Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het God geweet dat Adam en Eva sou sondig?

Het God geweet dat Adam en Eva sou sondig?

Het God geweet dat Adam en Eva sou sondig?

BAIE mense vra hierdie vraag in alle opregtheid. Wanneer vrae geopper word oor waarom God goddeloosheid toelaat, word die aandag gou op die sonde van die eerste mensepaar in die tuin van Eden gevestig. Die gedagte dat ‘God alles weet’, kan party maklik tot die gevolgtrekking laat kom dat God vooraf moes geweet het dat Adam en Eva ongehoorsaam aan hom sou wees.

Wat sou dit beteken het as God werklik vooruit geweet het dat hierdie volmaakte egpaar sou sondig? Dit sou daartoe gelei het dat talle slegte eienskappe aan God toegeskryf word. Hy sou liefdeloos, onregverdig en geveins voorgekom het. Party sou dit dalk as wreed beskou het dat hy die eerste mense blootstel aan iets wat hy vooraf geweet het ’n slegte uiteinde sou hê. Dit sou gelyk het of God verantwoordelik was vir—of ten minste medepligtig was aan—al die slegtheid en lyding wat deur die geskiedenis heen plaasgevind het. Party sou ons Skepper selfs as dwaas beskou het.

Pas so ’n negatiewe beskrywing by Jehovah God, soos hy in die Skrif geopenbaar word? Om die antwoord te kry, kan ons ondersoek wat die Bybel oor Jehovah se skeppingswerke en persoonlikheid sê.

“Dit was baie goed”

Aangaande God se skepping, insluitende die eerste mense op aarde, sê die Genesisverslag: “God [het] alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed” (Genesis 1:31). Adam en Eva is volmaak geskep, volkome geskik vir hulle aardse omgewing. Daar was niks fout met hoe hulle gemaak is nie. Aangesien hulle “baie goed” geskep is, kon hulle beslis die goeie gedrag handhaaf wat van hulle vereis is. Hulle is “na God se beeld” geskep (Genesis 1:27). Hulle het dus die vermoë gehad om die goddelike eienskappe wysheid, lojale liefde, geregtigheid en goedheid in sekere mate te openbaar. As hulle hierdie eienskappe sou weerspieël, sou dit hulle help om besluite te neem wat hulle tot voordeel sou strek en hulle hemelse Vader sou behaag.

Jehovah het hierdie volmaakte, intelligente skepsele wilsvryheid gegee. Hulle is dus glad nie vooraf geprogrammeer om God te behaag—soos robotte nie. Dink hieraan. Wat sal vir jou meer beteken—’n geskenk wat werktuiglik gegee word of een wat uit die hart kom? Die antwoord is voor die hand liggend. Net so sou Adam en Eva se gehoorsaamheid baie meer vir God beteken het as hulle vrywillig gekies het om aan hom gehoorsaam te wees. Die vermoë om te kies, het die eerste mensepaar in staat gestel om Jehovah uit liefde te gehoorsaam.—Deuteronomium 30:19, 20.

Regverdig en goed

Die Bybel openbaar Jehovah se eienskappe aan ons. Hierdie eienskappe maak dit vir hom onmoontlik om enigiets met sonde te doen te hê. Volgens Psalm 33:5 het Jehovah “regverdigheid en geregtigheid lief”. Jakobus 1:13 sê dus: “Met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie.” Aangesien God ander regverdig en bedagsaam behandel, het hy Adam gewaarsku: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:16, 17). Die eerste egpaar kon tussen eindelose lewe en die dood kies. Sou dit nie huigelagtig gewees het van God om hulle teen ’n spesifieke sonde te waarsku wetende dat hulle sou sondig nie? Aangesien Jehovah “regverdigheid en geregtigheid” liefhet, sou hy hulle nie ’n keuse gebied het wat nie werklik bestaan nie.

Jehovah is ook oorvloedig in goedheid (Psalm 31:19). Jesus het God se goedheid beskryf en gesê: “Wie is die mens onder julle vir wie sy seun brood vra—hy sal hom tog nie ’n klip gee nie, of hoe? Of miskien sal hy ’n vis vra—hy sal hom tog nie ’n slang gee nie, of hoe? As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan dié wat hom vra!” (Matteus 7:9-11). God gee “goeie dinge” aan sy skepsele. Die manier waarop mense geskep is sowel as die Paradystuiste wat vir hulle voorberei is, getuig van God se goedheid. Sou so ’n goeie Soewerein so wreed wees om ’n pragtige tuiste te voorsien wat hy weet weggeneem sal word? Nee. Ons regverdige en goeie Maker is nie verantwoordelik vir die mens se opstand nie.

“Alleen wys”

Die Skrif toon ook dat Jehovah “alleen wys” is (Romeine 16:27). God se hemelse engele het baie blyke van hierdie onbeperkte wysheid gesien. Hulle het begin “juig” toe Jehovah sy aardse skeppingswerke voortgebring het (Job 38:4-7). Hierdie intelligente geesskepsele het die gebeure in die tuin van Eden ongetwyfeld met groot belangstelling dopgehou. Sou dit dan sin maak dat ’n wyse God, nadat hy ’n ontsagwekkende heelal en tallose wonderlike dinge op die aarde geskep het, voor sy engeleseuns twee unieke skepsele sou voortbring wat hy geweet het sal misluk? Dit is duidelik dat dit nie logies sou wees om so ’n rampspoedige uiteinde te beplan nie.

Tog opper iemand dalk die beswaar: ‘Maar hoe kon ’n alwyse God nie geweet het nie?’ ’n Aspek van Jehovah se groot wysheid is weliswaar sy vermoë om “van die begin af die uiteinde” te weet (Jesaja 46:9, 10). Maar hy is nie verplig om hierdie vermoë te gebruik nie, net soos hy nie altyd verplig is om al sy ontsaglike krag te gebruik nie. Jehovah gebruik sy vermoë tot voorkennis wyslik op ’n selektiewe wyse. Hy gebruik dit wanneer dit sin maak om dit te doen en by die omstandighede pas.

Die vermoë om voorkennis selektief te gebruik, kan toegelig word deur ’n kenmerk van die hedendaagse tegnologie. Iemand wat na ’n opname van ’n sportswedstryd kyk, kan eers na die laaste paar minute kyk as hy wil weet wat die uitslag is. Maar hy hoef nie so te begin nie. Wie kan hom kritiseer as hy verkies om die hele wedstryd van die begin af te kyk? Net so het die Skepper klaarblyklik verkies om nie te sien hoe dinge sou afloop nie. Hy het eerder verkies om te wag en, terwyl gebeure ontvou, te sien hoe sy aardse kinders sal optree.

Soos vroeër gemeld is, het Jehovah in sy wysheid die eerste mense nie as robotte geskep, wat geprogrammeer is om op ’n spesifieke manier op te tree nie. Uit liefde het hy hulle eerder wilsvryheid gegee. Deur die regte weg te kies, kon hulle hulle liefde, dankbaarheid en gehoorsaamheid toon en sodoende hulle vreugde sowel as dié van Jehovah as hulle hemelse Vader vergroot.—Spreuke 27:11; Jesaja 48:18.

Die Skrif toon dat God dikwels nie sy vermoë tot voorkennis gebruik het nie. Byvoorbeeld, eers nadat die getroue Abraham sy seun probeer offer het, kon Jehovah sê: “Nou weet ek dat jy godvresend is, deurdat jy jou seun, jou enigste, nie van my teruggehou het nie” (Genesis 22:12). Daarenteen het die slegte gedrag van sekere persone God soms “gekrenk”. Sou dit hom so bedroef het as hy lank vooruit geweet het wat hulle sou doen?—Psalm 78:40, 41; 1 Konings 11:9, 10.

Dit is dus net redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat die alwyse God nie sy vermoë tot voorkennis gebruik het om vooruit te weet dat ons eerste ouers sou sondig nie. Hy sou nie so dwaas gewees het om mense te skep bloot om ’n aantal onsinnige gebeurtenisse te beleef waarvan hy, weens sy vermoë tot voorkennis, reeds die uiteinde weet nie.

“God is liefde”

God se teenstander, Satan, was die aanstigter van die opstand in Eden, wat slegte gevolge gehad het, insluitende sonde en die dood. Satan was dus “’n mensemoordenaar”. Hy was ook “’n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44). Hy word deur slegte beweegredes aangedryf en probeer om slegte beweegredes aan ons liefdevolle Skepper toe te skryf. Hy wil graag die skuld vir die mens se sonde op Jehovah afskuif.

Liefde is die vernaamste rede waarom Jehovah verkies het om nie vooruit te weet of Adam en Eva sou sondig nie. Liefde is God se hoofeienskap. “God is liefde”, sê 1 Johannes 4:8. Liefde is positief, nie negatief nie. Dit soek na die goeie in ander. Ja, omdat Jehovah God deur liefde beweeg word, wou hy die beste vir die eerste mensepaar hê.

Al was dit vir God se aardse kinders moontlik om ’n onverstandige keuse te maak, was ons liefdevolle God nie geneig om pessimisties te wees of sy volmaakte skepsele te wantrou nie. Hy het ryklik in hulle behoeftes voorsien en hulle goed toegerus vir die lewe. Dit was net gepas dat God liefdevolle gehoorsaamheid in reaksie hierop verwag het, nie opstand nie. Hy het geweet dat Adam en Eva die vermoë het om lojaal op te tree, soos later selfs deur onvolmaakte mense, soos Abraham, Job, Daniël en baie ander, bewys is.

“By God is alles moontlik”, het Jesus gesê (Matteus 19:26). Dit is ’n vertroostende gedagte. Jehovah se liefde, tesame met sy ander hoofeienskappe, naamlik geregtigheid, wysheid en krag, verseker dat hy uiteindelik al die gevolge van sonde en die dood kan en sal verwyder.—Openbaring 21:3-5.

Dit is duidelik dat Jehovah nie vooruit geweet het dat die eerste egpaar sou sondig nie. Hoewel God deur die ongehoorsaamheid van die mens en die gevolglike lyding bedroef is, het hy geweet dat hierdie tydelike situasie nie die verwesenliking van sy ewige voorneme met die aarde en die mense daarop sou verhinder nie. Vind gerus meer uit oor hierdie voorneme en hoe jy by die wonderlike verwesenliking daarvan kan baat vind. a

[Voetnoot]

a Vir meer inligting oor God se voorneme met die aarde, sien hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 14]

Jehovah het die eerste mense nie as robotte geskep, wat geprogrammeer is om op ’n spesifieke manier op te tree nie

[Lokteks op bladsy 15]

God het geweet dat Adam en Eva die vermoë het om lojaal op te tree