarom is ons geheue nie altyd betroubaar nie?

6 Een besliste gevaar is ’n verwronge beskouing van die goeie ou dae. Ons geheue is nie altyd betroubaar nie. Ons verklein dalk onbewustelik die probleme wat ons in die verlede gehad het en vergroot terselfdertyd die vreugdes, wat dit laat lyk asof dinge baie beter was as wat werklik die geval was. Sulke verwronge herinneringe kan ons na die goeie ou dae laat verlang. Maar die Bybel waarsku ons: “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ’n mens so sê nie” (Pred. 7:10; Nuwe Afrikaanse Vertaling). Waarom is sulke denke so gevaarlik?

7-9. (a) Wat het met die Israeliete in Egipte gebeur? (b) Watter redes tot vreugde het die Israeliete gehad? (c) Waaroor het die Israeliete begin kla en murmureer?

7 Dink aan wat in Moses se dag met die Israeliete gebeur het. Hoewel die Israeliete aanvanklik as gaste in Egipteland beskou is, het die Egiptenaars ná Josef se tyd “hoofde van dwangarbeid oor [die Israeliete] aangestel om hulle te onderdruk in die las wat hulle gedra het” (Eks. 1:11). God se volk het uiteindelik ’n vorm van volksmoord deurgemaak toe Farao hulle getalle probeer beperk het (Eks. 1:15, 16, 22). Dit is dan geen wonder nie dat Jehovah vir Moses gesê het: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep gehoor oor dié wat hulle dryf om te werk; want ek weet goed watter pyn hulle ly.”—Eks. 3:7.

8 Kan jy jou die vreugde van die Israeliete voorstel toe hulle as ’n vry volk uit die land van hulle slawerny getrek het? Hulle het Jehovah se krag op skouspelagtige wyse gesien toe hy die Tien Plae oor die hoogmoedige Farao en sy volk gebring het. (Lees Eksodus 6:1, 6, 7.) Trouens, die Egiptenaars het die Israeliete uiteindelik nie net laat wegtrek nie, maar het hulle aangespoor om te gaan en vir hulle soveel goud en silwer gegee dat daar gesê kon word dat God se volk “die Egiptenaars gestroop” het (Eks. 12:33-36). Die Israeliete het hulle verder verheug toe hulle gesien het hoe Farao en sy krygsmag in die Rooisee vernietig word (Eks. 14:30, 31). Hoe geloofversterkend moes dit tog gewees het om hierdie opwindende gebeure te aanskou!

9 Hoe moeilik dit ook al is om te glo, hierdie selfde volk het binne ’n kort tydjie ná hulle wonderdadige verlossing begin kla en murmureer. Waaroor? Kos! Hulle het onvergenoeg geword met wat Jehovah voorsien het en het gekla: “Ons onthou nog die vis wat ons verniet in Egipte geëet het, die komkommers en die waatlemoene en die preie en die uie en die knoffel! Maar nou is ons siel uitgedroog. Daar is niks behalwe die manna voor ons oë nie” (Num. 11:5, 6). Ja, hulle beskouing het verwronge geraak—in so ’n mate dat hulle selfs wou terugkeer na die land van hulle slawerny! (Num. 14:2-4). Die Israeliete het na die dinge gekyk wat agter is en Jehovah se guns verloor.—Num. 11:10.

10. Watter les leer ons uit die Israeliete se voorbeeld?

10 Watter les leer ons vandag hieruit? Wanneer ons voor moeilikhede en probleme te staan kom, moet ons nie konsentreer op die skynbaar positiewe dinge in die verlede nie—miskien in die tyd nog voordat ons die waarheid leer ken het. Hoewel dit nie verkeerd is om te peins oor die lesse wat ons uit ondervindinge in die verlede geleer het of om kosbare herinneringe te koester nie, moet ons ’n gebalanseerde, realistiese beskouing van die verlede behou. Anders kan ons ons onvergenoegdheid met ons huidige omstandighede laat toeneem en kan ons in die versoeking kom om na ons vorige lewenswyse terug te keer.—Lees 2 Petrus 2:20-22.

OPOFFERINGS IN DIE VERLEDE

11. Hoe beskou party die opofferings wat hulle in die verlede gemaak het?

11 Ongelukkig dink party aan opofferings wat hulle in die verlede gemaak het en beskou hulle dit as verlore geleenthede. Miskien het jy geleenthede vir hoër onderwys, aansien of finansiële sekuriteit gehad, maar besluit om dit nie te benut nie. Baie van ons broers en susters het goed betaalde posisies in die sake- of vermaaklikheidswêreld, in die onderwys of in die sportwêreld agtergelaat. Nou het tyd verloop, en die einde het nog nie gekom nie. Droom jy oor wat kon gebeur het as jy nie hierdie opofferings gemaak het nie?

12. Hoe het Paulus gevoel oor die dinge wat hy agtergelaat het?

12 Die apostel Paulus het baie prysgegee om ’n volgeling van Christus te word (Fil. 3:4-6). Hoe het hy gevoel oor die dinge wat hy agtergelaat het? Hy sê vir ons: “Die dinge wat vir my gewin was, dié het ek weens die Christus as verlies beskou.” En waarom? Hy sê verder: “Ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here. Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen” (Fil. 3:7, 8). * Net soos iemand wat vullis weggooi, nie later spyt is oor wat hy weggegooi het nie, was Paulus nie spyt oor enige van die sekulêre geleenthede wat hy agtergelaat het nie. Hy het nie meer gevoel dat dit van enige waarde is nie.

13, 14. Hoe kan ons Paulus se voorbeeld volg?

13 Wat sal ons help as ons vind dat ons begin spekuleer oor sogenaamde verlore geleenthede? Volg Paulus se voorbeeld. Hoe? Dink aan hoe waardevol die dinge is wat jy nou het. Jy het ’n kosbare verhouding met Jehovah verkry en ’n rekord van getrouheid by hom opgebou (Heb. 6:10). Watter materiële voordele kan die wêreld bied wat enigsins naby kom aan die geestelike seëninge wat ons nou geniet en in die toekoms sal geniet?—Lees Markus 10:28-30.

14 Paulus meld vervolgens iets wat ons sal help om getrou voort te gaan. Hy sê dat hy ‘die dinge vergeet het wat agter is en hom uitstrek na die dinge wat voor is’ (Fil. 3:13). Let op dat Paulus die aandag op twee stappe vestig, wat albei noodsaaklik is. Eerstens, ons moet die dinge vergeet wat ons agtergelaat het en nie kosbare energie en tyd verkwis deur uitermate besorg daaroor te wees nie. Tweedens, soos ’n hardloper by die eindstreep, moet ons ons uitstrek na wat voorlê en daarop bly konsentreer.

15. Hoe help dit ons wanneer ons oor die voorbeelde van getroue knegte van God peins?

15 Wanneer ons peins oor die voorbeelde van getroue knegte van God—hetsy in die verlede of in ons tyd—kan ons verdere aansporing kry om vooruit te bly beweeg eerder as om na die dinge te kyk wat agter is. As Abraham en Sara byvoorbeeld aan Ur bly dink het, ‘sou hulle die geleentheid gehad het om terug te keer’ (Heb. 11:13-15). Maar hulle het nie soontoe teruggekeer nie. Moses het oorspronklik baie meer in Egipte agtergelaat as wat enige ander Israeliet later agtergelaat het. Maar daar is niks in die verslag wat aandui dat hy na hierdie dinge verlang het nie. Die Bybelverslag sê eerder vir ons dat “hy die smaad van die Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte; want hy het sy blik stip op die beloning gerig gehou”.—Heb. 11:26.

NEGATIEWE ONDERVINDINGE IN DIE VERLEDE

16. Watter uitwerking het ondervindinge in die verlede dalk op ons?

16 Maar nie alle ondervindinge in die verlede lyk positief nie. Ons word miskien oorweldig deur herinneringe aan sondes of foute wat ons in die verlede begaan het (Ps. 51:3). Ons voel moontlik nog die pyn van streng raad wat ons ontvang het (Heb. 12:11). Onregte—hetsy werklik of denkbeeldig—oorheers dalk ons denke (Ps. 55:2). Hoe kan ons seker maak dat ons nie toelaat dat sulke ondervindinge ons laat konsentreer op die dinge wat agter is nie? Beskou drie voorbeelde.

17. (a) Waarom het Paulus homself beskryf as “iemand wat geringer is as die geringste van alle heiliges”? (b) Wat het Paulus gehelp om nie deur negatiewe gedagtes oorweldig te word nie?

17 Foute in die verlede. Die apostel Paulus het homself beskryf as “iemand wat geringer is as die geringste van alle heiliges” (Ef. 3:8). Waarom het hy so gevoel? “Omdat ek die gemeente van God vervolg het”, sê hy (1 Kor. 15:9). Kan jy jou voorstel hoe Paulus moes gevoel het wanneer hy iemand teëgekom het wat hy voorheen vervolg het? Maar Paulus het nie toegelaat dat hierdie negatiewe gedagtes hom oorweldig nie; hy het eerder gekonsentreer op die onverdiende goedhartigheid wat aan hom bewys is (1 Tim. 1:12-16). Die dankbaarheid wat dit in hom gewek het, het hom in sy bediening aangespoor. Sy voormalige sondige gedrag was van die dinge wat Paulus vasbeslote was om te vergeet. As ons ook konsentreer op die barmhartigheid wat Jehovah aan ons bewys, sal ons voorkom dat ons krag ondermyn word deur oormatige besorgdheid oor gebeure in die verlede wat ons nie kan verander nie. Ons kan ons krag gebruik vir die werk wat ons moet doen.

18. (a) Wat kan gebeur as ons ’n negatiewe beskouing het van raad wat ons ontvang het? (b) Hoe kan ons ag slaan op Salomo se woorde oor hoe om op raad te reageer?

18 Pynlike raad. Sê nou ons kom in die versoeking om met gegriefdheid terug te kyk op raad wat ons ontvang het? Dit is moontlik nie net pynlik nie, maar ook uitmergelend—dit kan ons laat “beswyk” (Heb. 12:5). Hetsy ons die raad “geringag” omdat ons dit verwerp of “beswyk” omdat ons dit aanvaar en dan tou opgooi, die gevolg is dieselfde—ons laat nie werklik toe dat die raad ons tot voordeel strek en ons louter nie. Hoeveel beter is dit tog om ag te slaan op Salomo se woorde: “Gryp dissipline aan; moet dit nie laat los nie. Bewaar dit, want dit is jou lewe” (Spr. 4:13). Soos ’n bestuurder wat padtekens gehoorsaam, moet ons die raad aanvaar, dit toepas en vooruitbeweeg.—Spr. 4:26, 27; lees Hebreërs 12:12, 13.

19. Hoe kan ons die geloof van Habakuk en Jeremia navolg?

19 Onregte—werklik of denkbeeldig. Ons voel dalk soms soos die profeet Habakuk, wat tot Jehovah om geregtigheid geroep het omdat hy nie verstaan het waarom Jehovah toegelaat het dat sekere onregverdige dinge gebeur nie (Hab. 1:2, 3). Dit is baie belangrik vir ons om die geloof na te volg van hierdie profeet, wat gesê het: “Nogtans sal ek my in Jehovah verheug; ek sal bly wees in die God van my redding” (Hab. 3:18). As ons, soos Jeremia van ouds, “’n wagtende houding” inneem met volle vertroue in Jehovah, die God van geregtigheid, kan ons seker wees dat alles op die regte tyd reggestel sal word.—Klaagl. 3:19-24.

20. Hoe kan ons bewys dat ons “dink aan die vrou van Lot”?

20 Ons lewe in opwindende tye. Wonderlike gebeure vind nou plaas en nog ander is op hande. Mag elkeen van ons tred hou met Jehovah se organisasie. Laat ons ag slaan op die skriftuurlike raad om vorentoe te kyk en nie na die dinge te kyk wat agter is nie. Ons sal sodoende bewys dat ons inderdaad “dink aan die vrou van Lot”!

[Voetnoot]

^ par. 12 Die woord in die oorspronklike taal wat hier met “vullis” vertaal is, het ook beteken “wat vir die honde gegooi is”, “mis”, “ontlasting”. ’n Bybelgeleerde sê dat Paulus se gebruik van hierdie woord dui op ’n “besliste verwerping van iets wat waardeloos en afskuwelik is en waarmee ’n mens niks meer te doen sal hê nie”.

[Studievrae]