Vrae van lesers
Wie was die Weldoeners van wie Jesus die aand voor sy dood gepraat het, en hoekom is hulle so genoem?
Die aand voor sy dood het Jesus sy apostels gewaarsku om nie te probeer om ’n belangrike posisie onder hulle medegelowiges te kry nie. Hy het vir hulle gesê: “Die konings van die nasies speel oor hulle baas, en dié wat oor hulle gesag voer, word Weldoeners genoem. Julle moet egter nie so wees nie.” — Luk. 22:25, 26.
Wie was die Weldoeners van wie Jesus gepraat het? Inskripsies, muntstukke en geskrifte wys dat dit ’n gebruik in Griekse en Romeinse gemeenskappe was om belangrike mans en heersers met die titel Euergetes, of Weldoener, te vereer. Hierdie mans is so vereer wanneer hulle die een of ander belangrike diens in die gemeenskap gelewer het.
’n Hele paar konings het die titel Weldoener gehad. Van hulle is die Egiptiese heersers Ptolemeus III Euergetes (ca. 247-222 VHJ) en Ptolemeus VIII Euergetes II (ca. 147-117 VHJ). Die Romeinse heersers Julius Caesar (48-44 VHJ) en Augustus (31 VHJ – 14 HJ) is so genoem, asook Herodes die Grote, koning van Judea. Dit lyk asof Herodes hierdie eer verdien het toe hy graan ingevoer het om sy volk te help toe daar hongersnood was en hy vir die armes klere gegee het.
Volgens die Duitse Bybelgeleerde Adolf Deissmann was die titel Weldoener baie algemeen. Hy het gesê: “Dit sal nie moeilik wees om sommer vinnig oor die honderd voorbeelde [waar hierdie titel gebruik word] in inskripsies te vind nie.”
Wat het Jesus dan bedoel toe hy vir sy dissipels gesê het: “Julle moet egter nie so wees nie”? Het Jesus vir hulle gesê dat hulle nie vrygewig moet wees nie, met ander woorde dat hulle nie vir die mense in hulle gemeenskap moet omgee nie? Glad nie. Wat vir Jesus belangrik was, was die motief vir hierdie vrygewigheid.
In Jesus se dag het ryk mense probeer om ’n goeie naam vir hulleself te maak deur vertonings en wedstryde in die arena te borg, parke aan te lê, tempels te bou en soortgelyke aktiwiteite te ondersteun. Maar hulle het dit gedoen om geprys te word, om gewild te wees of om mense sover te kry om vir hulle te stem. Een naslaanwerk sê: “Al was party van hierdie skenkers opreg vrygewig, het baie van hulle dit gedoen omdat hulle vooruitgang in die politiek wou maak.” Dit is teen hierdie soort ambisie en selfsug wat Jesus sy volgelinge gewaarsku het.
’n Paar jaar later het die apostel Paulus weer beklemtoon hoe belangrik dit is dat ’n mens die regte motief moet hê wanneer jy vir ander gee. Hy het vir sy medegelowiges in Korinte geskryf: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.” — 2 Kor. 9:7.