STUDIEARTIKEL 34
Leer uit Bybelprofesieë
“Dié wat insig het, sal verstaan.” – DAN. 12:10.
LIED 98 Die Skrif — Deur God geïnspireer
IN HIERDIE ARTIKEL a
1. Hoe kan ons leer om dit te geniet om Bybelprofesieë te bestudeer?
“EK GENIET dit baie om Bybelprofesieë te bestudeer,” sê ’n jong broer met die naam Ben. Voel jy ook so? Of voel jy ’n bietjie geïntimideerd deur profesieë? Jy voel dalk selfs dat dit vervelig kan wees om profesieë te bestudeer. Maar wanneer jy meer leer oor hoekom Jehovah dit in sy Woord laat opteken het, sal jy dalk jou opinie verander.
2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
2 In hierdie artikel sal ons nie net bespreek hoekom ons oor Bybelprofesieë moet leer nie, maar ook hoe ons dit kan bestudeer. Dan sal ons twee profesieë in die boek Daniël ondersoek om te sien hoe dit ons nou kan help as ons dit verstaan.
HOEKOM MOET ONS BYBELPROFESIEË BESTUDEER?
3. Wat moet ons doen as ons Bybelprofesieë wil verstaan?
3 Ons moet hulp vra as ons Bybelprofesieë wil verstaan. Dink aan hierdie illustrasie. Verbeel jou dat jy ’n onbekende plek besoek, maar ’n vriend wat saam met jou reis, ken die gebied baie goed. Hy weet presies waar julle is en waarheen elke pad lei. Jy is beslis baie bly dat jou vriend ingestem het om saam met jou te kom! Net so weet Jehovah in watter tydperk ons lewe en wat op die pad vorentoe gaan gebeur. So om Bybelprofesieë te verstaan, moet ons Jehovah se hulp nederig vra. – Dan. 2:28; 2 Pet. 1:19, 20.
4. Hoekom het Jehovah profesieë in sy Woord laat neerskryf? (Jeremia 29:11) (Sien ook prent.)
4 Soos enige goeie ouer wil Jehovah hê dat sy kinders ’n gelukkige toekoms moet hê. (Lees Jeremia 29:11.) Maar anders as enige mense-ouer kan Jehovah presies voorspel wat in die toekoms gaan gebeur. Hy het profesieë in sy Woord laat neerskryf sodat ons van belangrike gebeure kan weet voordat dit gebeur (Jes. 46:10). Bybelprofesieë is liefdevolle geskenke van ons hemelse Vader af. Maar hoe kan jy seker wees dat wat die Bybel voorspel, regtig sal waar word?
5. Wat kan ’n jong persoon uit Max se ondervinding leer?
5 Op skool is ons jongmense dikwels omring deur mense wat min of geen respek vir die Bybel het nie. Hulle kommentare en gedrag kan ’n jong Getuie laat begin twyfel of die dinge wat hy of sy glo, waar is. Kyk na die ondervinding van ’n broer met die naam Max. Hy sê: “Toe ek ’n tiener was, het ek begin twyfel of my ouers besig was om my die ware godsdiens te leer en of die Bybel deur God geïnspireer is.” Wat het sy ouers gedoen? Hy sê: “Hulle het kalm gebly, al weet ek dat hulle bekommerd was.” Max se ouers het sy vrae uit die Bybel beantwoord. Max het ook iets gedoen. Hy sê: “Ek het Bybelprofesieë self bestudeer, en ek het die dinge wat ek geleer het met ander jongmense bespreek.” Wat was die gevolg? Max sê: “Daarna was ek oortuig dat die Bybel deur God geïnspireer is!”
6. Wat moet jy doen as jy twyfelgedagtes het, en hoekom?
6 As jy, soos Max, begin twyfel of die Bybel die waarheid bevat, hoef jy nie skuldig te voel nie. Maar jy moet iets daaromtrent doen. Twyfelgedagtes is soos roes. As jy dit ignoreer, kan dit iets waardevols stadig vernietig. Om enige roes van jou geloof te begin verwyder, moet jy jouself afvra: ‘Glo ek wat die Bybel oor die toekoms sê?’ As jy nie seker is nie, dan moet jy Bybelprofesieë wat alreeds waar geword het, bestudeer. Hoe kan jy dit doen?
HOE OM BYBELPROFESIEË TE BESTUDEER
7. Wat het Daniël gehelp om profesieë te bestudeer? (Daniël 12:10) (Sien ook prent.)
7 Daniël het ’n goeie voorbeeld gestel wanneer dit kom by hoe om profesieë te bestudeer. Hy het profesieë met die regte motief bestudeer – om die waarheid te leer. Daniël was ook nederig en het geweet dat Jehovah dié wat hom ken en wat aan sy standaarde gehoorsaam is, sal help om Bybelprofesieë te verstaan. (Dan. 2:27, 28; lees Daniël 12:10.) Daniël het gewys dat hy nederig is deur op Jehovah te vertrou vir hulp (Dan. 2:18). Daniël was ook deeglik. Hy het die geïnspireerde Skrif wat aan hom beskikbaar was, bestudeer (Jer. 25:11, 12; Dan. 9:2) Hoe kan jy Daniël navolg?
8. Hoekom weier party om te glo dat Bybelprofesieë waar word, maar wat moet ons doen?
8 Ondersoek jou motiewe. Studeer jy Bybelprofesieë omdat jy baie graag die waarheid wil leer? As dit die geval is, sal Jehovah jou help (Joh. 4:23, 24; 14:16, 17). Maar party mense studeer profesieë vir ander redes. Party doen dit omdat hulle bewyse wil kry dat die Bybel nie deur God geïnspireer is nie. Hulle voel dat hulle op daardie manier hulle eie standaarde kan stel van wat reg en verkeerd is en volgens daardie standaarde kan lewe. Maar ons moet die regte motief hê. En ’n belangrike eienskap is nodig om Bybelprofesieë te verstaan.
9. Watter eienskap is nodig as ons Bybelprofesieë wil verstaan? Verduidelik.
9 Wees nederig. Jehovah belowe om die nederiges te help (Jak. 4:6). So ons moet Hom in gebed vra om ons te help om Bybelprofesieë te verstaan. Ons moet ook erken dat ons die hulp nodig het van die getroue slaaf wat hy gebruik om vir ons geestelike kos op die regte tyd te gee (Luk. 12:42). Jehovah is ’n God van orde, so dit maak sin dat hy net een kanaal gebruik om ons te help om die waarhede in sy Woord te verstaan. – 1 Kor. 14:33; Ef. 4:4-6.
10. Wat leer jy uit Esther se ondervinding?
10 Wees deeglik. Kies ’n profesie waarin jy belangstel, en doen eers daaroor navorsing. Dit is wat ’n suster met die naam Esther gedoen het. Sy het belanggestel in profesieë wat die koms van die Messias voorspel het. Sy sê: “Toe ek 15 was, het ek begin soek na bewyse dat hierdie profesieë regtig voor Jesus se tyd geskryf is.” Wat sy geleer het toe sy oor die Dooie See-rolle gelees het, het haar oortuig. Sy sê: “Party van hulle was voor Christus se tyd geskryf, so die profesieë wat dit bevat het, moes van God af gekom het.” Esther erken: “Ek moes dinge ’n hele paar keer lees voordat ek dit verstaan het.” Maar sy is bly dat sy die moeite gedoen het. Nadat sy ’n hele paar Bybelprofesieë deeglik bestudeer het, sê sy: “Ek kon duidelik sien dat wat die Bybel sê, waar is!”
11. Hoe help dit ons as ons aan onsself bewys dat die Bybel waar is?
11 Wanneer ons sien hoe party profesieë in God se Woord alreeds vervul is, ontwikkel ons sterk vertroue in Jehovah en in die manier waarop hy ons lei. En Bybelprofesieë help ons om ’n positiewe hoop vir die toekoms te behou, maak nie saak watter moeilike tye ons nou ondervind nie. Kom ons kyk kortliks na twee profesieë wat deur Daniël neergeskryf is en wat nou vervul word. As ons dit verstaan, kan dit ons help om wyse besluite te maak.
HOE RAAK DIE VOETE VAN YSTER EN KLEI JOU?
12. Wat stel die voete van “yster . . . wat met sagte klei gemeng was,” voor? (Daniël 2:41-43)
12 Lees Daniël 2:41-43. In die droom wat Daniël aan koning Nebukadnesar verduidelik het, was die voete van die beeld wat die koning gesien het, gemaak van “yster . . . wat met sagte klei gemeng was”. Deur hierdie profesie te vergelyk met ander profesieë in Daniël en Openbaring, kan ons tot die gevolgtrekking kom dat die voete die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag voorstel, wat vandag die magtigste wêreldmag is. Daniël het van hierdie wêreldmag gepraat toe hy gesê het dat “die koninkryk gedeeltelik sterk en gedeeltelik swak” sal wees. Hoekom gedeeltelik swak? Want die gewone mense, wat deur die sagte klei afgebeeld word, verswak sy vermoë om met ysteragtige mag op te tree. b
13. Watter belangrike waarhede leer ons uit hierdie profesie?
13 Ons leer ’n hele paar belangrike waarhede uit Daniël se beskrywing van die beeld en veral sy voete. Eerstens, die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag het sy mag op ’n paar maniere gewys. Byvoorbeeld, dit het ’n belangrike rol gespeel in die oorwinning van die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog. Maar hierdie wêreldmag is verswak en sal al hoe swakker word omdat sy burgers teen mekaar en teen die regering veg. Tweedens, die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag sal die laaste wêreldmag wees wat sal regeer voordat God se Koninkryk ’n einde maak aan alle menseregerings. Al staan ander nasies dalk soms die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag teë, sal hulle dit nie vervang nie. Ons weet dit omdat “die klip”, wat God se Koninkryk verteenwoordig, die voete, die deel van die beeld wat die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag voorstel, sal verpletter. – Dan. 2:34, 35, 44, 45.
14. Hoe kan dit ons help om wyse besluite te maak as ons die profesie oor die voete van yster en klei verstaan?
14 Is jy oortuig dat Daniël se profesie oor die voete van yster en klei waar is? As dit die geval is, sal dit ’n uitwerking hê op die manier hoe jy jou lewe lei. Jy sal nie materiële sekuriteit soek in ’n wêreld wat binnekort vernietig sal word nie (Luk. 12:16-21; 1 Joh. 2:15-17). As jy hierdie profesie verstaan, sal dit jou ook help om te sien hoe belangrik die predikings- en onderrigtingswerk is (Matt. 6:33; 28:18-20). Nadat jy hierdie profesie bestudeer het, vra jouself: ‘Wys die besluite wat ek maak dat ek oortuig is dat God se Koninkryk binnekort ’n einde sal maak aan alle menseregerings?’
HOE RAAK “DIE KONING VAN DIE NOORDE” EN “DIE KONING VAN DIE SUIDE” JOU?
15. Wie is vandag “die koning van die noorde” en “die koning van die suide”? (Daniël 11:40)
15 Lees Daniël 11:40. Daniël hoofstuk 11 praat van twee konings, of politieke magte, wat teen mekaar kompeteer. Deur hierdie profesie met ander in die Bybel te vergelyk, weet ons dat Rusland en die lande wat hom ondersteun vandag “die koning van die noorde” is en dat die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag “die koning van die suide” is. c
16. Watter uitdagings het dié wat onder die heerskappy van “die koning van die noorde” lewe?
16 God se volk wat onder die heerskappy van “die koning van die noorde” lewe, word deur hierdie koning vervolg. Party Getuies is al geslaan en in die tronk gegooi vir hulle geloof. Die dade van “die koning van die noorde” intimideer nie ons broers nie; dit versterk eerder hulle geloof. Hoekom? Omdat ons broers weet dat die vervolging van God se volk profesieë in die boek Daniël vervul (Dan. 11:41). d Die feit dat ons dit weet, kan ons help om ons hoop sterk te hou en om getrou aan Jehovah te bly.
17. Watter uitdagings het God se volk gehad onder die heerskappy van “die koning van die suide”?
17 In die verlede het “die koning van die suide” ook Jehovah se volk vervolg. Byvoorbeeld, gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu is baie broers in die tronk gegooi vir hulle Christelike neutraliteit, en party Getuie-kinders is uit die skool geskors vir dieselfde rede. Maar in onlangse jare het Jehovah se knegte wat onder die heerskappy van daardie koning lewe meer subtiele toetse van hulle lojaliteit aan God se Koninkryk ondervind. Byvoorbeeld, gedurende verkiesingskampanjes kom ’n Christen dalk in die versoeking om ’n sekere politieke party of kandidaat te ondersteun. Hy sal dalk nie so ver gaan as om te stem nie; maar in sy verstand en hart kies hy kant. Dit is so belangrik dat ons neutraal bly wanneer dit by die politiek kom, nie net in wat ons doen nie, maar ook in ons gedagtes en gevoelens! – Joh. 15:18, 19; 18:36.
18. Hoe reageer ons op die konflik tussen “die koning van die noorde” en “die koning van die suide”? (Sien ook prent.)
18 Dié wat nie geloof in Bybelprofesieë het nie, word dalk baie angstig wanneer hulle sien dat “die koning van die suide” “met die horings [stoot]” teen “die koning van die noorde” (Dan. 11:40, vtn.). Albei konings het genoeg kragtige wapens om alle lewe op die aarde te vernietig. Maar ons weet dat Jehovah nie sal toelaat dat dit gebeur nie (Jes. 45:18). So die vyandskap tussen “die koning van die noorde” en die “koning van die suide” bekommer ons nie; dit versterk eerder ons geloof. Dit bevestig dat die einde van hierdie wêreld naby is.
HOU AAN OM AANDAG TE SKENK AAN PROFESIEË
19. Wat moet ons erken oor Bybelprofesieë?
19 Ons weet nie hoe party Bybelprofesieë vervul sal word nie. Selfs die profeet Daniël het nie alles wat hy neergeskryf het, verstaan nie (Dan. 12:8, 9). Maar net omdat ons nie heeltemal verstaan hoe ’n profesie vervul sal word nie, beteken nie dat dit nie waar sal word nie. Ons kan beslis vertrou dat Jehovah ons op presies die regte tyd sal help om te verstaan wat ons moet weet, net soos hy in die verlede gedoen het. – Amos 3:7.
20. Watter opwindende Bybelprofesieë sal binnekort vervul word, en wat moet ons aanhou doen?
20 Daar sal ’n uitroep van “vrede en veiligheid” wees (1 Tess. 5:3). Dan sal die wêreld se politieke magte teen valse godsdiens draai en dit heeltemal vernietig (Op. 17:16, 17). Daarna sal hulle God se volk aanval (Eseg. 38:18, 19). Hierdie gebeure sal lei tot die finale oorlog van Armageddon (Op. 16:14, 16). Ons kan seker wees dat hierdie gebeure binnekort sal plaasvind. Tot dan moet ons aanhou om ons waardering te wys aan ons liefdevolle hemelse Vader deur aandag te skenk aan Bybelprofesieë en deur ander te help om dieselfde te doen.
LIED 95 Die lig word helderder
a Maak nie saak hoe sleg die situasie in die wêreld word nie, ons kan die vertroue hê dat ’n gelukkige toekoms op ons wag. Wanneer ons Bybelprofesieë bestudeer, word daardie vertroue sterker. Hierdie artikel sal spesifieke redes bespreek hoekom ons Bybelprofesieë moet bestudeer. Ons sal ook kortliks na twee van die profesieë kyk wat Daniël neergeskryf het en sien hoe dit ons persoonlik kan help wanneer ons dit verstaan.
b Sien die artikel “Jehovah openbaar ‘wat binnekort moet plaasvind’” in Die Wagtoring van 15 Junie 2012, par. 7-9.