Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Hy het die aangesig van Jehovah versag’

‘Hy het die aangesig van Jehovah versag’

Kom nader aan God

‘Hy het die aangesig van Jehovah versag’

“EK HET so onwaardig gevoel”, sê ’n man wat afgewyk het van die goddelike beginsels waarmee hy grootgemaak is. Toe hy stappe begin doen om sy lewe reg te stel, was hy bang dat God hom nooit sou vergewe nie. Maar die Bybelverslag oor Manasse, wat in 2 Kronieke 33:1-17 opgeteken is, het hierdie berouvolle sondaar hoop gegee. As jy al ooit onwaardig gevoel het weens vroeëre sondes, kan jy ook vertroosting uit Manasse se voorbeeld put.

Manasse is in ’n godvresende huis grootgemaak. Sy vader, Hiskia, was een van die uitsonderlikste konings van Juda. Manasse is gebore omtrent drie jaar nadat sy vader se lewe wonderdadig deur God verleng is (2 Konings 20:1-11). Hiskia het hierdie seun ongetwyfeld as ’n gawe beskou wat hy danksy Jehovah se barmhartigheid ontvang het en het sekerlik liefde vir ware aanbidding by hom probeer inboesem. Maar die kinders van godvrugtige ouers volg nie altyd in hulle ouers se voetstappe nie. Dit was die geval met Manasse.

Manasse was ongeveer 12 jaar oud toe sy vader gesterf het. Ongelukkig het Manasse “gedoen wat sleg was in Jehovah se oë” (verse 1, 2). Is die jong koning beïnvloed deur raadgewers wat geen respek vir ware aanbidding gehad het nie? Die Bybel sê nie. Wat dit wel vir ons sê, is dat Manasse hom aan walglike afgodediens en wreedheid skuldig gemaak het. Hy het altare aan valse gode opgerig, sy eie seuns opgeoffer, spiritisme beoefen en ’n gesnede beeld in Jehovah se tempel in Jerusalem gesit. Die hardkoppige Manasse het geweier om ag te slaan op herhaalde waarskuwings van Jehovah, die God wie se wonderwerk sy geboorte moontlik gemaak het.—Verse 3-10.

Jehovah het uiteindelik toegelaat dat Manasse in boeie na Babilon geneem word. Daar het Manasse, terwyl hy in ballingskap was, ’n kans gekry om oor sy lewe na te dink. Het hy nou besef dat sy magtelose, lewelose afgode hom nie beskerm het nie? Het hy teruggedink aan die dinge wat sy godvrugtige vader hom as kind geleer het? Hoe dit ook al sy, Manasse se gesindheid het verander. Die verslag sê: “Hy [het] die aangesig van Jehovah sy God versag en hom grootliks bly verneder . . . En hy het tot Hom bly bid” (verse 12, 13). a Maar kon ’n man wat sulke ernstige sondes gepleeg het, werklik deur God vergewe word?

Manasse se opregte berou het Jehovah behaag. God het sy smekinge om barmhartigheid aan hom te bewys, gehoor “en hom in Jerusalem in sy koningskap herstel” (vers 13). As bewys van sy berou het Manasse alles in sy vermoë gedoen om sy foute reg te stel deur afgodediens uit sy ryk te verwyder en sy volk aan te spoor ‘om Jehovah te dien’.—Verse 15-17.

As jy weens vroeëre sondes onwaardig voel om God se vergifnis te ontvang, kan Manasse se voorbeeld jou bemoedig. Hierdie verslag is deel van God se geïnspireerde Woord (Romeine 15:4). Dit is duidelik dat Jehovah wil hê dat ons moet weet dat hy “vergewensgesind” is (Psalm 86:5). Dit is nie die sonde nie, maar die hartstoestand van die sondaar wat vir hom belangrik is. ’n Sondaar wat met ’n berouvolle hart bid, sy verkeerde weg laat vaar en ’n daadwerklike poging aanwend om te doen wat reg is, kan ‘die aangesig van Jehovah versag’, soos Manasse gedoen het.—Jesaja 1:18; 55:6, 7.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Januarie:

2 Kronieke 29Esra 10

[Voetnoot]

a Die Ou Afrikaanse Bybelvertaling sê hier: “Hy [het] die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek.”