Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah laat sy vreugdevolle volk bymekaarkom

Jehovah laat sy vreugdevolle volk bymekaarkom

“Laat die volk bymekaarkom, die manne en die vroue en die kindertjies en jou inwonende vreemdeling.”—DEUT. 31:12.

1, 2. Watter aspekte van teokratiese byeenkomste verdien ons aandag?

INTERNASIONALE en streekbyeenkomste is vir so lank as wat die meeste van ons kan onthou, al ’n kenmerk van die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies. Baie van ons het al ’n aantal van hierdie vreugdevolle geleenthede bygewoon, miskien talle deur die dekades heen.

2 Duisende jare gelede het God se volk ook heilige byeenkomste gehou. Ons sal ’n paar skriftuurlike voorbeelde vir hedendaagse streekbyeenkomste bespreek, na ooreenkomste tussen eertydse en hedendaagse kenmerke van hierdie samekomste kyk en die aandag vestig op die voordele wat die bywoning daarvan meebring.—Ps. 44:1; Rom. 15:4.

EERTYDSE EN HEDENDAAGSE BYEENKOMSTE WAT MYLPALE WAS

3. (a) Wat was kenmerkend van die eerste byeenkoms van Jehovah se volk waarvan ons weet? (b) Hoe is die Israeliete bymekaargeroep?

3 Die byeenkoms aan die voet van die berg Sinai was die eerste groot samekoms van God se volk vir geestelike onderrigting waarvan ons weet. Dit was waarlik ’n mylpaal in die geskiedenis van rein aanbidding. By daardie opwindende geleentheid, wat diegene wat daar teenwoordig was, ongetwyfeld nooit vergeet het nie, het Jehovah sy krag aan die Israeliete vertoon toe hy hulle sy Wet gegee het. (Eks. 19:2-9, 16-19; lees Eksodus 20:18; Deuteronomium 4:9, 10.) Hierdie geleentheid het die grondslag gelê vir God se latere handelinge met Israel. Nie lank hierna nie het Jehovah ’n manier ingestel waarop sy volk bymekaargeroep moes word. Hy het Moses beveel om twee silwertrompette te maak wat gebruik sou word om “die hele vergadering . . . by die ingang van die tent van samekoms” bymekaar te roep (Num. 10:1-4). Probeer jou voorstel hoe opwindend hierdie geleenthede was!

4, 5. Waarom was byeenkomste wat deur Moses en Josua gehou is belangrik?

4 Teen die einde van die 40 jaar waartydens Israel in die wildernis rondgetrek het, op ’n kritieke tyd in hierdie betreklik nuwe nasie se geskiedenis, het Moses sy mede-Israeliete bymekaar laat kom. Hulle het op die punt gestaan om die Beloofde Land binne te gaan. Dit was die regte tyd vir Moses om sy broers te herinner aan alles wat Jehovah vir hulle gedoen het en alles wat hy nog vir hulle sou doen.—Deut. 29:1-15; 30:15-20; 31:30.

5 Moses het dalk by hierdie selfde byeenkoms verwys na die voorsiening wat gemaak is vir God se volk om gereeld bymekaar te kom en onderrig te word. In Sabbatsjare moes die manne, vroue, kinders en inwonende vreemdelinge van Israel gedurende die Huttefees op die plek vergader wat Jehovah uitgekies het ‘sodat hulle kon luister en sodat hulle kon leer om Jehovah te vrees en al die woorde van die wet sorgvuldig te onderhou’. (Lees Deuteronomium 31:1, 10-12.) Reeds op hierdie vroeë stadium in die geskiedenis van God se volk was dit dus duidelik dat hulle dikwels bymekaar moes kom om van Jehovah se woord en voornemens te leer. Toe die Israeliete die Beloofde Land klaar verower het, maar nog steeds deur heidense nasies omring was, het Josua die hele Israel bymekaar laat kom met die doel om hulle meer vasbeslote te maak om lojaal aan Jehovah te bly. Die volk het in antwoord hierop ’n eed afgelê om God te dien.—Jos. 23:1, 2; 24:1, 15, 21-24.

6, 7. Waarom kan daar gesê word dat hedendaagse streekbyeenkomste van Jehovah se volk belangrike mylpale was?

6 In die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se volk was daar ook byeenkomste wat mylpale was—geleenthede waartydens groot veranderinge in verband met teokratiese bedrywighede of skriftuurlike begrip aangekondig is (Spr. 4:18). Die eerste groot byeenkoms wat die Bybelstudente ná die Eerste Wêreldoorlog gehou het, was die een in 1919 in Cedar Point, Ohio, VSA. Hierdie samekoms, wat deur sowat 7 000 bygewoon is, is gekenmerk deur die aankondiging dat ’n wêreldwye predikingsveldtog op tou gesit word. In 1922, gedurende ’n negedaagse streekbyeenkoms by dieselfde plek, het die predikingswerk ’n groot hupstoot gekry toe Joseph F. Rutherford sy aandagtige gehoor aangespoor het: “Wees getroue en ware getuies vir die Here. Gaan voort met die stryd totdat elke oorblyfsel van Babilon verlate lê. Verkondig die boodskap wyd en syd. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Die byeenkomsgangers, sowel as God se volk regoor die wêreld, het vreugdevol aan hierdie aansporing gehoor gegee.

7 In 1931 in Columbus, Ohio, was die Bybelstudente absoluut verheug om die naam Jehovah se Getuies aan te neem. En in 1935, in Washington, DC, het broer Rutherford die “groot menigte” geïdentifiseer wat volgens Openbaring “voor die troon en voor die Lam staan” (Op. 7:9-17). In 1942, terwyl die Tweede Wêreldoorlog gewoed het, het Nathan H. Knorr die treffende toespraak gelewer: “Vrede—Kan dit duur?” In daardie toespraak het hy die “skarlakenkleurige wilde dier” van Openbaring 17 geïdentifiseer en aangedui dat daar ná die oorlog nog baie gepreek moes word.

8, 9. Waarom was party byeenkomste besonder hartroerend?

8 By die “Blye Nasies”- Teokratiese Byeenkoms in 1946 in Cleveland, Ohio, was broer Knorr se toespraak “Die probleme van herbouing en uitbreiding” uitsonderlik. Iemand wat die byeenkoms bygewoon het, het oor die geesdriftige reaksie op die toespraak geskryf: “Ek het daardie aand die voorreg gehad om agter hom op die verhoog te wees, en terwyl hy gepraat het van die werk wat gedoen moes word en van die planne om die Brooklynse Bethelhuis en drukkery uit te brei, was daar kort-kort dawerende applous van die ontsaglike gehoor. Hoewel ’n mens nie van die verhoog af afsonderlike gesigte kon sien nie, kon jy duidelik hoor dat hulle verheug is.” By ’n internasionale byeenkoms in 1950 in die stad New York was die gehoor verheug om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte te ontvang, die eerste deel van ’n Bybel in moderne Engels wat God se naam tot sy regmatige plek in sy Woord herstel het.—Jer. 16:21.

9 Byeenkomste waar Jehovah sy getroue Getuies bymekaar laat kom het ná ’n tydperk van vervolging of nadat ’n verbod opgehef is, was ook baie hartroerend. Adolf Hitler het gesweer dat hy Jehovah se Getuies in Duitsland sou uitwis, maar gedurende ’n byeenkoms in 1955 het 107- 000 Getuies sy vorige paradeterrein in Neurenberg gevul. Baie van diegene wat daar was, kon hulle trane van vreugde nie keer nie! Onder die 166 518 byeenkomsgangers by die drie “Godvrugtige Toegewydheid”-byeenkomste wat in 1989 in Pole gehou is, was groot getalle afgevaardigdes uit wat destyds die Sowjetunie en Tsjeggo-Slowakye was, sowel as uit ander Oos-Europese lande. Vir party was dit die eerste keer dat hulle ’n vergadering van meer as 15 of 20 van God se knegte bygewoon het. En stel jou die vreugde voor by die “Goddelike Onderrigting”-internasionale byeenkoms in 1993 in Kiëf, in die Oekraïne, waar 7 402 gedoop is—die grootste doopplegtigheid van Jehovah se Getuies waarvan ons weet.—Jes. 60:22; Hag. 2:7.

10. Watter byeenkomste was vir jou onvergeetlik, en waarom?

10 Miskien is daar streek- of internasionale byeenkomste wat ’n groot indruk op jou gemaak het. Onthou jy jou eerste streekbyeenkoms of dalk die een waar jy gedoop is? Hierdie geestelike geleenthede was mylpale vir jou. Koester die herinneringe!—Ps. 42:4.

GEREELDE VREUGDEVOLLE GELEENTHEDE

11. Watter reëling vir gereelde seisoenfeeste het God in eertydse Israel ingestel?

11 Jehovah het vereis dat die Israeliete elke jaar in Jerusalem bymekaarkom vir drie seisoenfeeste—die Fees van die Ongesuurde Koeke, die Fees van die Weke (wat later Pinkster genoem is) en die Huttefees. Aangaande hierdie feeste het God beveel: “By drie geleenthede in die jaar moet almal wat manlik is onder jou, voor die aangesig van die ware Heer, Jehovah, verskyn” (Eks. 23:14-17). Omdat hulle die groot geestelike waarde van hierdie feeste besef het, het baie gesinshoofde dit saam met hulle hele gesin bygewoon.—1 Sam. 1:1-7; Luk. 2:41, 42.

12, 13. Wat het die bywoning van die jaarlikse feeste vir baie Israeliete beteken?

12 Dink aan wat dit vir ’n Israelitiese gesin beteken het om daardie reis af te lê. Byvoorbeeld, Josef en Maria het ongeveer 100 kilometer ver van Nasaret na Jerusalem gereis. Hoe lank dink jy sou dit jou neem om so ’n reis af te lê as jy saam met kindertjies stap? Die verslag van Jesus se besoek aan Jerusalem toe hy ’n seun was, toon dat familielede en vriende sulke reise moontlik as ’n groep onderneem het. Dit moes nogal ’n ondervinding vir hulle gewees het om saam te reis en saam etes voor te berei en om geskikte slaapplek in onbekende plekke te reël. Tog was toestande veilig genoeg sodat ’n 12-jarige soos Jesus ’n sekere mate van vryheid gegee kon word. Dink hoe onvergeetlik dit moes gewees het, veral vir kinders!—Luk. 2:44-46.

13 Toe die Israeliete wyd en syd buite die grense van hulle vaderland versprei was, het die feesgangers uit baie nasies gekom. Op Pinkster van die jaar 33 HJ het waarderende Jode en proseliete van plekke soos Italië, Libië, Kreta, Klein-Asië en Mesopotamië na Jerusalem gereis.—Hand. 2:5-11; 20:16.

14. Hoe het die Israeliete daarby baat gevind wanneer hulle die jaarlikse feeste bygewoon het?

14 Vir getroue Israeliete was die hoogtepunt en fokus van hierdie reise die geestelike aspek—om Jehovah geesdriftig saam met duisende waarderende feesgangers te aanbid. Watter uitwerking sou dit op die feesgangers hê? ’n Antwoord kan gevind word in die voorskrifte wat Jehovah sy volk aangaande die Huttefees gegee het: “Jy moet vrolik wees gedurende jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet en die inwonende vreemdeling en die vaderlose seun en die weduwee wat in jou poorte is. Sewe dae moet jy die fees vir Jehovah jou God vier op die plek wat Jehovah sal uitkies, want Jehovah jou God sal jou in jou hele opbrengs en in al die werk van jou hand seën, en jy moet net vreugdevol wees.”—Deut. 16:14, 15; lees Matteus 5:3.

WAAROM MOET ONS HEDENDAAGSE BYEENKOMSTE WAARDEER?

15, 16. Watter opofferings moes jy al maak om byeenkomste by te woon? Waarom is dit die moeite werd?

15 Hierdie eertydse byeenkomste dien as uitstekende voorbeelde vir God se volk van vandag! Hoewel baie dinge deur die eeue heen verander het, het die belangrike aspekte van groot byeenkomste nie verander nie. In Bybeltye moes byeenkomsgangers opofferings maak om dit by te woon. Baie doen dit vandag ook. Maar die voordele is beslis die moeite werd. Dit was—en is nog steeds—belangrike geestelike geleenthede. Daar ontvang ons inligting en begrip wat noodsaaklik is om ’n hegte verhouding met God te behou. Byeenkomste beweeg ons om toe te pas wat ons leer, help ons om probleme te vermy en spoor ons aan om ons toe te spits op strewes en belange wat ons eerder sal verkwik as swaar belas.—Ps. 122:1-4.

16 Byeenkomste het nog altyd vreugde verskaf aan dié wat dit bywoon. ’n Verslag oor ’n groot byeenkoms in 1946 het gesê: “Dit was opwindend om die derduisende getuies gelukkig bymekaar te sien, en selfs opwindender om na die groot orkes sowel as die stemme van die skares te luister, wat die hele stadion laat weerklink het van vreugdevolle Koninkryksliedere tot lof van Jehovah.” Die verslag het bygevoeg: “Byeenkomsgangers het by die Vrywilligerafdeling aangemeld om na die werk in al [die] afdelings om te sien, bloot omdat dit hulle vreugde verskaf het om hulle medegetuies te dien.” Het jy ook al hierdie gevoel van opwinding by streek- of internasionale byeenkomste ondervind?—Ps. 110:3; Jes. 42:10-12.

17. Watter veranderinge is in onlangse tye in die organisering van byeenkomste aangebring?

17 Sekere veranderinge is in die organisering van byeenkomste aangebring. Byvoorbeeld, party van God se knegte onthou nog toe byeenkomste agt dae lank was! Daar was oggend-, middag- en aandsessies. Velddiens was ’n gereelde deel van die program. ’n Paar dele het negeuur in die oggend begin, en die sessies het dikwels tot negeuur die aand geduur. Vrywilligers het lank en hard gewerk om ontbyt, middagete en aandete vir die byeenkomsgangers voor te berei. Nou is die byeenkomsdae korter, en omdat gesinne en individue hulle eie kos saambring, kan hulle meer aandag skenk aan die geestelike voedingsprogram.

18, 19. Na watter aspekte van streekbyeenkomste sien jy uit, en waarom?

18 Baie van ons sien uit na byeenkomsdele wat al lank deel uitmaak van die program. Geestelike “voedsel op die regte tyd”, wat ons ’n beter begrip van Bybelprofesieë en -leringe gee, word nie net deur middel van toesprake voorsien nie, maar ook deur middel van nuwe publikasies wat by streekbyeenkomste vrygestel word (Matt. 24:45). Hierdie vrystellings is dikwels hulpmiddele wat opregte mense help om skriftuurlike waarhede te waardeer. Gedagteprikkelende Bybeldramas spoor jonk sowel as oud aan om hulle beweegredes te ondersoek en op hulle hoede te wees vir die druk wat die wêreld se goddelose denke uitoefen. Die dooptoespraak bied ons almal ook die geleentheid om ons prioriteite in die lewe te ondersoek en om die vreugde te ondervind om te sien hoe ander hulle toewyding aan Jehovah simboliseer.

19 Ja, groot byeenkomste, wat al lank deel uitmaak van rein aanbidding, rus Jehovah se vreugdevolle volk toe om hom in moeilike tye op gepaste wyse te dien. Hierdie samekomste is geestelik aanmoedigend, bied ons die geleentheid om nuwe vriende te maak, help ons om ons wêreldwye gemeenskap van broers te waardeer en is ’n belangrike manier waarop Jehovah sy volk seën en vir hulle sorg. Elkeen van ons moet beslis ons sake so reël dat ons elke sessie van elke byeenkoms kan bywoon en daarby baat kan vind.—Spr. 10:22.