Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Johannes die Doper – ’n Voorbeeld wat ons kan help om vreugdevol te bly

Johannes die Doper – ’n Voorbeeld wat ons kan help om vreugdevol te bly

IS DAAR ’n toewysing in die gemeente wat jy graag wil hê, maar wat jy op die oomblik nie kan doen nie? Dalk is dit ’n verantwoordelikheid wat iemand anders het. Of dalk is dit ’n dienstoewysing of voorreg wat jy voorheen gehad het. Maar as gevolg van ouderdom, swak gesondheid, ekonomiese probleme of verantwoordelikhede in jou gesin kan jy nie meer so baie doen nie. Of as gevolg van veranderinge in die organisasie moes jy dalk ’n toewysing opgee wat jy jare lank gehad het. Maak nie saak wat die rede is nie, jy voel dalk dat jy nie alles doen wat jy graag in God se diens wil doen nie. In sulke gevalle is dit verstaanbaar dat jy soms teleurgesteld voel. Maar wat kan jy doen om te keer dat negatiewe gevoelens – soos mismoedigheid, bitterheid of gegriefdheid – in jou hart groei? Hoe kan jy vreugdevol bly?

Die voorbeeld van Johannes die Doper kan ons help om vreugdevol te bly. Johannes het wonderlike voorregte gehad, maar hy het waarskynlik verwag dat sy lewe in Jehovah se diens anders sou uitdraai as wat dit het. Hy het dalk nie gedink dat hy meer tyd in die tronk sou deurbring as wat hy in die bediening sou deurbring nie. Johannes het nogtans vreugdevol gebly en hy het hierdie gesindheid vir die res van sy lewe behou. Wat het hom gehelp? En hoe kan ons vreugdevol bly, selfs wanneer ons teleurstellings ondervind?

’N VREUGDEVOLLE TOEWYSING

In die lente van 29 HJ het Johannes sy toewysing as voorloper van die Messias begin deur te sê: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 3:2; Luk. 1:12-17). Baie mense het op sy boodskap gereageer. Om die waarheid te sê, mense het van ver gekom om na sy boodskap te luister, en baie is beweeg om berou te toon en gedoop te word. Johannes het ook moedig vir die godsdiensleiers, wat in hulle eie oë regverdig was, vertel van die oordeel wat op hulle wag as hulle nie verander nie (Matt. 3:5-12). Sy bediening het in die herfs van 29 HJ ’n hoogtepunt bereik toe hy Jesus gedoop het. Van toe af het Johannes ander aangespoor om Jesus, die beloofde Messias, te volg. – Joh. 1:32-37.

Omdat Johannes so ’n unieke rol gehad het, kon Jesus sê: “Onder dié wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes die Doper verwek nie” (Matt. 11:11). Ons kan daarvan seker wees dat Johannes vreugdevol was oor die seëninge wat hy ontvang het. Net soos Johannes, het baie vandag ook ryk seëninge ontvang. Kyk na die voorbeeld van ’n broer met die naam Terry. Hy en sy vrou, Sandra, is al meer as 50 jaar lank in die voltydse diens. Terry sê: “Ek het al baie wonderlike voorregte gehad. Ek was al ’n pionier, ’n Betheliet, ’n spesiale pionier, ’n kringopsiener, ’n streekopsiener en nou is ek weer ’n spesiale pionier.” Dit maak ons baie gelukkig om teokratiese voorregte te ontvang, maar soos ons uit Johannes se voorbeeld sal leer, moet ons hard werk om vreugdevol te bly wanneer ons omstandighede verander.

BEHOU JOU WAARDERING

Die feit dat Johannes die Doper nooit sy waardering vir sy voorregte verloor het nie, het hom gehelp om vreugdevol te bly. Kom ons kyk na ’n voorbeeld. Ná Jesus se doop, het Johannes se volgelinge minder geword terwyl dié wat Jesus gevolg het, al hoe meer geword het. Johannes se dissipels was bekommerd hieroor, en daarom het hulle vir hom gesê: “Kyk, hy doop, en almal gaan na hom toe” (Joh. 3:26). Johannes het geantwoord: “Hy wat die bruid het, is die bruidegom. Die vriend van die bruidegom ervaar egter groot vreugde weens die stem van die bruidegom wanneer hy staan en hom hoor. Daarom is hierdie vreugde van my volkome gemaak” (Joh. 3:29). Johannes wou nie beter as Jesus wees nie en hy het ook nie gedink dat sy werk onbelangrik geword het omdat Jesus se werk belangriker was nie. Johannes het eerder vreugdevol gebly, want hy het sy rol as die “vriend van die bruidegom” waardeer.

Johannes se gesindheid het hom gehelp om vergenoeg te bly, al was sy toewysing nie maklik nie. Byvoorbeeld, Johannes is as ’n Nasireër gebore, en daarom mag hy nie wyn gedrink het nie (Luk. 1:15). Jesus het na Johannes se eenvoudige lewenstyl verwys en gesê: “Johannes [het] gekom en nie geëet of gedrink nie.” Aan die ander kant was Jesus en sy dissipels nie onder sulke beperkings nie en het hulle ’n meer normale lewe gelei (Matt. 11:18, 19). En al het Johannes nie enige wonderwerke verrig nie, het hy geweet dat Jesus se dissipels, insluitende dié wat Johannes eers gevolg het, hierdie krag ontvang het (Matt. 10:1; Joh. 10:41). Johannes het nie toegelaat dat sulke verskille sy aandag aflei nie; hy het eerder sy eie toewysing van Jehovah ywerig uitgevoer.

As ons ook ons huidige toewysing in Jehovah se diens waardeer, kan ons vreugdevol bly. Terry, wat vroeër genoem is, sê: “Ek het gefokus op elke toewysing wat ek gekry het.” Wanneer hy aan sy lewe in die voltydse diens dink, sê hy: “Ek is oor niks spyt nie. Ek het net wonderlike herinneringe.”

Ons kan meer vreugde in God se diens hê as ons nadink oor wat dit is wat enige teokratiese toewysing of verantwoordelikheid werklik spesiaal maak. Dit is die voorreg om “God se medewerkers” te wees (1 Kor. 3:9). As ’n kosbare erfstuk blink gevryf word, kan dit help om sy glans te behou. Net so kan bepeinsing oor die wonderlike eer wat ons het om God te dien, ons help om ons vreugde te behou. Ons sal nie die opofferings wat ons gemaak het, vergelyk met die opofferings wat ander gemaak het nie. Ons sal nie dink dat ons voorregte nie so belangrik is soos ander se voorregte nie. – Gal. 6:4.

FOKUS OP GEESTELIKE DINGE

Johannes het dalk geweet dat sy bediening nie lank sou aanhou nie, maar hy het dalk nie besef hoe vinnig dit tot ’n einde sou kom nie (Joh. 3:30). Johannes is in 30 HJ, omtrent ses maande nadat hy Jesus gedoop het, deur koning Herodes in die tronk gesit. Maar Johannes het gedoen wat hy kon en nog steeds ’n getuienis gegee (Mark. 6:17-20). Wat het hom gehelp om vreugdevol te bly ten spyte van hierdie veranderinge? Hy het op geestelike dinge bly fokus.

Terwyl Johannes in die tronk was, het hy gehoor hoe Jesus se bediening uitgebrei het (Matt. 11:2; Luk. 7:18). Johannes was oortuig daarvan dat Jesus die Messias is, maar hy het dalk gewonder hoe Jesus alles sou vervul wat die Skrif gesê het die Messias sou doen. Sou Jesus binnekort begin regeer, aangesien die Messias koning sou word? Sou dit beteken dat Johannes uit die tronk vrygelaat sou word? Johannes wou Jesus se rol graag beter verstaan, en daarom het hy twee van sy dissipels gestuur om Jesus te vra: “Is u die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (Luk. 7:19). Toe hulle terugkom, het Johannes waarskynlik aandagtig geluister terwyl hulle vertel het dat Jesus wonderwerke gedoen het om mense te genees en dat hy hulle teruggestuur het om vir Johannes te sê: “Die blindes sien, die kreupeles loop, die melaatses word gereinig en die dowes hoor, die dooies word opgewek, aan die armes word die goeie nuus verkondig.” – Luk. 7:20-22.

Johannes was ongetwyfeld versterk toe hy hierdie dinge hoor. Dit het bevestig dat Jesus besig is om die Messiaanse profesieë te vervul. Al sou Jesus se koms nie tot Johannes se vrylating lei nie, het Johannes geweet dat sy diens nie verniet was nie. Ten spyte van sy omstandighede het hy rede gehad om gelukkig te wees.

As ons fokus op goeie verslae oor ons wêreldwye predikingswerk, kan dit ons help om vreugdevol te bly

As ons, soos Johannes, op geestelike dinge fokus, sal ons met vreugde en geduld kan volhard (Kol. 1:9-11). Ons kan dit doen deur die Bybel te lees en daaroor na te dink, en dit sal ons help om te sien dat ons werk in God se diens nie verniet is nie (1 Kor. 15:58). Sandra sê: “Ek lees elke dag ’n hoofstuk uit die Bybel, en dit het my gehelp om nader aan Jehovah te kom. Dit help my om op hom te fokus en nie op myself nie.” Ons kan ook fokus op verslae oor Koninkryksbedrywighede, en dit kan ons help om nie op ons eie omstandighede te konsentreer nie, maar op wat Jehovah besig is om te bereik. “Die maandelikse programme op JW Broadcasting® help ons om nader aan die organisasie te voel,” sê Sandra, “en dit help ons om vreugdevol in ons toewysing te bly.”

Johannes die Doper het sy kort bediening met “Elia se gees en krag” uitgevoer, en soos Elia, was hy “’n mens met gevoelens soos ons s’n” (Luk. 1:17; Jak. 5:17). As ons sy voorbeeld navolg deur ons waardering en geestelike fokus te behou, sal ons ook vreugdevol in ons Koninkryksdiens kan bly, maak nie saak wat in ons lewe gebeur nie.