Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die nasies word voorberei vir “die leer van Jehovah”

Die nasies word voorberei vir “die leer van Jehovah”

“Die prokonsul [het] ’n gelowige geword, aangesien hy verstom was oor die leer van Jehovah.”—HANDELINGE 13:12.

1-3. Waarom was dit nie vir Jesus se dissipels maklik om die goeie nuus in “al die nasies” te verkondig nie?

JESUS CHRISTUS het sy volgelinge baie werk gegee om te doen. Hy het hulle beveel om “dissipels [te maak] van mense van al die nasies”. Hulle moes die “goeie nuus van die koninkryk” verkondig aan mense “in die hele bewoonde aarde . . . as ’n getuienis vir al die nasies”.—Matteus 24:14; 28:19.

2 Die dissipels was lief vir Jesus en vir die goeie nuus. Maar hulle het waarskynlik gewonder: ‘Hoe gaan ons daarin slaag om Jesus se opdrag uit te voer?’ In die eerste plek was daar net ’n paar van hulle. Hulle het mense geleer dat Jesus God se Seun is, maar mense het geweet dat Jesus doodgemaak is. Wat meer is, baie mense het gedink dat die dissipels “ongeleerde en gewone mense” is (Handelinge 4:13). Die Joodse godsdiensleiers het aan godsdiensskole gestudeer, maar die dissipels het nie. En die boodskap wat hulle verkondig het, het nie ooreengestem met die Joodse tradisies wat godsdiensleiers honderde jare lank aan ander geleer het nie. Aangesien die dissipels geen aansien in Israel gehad het nie, het hulle moontlik gewonder of enigiemand in die magtige Romeinse Ryk na hulle sou luister.

3 Jesus het sy dissipels gewaarsku dat hulle gehaat en vervolg sou word en dat party van hulle doodgemaak sou word (Lukas 21:16, 17). Hulle vriende en familielede sou hulle verraai. Ook sou party mense wat beweer het dat hulle Christus se dissipels is, leuens verkondig. En die dissipels sou preek in gebiede wat vol misdaad en geweld was (Matteus 24:10-12). Hoe sou hulle dus tot “in die mees afgeleë deel van die aarde” kon preek? (Handelinge 1:8). Die dissipels het sekerlik gewonder hoe hulle hierdie werk ondanks al hierdie uitdagings sou kon doen.

4. Wat het die predikingswerk tot gevolg gehad?

4 Al het die dissipels geweet dat die werk nie maklik sou wees nie, het hulle Jesus se opdrag gehoorsaam en in Jerusalem, in Samaria en selfs in ander lande gepreek. Ná sowat 30 jaar het hulle al na so baie plekke gereis dat die apostel Paulus kon sê dat hulle gepreek het “in die hele skepping wat onder die hemel is”. En mense van talle verskillende nasies het dissipels geword (Kolossense 1:6, 23). Toe Paulus byvoorbeeld op die eiland Siprus gepreek het, het selfs ’n Romeinse heerser, of prokonsul, ’n dissipel geword omdat “hy verstom was oor die leer van Jehovah”.—Lees Handelinge 13:6-12.

Jesus het belowe dat hy met sy dissipels sou wees en dat heilige gees hulle sou help om te preek

5. (a) Wat het Jesus sy dissipels belowe? (b) Wat sê ’n geskiedenisboek oor die eerste eeu?

5 Die dissipels het geweet dat hulle nie in hulle eie krag oor die hele aarde sou kon preek nie. Maar hulle het ook geweet dat Jesus belowe het om met hulle te wees en dat die heilige gees hulle sou help (Matteus 28:20). Die omstandighede wat destyds geheers het, het die dissipels moontlik ook gehelp. Trouens, ’n geskiedenisboek verduidelik dat die eerste eeu waarskynlik die beste tyd was waarin Christene kon begin preek en dat Christene later gemeen het dat God die weg vir hulle berei het.

6. (a) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

6 Het Jehovah in die eerste eeu omstandighede in die wêreld verander sodat Christene die predikingswerk kon doen? Die Bybel sê nie. Maar ons weet dat Jehovah wou hê dat sy volk die goeie nuus moet verkondig en dat Satan hulle nie kon keer nie. In hierdie artikel sal ons van die omstandighede bespreek wat dit in die eerste eeu vir die dissipels dalk makliker gemaak het om te preek. In die volgende artikel sal ons van die dinge bespreek wat ons in onlangse tye gehelp het om die goeie nuus wêreldwyd te verkondig.

DIE ROMEINSE VREDE

7. Wat was die Romeinse Vrede, en waarom was dit anders as ander tydperke van vrede?

7 In die eerste eeu het ’n tydperk van vrede in die Romeinse Ryk dit vir die dissipels makliker gemaak om te preek. Hierdie tydperk staan bekend as die Romeinse Vrede, of Pax Romana in Latyn. Gedurende dié tyd het die Romeinse regering enige geringe opstand gou onderdruk. Soms was daar wel oorloë, net soos Jesus voorspel het (Matteus 24:6). Die Romeine het Jerusalem in die jaar 70 vernietig, en hulle het klein oorloë naby die grense van die ryk gevoer. Maar daar was vrede in die grootste deel van die ryk, en die dissipels kon maklik reis en preek. Hierdie tydperk van vrede het ongeveer 200 jaar geduur. Een boek sê dat daar nog nooit so ’n lang tydperk van vrede in die mensegeskiedenis was wat soveel mense geraak het nie.

8. Hoe het die Romeinse Vrede die dissipels gehelp?

8 Ongeveer 250 jaar ná Christus het ’n geleerde met die naam Origines oor hierdie tydperk van vrede geskryf. Hy het gesê dat die Romeine oor baie lande geheers het, en gevolglik was dit vir die dissipels makliker om in al hierdie lande te preek. Mense het nie geveg om hulle eie land te verdedig nie; hulle het in vrede in hulle dorpies gelewe. Origines het dus gemeen dat baie mense weens hierdie situasie die geleentheid gehad het om na die dissipels te luister toe hulle oor liefde en vrede gepreek het. Hoewel die dissipels vervolg is, het hulle hierdie tydperk van vrede ten volle benut en die goeie nuus oral verkondig.—Lees Romeine 12:18-21.

DIT WAS MAKLIK OM TE REIS

9, 10. Wat het dit vir die dissipels makliker gemaak om te reis?

9 Die Romeine het paaie van meer as 80 000 kilometer gebou wat amper al die dele van die ryk verbind het. Danksy hierdie paaie kon die soldate in die magtige Romeinse leër vinnig by enige plek uitkom om hulle gebied te verdedig en beheer oor die onderdane van die Romeinse Ryk te behou. Christene het hierdie paaie gebruik om deur woude, deur woestyne en oor berge te reis sodat hulle op baie plekke kon preek.

Die paaie wat die Romeine gebou het, het dit vir die dissipels makliker gemaak om op baie plekke te preek

10 Die Romeine het ook per boot gereis. Hulle het op riviere en kanale en op die see na honderde hawens oral in die ryk gevaar. Trouens, die Romeine het meer as 900 seeroetes gebruik. Christene kon dus ook per boot na baie plekke reis. Hulle het nie wetlike dokumente, soos paspoorte, nodig gehad om verskillende lande te besoek nie. Daar was ook min rowers op die paaie omdat hulle geweet het dat die Romeine misdadigers swaar sou straf. En omdat baie Romeinse oorlogskepe die seeroetes gebruik het, was reisigers nie bang dat seerowers hulle sou aanval nie. Die Bybel sê wel dat Paulus skipbreuk gely het en dat hy gevare op see beleef het, maar dit sê nie dat hy deur seerowers aangeval is nie. Dit was dus gewoonlik veilig om op die paaie en per boot te reis.—2 Korintiërs 11:25, 26.

DIE GRIEKSE TAAL

Dit was baie makliker om ’n teks in ’n kodeks te vind (Sien paragraaf 12)

11. Waarom het die dissipels Grieks gebruik?

11 Baie plekke onder Romeinse beheer was jare tevore deur die Griekse heerser Aleksander die Grote verower. Mense in hierdie plekke het gevolglik ’n vorm van Grieks gepraat en verstaan wat as Koine-Grieks bekend staan. Die dissipels kon dus vir hulle in hierdie taal preek. En hulle kon selfs vir hulle uit die Hebreeuse Geskrifte aanhaal omdat dit in Grieks vertaal is. Baie mense het geweet van hierdie vertaling, die Septuagint, wat vertaal is deur Jode wat in Egipte gewoon het. Bybelskrywers het ook die res van die Bybel in Grieks geskryf. Omdat die Griekse taal ’n groot woordeskat gehad het, was dit ’n goeie taal om te gebruik om diep Bybelwaarhede te verduidelik. En die Griekse taal het die gemeentes gehelp om met mekaar te kommunikeer en om verenig te wees.

12. (a) Wat is ’n kodeks, en waarom was dit makliker om te gebruik as ’n boekrol? (b) Wanneer het die meeste Christene die kodeks gebruik?

12 Wat het Christene in die eerste eeu gebruik om mense oor die Bybel te leer? Aanvanklik het hulle boekrolle gebruik. Maar dit was nie maklik om boekrolle te gebruik of te dra nie. Elke keer as Christene ’n teks wou vind, moes hulle ’n boekrol afrol en dit later weer oprol. Daar is gewoonlik net op die een kant van boekrolle geskryf. Die Evangelie van Matteus het ’n hele boekrol gevul. Later het mense die kodeks, die eerste soort boek, algemeen begin gebruik. ’n Leser kon ’n kodeks oopmaak en maklik daardeur blaai om ’n teks te vind. Geskiedkundiges sê dat die gebruik van die kodeks algemeen geword het onder Christene en dat die meeste van hulle dit in die tweede eeu gebruik het.

DIE ROMEINSE REG

13, 14. (a) Watter beskerming het Paulus geniet omdat hy ’n Romeinse burger was? (b) Hoe het Christene by die Romeinse reg baat gevind?

13 Christene in die eerste eeu het by die Romeinse reg baat gevind. Paulus was byvoorbeeld ’n Romeinse burger, en die landswette het hom dikwels beskerming gebied wanneer hy gereis het. Toe Romeinse soldate Paulus in Jerusalem in hegtenis geneem het en hom wou gesel, het hy vir hulle gesê dat hy ’n Romeinse burger is. Hy het die bevelvoerder daaraan herinner dat ’n Romeinse burger nie gegesel behoort te word sonder ’n behoorlike verhoor nie. “Daarom het die manne wat op die punt gestaan het om hom onder marteling te ondervra, hom onmiddellik laat staan; en die militêre bevelvoerder het bang geword toe hy verneem dat [Paulus] ’n Romein is en omdat hy hom vasgebind het.”—Handelinge 22:25-29.

Christene het die Romeinse reg gebruik om hulle reg om te preek, ‘te verdedig en wetlik te bevestig’

14 Paulus se Romeinse burgerskap het ’n uitwerking gehad op hoe hy in Filippi behandel is (Handelinge 16:35-40). En toe ’n woedende skare oproeriges party Christene in Efese leed wou aandoen, het ’n regeringsbeampte die skare tot bedaring gebring en die mense gewaarsku dat hulle ’n Romeinse wet oortree (Handelinge 19:35-41). Toe Paulus later in Sesarea was, het hy aangedring op sy reg om voor die keiser in Rome te verskyn. Daar het hy die geleentheid gekry om die goeie nuus te verdedig (Handelinge 25:8-12). Christene het dus die Romeinse reg gebruik om hulle reg om te preek, ‘te verdedig en wetlik te bevestig’.—Filippense 1:7.

DIE JOODSE VERSTROOIING

15. Waar kon Joodse gemeenskappe in die eerste eeu gevind word?

15 Daar is nog iets wat Christene in die eerste eeu dalk gehelp het om regoor die aarde te preek. Op daardie tydstip was daar Jode in baie lande, nie net in Israel nie. Waarom? Die Jode is honderde jare tevore in ballingskap na Assirië weggevoer, en ander is jare later na Babilon weggevoer. Later, toe die Perse aan bewind was, was daar Jode oral in die Persiese Ryk (Ester 9:30). Teen die eerste eeu, toe Jesus op die aarde was, was daar Joodse gemeenskappe oral in die Romeinse Ryk, soos in Egipte en ander dele van Noord-Afrika, sowel as in Griekeland, Klein-Asië (Turkye) en Mesopotamië (Irak). Daar word gemeen dat daar meer as viermiljoen Jode was onder die 60 miljoen mense in die Romeinse Ryk. Al was hulle oor baie plekke verstrooi, het die Jode hulle godsdiens behou.—Matteus 23:15.

16, 17. (a) Hoe het nie-Jode baat gevind by die feit dat daar Jode in baie lande was? (b) Hoe het die Christene die voorbeeld van die Jode gevolg?

16 Omdat daar Jode in so baie lande was, was baie nie-Jode bekend met die Hebreeuse Geskrifte en het hulle geleer wat die Jode glo. Hulle het byvoorbeeld geleer dat daar net een ware God is en dat diegene wat hom dien, sy wette moet gehoorsaam. Hulle het geleer dat die Hebreeuse Geskrifte van God af kom en baie profesieë oor die Messias bevat (Lukas 24:44). Toe die Christene dus die goeie nuus verkondig het, was Jode sowel as nie-Jode reeds bekend met party van die dinge wat die Christene verkondig het. Paulus wou mense vind wat na die goeie nuus sou luister. Hy het dikwels na sinagoges gegaan waar die Jode aanbid het en het die Skrif gebruik om met hulle te redeneer.—Lees Handelinge 17:1, 2.

17 Die Jode het gereeld in sinagoges of in die ope lug vir aanbidding bymekaargekom. Hulle het liedere gesing, gebid en die Skrif bespreek. Die Christene het hulle voorbeeld gevolg, en vandag doen ons dieselfde in ons gemeentes.

JEHOVAH HET HULLE GEHELP OM TE PREEK

18, 19. (a) Wat kon Christene doen danksy die gunstige omstandighede in die eerste eeu? (b) Hoe laat hierdie artikel jou oor Jehovah voel?

18 Die eerste eeu was ’n unieke tyd in die geskiedenis. Daar was vrede in die Romeinse Ryk, baie mense kon dieselfde taal praat en die regstelsel het die mense beskerm. Dit was makliker om te reis en mense in baie lande was bekend met die Jode en die Hebreeuse Geskrifte. Dit alles het Christene gehelp om aan te hou om die werk te doen wat God hulle gegee het.

19 Ongeveer 400 jaar voordat Jesus aarde toe gekom het, het die Griekse filosoof Plato geskryf dat dit vir mense baie moeilik is om die Skepper te leer ken en dat dit onmoontlik is om almal in die wêreld van hom te vertel. Maar Jesus het gesê: “Die dinge wat onmoontlik is by mense, is moontlik by God” (Lukas 18:27). Dit is duidelik dat die predikingswerk moontlik is danksy Jehovah se hulp. Hy wil hê dat “mense van al die nasies” die goeie nuus moet hoor en hom moet leer ken (Matteus 28:19). Die volgende artikel sal verduidelik hoe die goeie nuus vandag wêreldwyd verkondig word.