Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 19

Liefde en geregtigheid ondanks goddeloosheid

Liefde en geregtigheid ondanks goddeloosheid

“U is nie ’n God wat in goddeloosheid behae skep nie; niemand wat sleg is, mag selfs ’n rukkie by u vertoef nie.” – PS. 5:4.

LIED 142 Ons hoop is ’n anker

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-3. (a) Hoe voel Jehovah volgens Psalm 5:4-6 oor goddeloosheid? (b) Hoekom kan ons sê dat kindermishandeling teen “die wet van die Christus” is?

JEHOVAH GOD haat alle vorme van goddeloosheid. (Lees Psalm 5:4-6.) Hy haat dit veral wanneer kinders seksueel gemolesteer word – ’n walglike goddelose daad! Omdat ons Getuies van Jehovah is, volg ons hom na deur kindermishandeling te haat en dit nie in die Christengemeente te duld nie. – Rom. 12:9; Heb. 12:15, 16.

2 Enige daad van kindermishandeling is heeltemal in stryd met “die wet van die Christus”! (Gal. 6:2). Hoekom kan ons dit sê? Soos ons in die vorige artikel geleer het, is die wet van die Christus – dit wil sê alles wat Jesus mense geleer het deur sy woorde en sy voorbeeld – gebaseer op liefde en bevorder dit geregtigheid. Ware Christene gehoorsaam hierdie wet, en daarom behandel hulle kinders op ’n manier wat hulle veilig en geliefd laat voel. Maar kindermishandeling is ’n selfsugtige, onregverdige daad wat ’n kind onveilig en ongeliefd laat voel.

3 Ongelukkig is kindermolestering ’n wêreldwye probleem, en ware Christene is al hierdeur geraak. Hoekom? Daar is baie “goddelose mense en bedrieërs”, en party van hulle probeer dalk om deel te word van die gemeente (2 Tim. 3:13). En sommige wat sê dat hulle deel van die gemeente is, het voor slegte vleeslike begeertes geswig en het kinders seksueel gemolesteer. Kom ons bespreek hoekom kindermolestering so ’n growwe sonde is. Dan sal ons bespreek wat ouer manne doen wanneer iemand ’n ernstige sonde gepleeg het, insluitende wanneer iemand ’n kind gemolesteer het, en hoe ouers hulle kinders kan beskerm. *

’N GROWWE SONDE

4-5. Hoekom is kindermolestering ’n sonde teen die slagoffer?

4 Kindermolestering het gevolge wat vir ’n lang tyd ’n uitwerking op mense kan hê. Dit raak die slagoffers, asook dié wat vir hulle omgee – hulle familielede en hulle Christenbroers en -susters. Kindermolestering is ’n growwe sonde.

5 ’n Sonde teen die slagoffer. * Dit is ’n sonde om ander seer te maak en te veroorsaak dat hulle ly. Soos ons in die volgende artikel sal sien, is dit presies wat die molesteerder doen – hy maak die kind seer op ’n manier wat tot ernstige skade lei. Hy veroorsaak dat die kind sy vertroue in hom verloor en beroof die kind van sy of haar gevoel van veiligheid. Kinders moet teen so ’n goddelose daad beskerm word, en slagoffers van molestering het vertroosting en hulp nodig. – 1 Tess. 5:14.

6-7. Hoekom is kindermolestering ’n sonde teen die gemeente en teen die sekulêre owerheid?

6 ’n Sonde teen die gemeente. Wanneer iemand wat deel van die gemeente is, ’n kind molesteer, gee hy die gemeente ’n slegte reputasie (Matt. 5:16; 1 Pet. 2:12). Dit is baie onregverdig teenoor die miljoene getroue Christene wat “hard . . . stry vir die geloof”! (Jud. 3). Ons duld nie mense in die gemeente wat onberouvol is oor hulle goddelose dade en die gemeente ’n slegte reputasie gee nie.

7 ’n Sonde teen die sekulêre owerheid. Christene moet “onderdanig wees aan die hoër owerhede” (Rom. 13:1). Ons wys dat ons onderdanig is deur die landswette te respekteer en te gehoorsaam. Wanneer iemand in die gemeente ’n landswet oortree, soos om ’n kind te molesteer, sondig hy teen die owerheid. (Vergelyk Handelinge 25:8.) Die ouer manne het nie die gesag om iemand te straf wat die landswette oortree nie, maar hulle beskerm nie enige kindermolesteerder teen die wetlike gevolge van sy sonde nie (Rom. 13:4). Die sondaar maai wat hy saai. – Gal. 6:7.

8. Hoe beskou Jehovah sonde wat teen mense gepleeg is?

8 Nog erger, dit is ’n sonde teen God (Ps. 51:4). Wanneer ’n persoon teen iemand anders sondig, sondig hy ook teen Jehovah. Kyk na ’n voorbeeld uit die Wet wat God aan Israel gegee het. Die Wet het gesê dat ’n man wat sy naaste beroof of bedrieg, “hom ontrou gedra teenoor Jehovah” (Lev. 6:2-4). Wanneer iemand wat deel van die gemeente is, ’n kind molesteer en daardie kind van sy of haar gevoel van veiligheid beroof, is hy beslis ontrou aan God. Die molesteerder bring groot oneer op Jehovah se naam. Daarom moet molestering veroordeel word vir wat dit is – ’n growwe sonde teen God.

9. Watter skriftuurlike inligting het Jehovah se organisasie oor die jare voorsien, en hoekom?

9 Jehovah se organisasie het oor die jare ’n oorvloed skriftuurlike inligting oor kindermolestering voorsien. Artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! het byvoorbeeld al bespreek hoe dié wat seksueel gemolesteer is, die pyn van emosionele letsels kan hanteer, hoe ander hulle kan help en aanmoedig en hoe ouers hulle kinders kan beskerm. Ouer manne het spesifieke skriftuurlike opleiding ontvang oor wat om te doen wanneer iemand ’n kind gemolesteer het. Die organisasie hersien gereeld die manier waarop gemeentes sake oor kindermolestering hanteer. Hoekom? Om seker te maak dat die manier waarop ons die saak hanteer, ooreenstem met die wet van die Christus.

WAT OM TE DOEN WANNEER IEMAND ERNSTIG GESONDIG HET

10-12. (a) Wat hou ouer manne in gedagte wanneer hulle uitvind dat iemand ernstig gesondig het, en waaroor is hulle besorg? (b) Wat probeer die ouer manne volgens Jakobus 5:14, 15 doen?

10 Wanneer die ouer manne uitvind dat iemand ernstig gesondig het, hou hulle in gedagte dat die wet van die Christus vereis dat hulle die kudde met liefde moet behandel en moet doen wat reg en regverdig is in God se oë. En daarom is daar ’n hele paar dinge waaroor hulle goed moet nadink wanneer hulle uitvind dat iemand ernstig gesondig het. Die ouer manne is hoofsaaklik besorg oor God se naam, en hulle wil seker maak dat daar nie oneer op sy naam gebring word nie (Lev. 22:31, 32; Matt. 6:9). Hulle is ook baie besorg oor die geestelikheid van hulle broers en susters in die gemeente en hulle wil enigiemand help wat ’n slagoffer was van ’n ernstige sonde.

11 En as die oortreder deel van die gemeente is, sal die ouer manne hom probeer help om sy verhouding met Jehovah te herstel as dit moontlik is. (Lees Jakobus 5:14, 15.) ’n Christen wat as gevolg van ’n slegte begeerte ernstig sondig, is geestelik siek. Dit beteken dat hy nie meer ’n gesonde verhouding met Jehovah het nie. * In sekere sin is die ouer manne soos geestelike dokters. Hulle probeer “die een wat ongesteld [of, siek] is [in hierdie geval, die oortreder] gesond maak”. Die raad wat hulle hom uit die Bybel gee, kan hom help om sy verhouding met God te herstel, maar dit is slegs moontlik as hy opreg berouvol is. – Hand. 3:19; 2 Kor. 2:5-10.

12 Dit is duidelik dat ouer manne ’n groot verantwoordelikheid het. Hulle is baie lief vir die kudde wat God in hulle sorg geplaas het (1 Pet. 5:1-3). Hulle wil hê dat hulle broers en susters veilig moet voel in die gemeente. Daarom tree hulle onmiddellik op wanneer hulle hoor dat iemand ’n ernstige sonde gepleeg het, insluitende wanneer iemand ’n kind gemolesteer het. Kom ons kyk na die vrae aan die begin van  paragraaf 13,  15 en  17.

13-14. Gehoorsaam ouer manne landswette wat vereis dat ’n aantyging van kindermolestering aan die owerheid gerapporteer moet word? Verduidelik.

 13 Gehoorsaam ouer manne landswette wat vereis dat ’n aantyging van kindermolestering aan die owerheid gerapporteer moet word? Ja. In lande waar daar sulke wette is, doen ouer manne hulle bes om gehoorsaam te wees aan hierdie wette (Rom. 13:1). Sulke wette is nie in stryd met God se wet nie (Hand. 5:28, 29). Wanneer iemand vir die ouer manne sê dat ’n kind dalk gemolesteer is, kontak hulle onmiddellik die takkantoor om uit te vind hoe hulle die landswette in verband hiermee kan gehoorsaam.

14 Ouer manne verseker slagoffers en hulle ouers, asook ander wat daarvan weet, dat hulle die beweerde molestering by die owerheid mag rapporteer. Maar sê nou die beskuldigde is deel van die gemeente en mense in die gemeenskap hoor daarvan? Moet die Christen wat die persoon aangekla het, voel dat hy oneer op God se naam gebring het? Nee. Die molesteerder is die een wat oneer op God se naam bring.

15-16. (a) Hoekom is ten minste twee getuies nodig voordat die ouer manne volgens 1 Timoteus 5:19 regterlike stappe doen? (b) Wat doen ouer manne wanneer hulle uitvind dat iemand wat deel van die gemeente is, van kindermolestering beskuldig word?

 15 Hoekom is ten minste twee getuies nodig voordat die ouer manne in die gemeente regterlike stappe doen? Hierdie vereiste is deel van die Bybel se hoë standaard van geregtigheid. Wanneer die beskuldigde nie sy sonde erken nie, moet twee getuies die beskuldiging bevestig voordat die ouer manne ’n regterlike komitee kan vorm. (Deut. 19:15; Matt. 18:16; lees 1 Timoteus 5:19.) Beteken dit dat twee getuies nodig is voordat ’n aantyging van molestering by die owerheid gerapporteer kan word? Nee. Hierdie vereiste is nie van toepassing wanneer ouer manne of ander mense iemand van ’n misdaad aankla nie.

16 Wanneer ouer manne uitvind dat iemand wat deel van die gemeente is, van kindermolestering beskuldig word, probeer hulle enige landswette oor die rapportering van die saak, gehoorsaam. Dan probeer hulle vasstel wat regtig gebeur het en of hulle, volgens wat die Bybel sê, ’n regterlike komitee moet vorm. As die persoon sê dat hy onskuldig is, sal die ouer manne met ander persone praat wat weet wat gebeur het. As ten minste twee mense, die een wat die beskuldiging maak en iemand anders, kan bevestig dat hierdie kind of ’n ander kind deur die beskuldigde gemolesteer is, sal ’n regterlike komitee gevorm word. * Maar as daar nie ’n tweede getuie is nie, beteken dit nie dat die een wat die beskuldiging maak, nie die waarheid praat nie. Al kan die aanklag nie deur twee getuies bevestig word nie, besef die ouer manne dat ’n ernstige sonde dalk gepleeg is, een wat ander diep seermaak. Die ouer manne sal aanhou om enigiemand te ondersteun wat dalk seergemaak is. En die ouer manne sal op hulle hoede bly wanneer dit kom by die beweerde molesteerder sodat hulle die gemeente kan beskerm teen enige moontlike gevaar. – Hand. 20:28.

17-18. Verduidelik die rol van die regterlike komitee.

 17 Wat is die rol van die regterlike komitee? Die woord “regterlike” beteken nie dat die ouer manne as regters optree en moet besluit of die molesteerder deur die owerheid gestraf moet word omdat hy die wet oortree het nie. Die ouer manne meng nie in by die toepassing van die wet nie; hulle los kriminele sake in die hande van die owerheid (Rom. 13:2-4; Tit. 3:1). Die ouer manne bepaal eerder of die persoon in die gemeente kan bly of nie.

18 Wanneer ouer manne op ’n regterlike komitee dien, is hulle rol geestelik, of godsdienstig. Hulle gebruik die Bybel om vas te stel of die molesteerder berouvol is of nie. As hy onberouvol is, word hy uitgesit, en dit word in die gemeente aangekondig (1 Kor. 5:11-13). As hy berouvol is, kan hy in die gemeente bly. Maar die ouer manne sal hom inlig dat hy dalk nooit sal kwalifiseer om enige voorregte in die gemeente te ontvang nie of dalk nie enige verantwoordelike posisie in die gemeente sal hê nie. Omdat die ouer manne besorg is oor die veiligheid van kinders, sal hulle dalk die ouers van minderjariges in die gemeente privaat waarsku dat hulle versigtig moet wees wanneer hulle kinders rondom daardie persoon is. Maar wanneer die ouer manne dit doen, sal hulle versigtig wees om nie die name te noem van persone wat deur hierdie sonde seergemaak is nie.

HOE OM JOU KINDERS TE BESKERM

Ouers beskerm hulle kinders teen seksuele molestering deur hulle gepaste inligting oor seks te gee. Om dit te doen gebruik hulle die inligting wat God se organisasie voorsien het. (Sien paragraaf 19-22.)

19-22. Wat kan ouers doen om hulle kinders te beskerm? (Sien prent op voorblad.)

19 Wie se verantwoordelikheid is dit om kinders te beskerm? Die ouers s’n. * Julle kinders is ’n geskenk, “’n erfdeel van Jehovah” (Ps. 127:3). Dit is julle verantwoordelikheid om hierdie geskenk te beskerm. Wat kan julle doen om julle kinders teen molestering te beskerm?

20 Eerstens, lig jouself in oor molestering. Vind meer uit oor watter soort mense kinders molesteer en hoe hulle kinders om die bos lei. Wees op die uitkyk vir moontlike gevare (Spr. 22:3; 24:3). Onthou dat die molesteerder in die meeste gevalle iemand is wat die kind reeds ken en vertrou.

21 Tweedens, gesels gereeld en openlik met jou kinders (Deut. 6:6, 7). Dit sluit in dat jy ’n goeie luisteraar moet wees (Jak. 1:19). Onthou dat kinders dikwels huiwer om vir iemand te vertel dat hulle gemolesteer word. Hulle is dalk bang dat niemand hulle sal glo nie, of dalk het die molesteerder hulle gedreig om dit ’n geheim te hou. As jy vermoed dat iets fout is, moet jy op ’n liefdevolle manier vrae vra en dan geduldig luister na wat hulle sê.

22 Derdens, leer jou kinders. Gee hulle inligting oor seks wat gepas is vir hulle ouderdom. Leer hulle wat hulle moet doen en sê wanneer iemand op ’n ongepaste manier aan hulle probeer vat. Gebruik die inligting wat God se organisasie voorsien het oor hoe om jou kinders te beskerm. – Sien die venster “ Leer jouself en jou kinders”.

23. Hoe beskou ons kindermolestering, en watter vraag sal in die volgende artikel beantwoord word?

23 As Jehovah se Getuies beskou ons kindermolestering as ’n growwe sonde en ’n goddelose daad. Omdat ons gehoorsaam is aan die wet van die Christus, beskerm die gemeentes nie molesteerders teen die gevolge van hulle sondes nie. Maar hoe kan ons dié help wat slagoffers van molestering was? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.

LIED 103 Herders – Gawes in mense

^ par. 5 In hierdie artikel sal ons bespreek hoe kinders beskerm kan word teen seksuele molestering. Ons sal leer hoe ouer manne die gemeente help en hoe ouers hulle kinders kan beskerm.

^ par. 3 WAT DIT BETEKEN: Kindermolestering is wanneer ’n volwassene ’n kind gebruik om sy of haar eie seksuele begeertes te bevredig. Dit kan seksuele omgang insluit, asook orale of anale seks, die streling van geslagsdele, borste of boude of enige ander onsedelike dade. Die meeste slagoffers is meisies, maar baie seuns word ook gemolesteer. Al is die meeste molesteerders mans, molesteer party vrouens ook kinders.

^ par. 5 WAT DIT BETEKEN: In hierdie artikel en die volgende een verwys die woord “slagoffer” na iemand wat as kind seksueel gemolesteer is. Ons gebruik hierdie woord om dit duidelik te maak dat die kind seergemaak en misbruik is en dat hy of sy onskuldig is.

^ par. 11 Om geestelik siek te wees is nie ’n verskoning vir growwe sonde nie. Die sondaar is ten volle verantwoordelik vir sy verkeerde keuses en dade, en Jehovah sal hom oordeel vir wat hy gedoen het. – Rom. 14:12.

^ par. 16 ’n Kind hoef nooit teenwoordig te wees wanneer daar met die beweerde molesteerder gepraat word nie. ’n Ouer of iemand wie die kind vertrou, kan die ouer manne oor die beweerde molestering inlig sonder om die kind aan verdere emosionele skade bloot te stel.

^ par. 19 Hierdie inligting vir ouers is ook van toepassing op wettige voogde of persone wat ’n kind grootmaak wat nie hulle eie is nie.