Waarom bied God mense die gawe van die ewige lewe?
Ons lesers vra . . .
Waarom bied God mense die gawe van die ewige lewe?
▪ Die Bybel sê dat God ons die geleentheid bied om “die ewige lewe” te verkry (Johannes 6:40). Maar wat beweeg hom om so ’n vooruitsig moontlik te maak? Is dit bloot ’n saak van geregtigheid?
Geregtigheid behels dat mense behandel word volgens wat regverdig en reg is. Verdien ons werklik die lewe? Nee. Die Bybel sê: “Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie” (Prediker 7:20). Sonde bring ’n straf mee. God het die eerste mens, Adam, gewaarsku dat hy, die dag as hy sondig, sekerlik sal sterf (Genesis 2:17). Later is die apostel Paulus geïnspireer om te skryf: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Romeine 6:23). Waarom bied God al Adam se nakomelinge dan die geleentheid om eindelose lewe te verkry as hulle tereg die dood verdien?
Die ewige lewe word as “’n vrye gawe” aangebied. Dit is ’n blyk van hoe groot en verreikend God se liefde en onverdiende goedhartigheid is. Die Bybel sê: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God, en dit is as ’n vrye gawe dat hulle deur sy onverdiende goedhartigheid regverdig verklaar word op grond van die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is.”—Romeine 3:23, 24.
Hoewel ons almal die dood verdien, kies God om die ewige lewe te gee aan diegene wat hom liefhet. Is dit onregverdig? Die Bybel sê: “Wat sal ons dan sê? Is daar onregverdigheid by God? Mag dit nooit die geval word nie! Want hy sê vir Moses: ‘Ek sal barmhartig wees oor wie ek barmhartig is, en ek sal medelye betoon met wie ek medelye betoon.‘ . . . Wie is jy dan tog om God terug te antwoord?”—Romeine 9:14-20.
In party wêrelddele kan ’n misdadiger wat ’n streng vonnis uitdien, deur ’n hoë regeringsamptenaar of regter begenadig word. As die misdadiger hom gewilliglik aan strafmaatreëls onderwerp en toon dat hy veranderinge in sy gesindheid en gedrag gemaak het, sal ’n regter of president dalk besluit om hom te begenadig deur sy vonnis te verminder of hom heeltemal kwyt te skeld. So ’n daad is heel moontlik ’n blyk van onverdiende goedhartigheid.
Jehovah kan op soortgelyke wyse besluit om nie alle sondaars hulle verdiende straf op te lê nie. Hy kan eerder, omdat hy deur liefde beweeg word, die ewige lewe gee aan diegene wat hom liefhet en volgens sy standaarde lewe. Die Bybel sê: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.
Jehovah se grootste liefdedaad ten behoewe van ons was om sy Seun te stuur om vir ons te ly en te sterf. Jesus het van sy Vader gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
Almal wat Jehovah wel liefkry en sy wil doen, is ewe aanneemlik vir God, ongeag hulle agtergrond. Die hoop op ewige lewe is dus allereers ’n blyk van onverdiende goedhartigheid, ’n daad van voortreflike liefde deur God.
[Lokteks op bladsy 29]
Dit is allereers ’n blyk van onverdiende goedhartigheid, ’n daad van voortreflike liefde