STUDIEARTIKEL 6
LIED 18 Dankbaar vir die losprys
Jehovah se vergifnis – Hoekom ons dit waardeer
“God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het.” – JOH. 3:16.
FOKUS
Om waardering op te bou vir Jehovah se vergifnis van ons sondes deur die grondslag vir daardie vergifnis te verstaan.
1-2. Hoe is die mensdom se situasie soos dié van die jong man wat in paragraaf 1 genoem is?
STEL jou ’n jong man voor wat in ’n ryk gesin grootgeword het. Op ’n dag gebeur daar iets tragies; sy ouers sterf in ’n ongeluk. Die nuus breek sy hart. Maar nog ’n skok wag op hierdie jong man. Hy vind uit dat sy ouers al hulle geld uitgegee het en dat hulle groot skuld gemaak het. So in plaas daarvan om baie geld te erf, erf hy hulle skuld, en skuldeisers dring daarop aan dat hy dit betaal. Hy sal nooit al hierdie skuld kan terugbetaal nie.
2 Op party maniere is ons situasie soos dié van hierdie jong man. Ons oorspronklike ouers, Adam en Eva, was volmaak en het in ’n pragtige paradys gelewe (Gen. 1:27; 2:7-9). Hulle het die vooruitsig gehad om vir ewig ’n gelukkige lewe te hê. Maar toe het alles verander. Hulle het hulle Paradystuiste sowel as hulle vooruitsig op ewige lewe verloor. Watter erfenis kon hulle vir hulle toekomstige kinders agterlaat? Die Bybel sê vir ons: “Sonde het . . . deur een mens [Adam] in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het so na alle mense versprei omdat hulle almal gesondig het” (Rom. 5:12). Die erfenis wat Adam vir ons agtergelaat het, is sonde, wat tot die dood lei. Hierdie oorgeërfde sonde is soos ’n groot skuld – skuld wat nie een van ons kan terugbetaal nie. – Ps. 49:8.
3. Hoekom kan ons sondes met skuld vergelyk word?
3 Jesus het sondes met skuld vergelyk (Matt. 6:12, vtn.; Luk. 11:4, vtn.). Wanneer ons sondig, is dit asof ons skuld maak by Jehovah. Ons moet die prys vir die sonde betaal. As hierdie skuld nie betaal word nie, sal dit slegs afgeskryf word wanneer ons sterf. – Rom. 6:7, 23.
4. (a) Wat sou sonder hulp met alle sondaars gebeur? (Psalm 49:7-9) (b) Waarna verwys die woord “sonde” in die Bybel? (Sien die venster “ Sonde”.)
4 Is dit vir ons moontlik om alles wat Adam en Eva verloor het, terug te kry? Nie op ons eie nie. (Lees Psalm 49:7-9.) Sonder hulp sou ons nie ’n hoop op ’n toekomstige lewe of op ’n opstanding gehad het nie. Om die waarheid te sê, ons dood sou net soos dié van diere gewees het. – Pred. 3:19; 2 Pet. 2:12.
5. Hoe het ons liefdevolle Vader ons gehelp om vir ons sondes te betaal? (Sien prent.)
5 Dink terug aan die jong man wat aan die begin genoem is. Hoe sou hy gevoel het as ’n ryk man aangebied het om al sy skuld te betaal? Die jong man sou beslis baie dankbaar gewees het en die vrygewige aanbod aanvaar het. Net so het ons liefdevolle Vader, Jehovah, vir ons ’n geskenk gegee wat betaal vir die skuld van sonde wat ons by Adam geërf het. Jesus het dit so verduidelik: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). En hierdie selfde geskenk gee ons die geleentheid om ’n goeie verhouding met Jehovah op te bou.
6. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en hoekom?
6 Hoe kan ons baat vind by hierdie wonderlike geskenk wat dit moontlik maak vir ons sondes, of skuld, om vergewe te word? Die antwoord op daardie vraag word gevind in die Bybel se gebruik van konsepte soos versoening, versoeningsreëling, losprys, verlossing en om regverdig verklaar te word. In hierdie artikel sal ons bespreek wat elkeen van hierdie konsepte beteken. Terwyl ons oor hierdie verduidelikings nadink, sal ons waardering vir die grondslag van Jehovah se vergifnis groei.
VERSOENING
7. (a) Wat het Adam en Eva nog verloor? (b) Wat het ons as nakomelinge van Adam en Eva baie nodig? (Romeine 5:10, 11)
7 Adam en Eva het nie net die vooruitsig op die ewige lewe verloor nie, maar ook hulle kosbare verhouding met hulle Vader, Jehovah. Adam en Eva was oorspronklik deel van God se gesin (Luk. 3:38). Maar toe hulle ongehoorsaam was aan Jehovah, het hy hulle nie meer toegelaat om deel van sy gesin te wees nie. Dit het gebeur voordat hulle kinders gehad het (Gen. 3:23, 24; 4:1). Omdat ons hulle nakomelinge is, moet ons met Jehovah versoen raak. (Lees Romeine 5:10, 11.) Met ander woorde, ons moet ’n goeie verhouding met hom ontwikkel. Volgens een naslaanwerk kan die Griekse woord wat hier vir “versoen” gebruik word, beteken om “’n vriend van ’n vyand te maak”. Dit is so wonderlik dat Jehovah die een is wat die inisiatief geneem het om dit moontlik te maak. Hoe?
VERSOENINGSREËLING
8. Wat is die versoeningsreëling?
8 Die versoeningsreëling is die reëling wat Jehovah in plek gesit het om ’n goeie verhouding tussen hom en sondige mense te herstel. Dit sluit in dat een ding vir ’n ander ding van gelyke waarde verruil word. Op hierdie manier kan iets wat verlore is of vernietig is, weer teruggekry of vervang word. Die Christelike Griekse Geskrifte verwys ook na die manier waarop Jehovah dit vir ’n individu moontlik gemaak het om ’n goeie verhouding met hom te hê. – Rom. 3:25.
9. Watter tydelike reëling het Jehovah gemaak sodat die sondes van die Israeliete vergewe kon word?
9 Om dit vir die Israeliete moontlik te maak om ’n goeie verhouding met Jehovah te hê, het hy ’n tydelike reëling ingestel vir die vergifnis van hulle sondes. In Israel is die Versoendag jaarliks herdenk. Op daardie dag het die hoëpriester diere-offers namens die volk geoffer. Diere-offers kon natuurlik nie heeltemal versoening doen vir enige iemand se sondes nie omdat diere minder waarde het in vergelyking met mense. Maar so lank as wat die berouvolle Israeliete die offerandes gebring het wat Jehovah vereis het, was hy bereid om hulle sondes te vergewe (Heb. 10:1-4). En daardie reëling en hulle gereelde sonde-offers het die Israeliete gehelp om te besef dat hulle sondaars is en dat hulle ’n permanente oplossing baie nodig gehad het.
10. Watter permanente reëling het Jehovah gemaak vir die vergifnis van sondes?
10 Jehovah het ’n permanente reëling in gedagte gehad vir die vergifnis van sondes. Hy het gereël dat sy geliefde Seun “eens en vir altyd geoffer [word] om die sondes van baie te dra” (Heb. 9:28). Jesus het “sy lewe . . . as ’n losprys in ruil vir baie” gegee (Matt. 20:28). Wat is ’n losprys?
LOSPRYS
11. (a) Wat is ’n losprys volgens die Bybel? (b) Wat was nodig sodat hierdie losprys betaal kon word?
11 Volgens die Bybel is ’n losprys die prys wat betaal word om versoening te bring. a Uit Jehovah se standpunt voorsien dit die grondslag om te herstel wat verloor is. Hoe? Onthou, Adam en Eva het hulle volmaakte lewe verloor, sowel as die vooruitsig om vir ewig te lewe. So die losprys moes ’n prys van gelyke waarde wees aan wat verloor is (1 Tim. 2:6). Dit kon net betaal word deur ’n volwasse man wat (1) volmaak was, (2) die potensiaal gehad het om vir ewig op die aarde te lewe en (3) bereid was om daardie lewe vir ons op te gee, of op te offer. Slegs dan kon die lewe van daardie persoon die lewe wat verloor is, vervang, of daarvoor versoening doen.
12. Hoekom kon Jesus die nodige losprys voorsien?
12 Kyk na drie redes hoekom Jesus daardie losprys kon betaal. (1) Hy was volmaak – “hy het nooit gesondig nie” (1 Pet. 2:22). (2) As gevolg daarvan het hy die potensiaal gehad om vir ewig op die aarde te lewe. (3) Hy was bereid om te sterf en om daardie lewe vir ons op te gee (Heb. 10:9, 10). As ’n volmaakte man was Jesus gelyk aan die eerste man, Adam, voordat hy gesondig het (1 Kor. 15:45). So omdat Jesus vir ons gesterf het, kon hy versoening doen vir Adam se sonde, dit wil sê vervang wat Adam verloor het (Rom. 5:19). Op hierdie manier het Jesus “die laaste Adam” geword. Dit is nie nodig dat ’n ander volmaakte persoon kom betaal vir wat Adam verloor het nie. Jesus het “eens en vir altyd” gesterf. – Heb. 7:27; 10:12.
13. Wat is die verskil tussen die versoeningsreëling en die losprys?
13 Maar wat is die verskil tussen die versoeningsreëling en die losprys? Die versoeningsreëling is dit wat God doen om ’n goeie verhouding tussen hom en mense te herstel. Die losprys is die prys wat betaal is om versoening moontlik te maak vir sondige mense. Hierdie prys word verteenwoordig deur Jesus se kosbare bloed wat vir ons uitgestort is. – Ef. 1:7; Heb. 9:14.
VERLOSSING EN OM REGVERDIG VERKLAAR TE WORD
14. Wat sal ons nou bespreek, en hoekom?
14 Wat is die resultate van die versoeningsreëling? Die Bybel gebruik ’n hele paar uitdrukkings om die voordele te beklemtoon. Al oorvleuel die betekenis van hierdie woorde, beklemtoon elke woord ’n sekere aspek van die versoeningsreëling wat dit moontlik maak om Jehovah se vergifnis te kry. Terwyl ons hierdie woorde ontleed, sal ons ook sien hoe dit ons persoonlik raak.
15-16. (a) Wat beteken dit wanneer die Bybel sê dat ons verlos is? (b) Hoe raak dit ons?
15 Die Bybel sê dat ons verlos, of bevry, is omdat die losprys betaal is. Die apostel Petrus het dit so gestel: “Julle weet dat julle nie met dinge wat kan vergaan, met silwer of goud, bevry [lett. “losgekoop; verlos”] is van julle nuttelose lewenswyse wat julle voorvaders aan julle oorgedra het nie. Maar dit was met kosbare bloed, soos dié van ’n onbesmette en vlekkelose lam, ja, dié van Christus.” – 1 Pet. 1:18, 19; vtn.
16 As gevolg van die losprysoffer kan ons bevry word van sonde en die dood, wat so baie lyding veroorsaak (Rom. 5:21). Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah en Jesus vir die feit dat ons verlos is as gevolg van die kosbare bloed, of lewe, van Jesus. – 1 Kor. 15:22.
17-18. (a) Wat beteken dit om regverdig verklaar te word? (b) Hoe raak dit ons?
17 Om regverdig verklaar te word, beteken dat die klagtes teen ons teruggetrek is en dat ons rekord skoongevee is. Al doen Jehovah dit, bly hy nog steeds by sy eie standaarde van geregtigheid. Hy verklaar ons nie regverdig omdat ons dit verdien het nie, en hy keur ook nie ons sondes goed nie. Maar as gevolg van ons geloof in die versoeningsreëling en die losprys wat betaal is, het Jehovah ’n grondslag om ons skuld af te skryf. – Rom. 3:24; Gal. 2:16.
18 Wat beteken dit vir ons elkeen? Dié wat gekies is om saam met Jesus in die hemel te regeer, is alreeds regverdig verklaar as kinders van God (Tit. 3:7; 1 Joh. 3:1). Hulle sondes is vergewe. Hulle het nie meer, as ’t ware, ’n kriminele rekord nie, en daarom kwalifiseer hulle om in die Koninkryk te wees (Rom. 8:1, 2, 30). Dié wat ’n aardse hoop het, is regverdig verklaar as vriende van God, en hulle sondes is vergewe (Jak. 2:21-23). Die groot menigte, wat Armageddon sal oorleef, het die vooruitsig om nooit te sterf nie (Joh. 11:26). “Die regverdiges” en “die onregverdiges” wat in die dood slaap, sal opgewek word (Hand. 24:15; Joh. 5:28, 29). Uiteindelik sal alle gehoorsame knegte van Jehovah op die aarde “die glorieryke vryheid van die kinders van God” hê (Rom. 8:21). Die versoeningsreëling lei tot ’n wonderlike seëning – totale versoening met ons Vader, Jehovah!
19. Hoe het ons situasie verbeter as gevolg van wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het? (Sien ook die venster “ Wat dit vir ons beteken”.)
19 Ja, ons situasie was voorheen soos dié van die jong man van wie ons vroeër gepraat het – hy het alles verloor en baie skuld geërf wat hy nooit kon terugbetaal nie. Maar ons is so bly dat Jehovah ons gehelp het. Ons situasie het verander as gevolg van die versoeningsreëling en die betaling van die losprys. Ons geloof in Jesus Christus maak dit vir ons moontlik om verlos, of bevry, te word van sonde en die dood. Ons sondes kan ook afgeskryf word en ons kriminele rekord kan skoongevee word. Maar die belangrikste van alles is dat ons nou ’n goeie verhouding met ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, kan hê.
20. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
20 Terwyl ons nadink oor wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het, word ons harte gevul met waardering (2 Kor. 5:15). Sonder hulle hulp sou ons glad nie ’n hoop gehad het nie! Maar wat beteken Jehovah se vergifnis eintlik vir ons as individue? Dit is wat ons in die volgende artikel sal bespreek.
LIED 10 Loof Jehovah, ons God!
a In party tale word die woord “losprys” vertaal met ’n uitdrukking wat letterlik beteken “die prys van lewe”, of “die betaling wat gemaak is”.