Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Liefde—’n Kosbare eienskap

Liefde—’n Kosbare eienskap

JEHOVAH het die apostel Paulus geïnspireer om oor nege eienskappe te skryf wat ons met die hulp van die heilige gees kan aankweek (Gal. 5:22, 23). Saam word hierdie eienskappe die vrug van die gees genoem. * Hierdie vrug is ’n kenmerk van die “nuwe persoonlikheid” (Kol. 3:10). Net soos ’n boom vrugte dra as dit genoeg water kry, sal ander die goeie eienskappe in iemand se lewe kan sien as heilige gees in sy lewe werksaam is.—Ps. 1:1-3.

Die eerste eienskap wat Paulus noem, is liefde. Hoe kosbaar is dit? Paulus het gesê dat hy “niks” was sonder liefde nie (1 Kor. 13:2). Maar wat is liefde, hoe kan ons dit aankweek en hoe kan ons elke dag wys dat ons ander liefhet?

WAT IS LIEFDE?

Hoewel liefde nie maklik in woorde beskryf kan word nie, sê die Bybel hoe ’n liefdevolle persoon moet dink en optree. Ons lees byvoorbeeld dat ’n liefdevolle persoon “lankmoedig en goedhartig” is. Dit sê ook dat hy ‘bly is saam met die waarheid’ en dat hy ‘alles verdra, alles glo, alles hoop en alles verduur’. Hy het ander opreg lief, gee werklik vir hulle om en hy is ’n lojale vriend. Maar as hy ander nie liefhet nie, sal hy jaloers, trots en selfsugtig wees, homself sleg gedra, fyngevoelig wees en boekhou van die kwaad. Ons wil eerder die liefde aankweek wat ‘nie sy eie belang soek nie’.—1 Kor. 13:4-8.

JEHOVAH EN JESUS STEL DIE VOLMAAKTE VOORBEELD VAN LIEFDE

“God is liefde” (1 Joh. 4:8). Sy liefde kan gesien word in alles wat hy geskep het en in alles wat hy doen. Die grootste bewys van sy liefde vir die mens was toe hy Jesus gestuur het om vir ons te ly en te sterf. Die apostel Johannes het gesê: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenoffer vir ons sondes” (1 Joh. 4:9, 10). Omdat Jehovah ons liefhet, vergewe hy ons sondes en daarom het ons die hoop om vir ewig te lewe.

Jesus het sy liefde vir die mens bewys deur God se wil te doen. Paulus het gesê: “[Jesus] sê . . . ‘Kyk! Ek het gekom om u wil te doen.’ . . . Deur die genoemde ‘wil’ is ons geheilig deur middel van die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd” (Heb. 10:9, 10). Geen mens kon groter liefde betoon nie. Jesus het gesê: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Joh. 15:13). Kan ons as onvolmaakte mense Jehovah en Jesus se liefde navolg? Ja! Kom ons kyk hoe ons dit kan doen.

“GAAN VOORT OM IN LIEFDE TE WANDEL”

Paulus spoor ons aan: “Word dan navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel, net soos die Christus julle ook liefgehad het en homself vir julle oorgegee het” (Ef. 5:1, 2). Ons “gaan voort om in liefde te wandel” as ons ander altyd liefhet. Ons betoon liefde deur ons dade en nie net in woorde nie. Johannes het gesê: “Kindertjies, laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid” (1 Joh. 3:18). Byvoorbeeld, as ons God en ons naaste liefhet, sal ons die “goeie nuus van die koninkryk” aan ander verkondig (Matt. 24:14; Luk. 10:27). Ons wandel ook in liefde wanneer ons geduldig, goedhartig en vergewensgesind is. Daarom sê die Bybel: “Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.”—Kol. 3:13.

As ons iemand raad gee of reghelp, beteken dit nie dat ons hom nie liefhet nie. Byvoorbeeld, as ’n kind keel opsit, gee party ouers die kind eenvoudig sy sin. Maar ’n ouer wat sy kind werklik liefhet, sal dit nie doen nie. God is liefde, en tog ‘dissiplineer Jehovah hom wat hy liefhet’ (Heb. 12:6). As ons in liefde wandel, sal ons ander ook dissiplineer wanneer dit nodig is (Spr. 3:11, 12). Ons moet egter nie vergeet dat ons ook onvolmaak is en dat ons geneig is om ander sleg te behandel nie. Ons almal moet daaraan werk om meer liefde te betoon. Hoe kan ons dit doen? Kom ons kyk na drie maniere.

HOE KAN ONS LIEFDE AANKWEEK?

Eerstens moet ons God vra vir sy gees, wat liefde voortbring. Jesus het gesê dat Jehovah “heilige gees gee aan dié wat hom vra” (Luk. 11:13). As ons Jehovah vir heilige gees vra en ‘aanhou om deur gees te wandel’, sal ons liefdevoller optree (Gal. 5:16). Byvoorbeeld, as jy ’n ouer man in die Christengemeente is, kan jy Jehovah vir sy heilige gees vra om jou te help om ander liefdevol raad uit die Bybel te gee. Of as jy ’n ouer is, kan jy vra dat God se gees jou help om jou kinders, nie in woede nie, maar in liefde te dissiplineer.

Tweedens moet ons nadink oor hoe liefdevol Jesus was selfs toe hy uitgetart is (1 Pet. 2:21, 23). Ons moet veral oor Jesus se voorbeeld nadink wanneer iemand ons kwaad maak of wanneer ons onregverdig behandel word. Dan moet ons ons afvra: ‘Wat sou Jesus doen?’ ’n Suster met die naam Leigh sê dat hierdie vraag haar gehelp het om eers te dink voordat sy iets gedoen het. Sy vertel: “Eenkeer het iemand by die werk ’n e-pos aan almal gestuur met negatiewe kommentare oor my en my werk. Ek het baie sleg gevoel. Maar toe vra ek my af: ‘Hoe kan ek Jesus in hierdie situasie navolg?’ Nadat ek hieroor nagedink het, het ek besluit om die saak daar te laat en niks daaraan te doen nie. Later het ek uitgevind dat die persoon wat die e-pos gestuur het ernstig siek was en baie stres gehad het. Ek het besef dat sy seker nie bedoel het wat sy gesê het nie. Jesus se voorbeeld van liefde toe hy uitgetart is, het my gehelp om my kollega ook so lief te hê.” Ja, as ons Jesus navolg, sal ons altyd met liefde optree.

Derdens moet ons die gees van selfopofferende liefde aankweek, wat die kenmerk van ware Christene is (Joh. 13:34, 35). Die Bybel spoor ons aan om dieselfde “geestesgesindheid” as Jesus te hê. Toe hy die hemel verlaat het, het hy “homself ontledig” ter wille van ons, ja, “tot in die dood” (Fil. 2:5-8). Wanneer ons sy selfopofferende liefde navolg, word ons denke en optrede meer soos dié van Christus en sal ons ander se belange bo ons eie stel. Wat is party van die voordele as ons liefde betoon?

VOORDELE VAN LIEFDE

As ons ander liefhet, is daar baie voordele. Kom ons kyk na twee voorbeelde:

Hoe vind ons daarby baat as ons ander liefhet?

  • ’N INTERNASIONALE BROEDERSKAP: Omdat ons mekaar liefhet, weet ons dat ons broers en susters ons hartlik sal verwelkom, ongeag waar ons in die wêreld ’n vergadering bywoon. Watter seën is dit tog nie om te weet dat die ‘hele gemeenskap van ons broers in die wêreld’ ons liefhet nie! (1 Pet. 5:9). Ons kan sulke liefde net onder God se volk vind.

  • VREDE: As ons ‘mekaar in liefde verdra’, geniet ons die “verenigende band van vrede” (Ef. 4:2, 3). Ons ondervind hierdie vrede wanneer ons vergaderinge en byeenkomste bywoon. Jy sal saamstem dat hierdie soort vrede uniek in hierdie verdeelde wêreld is (Ps. 119:165; Jes. 54:13). As ons vrede met ander nastreef, wys ons dat ons hulle werklik liefhet, en dit maak Jehovah baie bly.—Ps. 133:1-3; Matt. 5:9.

“LIEFDE BOU OP”

Paulus het geskryf: “Liefde bou op” (1 Kor. 8:1). Hoe is dit moontlik? In 1 Korintiërs hoofstuk 13, wat al die “Psalm van liefde” genoem is, verduidelik Paulus hoe liefde opbou. As ons mense liefhet, sal ons hulle belange bo ons eie stel (1 Kor. 10:24; 13:5). En gesinne en gemeentes wat liefdevol is, is bedagsaam, vriendelik, geduldig en goedhartig.—Kol. 3:14.

Die liefde wat ons vir God het, is die kosbaarste soort liefde. Hierdie liefde verenig mense van alle kulture, rasse en tale om Jehovah met vreugde “skouer aan skouer” te dien (Sef. 3:9). Hou aan om hierdie kosbare aspek van die vrug van God se heilige gees elke dag in jou lewe te beoefen.

^ par. 2 Hierdie is die eerste artikel in ’n reeks wat elkeen van die aspekte van die vrug van die gees sal bespreek.