Verkondig die goeie nuus van onverdiende goedhartigheid
“[Getuig] deeglik van die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God.”—HAND. 20:24.
LIEDERE: 101, 84
1, 2. Hoe het die apostel Paulus getoon dat hy dankbaar is vir God se onverdiende goedhartigheid?
DIE apostel Paulus kon in alle eerlikheid sê: “[God se] onverdiende goedhartigheid teenoor my was nie tevergeefs nie.” (Lees 1 Korintiërs 15:9, 10.) Paulus het goed geweet dat hy nie God se groot barmhartigheid verdien het nie omdat hy die Christene voorheen vervolg het.
2 Na aan die einde van sy lewe het Paulus aan sy medewerker Timoteus geskryf: “Ek is dankbaar teenoor Christus Jesus, ons Here, wat my krag gegee het, omdat hy my getrou geag het deur ’n bediening aan my toe te wys” (1 Tim. 1:12-14). Wat was hierdie bediening? Paulus het die ouer manne van die gemeente in Efese vertel wat dit insluit, toe hy gesê het: “Ek [heg] geen waarde aan my siel asof dit vir my dierbaar is nie, as ek maar net my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om deeglik van die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God te getuig.”—Hand. 20:24.
3. Watter spesiale bediening het Paulus ontvang? (Sien prent aan begin van artikel.)
Ef. 3:1, 2). Paulus het die opdrag ontvang om aan nie-Jode die goeie nuus bekend te maak sodat hulle ook deel kon word van Christus se Koninkryksregering. (Lees Efesiërs 3:5-8.) Paulus het ’n uitstekende voorbeeld vir hedendaagse Christene gestel omdat hy ywerig in sy bediening was en so getoon het dat God se onverdiende goedhartigheid nie “tevergeefs” aan hom betoon is nie.
3 Watter “goeie nuus” het Paulus verkondig wat Jehovah se onverdiende goedhartigheid beklemtoon het? Hy het vir die Christene in Efese gesê: “Julle [het] gehoor . . . van die bestuurderskap van die onverdiende goedhartigheid van God wat met die oog op julle aan my gegee is” (WORD JY DEUR GOD SE ONVERDIENDE GOEDHARTIGHEID BEWEEG?
4, 5. Waarom kan ons sê dat die “goeie nuus van die koninkryk” dieselfde is as die goeie nuus van “die onverdiende goedhartigheid van God”?
4 In hierdie tyd van die einde het Jehovah se volk die opdrag om “hierdie goeie nuus van die koninkryk . . . in die hele bewoonde aarde [te] verkondig . . . as ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14). Die boodskap wat ons verkondig, is ook “die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God”. Waarom? Omdat al die seëninge wat ons onder Koninkryksheerskappy sal ontvang, moontlik gemaak word deur Jehovah se onverdiende goedhartigheid wat deur middel van Christus aan ons bewys is (Ef. 1:3). Toon ons soos Paulus waardering vir Jehovah se onverdiende goedhartigheid deur ywerig aan die bediening deel te neem?—Lees Romeine 1:14-16.
5 In die vorige artikel het ons geleer hoe ons as sondaars op baie maniere by Jehovah se onverdiende goedhartigheid baat vind. Ons het dus ’n verantwoordelikheid teenoor alle mense om hulle te vertel hoe Jehovah sy liefde betoon en hoe hulle persoonlik daarby kan baat vind. Hoe kan ons ander help om dankbaar te wees vir God se onverdiende goedhartigheid?
VERKONDIG DIE GOEIE NUUS VAN DIE LOSPRYSOFFER
6, 7. Hoe verkondig ons die goeie nuus van God se onverdiende goedhartigheid wanneer ons die losprys aan ander verduidelik?
6 Vandag voel baie mense nie skuldig wanneer hulle sondig nie, en daarom verstaan hulle nie waarom mense die losprys nodig het nie. Terselfdertyd besef al hoe meer mense dat hulle lewenswyse nie ware geluk bring nie. Dit is dikwels eers wanneer mense met Jehovah se Getuies praat dat hulle besef wat sonde is, hoe dit ons raak en wat ons moet doen om van slawerny aan sonde bevry te word. Opregte mense is verlig wanneer hulle leer dat Jehovah, weens sy groot liefde en onverdiende goedhartigheid, sy Seun na die aarde gestuur het om ons van sonde en die dood los te koop.—1 Joh. 4:9, 10.
7 Paulus het van Jehovah se geliefde Seun gesê: “Deur middel van hom [Jesus] het ons die bevryding deur ’n losprys deur die bloed van daardie een, ja, die vergifnis van ons oortredings, volgens die rykdom van sy [Jehovah se] onverdiende goedhartigheid” (Ef. 1:7). Die losprysoffer van Christus is die grootste bewys van God se liefde vir ons en toon hoe groot Sy onverdiende goedhartigheid is. Wat ’n verligting is dit tog om te leer dat ons sondes vergewe sal word en ons gewete gereinig sal word as ons geloof beoefen in die bloed van Jesus, wat vir ons uitgestort is! (Heb. 9:14). Dit is inderdaad goeie nuus wat ons vir ander kan vertel!
HELP MENSE OM ’N VERHOUDING MET GOD OP TE BOU
8. Waarom moet sondige mense met God versoen word?
8 Ons het die verantwoordelikheid om ons medemens te vertel dat hulle ’n vriendskap met hulle Skepper kan opbou. As mense nie geloof in Jesus se offerande beoefen nie, beskou God hulle as sy vyande. Die apostel Johannes het geskryf: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die gramskap van God bly op hom” (Joh. 3:36). Gelukkig maak Christus se offerande dit moontlik om met God versoen te word. Paulus het gesê: “Julle wat eens vervreemd en vyande was omdat julle verstande gerig was op die werke wat goddeloos was, het hy nou weer versoen deur middel van daardie een se vleeslike liggaam deur sy dood.”—Kol. 1:21, 22.
9, 10. (a) Watter verantwoordelikheid het Christus sy gesalfde broers gegee? (b) Hoe help die “ander skape” hulle gesalfde broers?
9 Christus het sy gesalfde broers op die aarde “die bediening van die versoening” gegee. Paulus het aan eerste-eeuse gesalfde Christene hieroor geskryf: “Alles kom van God, wat ons deur Christus met homself versoen het en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God deur middel van Christus ’n wêreld met homself versoen het en hulle hulle oortredings nie toegereken het nie, en hy het die woord van die versoening aan ons toevertrou. Ons is dus ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree, asof God ’n dringende versoek deur ons doen. As plaasvervangers vir Christus smeek ons: ‘Raak met God versoen.’”—2 Kor. 5:18-20.
10 Die “ander skape” beskou dit as ’n voorreg om hulle gesalfde broers in hierdie bediening te help (Joh. 10:16). As Christus se gesante, dit wil sê boodskappers, doen hulle die grootste deel van die werk om mense geestelike waarheid te leer en hulle te help om ’n persoonlike verhouding met Jehovah op te bou. Dit is ’n belangrike deel van die werk om deeglik te getuig van die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God.
VERKONDIG DIE GOEIE NUUS DAT GOD GEBEDE VERHOOR
11, 12. Waarom is dit vir mense goeie nuus om te leer dat hulle tot Jehovah kan bid?
11 Baie mense bid omdat dit hulle goed laat voel, maar hulle glo nie regtig dat God hulle gebede verhoor nie. Hulle moet weet dat Jehovah die “Hoorder van die gebed” is. Die psalmis Dawid het geskryf: “O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom. Ongeregtighede was magtiger as ek. Wat ons oortredings betref, u sal dit bedek.”—Ps. 65:2, 3.
12 Jesus het vir sy dissipels gesê: “As julle enigiets in my naam vra, sal ek dit doen” (Joh. 14:14). “Enigiets” beteken natuurlik enigiets wat in ooreenstemming met Jehovah se wil is. Johannes verseker ons: “Dít is die vertroue wat ons teenoor hom het, dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Joh. 5:14). Hoe goed is dit tog om ander te leer dat gebed nie bloot iets is wat ’n mens goed laat voel nie, maar dat dit ’n wonderlike manier is om Jehovah se “troon van onverdiende goedhartigheid” te nader! (Heb. 4:16). As ons hulle leer om op die regte manier, tot die regte Persoon en vir die regte dinge te bid, kan ons hulle help om nader aan Jehovah te kom en om vertroosting in tye van benoudheid te vind.—Ps. 4:1; 145:18.
ONVERDIENDE GOEDHARTIGHEID IN DIE NUWE STELSEL VAN DINGE
13, 14. (a) Watter wonderlike voorregte sal die gesalfdes in die toekoms geniet? (b) Wat sal die gesalfdes vir die mensdom doen?
13 Jehovah sal sy onverdiende goedhartigheid in selfs groter mate betoon ná die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge. God sal die 144 000 wat saam met Christus in sy hemelse Koninkryk sal regeer, ’n wonderlike voorreg gee. Paulus het verduidelik wat hierdie voorreg sal wees toe hy geskryf het: “God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons weens sy groot liefde waarmee hy ons liefgehad het, saam met die Christus lewend gemaak, selfs toe ons dood was in oortredings—julle is deur onverdiende goedhartigheid gered—en hy het ons saam opgewek en saam laat sit in die hemelse plekke in eenheid met Christus Jesus, sodat die allesoortreffende rykdom van sy onverdiende goedhartigheid in sy goedgunstigheid teenoor ons wat in eenheid met Christus Jesus is, in die komende stelsels van dinge getoon kan word.”—Ef. 2:4-7.
14 Ons kan ons nie indink watter wonderlike dinge Jehovah vir gesalfde Christene in gedagte het wanneer hulle op trone sal sit om saam met Christus in die hemel te regeer nie (Luk. 22:28-30; Fil. 3:20, 21; 1 Joh. 3:2). Jehovah sal veral teenoor hulle “die allesoortreffende rykdom van sy onverdiende goedhartigheid” toon. Hulle sal “die Nuwe Jerusalem”, die bruid van Christus, wees (Op. 3:12; 17:14; 21:2, 9, 10). Hulle sal saam met Jesus werk om ‘die nasies te genees’. Hulle sal gehoorsame mense help om verlos te word van die las van sonde en die dood en om volmaak te word.—Lees Openbaring 22:1, 2, 17.
15, 16. Hoe sal Jehovah in die toekoms sy onverdiende goedhartigheid aan die “ander skape” bewys?
15 In Efesiërs 2:7 lees ons dat God “in die komende stelsels van dinge” onverdiende goedhartigheid sal betoon. Gedurende daardie tyd sal almal op die aarde beslis “die allesoortreffende rykdom van sy onverdiende goedhartigheid” ondervind (Luk. 18:29, 30). Die opstanding van mense uit die graf sal een van die grootste bewyse van Jehovah se onverdiende goedhartigheid op die aarde wees (Job 14:13-15; Joh. 5:28, 29). Getroue manne en vroue wat voor die offerdood van Christus gesterf het, sowel as al die “ander skape” wat getrou gedurende hierdie laaste dae sterf, sal opgewek word om Jehovah weer te dien.
16 Miljoene mense wat God nie geken het toe hulle gesterf het nie, sal ook opgewek word. Hulle sal die geleentheid gegee word om hulle aan Jehovah se soewereiniteit te onderwerp. Johannes het geskryf: “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en boekrolle is oopgemaak. Maar ’n ander boekrol is oopgemaak; dit is die boekrol van die lewe. En die dooies is geoordeel na dié dinge wat in die boekrolle geskrywe staan, volgens hulle dade. En die see het die dooies daarin gegee, en die dood en [die Graf] het die dooies in hulle gegee, en elkeen van hulle is volgens hulle dade geoordeel” (Op. 20:12, 13). Diegene wat opgewek word, sal natuurlik moet leer hoe om die goddelike beginsels wat in die Bybel gevind word, toe te pas. Hulle sal ook nuwe instruksies moet volg wat in “die boekrolle” sal verskyn en wat Jehovah se vereistes vir die lewe in die nuwe stelsel van dinge sal uiteensit. Die instruksies in hierdie boekrolle sal nog ’n bewys van Jehovah se onverdiende goedhartigheid wees.
HOU AAN OM DIE GOEIE NUUS TE VERKONDIG
17. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons die predikingswerk doen?
17 Dit is belangriker as ooit tevore om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, want die einde is naby! (Mark. 13:10). Die goeie nuus is ongetwyfeld ’n bewys van Jehovah se onverdiende goedhartigheid. Ons moet dit in gedagte hou wanneer ons die predikingswerk doen. Wanneer ons preek, is ons doel om Jehovah te eer. Ons kan dit doen deur vir mense te wys dat al die seëninge wat ons in die nuwe wêreld sal geniet, bewyse van Jehovah se wonderlike goedhartigheid is.
18, 19. Hoe verheerlik ons Jehovah se onverdiende goedhartigheid?
18 Wanneer ons vir ander getuig, kan ons verduidelik dat die mensdom onder Christus se Koninkryksheerskappy ten volle sal baat vind by die losprysoffer en geleidelik tot volmaaktheid gebring sal word. Die Bybel sê dat “die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê” (Rom. 8:21). Dit sal slegs moontlik wees weens Jehovah se uitsonderlike goedhartigheid.
19 Ons het die voorreg om vir almal wat wil luister, te vertel van die opwindende belofte in Openbaring 21:4, 5: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” En Jehovah, die een wat op die troon sit, sê: “Kyk! Ek maak alles nuut.” Hy sê ook: “Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.” As ons hierdie goeie nuus ywerig verkondig, verheerlik ons beslis Jehovah se onverdiende goedhartigheid!