Vrae van lesers
As ’n Christen sonder ’n skriftuurlike rede van sy vrou skei en dan met iemand anders trou, hoe sal die gemeente die vorige huwelik en die nuwe huwelik beskou?
In so ’n situasie sou die vorige huwelik in die gemeente se oë geëindig het toe die man weer getrou het, en die gemeente sal die nuwe huwelik as geldig beskou. Om te verstaan hoekom ons so sê, kom ons kyk na wat Jesus gesê het oor wanneer iemand skei en weer trou.
In Matteus 19:9 het Jesus verduidelik wat die enigste skriftuurlike rede is om ’n huwelik te beëindig. Hy het gesê: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van seksuele onsedelikheid, en met iemand anders trou, [pleeg] egbreuk.” Ons leer die volgende uit Jesus se woorde: (1) Seksuele onsedelikheid is die enigste skriftuurlike rede om te skei en (2) ’n man wat sonder ’n skriftuurlike rede van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk. a
Beteken Jesus se woorde dat ’n man wat seksuele onsedelikheid pleeg en van sy vrou skei, skriftuurlik vry is om weer te trou? Nie noodwendig nie. As ’n man egbreuk pleeg, dan kan sy onskuldige huweliksmaat besluit of sy hom wil vergewe of nie. As sy hom nie vergewe nie en hulle ’n wettige egskeiding kry, sal hulle albei vry wees om weer te trou wanneer die egskeiding gefinaliseer is.
Aan die ander kant wil die onskuldige maat dalk baie graag hulle huwelik red, en daarom sê sy vir haar man dat sy bereid is om hom te vergewe. Maar sê nou die man besluit om nie sy vrou se vergifnis te aanvaar nie en om in elk geval van haar te skei? Omdat sy gewillig is om hom te vergewe en by hom te bly, sal hy nie skriftuurlik vry wees om weer te trou nie. As hy besluit om met iemand anders te trou al is hy nie skriftuurlik vry om dit te doen nie, dan pleeg hy weer egbreuk. Die gemeentelike ouermanne sal dan weer ’n regterlike komitee moet vorm om die saak te hanteer. – 1 Kor. 5:1, 2; 6:9, 10.
Sê nou ’n man wat nie skriftuurlik vry is om te trou nie, trou weer. Hoe sal die gemeente die vorige huwelik en die nuwe huwelik beskou? Is die vorige huwelik volgens die Bybel nog geldig? Kan die onskuldige maat nog steeds besluit om haar vorige man te vergewe of nie? Sal die gemeente die nuwe huwelik as ’n owerspelige huwelik beskou?
In die verlede het die gemeente die nuwe huwelik as ’n owerspelige huwelik beskou as die onskuldige maat nog gelewe het, ongetroud was en nie seksuele onsedelikheid gepleeg het nie. Maar Jesus het nie die onskuldige maat genoem toe hy gepraat het van wanneer iemand skei en weer trou nie. Hy het eerder verduidelik dat ’n man wat sonder ’n skriftuurlike rede van sy vrou skei en dan met iemand anders trou, egbreuk
pleeg. Jesus se woorde wys vir ons dat die man se optrede in so ’n geval die vorige huwelik beëindig.“Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van seksuele onsedelikheid, en met iemand anders trou, [pleeg] egbreuk.” – Matt. 19:9
Wanneer ’n man van sy vrou skei en weer trou, is dit nie meer vir die onskuldige huweliksmaat moontlik om te besluit of sy hom wil vergewe of hom wil los nie. So dan hoef sy nie daardie moeilike besluit te neem nie. En die gemeente se beskouing van die nuwe huwelik het niks te doen met die onskuldige maat nie – of sy nou doodgaan, weer trou of seksuele onsedelikheid pleeg nie. b
In die voorbeeld wat vroeër genoem is, het die man egbreuk gepleeg en van sy vrou geskei. Maar sê nou die man het nie egbreuk gepleeg nie, maar hy skei in elk geval van sy vrou en trou dan met iemand anders? Of sê nou die man het nie voor die egskeiding seksuele onsedelikheid gepleeg nie, maar wel ná die egskeiding, en dan trou hy weer, al was sy vrou bereid om hom te vergewe? In al hierdie gevalle het die man egbreuk gepleeg omdat hy van sy vrou geskei het en weer getrou het, en dit sou die vorige huwelik beëindig het. Die nuwe huwelik is geldig in die oë van die wet. Die Wagtoring van 1 Februarie 1980, bladsy 32, het gesê: “Hy het natuurlik nou ’n nuwe huweliksverhouding betree en kan nie sommer ’n einde daaraan maak en weer soos tevore begin lewe nie; die vorige huwelik het geëindig met die egskeiding, owerspel en nuwe huwelik.”
Al verstaan ons hierdie saak nou anders, verander dit nie die feit dat ons die huwelik as heilig beskou en dat ons egbreuk as ’n baie ernstige sonde beskou nie. As ’n man sonder ’n skriftuurlike rede van sy vrou skei en dan met iemand anders trou al is hy nie skriftuurlik vry om dit te doen nie, sal die ouermanne ’n regterlike komitee moet vorm omdat hy egbreuk gepleeg het. (As die nuwe huweliksmaat ’n Christen is, sal daar ook regterlik teenoor haar opgetree word omdat sy ook egbreuk gepleeg het.) Al sal die nuwe huwelik nie as ’n owerspelige huwelik beskou word nie, sal die man baie jare lank nie vir spesiale diensvoorregte in die gemeente kwalifiseer nie. Hy sal ook net kan kwalifiseer as mense hom weer begin respekteer en nie meer ontsteld is oor wat hy gedoen het nie. Voordat die ouermanne vir hom enige diensvoorregte gee, sal hulle ook die huidige omstandighede in ag neem van die vorige huweliksmaat, teenoor wie daar dalk bedrieglik opgetree is, en van enige minderjarige kinders wat dalk deur die skuldige huweliksmaat verlaat is. – Mal. 2:14-16.
As iemand sonder ’n skriftuurlike rede van sy huweliksmaat skei en weer trou, sal die gevolge baie ernstig wees, en daarom sal Christene wys wees as hulle Jehovah navolg en die huwelik as heilig beskou. – Pred. 5:4, 5; Heb. 13:4.
a In hierdie artikel sal ons na die man verwys as die een wat egbreuk gepleeg het, en na die vrou as die onskuldige huweliksmaat. Maar soos ons in Markus 10:11, 12 sien, het Jesus dit duidelik gemaak dat sy raad oor hierdie saak op mans en vrouens van toepassing is.
b Dit vervang ons vorige begrip dat so ’n huwelik as ’n owerspelige huwelik beskou sou word totdat die onskuldige maat sterf, weer trou of seksuele onsedelikheid pleeg.