Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Dit was vir ons lonend om op Jehovah te steun

Dit was vir ons lonend om op Jehovah te steun

Die lewe is soms onvoorspelbaar, onseker en selfs moeilik. Maar Jehovah seën diegene wat op hom steun, nie op hulle eie begrip nie. Dit is wat ek en my vrou gedurende ons lang en lonende lewe ondervind het. Kom ek vertel julle ’n bietjie meer oor ons.

MY PA en ma het in 1919 by die byeenkoms van die Internasionale Bybelstudente in Cedar Point, Ohio, VSA, ontmoet. Hulle het later daardie selfde jaar getrou. Ek is in 1922 gebore, en my broer, Paul, is twee jaar later gebore. My vrou, Grace, is in 1930 gebore. Haar ouers, Roy en Ruth Howell, is as Bybelstudente grootgemaak, en haar oupa en ouma was ook Bybelstudente en vriende van broer Charles Taze Russell.

Ek het Grace in 1947 ontmoet, en ons is op 16 Julie 1949 getroud. Voordat ons getrou het, het ons openhartige gesprekke oor ons toekoms gehad. Ons het besluit om die voltydse diens te betree en om nie die verantwoordelikheid om kinders groot te maak, op ons te neem nie. Op 1 Oktober 1950 het ons saam begin pionier. Toe is ons in 1952 genooi om kringwerk te doen.

DIE REISENDE WERK EN GILEADOPLEIDING

Ons albei het gevoel dat ons baie hulp nodig gehad het om hierdie nuwe toewysing uit te voer. Ek het by ervare broers geleer, maar ek wou ook vir Grace hulp kry. Toe het ek gaan praat met Marvin Holien, ’n ou familievriend wat ondervinding as ’n reisende opsiener gehad het, en hom gevra: “Grace is jonk en onervare. Kan jy iemand aanbeveel saam met wie sy ’n rukkie kan werk om ’n bietjie opleiding te ontvang?” “Ja”, het hy geantwoord. “Edna Winkle is ’n gesoute pionier wat haar baie kan help.” Later het Grace van Edna gesê: “Sy het my op my gemak laat voel by die deure, geweet hoe om besware te hanteer en my geleer om na die huisbewoner te luister sodat ek ’n gepaste antwoord kon gee. Sy was net wat ek nodig gehad het!”

Ek en Grace het gedien in twee kringe in die staat Iowa, wat dele van die state Minnesota en Suid-Dakota ingesluit het. Toe is ons na Kring 1 in New York gestuur, wat die munisipale gebiede Brooklyn en Queens ingesluit het. Ons sal nooit vergeet hoe onervare ons in daardie toewysing gevoel het nie. Die kring het die Brooklyn Heights-gemeente ingesluit, wat by die Koninkryksaal by Bethel vergader het en waarin daar talle ervare lede van die Bethelgesin was. Nadat ek my eerste dienstoespraak in daardie gemeente gehou het, het broer Nathan Knorr na my toe gekom en basies gesê: “Malcolm, jy het ons raad gegee waaraan ons moet werk, en dit was gepas. Moenie vergeet nie, as jy ons nie help deur ons liefdevolle raad te gee nie, sal jy vir die organisasie van min waarde wees. Hou so aan.” Ná die vergadering het ek Grace hiervan vertel. Toe ons later in ons Bethelkamer gekom het, was ons so uitgeput van angstigheid dat ons gehuil het.

“As jy ons nie help deur ons liefdevolle raad te gee nie, sal jy vir die organisasie van min waarde wees. Hou so aan”

Ná ’n paar maande het ons ’n brief ontvang waarin ons genooi is om die 24ste klas van die Gileadskool by te woon, wat in Februarie 1955 sou gradueer. Voordat ons vir opleiding na die skool gegaan het, is daar vir ons verduidelik dat ons nie noodwendig ’n sendingtoewysing sou ontvang nie. Dit sou ons eerder toerus om in die reisende werk bekwamer te word. Dit was ’n wonderlike ondervinding om die skool by te woon, en dit het ons geleer om nederig te wees.

Toe ons die kursus voltooi het, is ons gevra om streekwerk te doen. Ons streek het die state Indiana, Michigan en Ohio ingesluit. Tot ons verbasing het ons in Desember 1955 ’n brief van broer Knorr ontvang wat gesê het: “Wees heeltemal eerlik en sê nou vir my reguit. Is julle bereid om Bethel toe te kom en hier te bly . . . of is julle bereid om ’n toewysing in die buiteland te aanvaar nadat julle ’n ruk lank by Bethel gedien het? As julle die streek- en kringwerk verkies, sal ek graag wil weet.” Ons het geantwoord dat ons enige toewysing met graagte sou aanvaar. Ons is amper onmiddellik gevra om by Bethel aan te meld!

OPWINDENDE JARE BY BETHEL

Gedurende my opwindende jare van Betheldiens het ek regoor die Verenigde State toesprake in gemeentes en by byeenkomste gehou. Ek het ’n aandeel daaraan gehad om talle jong mans wat later groter verantwoordelikhede in Jehovah se organisasie ontvang het, op te lei en te help. Later was ek broer Knorr se sekretaris in die afdeling wat die wêreldwye predikingswerk georganiseer het.

Ek het die jare wat ek in die Diensafdeling gewerk het, veral geniet. Daar het ek saam met T.J. (Bud) Sullivan gewerk. Hy was jare lank die opsiener van daardie afdeling. Maar daar was ook ander by wie ek baie geleer het. Fred Rusk, wat aangestel was om my op te lei, was een van hulle. Ek kan nog goed onthou toe ek hom gevra het: “Fred, waarom maak jy soveel veranderinge aan party van my briewe?” Hy het gelag, maar toe het hy my stof tot nadenke gegee deur te sê: “Malcolm, wanneer jy iets sê, kan jy dit met verdere woorde verduidelik, maar wanneer jy iets skryf, veral wanneer dit van hier af kom, moet dit so akkuraat as moontlik wees.” Toe het hy vriendelik gesê: “Hou goeie moed—jy doen goed, en mettertyd sal jy nog beter doen.”

Deur die jare heen het Grace verskillende werkstoewysings by Bethel ontvang, onder andere om as ’n huishoudster kamers skoon te maak. Sy het die werk geniet. Wanneer ons party broers teëkom wat destyds by Bethel jong mans was, sê hulle tot vandag toe met ’n glimlag vir Grace: “Jy het my geleer hoe om ’n bed ordentlik op te maak, en my ma is baie bly daaroor.” Grace het dit ook geniet om in die Tydskrif-, Korrespondensie- en Banddupliseringsafdelings te werk. Hierdie uiteenlopende toewysings het haar gehelp om te besef dat dit ’n voorreg en ’n seën is om in Jehovah se organisasie te dien, ongeag wat ons doen of waar ons dien. Sy voel tot vandag toe so.

VERANDERINGE WAT ONS MOES AANBRING

In die middel-1970’s het ons begin besef dat ons ouers oud word en meer aandag nodig het. Uiteindelik moes ons ’n moeilike besluit neem. Ons wou nie Bethel of ons geliefde broers wat Jehovah saam met ons gedien het, verlaat nie. Nogtans het ek gevoel dat dit my verantwoordelikheid was om na ons ouers om te sien. Ná verloop van tyd het ons Bethel dus verlaat, maar ons het gehoop dat ons sou kon terugkeer wanneer ons situasie verander.

Om ons finansieel te onderhou, het ek versekering begin verkoop. Ek sal nooit vergeet wat een bestuurder vir my gesê het terwyl hy my opgelei het nie: “As jy in hierdie bedryf suksesvol wil wees, moet jy mense saans besoek. Dis wanneer hulle beskikbaar is. Niks is belangriker as om elke aand mense te gaan besoek nie.” Ek het geantwoord: “Ek is seker dat jy uit ondervinding praat, en ek respekteer dit. Maar ek het ook geestelike verantwoordelikhede wat ek nog nooit verwaarloos het nie, en ek is nie van plan om dit nou te doen nie. Ek sal ’n paar aande werk, maar op Dinsdag- en Donderdagaande is daar baie belangrike vergaderinge wat ek moet bywoon.” Jehovah het my waarlik geseën omdat ek nie van vergaderinge weggebly het om sekulêre werk te doen nie.

Ons was by my ma se siekbed toe sy in Julie 1987 in ’n verpleeginrigting gesterf het. Die hoofverpleegster het na Grace toe gekom en gesê: “Mevrou Allen, gaan huis toe en gaan rus. Almal weet dat jy heeltyd hier was vir jou skoonma. Jy kan gemoedsrus hê en goed voel dat jy jou bes gedoen het.”

In Desember 1987 het ons aansoek gedoen om weer by Bethel, die plek waarvoor ons lief is, te gaan dien. Maar net ’n paar dae later is Grace met dikdermkanker gediagnoseer. Nadat sy ’n operasie ondergaan het en suksesvol herstel het, is sy kankervry verklaar. Maar intussen het ons ’n brief van Bethel ontvang wat ons aangeraai het om ons bediening in ons plaaslike gemeente voort te sit. Ons was vasbeslote om in ons Koninkryksdiens te volhard.

’n Ruk later het ek ’n werkgeleentheid in Texas gekry. Ons het besluit dat die warmer weer vir ons goed sou wees, en dit was. Hier in Texas is ons al ongeveer 25 jaar lank omring deur liefdevolle broers en susters aan wie ons baie geheg geraak het.

LESSE WAT ONS GELEER HET

Oor die jare het Grace te kampe gehad met dikdermkanker, skildklierkanker en nou onlangs met borskanker. Maar sy het nooit oor haar lot gekla nie en het altyd my hoofskap gerespekteer en haar samewerking gegee. Sy is al dikwels gevra: “Wat is die geheim van julle sukses as ’n egpaar en die geluk wat julle albei uitstraal?” Sy gee vier redes: “Ons is mekaar se beste vriende. Ons kommunikeer elke dag. Ons hou daarvan om elke dag saam te kuier. En ons gaan slaap nooit terwyl ons vir mekaar kwaad is nie.” Natuurlik maak ons mekaar soms kwaad, maar ons vergewe en vergeet—en daardie benadering werk regtig.

“Steun altyd op Jehovah en aanvaar wat hy toelaat”

Die beproewinge wat ons deurgemaak het, het ons talle goeie lesse geleer:

  1.  Steun altyd op Jehovah en aanvaar wat hy toelaat. Moet nooit op jou eie begrip steun nie.—Spr. 3:5, 6; Jer. 17:7.

  2.  Vertrou op Jehovah se Woord vir leiding, ongeag wat die situasie is. Gehoorsaamheid aan Jehovah en sy wette is noodsaaklik. Daar is geen tussengrond nie—óf jy is gehoorsaam óf jy is nie.—Rom. 6:16; Heb. 4:12.

  3.  Die een ding in die lewe wat die meeste saak maak, is om ’n goeie naam by Jehovah te maak. Stel sy belange eerste, nie die verkryging van rykdom nie.—Spr. 28:20; Pred. 7:1; Matt. 6:33, 34.

  4.  Bid dat jy so produktief en bedrywig as moontlik in Jehovah se diens kan wees. Konsentreer op wat jy kan doen, nie op wat jy nie kan doen nie.—Matt. 22:37; 2 Tim. 4:2.

  5.  Besef dat daar geen ander organisasie is wat Jehovah se seën en guns geniet nie.—Joh. 6:68.

Ek en Grace dien Jehovah elkeen meer as 75 jaar lank, en as ’n egpaar dien ons hom al byna 65 jaar. Ons het dit werklik baie geniet om Jehovah al hierdie dekades saam te dien. Ons hoop en bid dat al ons broers en susters ook sal ondervind hoe lonend die lewe is wanneer ’n mens op Jehovah steun.