Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie is God?

Wie is God?

Leer uit God se Woord

Wie is God?

Hierdie artikel opper vrae waaroor jy dalk al gewonder het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Wie is God?

Die ware God is die Skepper van alles. Die Bybel noem hom die “Koning van die ewigheid”, wat beteken dat hy geen begin gehad het en nooit ’n einde sal hê nie (Openbaring 15:3). Aangesien God die Bron van die lewe is, moet ons hom alleen aanbid.—Lees Openbaring 4:11.

2. Watter soort persoon is God?

Niemand het God nog ooit gesien nie, want hy is ’n Gees, wat beteken dat hy ’n hoër lewensvorm is as die fisiese skepsele wat op die aarde woon (Johannes 1:18; 4:24). God se persoonlikheid word geopenbaar in die dinge wat hy gemaak het. Wanneer ons byvoorbeeld oor die ontwerp en verskeidenheid van vrugte en blomme nadink, sien ons God se liefde en wysheid. Die omvang van die heelal vertel ons van God se krag.—Lees Romeine 1:20.

Ons kan selfs meer van God se persoonlikheid uit die Bybel leer. Dit vertel ons byvoorbeeld waarvan God hou en waarvan hy nie hou nie, hoe hy mense behandel en hoe hy in verskillende situasies optree.—Lees Psalm 103:7-10.

3. Het God ’n naam?

Jesus het gesê: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Alhoewel God baie titels het, het hy net een naam. In elke taal word dit anders uitgespreek. In Afrikaans sê ons gewoonlik “Jehovah” of soms “Jahweh”.—Lees Psalm 83:18.

God se naam is uit baie Bybels verwyder en met die titels Here of God vervang. Maar toe die Bybel geskryf is, het God se naam ongeveer 7 000 keer daarin verskyn. Jesus het God se naam bekendgemaak deur dit te gebruik wanneer hy God se Woord aan mense verduidelik het. Hy het mense gehelp om God te leer ken.—Lees Johannes 17:26.

4. Gee Jehovah vir ons om?

Jehovah toon belangstelling in ons deur persoonlik na ons gebede te luister (Psalm 65:2). Beteken die feit dat daar soveel lyding is, dat God nie vir ons omgee nie? Party mense beweer dat God ons laat ly om ons te toets, maar dit is nie waar nie. Die Bybel sê: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel.”—Job 34:10; lees Jakobus 1:13.

God het die mens wilsvryheid gegee. Waardeer ons nie ons vryheid om te kies om God te behaag nie? (Josua 24:15). Daar is soveel lyding omdat baie kies om slegte dinge aan ander te doen. Dit maak Jehovah seer om sulke ongeregtigheid te sien.—Lees Genesis 6:5, 6.

Jehovah sal Jesus binnekort gebruik om lyding sowel as diegene wat dit veroorsaak, uit die weg te ruim. Intussen het Jehovah ’n goeie rede waarom hy lyding tydelik toelaat, net soos ’n liefdevolle vader ’n goeie rede het wanneer hy sy kind vir mediese behandeling neem. ’n Latere les in hierdie reeks sal verduidelik waarom God lyding toelaat.—Lees Jesaja 11:4.

5. Wat wil God hê moet ons doen?

Jehovah het ons geskep met die vermoë om hom te leer ken en lief te hê. Hy wil hê dat ons die waarheid omtrent hom moet leer (1 Timoteus 2:4). As ons die Bybel bestudeer, kan ons God as ’n Vriend leer ken.—Lees Spreuke 2:4, 5.

Aangesien Jehovah ons lewe gegee het, moet ons groter liefde vir hom hê as vir enigiemand anders. Ons kan vir God toon dat ons hom liefhet deur in gebed met hom te praat en deur te doen wat hy vereis (Spreuke 15:8). Jehovah wil hê dat ons ander mense met liefde behandel.—Lees Markus 12:29, 30; 1 Johannes 5:3.

Vir meer inligting, sien hoofstuk 1 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 17]

Is daar moontlik ’n goeie rede waarom lyding tydelik toegelaat word?