Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

  Sleutels tot gesinsgeluk

Verhoudings met skoonouers

Verhoudings met skoonouers

Jenny * sê: Ryan se ma het geen geheim daarvan gemaak dat ek nie haar goedkeuring wegdra nie. Maar dinge was ook nie veel beter vir Ryan wanneer dit by my ouers gekom het nie. Om die waarheid te sê, ek het hulle nog nooit so ongeskik teenoor enigiemand sien optree nie! Dit was vir ons al twee stresvol om by ouers aan enige kant van die familie te kuier.

Ryan sê: My ma het nooit gedink dat enigiemand goed genoeg vir haar kinders is nie, en daarom het sy van die begin af met Jenny fout gevind. En Jenny se ouers het my dieselfde behandel—hulle het my gedurig afgekraak. Die probleem is dat ek en Jenny ná sulke voorvalle ons ouers verdedig het en mekaar gekritiseer het.

KONFLIK met skoonouers is dalk kos vir grapmakers, maar dit is in die werklikheid geen grap nie. “My skoonma het jare lank in ons huwelik ingemeng”, sê Reena, ’n vrou in Indië. “Ek het dikwels my woede op my man uitgehaal omdat ek dit nie met sy ma kon doen nie. Dit was asof hy gedurig moes kies om óf ’n goeie man óf ’n goeie seun te wees.”

Waarom meng party skoonouers in die lewens van hulle getroude kinders in? Jenny, wat aan die begin aangehaal is, noem een moontlikheid. “Hulle vind dit dalk moeilik om te sien dat ’n jong, onervare persoon die verantwoordelikheid kry om na hulle seun of dogter om te sien”, sê sy. Dilip, Reena se man, neem dit ’n stap verder. “Ouers wat opofferings vir hulle kind gemaak en vir hom gesorg het, voel dalk dat hulle eenkant toe gestoot word”, sê hy. “Hulle is dalk ook opreg besorg daaroor dat hulle seun of dogter nie die wysheid het om ’n sukses van die huwelik te maak nie.”

Maar soms word die skoonouers genooi om in te meng. Neem byvoorbeeld ’n getroude paartjie in Australië, Michael en Leanne. “Leanne kom uit ’n hegte gesin waar almal dinge openlik bespreek”, sê Michael. “En ná ons troue het sy haar pa gevra oor besluite wat ek en sy eintlik moes maak. Haar pa het baie wysheid gehad wat hy aan haar kon oordra, maar ek het seergemaak gevoel omdat sy  eerder na hom toe gegaan het as om na my toe te kom!”

Dit is duidelik dat probleme met skoonouers druk op ’n huwelik kan plaas. Is dit so in jou geval? Hoe kom jy oor die weg met jou huweliksmaat se ouers, en hoe kom jou huweliksmaat oor die weg met joune? Kyk na twee uitdagings wat kan ontstaan en wat jy daaromtrent kan doen.

UITDAGING 1:

Jou huweliksmaat is blykbaar te geheg aan sy of haar ouers. “My vrou het gevoel dat sy dislojaal teenoor haar ouers sou wees as ons nie naby hulle woon nie”, sê ’n man in Spanje genaamd Luis. “Aan die ander kant”, voeg hy by, “het my ouers, toe ons seun gebore is, amper elke dag kom kuier, en dit het my vrou gespanne gemaak. Dit het ’n hele paar keer onenigheid tussen ons veroorsaak.”

Die kwessies:

In ’n beskrywing van die huweliksreëling sê die Bybel: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word” (Genesis 2:24). Om “een vlees” te wees, beteken meer as om net saam te woon. Dit beteken in werklikheid dat ’n man en vrou ’n nuwe gesin vorm—een wat belangriker is as die gesinne waaruit hulle kom (1 Korintiërs 11:3). Die man sowel as die vrou moet natuurlik nog steeds hulle ouers eer, en dit behels dikwels om aandag aan hulle te gee (Efesiërs 6:2). Sê nou jou huweliksmaat kom hierdie verantwoordelikheid na op ’n manier wat jou geïgnoreer of afgeskeep laat voel?

Wat jy kan doen:

Beskou die situasie objektief. Is jou huweliksmaat werklik te geheg aan sy of haar ouers, of kan dit wees dat jy net nie dieselfde soort verhouding met jou ouers het nie? As dit die geval is, watter uitwerking het jou gesinsagtergrond dalk op jou beskouing van die situasie? Kan dit wees dat jy dalk ’n bietjie jaloers is?—Spreuke 14:30; 1 Korintiërs 13:4; Galasiërs 5:26.

Dit verg eerlike selfondersoek om hierdie vrae te beantwoord. Maar dit is belangrik dat jy dit doen. As kwessies oor skoonouers immers ’n aanhoudende oorsaak van onenigheid tussen jou en jou huweliksmaat is, is julle probleem in werklikheid ’n huweliksprobleem—nie ’n skoonouerprobleem nie.

Baie huweliksprobleme ontstaan omdat geen twee huweliksmaats dieselfde beskouing van ’n saak het nie. Kan jy probeer om dinge uit jou maat se oogpunt te beskou? (Filippense 2:4; 4:5). Dit is wat Adrián, ’n man in Mexiko, gedoen het. “My vrou het in ’n negatiewe gesinsmilieu grootgeword”, sê hy, “en ek het dus noue omgang met my skoonouers vermy. Uiteindelik het ek geweier om enigiets met hulle te doen te hê—jare lank. Dit het konflik in ons huwelik veroorsaak omdat my vrou nog steeds ’n hegte verhouding met haar familie, veral haar ma, wou hê.”

Mettertyd het Adrián ’n gebalanseerde beskouing verkry. “Al weet ek dat te veel kontak met haar ouers ’n negatiewe uitwerking op my vrou se emosies het, kan geen kontak ook tot probleme lei”, sê hy. “Ek het sover moontlik probeer om weer ’n goeie verhouding met my skoonouers op te bou en dit te behou.” *

PROBEER DIE VOLGENDE: Jy en jou huweliksmaat skryf neer wat julle as die grootste probleem in verband met skoonouers beskou. Indien moontlik, begin met: “Ek voel dat . . . ” Ruil dan notas. Sit daarna saam en probeer om in ’n gees van samewerking oplossings te vind vir die dinge waaroor elkeen van julle besorg is.

UITDAGING 2:

Jou skoonouers meng gedurig in jou huwelik in en gee ongevraagd raad. “Ons het die eerste sewe jaar van ons huwelik by my man se familie gebly”, sê ’n vrou in Kazakstan met die naam Nelya. “Ons het  heeltyd meningsverskille gehad oor hoe ons ons kinders grootmaak en dinge soos hoe ek kook en skoonmaak. Ek het met my man en my skoonma hieroor gepraat, maar dit het net tot groter konflik gelei!”

Die kwessies:

Wanneer jy trou, is jy nie meer onder die gesag van jou ouers nie. Die Bybel sê eerder dat “die Christus die hoof is van elke man; en die man is die hoof van die vrou”—dit wil sê sý vrou (1 Korintiërs 11:3). Maar soos vroeër gemeld is, moet beide die man en die vrou hulle ouers eer. Trouens, Spreuke 23:22 sê vir ons: “Luister na jou vader wat jou geboorte veroorsaak het, en moenie jou moeder verag bloot omdat sy oud geword het nie.” Maar sê nou jou ouers—of jou maat se ouers—gaan te ver en probeer hulle menings op julle afdwing?

Wat jy kan doen:

Lê empatie aan die dag en probeer die beweegrede vir hulle skynbare inmenging onderskei. “In sommige gevalle wil ouers graag weet dat hulle nog belangrik is in hulle kinders se lewe”, sê Ryan, wat aan die begin aangehaal is. Sulke inmenging is dalk nie opsetlik nie en kan moontlik hanteer word deur die Bybel se vermaning toe te pas om “aan [te hou] om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het” (Kolossense 3:13). Maar gestel jou skoonouers meng soveel in dat dit konflik tussen jou en jou maat veroorsaak.

Party egpare het geleer om gepaste perke vir hulle ouers te stel. Dit beteken nie dat jy die wet aan hulle moet voorskryf nie. * Dikwels moet jy dit maar net deur jou optrede duidelik maak dat jou huweliksmaat eerste in jou lewe kom. ’n Man in Japan met die naam Masajoeki sê byvoorbeeld: “Selfs al spreek ouers hulle mening uit, moet jy nie net dadelik saamstem nie. Hou in gedagte dat julle besig is om ’n nuwe gesinseenheid op te bou. Vind dus eers uit hoe jou maat oor die raad voel.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Bespreek met jou huweliksmaat op watter spesifieke maniere die inmenging van ouers konflik in julle huwelik veroorsaak. Skryf dan saam neer watter perke julle kan stel en hoe julle daarby gaan bly terwyl julle nog steeds julle ouers eer.

Baie van die struwelinge met skoonouers kan uitgeskakel word deur hulle beweegredes te onderskei en nie toe te laat dat hierdie struwelinge tot onenigheid tussen jou en jou huweliksmaat lei nie. In hierdie verband erken Jenny: “Soms was die besprekings tussen my en my man oor ons ouers nogal emosioneel, en dit was baie duidelik dat dit heelwat pyn kan veroorsaak om oor die tekortkominge van mekaar se ouers te praat. Maar uiteindelik het ons geleer om op te hou om die tekortkominge van ons skoonouers as ’n wapen te gebruik en om eerder werk te maak van die probleem self. Gevolglik is ons as man en vrou nou baie nader aan mekaar.”

^ par. 3 Name is verander.

^ par. 14 Toegegee, as ouers hulle aan ernstige wangedrag skuldig maak—veral as hulle dit herhaaldelik en onberouvol doen—kan familieverhoudings uiters gespanne raak en begryplikerwys beperk word.—1 Korintiërs 5:11.

^ par. 19 In sommige gevalle sal jy dalk openhartig met jou ouers of skoonouers moet praat. Indien wel, moet jy dit op ’n respekvolle en sagmoedige wyse doen.—Spreuke 15:1; Efesiërs 4:2; Kolossense 3:12.

VRA JOU AF . . .

  • Watter goeie eienskappe het my skoonouers?

  • Hoe kan ek my ouers eer sonder om my huweliksmaat af te skeep?