Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe jy in ’n nuwe wêreld kan lewe

Hoe jy in ’n nuwe wêreld kan lewe

Die vorige artikels het gewys dat God binnekort ’n einde aan hierdie goddelose mensegemeenskap – met al sy probleme – sal maak. Ons kan seker wees dat dit sal gebeur. Hoekom? Want God se Woord, die Bybel, het belowe:

“Die wêreld . . . gaan verby.” – 1 JOHANNES 2:17.

Ons kan seker wees dat daar oorlewendes sal wees omdat die Bybelvers hierbo ook belowe:

“Die een wat die wil van God doen, bly vir ewig.”

Daarom is die sleutel tot oorlewing om God se wil te doen. Om uit te vind wat God se wil is, moet ons hom eers leer ken.

OORLEEF DIE EINDE DEUR GOD TE “LEER KEN”

Jesus het gesê: “Om die ewige lewe te ontvang, moet hulle u leer ken, die enigste ware God” (Johannes 17:3). Om die einde te oorleef en vir ewig te lewe, moet ons God “leer ken”. Dit beteken meer as om net te erken dat God bestaan of om ’n paar feite oor hom te ken. Ons moet vriende met hom wees. As ons wil hê dat ’n vriendskap sterk moet word, moet ons tyd met ons vriende spandeer. Dit geld ook vir ’n vriendskap met God. Kyk na ’n paar belangrike waarhede wat ons uit die Bybel leer wat ons help om ’n vriendskap met God te ontwikkel en te behou.

LEES GOD SE WOORD, DIE BYBEL, ELKE DAG

Jy kan die einde van die wêreld oorleef deur vir God se hulp te bid en sy wil te doen

Ons eet gereeld kos om aan die lewe te bly. Maar Jesus het gesê: “Die mens moenie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.” – Matteus 4:4.

Vandag vind ons Jehovah se woorde in die bladsye van die Bybel. Terwyl jy daardie heilige boek studeer, sal jy belangrike waarhede leer oor wat God in die verlede gedoen het, wat hy nou doen en wat hy in die toekoms sal doen.

BID TOT GOD VIR HULP

Wat kan jy doen as jy gehoorsaam aan God wil wees, maar dit moeilik vind om op te hou om dinge te doen wat hy sê verkeerd is? As dit die geval is, kan dit jou op ’n spesiale manier help as jy God leer ken.

Kyk na die voorbeeld van ’n vrou wat ons Sakura sal noem, wat ’n onsedelike lewe gehad het. Toe sy die Bybel begin studeer het, het sy oor God se bevel geleer om te “vlug vir seksuele onsedelikheid” (1 Korintiërs 6:18). Sakura het tot God vir krag gebid en kon ophou met hierdie slegte gewoonte. Maar sy moet nog steeds teen versoekings stry. Sy sê: “As onsedelike gedagtes by my opkom, praat ek eerlik met Jehovah in gebed omdat ek weet dat ek nie op my eie daarteen kan stry nie. Die krag van gebed het my nader aan Jehovah laat kom.” Soos Sakura, het miljoene mense God leer ken. Hy gee vir hulle die krag wat hulle nodig het om hulle lewe te verander en op ’n manier te lewe wat hom gelukkig maak. – Filippense 4:13.

Hoe beter jy God leer ken, hoe meer sal jy “deur God geken” word as ’n kosbare vriend (Galasiërs 4:9; Psalm 25:14). Dan sal jy die einde kan oorleef en in God se nuwe wêreld kan lewe. Maar hoe sal daardie nuwe wêreld wees? Die volgende artikel sal verduidelik.

a Volgens die Bybel is God se naam Jehovah.