Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vreugde ’n Eienskap wat ons van God kry

Vreugde ’n Eienskap wat ons van God kry

DIE meeste mense wil gelukkig wees. Maar in hierdie laaste dae het mense probleme wat “moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1). Onregverdigheid, swak gesondheid, werkloosheid, hartseer of ander dinge wat angs en pyn veroorsaak, kan maak dat party hulle vreugde verloor. Selfs knegte van God kan mismoedig word en hulle vreugde verloor. As dit met jou gebeur het, hoe kan jy jou vreugde terugkry?

Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eers verstaan wat ware vreugde is en hoe ander hulle vreugde behou het ten spyte van beproewinge. Dan sal ons leer wat ons kan doen om ons vreugde te behou en hoe ons selfs meer vreugde kan geniet.

WAT IS VREUGDE?

Om vreugdevol te wees, is nie dieselfde as om vrolik of net bly te wees nie. Dink hieraan: Iemand wat dronk word, voel dalk baie vrolik. Maar wanneer hy nugter word, is hy nie meer so vrolik nie en besef hy dalk dat hy nog steeds baie probleme het. Sy vrolikheid was net tydelik en nie ware vreugde nie. — Spr. 14:13.

Vreugde is ’n gevoel wat diep binne jou hart is. Dit is al beskryf as “die gevoel wat ontstaan wanneer ’n mens iets goeds kry of verwag”. Om vreugdevol te wees, beteken dat jy gelukkig is, maak nie saak of jou omstandighede goed of sleg is nie (1 Tess. 1:6). Om die waarheid te sê, jy kan ontsteld wees oor iets, maar nog steeds vreugde in jou hart hê. Die apostels is byvoorbeeld geslaan omdat hulle oor die Christus gepraat het. Maar hulle het “van die Sanhedrin af weggegaan, bly omdat hulle waardig geag is om ter wille van sy naam oneer te ly” (Hand. 5:41). Hulle was natuurlik nie bly oor die feit dat hulle geslaan is nie. Maar as knegte van God het dit hulle ware vreugde gegee om aan hom getrou te bly.

Ons word nie met sulke vreugde gebore nie, en dit kom nie vanself nie. Hoekom nie? Want ware vreugde is deel van die vrug van God se heilige gees. God se gees kan ons help om “die nuwe persoonlikheid” aan te kweek, wat vreugde insluit (Ef. 4:24; Gal. 5:22). En wanneer ons vreugde aankweek, sal dit vir ons makliker wees om die stres van die lewe te hanteer.

VOORBEELDE WAT ONS WIL NAVOLG

Jehovah wou hê dat net goeie dinge op die aarde moes gebeur, nie die slegte dinge wat ons vandag sien nie. Maar Jehovah verloor nie sy vreugde omdat mense slegte dinge doen nie. God se Woord sê: “Sterkte en vreugde is in sy plek” (1 Kron. 16:27). En die goeie dinge wat Jehovah se knegte doen, maak “[sy] hart bly”. — Spr. 27:11.

Ons kan Jehovah navolg deur ons nie te veel te bekommer wanneer dinge nie gebeur soos ons verwag het nie. Ons wil nie ons vreugde verloor nie, maar ons wil eerder fokus op die goeie dinge wat ons nou het en geduldig wag vir die beter dinge wat nog kom. *

Daar is ook baie voorbeelde in die Bybel van mense wat in moeilike tye hulle vreugde behou het. Abraham het vreugdevol gebly selfs toe sy lewe in gevaar was en ander die lewe vir hom moeilik gemaak het (Gen. 12:10-20; 14:8-16; 16:4, 5; 20:1-18; 21:8, 9). Hoe het hy dit gedoen? Hy het bly dink aan sy hoop om in die nuwe wêreld onder die Messias se heerskappy te lewe (Gen. 22:15-18; Heb. 11:10). Jesus het gesê: “Abraham, julle vader, het hom grootliks verbly in die vooruitsig om my dag te sien” (Joh. 8:56). Ons kan Abraham navolg deur na te dink oor die vreugde wat in die toekoms op ons wag. — Rom. 8:21.

Net soos Abraham het die apostel Paulus en sy metgesel Silas op God se beloftes bly fokus. Hulle het sterk geloof gehad en het hulle vreugde behou ten spyte van die slegte dinge wat met hulle gebeur het. Byvoorbeeld, nadat Paulus en Silas baie erg geslaan en in die tronk gegooi is, was hulle “omstreeks middernag . . . besig om te bid en God met sang te loof” (Hand. 16:23-25). Paulus en Silas is nie net deur hulle hoop versterk nie, maar hulle was ook vreugdevol omdat hulle ter wille van Christus se naam gely het. Ons kan Paulus en Silas navolg deur te onthou dat dit tot seëninge sal lei wanneer ons God getrou dien. — Fil. 1:12-14.

Vandag het ons ook goeie voorbeelde van broers en susters wat hulle vreugde behou het ten spyte van beproewinge. In November 2013 het die supertifoon Haiyan die sentrale deel van die Filippyne getref en die huise van meer as 1 000 Getuie-gesinne verwoes. George, wat in die stad Tacloban gewoon het, se huis is heeltemal vernietig. Hy het gesê: “Ten spyte van wat gebeur het, is die broers nog steeds gelukkig. Die vreugde wat ons in ons hart voel, is moeilik om te beskryf.” Ons sal ons vreugde kan behou wanneer ons deur baie moeilike tye gaan as ons diep nadink oor alles wat Jehovah vir ons gedoen het en as ons dankbaar teenoor hom bly. Watter ander dinge het Jehovah vir ons voorsien wat ons redes gee om vreugdevol te wees?

WAAROM ONS VREUGDEVOL KAN WEES

Ons vriendskap met God is die grootste rede waarom ons vreugdevol kan wees. Dink hieraan: Ons ken die Soewerein van die heelal. Hy is ons Vader, God en Vriend! — Ps. 71:17, 18.

Ons is baie bly dat Jehovah ons lewe gegee het en dat ons dit kan geniet (Pred. 3:12, 13). Omdat Jehovah ons na hom toe getrek het, verstaan ons wat sy wil vir ons is (Kol. 1:9, 10). Daarom het ons ’n doel in die lewe en weet ons hoe om ons lewe te lei. Maar die meeste mense weet nie wat die doel van die lewe is nie. Paulus het gesê: “‘Die dinge wat God berei het vir dié wat hom liefhet, het die oog nie gesien en die oor nie gehoor en het ook nie in die hart van die mens opgekom nie.’ Want aan ons het God dit deur sy gees geopenbaar” (1 Kor. 2:9, 10). Dit gee ons baie vreugde om te verstaan wat Jehovah se wil en voorneme is.

Dink ook aan wat Jehovah nog vir sy knegte gedoen het. Is ons nie bly dat ons sondes vergewe kan word nie? (1 Joh. 2:12). God gee ons die hoop dat ons binnekort die lewe in ’n nuwe wêreld sal geniet (Rom. 12:12). Jehovah het nou al vir ons broers en susters gegee om ons op te bou (Ps. 133:1). En God se Woord verseker ons dat Jehovah sy knegte teen Satan en sy demone beskerm (Ps. 91:11). As ons oor al hierdie seëninge van God nadink, sal ons sien hoe ons vreugde vermeerder. — Fil. 4:4.

HOE OM MEER VREUGDEVOL TE WEES

Kan ’n Christen wat reeds vreugdevol is, meer vreugdevol word? Jesus het gesê: “Hierdie dinge het ek vir julle gesê, sodat my vreugde in julle kan wees en julle vreugde volkome gemaak kan word” (Joh. 15:11). Dit wys dat ons vreugde kan vermeerder. Ons vreugde kan met ’n vuur vergelyk word. Ons moet aanhou hout op die vuur gooi om dit warmer te maak. Net so moet jy jou geestelikheid versterk om meer vreugde te kan geniet. Onthou: Heilige gees help ons om vreugde te hê. Daarom moet ons Jehovah aanhou vra vir sy gees en nadink oor sy Woord, wat deur sy gees geïnspireer is. — Ps. 1:1, 2; Luk. 11:13.

Jy kan ook jou vreugde vergroot deur besig te bly met dinge wat Jehovah gelukkig maak (Ps. 35:27; 112:1). Dit is omdat ons gemaak is om ‘die ware God te vrees en sy gebooie te onderhou. Want dit is die hele verpligting van die mens’ (Pred. 12:13). Met ander woorde, ons is gemaak om God se wil te doen. Daarom sal ons die meeste vreugde hê wanneer ons Jehovah dien. *

DIE VOORDELE VAN VREUGDE

Wanneer ons ons vreugde vergroot, sal ons baie ander voordele geniet. Byvoorbeeld, dit sal ons hemelse Vader baie bly maak as ons hom met vreugde dien selfs wanneer ons probleme het (Deut. 16:15; 1 Tess. 5:16-18). En omdat ons ware vreugde het, sal ons ’n materialistiese lewenswyse verwerp en eerder kyk hoe ons meer opofferings vir die Koninkryk kan maak (Matt. 13:44). Wanneer ons die goeie resultate van ons opofferings sien, sal ons meer vreugde hê, beter oor onsself voel en ander help om dieselfde geluk te ervaar. — Hand. 20:35; Fil. 1:3-5.

’n Navorser aan die Universiteit van Nebraska in die Verenigde State het gesê: “As jy nou gelukkig en tevrede is met jou lewe, het jy ’n groter kans om in die toekoms gesond te wees.” Dit stem ooreen met wat die Bybel sê: “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel” (Spr. 17:22). Met ander woorde, hoe gelukkiger jy is, hoe groter die kans dat jy goeie gesondheid sal geniet.

Al lewe ons in stresvolle tye, kan ons ware vreugde aankweek wanneer ons heilige gees ontvang. Ons kry God se gees deur daarvoor te bid, deur sy Woord te studeer en daaroor na te dink. Ons kan ons vreugde vergroot wanneer ons nadink oor die seëninge wat ons nou geniet, ander se geloof navolg en probeer om God se wil te doen. Dan sal die woorde in Psalm 64:10 ook in ons geval waar wees, wat sê: “Die regverdige sal hom in Jehovah verbly en sal inderdaad sy toevlug tot hom neem.”

^ par. 10 Die eienskap van lankmoedigheid, of geduld, sal in ’n toekomstige artikel in hierdie reeks oor die vrug van die gees bespreek word.

^ par. 20 Sien die venster “ Nog maniere om jou vreugde te vergroot” om te kyk hoe jy meer vreugde kan geniet.