Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is die belydenis van sondes ’n vereiste van God?

Is die belydenis van sondes ’n vereiste van God?

Is die belydenis van sondes ’n vereiste van God?

Persoonlike belydenis van sondes aan ’n priester of ’n geestelike is nog steeds deel van die godsdiensritus en aanbidding in baie kerke. Maar is belydenis in vandag se permissiewe en verdraagsame gemeenskap toepaslik of selfs nodig?

MENINGS hieroor verskil. Die National Post van Kanada meld byvoorbeeld ’n persoon wat erken dat, hoewel dit moeilik is om vir iemand anders te vertel wat jy verkeerd gedoen het, “dit baie bevrydend is wanneer iemand daarvan weet, saam met jou bid en vir jou sê wat jy moet doen”. Daarenteen haal die boek Bless Me, Father, for I Have Sinned ’n man aan wat gesê het: “Belydenis is een van die mees afbrekende aspekte van die Kerk. Dit bevorder neurotiese patrone.” Wat sê die Bybel oor hierdie onderwerp?

Wat die Bybel sê

In die Wet wat God aan die nasie Israel gegee het, vind ons spesifieke instruksies oor wat gedoen moes word wanneer iemand gesondig het. Wanneer iemand teen ’n medemens gesondig het of een van God se wette verbreek het, moes hy dit byvoorbeeld aan ’n aangestelde priester van die stam Levi bely, wat dan vir hom versoening sou doen deur ’n offerande aan God te bring vir vergifnis van sonde.—Levitikus 5:1-6.

Hoe het koning Dawid eeue later gereageer toe die profeet Natan hom oor sy sondes tereggewys het? Hy het onmiddellik erken: “Ek het teen Jehovah gesondig” (2 Samuel 12:13). Hy het ook gebid en God gesmeek om aan hom guns te bewys. Die gevolg? Dawid het later geskryf: “My sonde het ek uiteindelik aan u bely, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: ‘Ek sal aan Jehovah belydenis doen van my oortredings.’ En u het die ongeregtigheid van my sondes vergewe.”—Psalm 32:5; 51:1-4.

In die eerste eeu van die huidige jaartelling was die belydenis van sondes nog steeds in die Christengemeente ’n vereiste van God. Jakobus, die halfbroer van Jesus en een van die vername manne van die gemeente in Jerusalem, het mede-Christene aangespoor: “Bely . . . julle sondes openlik aan mekaar en bid vir mekaar, sodat julle genees kan word” (Jakobus 5:16). Wat moet Christene dan bely, en aan wie?

Wat moet bely word?

As onvolmaakte mense is ons geneig om elke dag onnadenkend op te tree of ons tong te misbruik en sodoende teen ander te sondig (Romeine 3:23). Beteken dit dat ons elke oortreding van hierdie aard aan die een of ander aangestelde menslike owerheid of verteenwoordiger moet bely?

Hoewel elke sonde vir God aanstootlik is, neem hy uit barmhartigheid ons oorgeërfde menslike onvolmaaktheid in ag wanneer ons oortree. Die psalmis het dan ook erken: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan? Want by u is daar ware vergifnis, sodat u gevrees kan word” (Psalm 130:3, 4). Wat moet ons dan doen as ons ’n fout begaan en teen ander sondig, miskien onopsetlik? Onthou dat die modelgebed wat Jesus sy volgelinge leer bid het, hierdie versoek bevat: “Vergewe ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat by ons in die skuld is” (Lukas 11:4). Ja, God sal aan ons vergifnis skenk as ons hom nader en in Jesus se naam daarvoor vra.—Johannes 14:13, 14.

Let op dat Jesus die voorwaarde ingesluit het dat ons ook dié moet vergewe wat “by ons in die skuld is”. Die apostel Paulus het sy medegelowiges herinner: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het” (Efesiërs 4:32). Wanneer ons ander hulle foute vergewe, sal ons goeie rede hê om van God te verwag om ons s’n te vergewe.

Maar wat van ernstige sondes soos diefstal, opsetlike leuens, geslagsonsedelikheid, dronkenskap, ensovoorts? Enigiemand wat sulke sondes pleeg, verbreek God se wette en sondig dus teen God. Wat moet gedoen word?

Aan wie moet sondes bely word?

God gee mense nie die gesag om sondes teen hom te vergewe nie; net hy kan dit doen. Die Bybel sê uitdruklik vir ons: “As ons ons sondes bely, is [God] getrou en regverdig om ons ons sondes te vergewe en ons van alle onregverdigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Maar aan wie moet sulke sondes bely word?

Aangesien vergifnis net van God kan kom, moet belydenis aan hom gedoen word. Dit is wat Dawid gedoen het, soos ons gesien het. Maar op grond waarvan sal vergifnis geskenk word? Die Bybel sê vir ons: “Toon dus berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word, dat tye van verkwikking van die aangesig van Jehovah kan kom” (Handelinge 3:19). Ja, vergifnis hang nie net daarvan af dat ’n persoon die sonde erken en bely nie, maar ook dat hy bereid is om die verkeerde gedrag te staak. Hierdie bykomende stap is dikwels moeilik. Maar daar is hulp.

Dink aan die woorde van die dissipel Jakobus waarna ons vroeër verwys het: “Bely . . . julle sondes openlik aan mekaar en bid vir mekaar, sodat julle genees kan word.” Jakobus het bygevoeg: “Die smeking van ’n regverdige het groot krag wanneer dit aan die werk is” (Jakobus 5:16). Die “regverdige” kan een van “die ouer manne van die gemeente” wees, wat Jakobus in vers 14 gemeld het. In die Christengemeente is daar geestelik “ouer manne”, of opsieners, wat aangestel is om dié te help wat God se vergifnis wil verkry. Nee, hierdie “ouer manne” kan niemand sy sondes kwytskeld nie, want geen mens het die gesag om ’n medemens te vergewe vir ’n oortreding teen God nie. a Hulle is egter geestelik bekwaam om iemand wat hom aan ’n ernstige sonde skuldig gemaak het, tereg te wys en reg te help en hom die erns van sy sonde asook die belangrikheid van berou te help besef.—Galasiërs 6:1.

Waarom moet sondes bely word?

Hetsy die sonde ernstig is of nie, die persoon wat dit gepleeg het, het sy verhouding met sy medemens en met God geskaad. Gevolglik kwel hy hom dalk of voel hy angstig. Dit is die gevolg van die gewete, wat ons Skepper aan ons gegee het (Romeine 2:14, 15). Wat kan gedoen word?

As ons weer na die boek Jakobus gaan, vind ons hierdie bemoedigende woorde: “Is iemand onder julle [geestelik] siek? Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf. En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is, gesond maak, en Jehovah sal hom oprig. Ook as hy sondes gepleeg het, sal dit hom vergewe word.”—Jakobus 5:14, 15.

Hier word daar weer van die ouer manne verwag om in die behoeftes van die kudde te voorsien. Hoe? Nie net deur na ’n belydenis te luister nie. Maar aangesien dit ’n geval van geestelike siekte is, moet iets daadwerkliks gedoen word om “die een wat ongesteld is, gesond [te] maak”. Jakobus meld twee dinge wat gedoen kan word.

Eerstens is daar die ‘salwing met olie’. Dit verwys na die genesende krag van God se Woord. Die apostel Paulus het verduidelik: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit . . . en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei”, deur tot diep in die persoon se verstand en hart deur te dring (Hebreërs 4:12). Deur die vaardige gebruik van die Bybel kan die ouer manne die geestelik siek persoon help om te besef wat die oorsaak van die probleem is en om gepaste stappe te doen om sake voor God reg te stel.

Dan is daar “die gebed van geloof”. Hoewel die gebede van die ouer manne nie God se toepassing van geregtigheid sal beïnvloed nie, is hierdie gebede belangrik vir God, wat gretig is om sonde op grond van Christus se losprysoffer te vergewe (1 Johannes 2:2). God is bereid om enige sondaar te help wat opreg berouvol is en “werke . . . doen wat by berou pas”.—Handelinge 26:20.

Die belangrikste rede om ’n sonde te bely—hetsy dit teen ’n medemens of teen God gepleeg is—is om ’n goedgekeurde posisie voor God te verkry. Jesus Christus het getoon dat ons eers enige probleem tussen ons en ons medemens uit die weg moet ruim en met hom vrede moet maak voordat ons God met ’n goeie gewete kan aanbid (Matteus 5:23, 24). Spreuke 28:13 sê: “Hy wat sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word.” Wanneer ons ons in die oë van Jehovah God verneder en om vergifnis vra, sal ons sy guns verkry en op die bestemde tyd verhef word.—1 Petrus 5:6.

[Voetnoot]

a Party meen dat Jesus se woorde in Johannes 20:22, 23 die rol van biegvaders steun. Vir ’n breedvoerige bespreking hiervan, sien Die Wagtoring van 15 April 1996, bladsye 28-29.

[Lokteks op bladsy 23]

God sal ons tekort-kominge oorsien en aan ons vergifnis skenk as ons hom nader en in Jesus se naam daar-voor vra

[Prent op bladsy 24]

Die belangrikste rede om ’n sonde te bely, is om ’n goedgekeurde posisie voor God te verkry