Die skandelikste hofsaak van alle tye
Die skandelikste hofsaak van alle tye
MIN of geen hofsake uit die ou tyd is so bekend nie. Vier afsonderlike Bybelverslae, wat die Evangelies genoem word, beskryf die inhegtenisneming, verhoor en teregstelling van Jesus Christus. Waarom moet jy daarin belangstel? Omdat Jesus vir sy volgelinge gesê het om sy dood te herdenk, wat groter belangrikheid verleen aan die verhoor wat dit voorafgegaan het; omdat ons moet weet of die aanklagte teen Jesus waar was; en omdat die offerande wat Jesus gebring het deur sy lewe vrywillig vir ons af te lê van die allergrootste belang vir ons en ons toekoms is.—Lukas 22:19; Johannes 6:40.
Toe Jesus verhoor is, was Palestina onder Romeinse beheer. Die Romeine het die plaaslike Joodse hiërargie toegelaat om volgens hulle eie regstelsel die wet onder die Jode toe te pas, maar het hulle blykbaar nie die wetlike gesag gegee om misdadigers tereg te stel nie. Jesus is dus deur Joodse godsdiensvyande in hegtenis geneem, maar deur die Romeine tereggestel. Sy prediking het die godsdiensleiers van daardie tyd so sleg laat lyk dat hulle besluit het dat Jesus moet sterf. Maar hulle wou hê dat sy teregstelling wettig moes lyk. ’n Ontleding van *
hulle pogings om dit te bereik, het een regsprofessor beweeg om die hele saak te beskryf as “die skandelikste misdaad in die geskiedenis van die reg”.Die een ongerymdheid ná die ander
Die Wet wat Moses aan Israel oorgedra het, is al “die indrukwekkendste en mees verligte regstelsel van alle tye” genoem. Teen Jesus se tyd het die wettiesgesinde rabbi’s egter ’n massa reëls by die Bybelse wette gevoeg, waarvan baie later in die Talmoed opgeteken is. (Sien die venster “Joodse wette in die eerste eeue” op bladsy 20.) In watter mate het Jesus se verhoor aan hierdie Bybelse en buite-Bybelse maatstawwe voldoen?
Is Jesus in hegtenis geneem weens die ooreenstemmende getuienis wat twee getuies oor ’n spesifieke misdaad voor ’n hof gelewer het? Die inhegtenisneming kon slegs wettig wees as dit so was. In eerste-eeuse Palestina het ’n Jood wat gedink het dat ’n wet oortree is, sy klag gedurende ’n gewone hofsitting by die hof ingedien. Howe kon nie klagte teen iemand lê nie, maar het bloot beskuldigings wat voor hulle gebring is, ondersoek. Die enigste aanklaers was die getuies van ’n beweerde misdaad. ’n Hofsaak het begin wanneer die verklaring van ten minste twee getuies in verband met dieselfde daad ooreengestem het. Hulle getuienis was die aanklag, wat tot die inhegtenisneming gelei het. Die getuienis van net een getuie is nie toegelaat nie (Deuteronomium 19:15). Maar in Jesus se geval het die Joodse owerheid bloot ’n “doeltreffende manier” gesoek waarop hulle van hom ontslae kon raak. Hy is in hegtenis geneem toe “’n goeie geleentheid” hom voorgedoen het—in die nag en “sonder dat daar ’n skare by” was.—Lukas 22:2, 5, 6, 53.
Toe Jesus in hegtenis geneem is, was daar geen aanklag teen hom nie. Die priesters en die Sanhedrin, die Joodse Hoë Raad, het eers nadat hy in hegtenis geneem is, na getuies begin soek (Matteus 26:59). Hulle kon nie twee vind wie se getuienis ooreenstem nie. Maar die hof was nie veronderstel om na getuies te soek nie. En “om iemand te verhoor, veral op ’n aanklag wat die doodstraf tot gevolg kan hê, sonder om vooraf die misdaad waarvoor hy teregstaan, te spesifiseer, word heel tereg as ’n skokkende vergryp beskou”, sê die regsgeleerde en skrywer A. Taylor Innes.
Die skare wat Jesus in hegtenis geneem het, het hom na die huis van die voormalige hoëpriester Annas geneem, wat hom begin ondervra het (Lukas 22:54; Johannes 18:12, 13). Annas se optrede het die reël geskend dat aanklagte van ’n halsmisdaad bedags verhoor moes word, nie snags nie. Daarbenewens moes enige ondersoek na die feite tydens ’n openbare hofsitting plaasgevind het, nie agter geslote deure nie. Jesus het geweet dat Annas se ondervraging onwettig was en het gevra: “Waarom ondervra u my? Ondervra dié wat gehoor het wat ek vir hulle gesê het. Kyk! Hulle weet wat ek gesê het” (Johannes 18:21). Annas moes eintlik die getuies ondervra het, nie die beskuldigde nie. Jesus se kommentaar sou ’n eerlike regter dalk beweeg het om die regte prosedure te volg, maar Annas het nie in geregtigheid belanggestel nie.
Jesus is vir sy antwoord met ’n klap deur ’n beampte beloon—nie die enigste mishandeling wat hy daardie aand verduur het nie (Lukas 22:63; Johannes 18:22). Die wet oor die vrystede, wat in die Bybelboek Numeri hoofstuk 35 opgeteken is, sê dat die beskuldigde teen mishandeling beskerm moet word totdat hy skuldig bevind is. Jesus moes hierdie beskerming ontvang het.
Jesus se gevangenemers het hom toe na die huis van die hoëpriester Kajafas gelei, waar die onwettige nagverhoor voortgeduur het (Lukas 22:54; Johannes 18:24). Daar het die priesters, met minagting vir alle beginsels van die reg, “valse getuienis teen Jesus gesoek om hom dood te maak”, maar hulle kon nie twee mense vind wie se getuienis oor wat Jesus gesê het, ooreengestem het nie (Matteus 26:59; Markus 14:56-59). Die hoëpriester het Jesus dus sover probeer kry om homself te inkrimineer. “Antwoord jy niks nie?” het hy gevra. “Wat getuig hulle teen jou?” (Markus 14:60). Hierdie taktiek was heeltemal onvanpas. “Om die vraag aan die beskuldigde te stel en ’n veroordeling op sy antwoord te grond, was [’n] skending van die formele reg”, sê Innes, wat vroeër aangehaal is.
Daardie groep het uiteindelik iets in Jesus se woorde gevind wat hulle teen hom kon gebruik. In antwoord op die vraag: “Is jy die Christus, die Seun van die Geseënde?” het Jesus gesê: “Ek is; en julle sal die Seun van die mens aan die regterhand van krag sien sit en met die wolke van die hemel sien kom.” Die priesters het dit as godslastering opgeneem en “het hom almal veroordeel dat hy die dood verdien”.—Markus 14:61-64. *
Volgens die Mosaïese Wet moes hofsake in die openbaar gehou word (Deuteronomium 16:18; Rut 4:1). Maar hierdie hofsaak het in die geheim plaasgevind. Niemand het probeer of is toegelaat om vir Jesus op te kom nie. Geen ondersoek is ingestel om te sien of daar enige waarheid steek in Jesus se aanspraak dat hy die Messias is nie. Jesus is nie die geleentheid gegee om getuies vir sy verdediging in te roep nie. Daar was geen ordelike stemming onder die regters oor sy skuld of onskuld nie.
Voor Pilatus
Omdat die Jode blykbaar nie die gesag gehad het om Jesus tereg te stel nie, het hulle hom na Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur, geneem. Pilatus se eerste vraag was: “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?” Omdat die Jode geweet het dat hulle valse aanklag van godslastering vir Pilatus niks beteken nie, het hulle hom probeer kry om Jesus sonder ’n ondersoek te veroordeel. “As hierdie man nie ’n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan u oorgelewer het nie”, het hulle gesê (Johannes 18:29, 30). Pilatus het hierdie argument verwerp, wat die Jode gedwing het om ’n nuwe beskuldiging te maak: “Ons het gevind dat hierdie man ons nasie ondermyn en die betaling van belasting aan die keiser verbied en sê dat hy self Christus, ’n koning, is” (Lukas 23:2). Die beskuldiging van godslastering is dus op onderduimse wyse verander na hoogverraad.
Die beskuldiging dat hy “die betaling van belasting . . . verbied”, was vals, en die beskuldigers het dit geweet. Jesus het presies die teenoorgestelde geleer (Matteus 22:15-22). Wat die beskuldiging betref dat Jesus homself ’n koning gemaak het, het Pilatus gou gesien dat die man wat voor hom staan, geen bedreiging vir Rome inhou nie. “Ek vind geen skuld in hom nie”, het hy gesê (Johannes 18:38). Pilatus het deur die hele verhoor nie van hierdie oortuiging afgesien nie.
Aanvanklik het Pilatus die gebruiklike vrylating van ’n gevangene tydens die Pasga probeer gebruik om Jesus vry te laat. Maar op die ou end het Pilatus Barabbas vrygelaat, wat skuldig was aan sedisie en moord.—Lukas 23:18, 19; Johannes 18:39, 40.
Die Romeinse goewerneur se volgende poging om Jesus vry te laat, was ’n kompromis. Hy het Jesus laat gesel, opdrag gegee dat hy in purper geklee en ’n doringkroon op sy kop gesit Lukas 23:22). En tog het hulle nie.
word en het hom daarna laat slaan en bespot. Hy het Jesus weer onskuldig verklaar. Dit was asof Pilatus gesê het: ‘Is dit nie vir julle genoeg nie?’ Moontlik het hy gehoop dat hulle, by die aanskouing van ’n man wat deur die Romeine gegesel is, hulle wraaklus sou laat vaar of vir hom jammer sou voel (“Pilatus [het] ’n manier bly soek om [Jesus] vry te laat. Maar die Jode het geskreeu en gesê: ‘As u hierdie man vrylaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself ’n koning maak, praat teen die keiser’” (Johannes 19:12). Die keiser wat destyds geheers het, was Tiberius, ’n keiser met die reputasie dat hy enigiemand wat hy as dislojaal beskou het, sou teregstel—selfs hooggeplaaste amptenare. Pilatus het reeds die Jode geïrriteer, en hy kon dus nie enige verdere wrywing bekostig nie, wat nog te sê ’n beskuldiging van dislojaliteit. Die skare se woorde was in werklikheid ’n verskuilde dreigement—afpersing—en dit het Pilatus bang gemaak. Hy het voor die druk geswig en het Jesus, ’n onskuldige man, aan die paal laat hang.—Johannes 19:16.
’n Hersiening van die bewyse
Baie regskommentators het al die Evangelieverslae van Jesus se verhoor ontleed. Hulle het tot die slotsom gekom dat dit ’n bespotting van die gereg was. “Dat so ’n verhoor tussen middernag en dagbreek begin en afgehandel en ’n formele uitspraak gelewer kon word, druis in teen die prosedures en reëls van die Hebreeuse reg sowel as teen die beginsels van geregtigheid”, skryf een regsgeleerde. ’n Professor in die regte sê: “Die hele saak was deurtrek van soveel growwe onwettighede en sulke blatante ongerymdhede dat die resultaat as niks minder as geregtelike moord beskou kan word nie.”
Jesus was onskuldig. Maar hy het geweet dat sy dood noodsaaklik is vir die redding van gehoorsame mense (Matteus 20:28). Hy het geregtigheid so liefgehad dat hy hom onderwerp het aan die skandelikste onreg van alle tye. Hy het dit vir sondaars soos ons gedoen. Ons moet dit nooit vergeet nie.
[Voetnotes]
^ par. 3 Tot hulle skande het die kerke van die Christendom die Evangelieverslae van Jesus se dood gebruik om anti-Joodse gevoelens aan te blaas, maar dit was die laaste ding waaraan die Evangelieskrywers, wat self Jode was, gedink het.
^ par. 11 Godslastering het die oneerbiedige gebruik van God se naam behels of die wederregtelike toe-eiening van mag of gesag wat alleenlik aan God behoort. Jesus se beskuldigers het geen bewys voorgelê dat hy een van die twee gedoen het nie.
[Venster/Prent op bladsy 20]
Joodse wette in die eerste eeue
Die Joodse mondelinge tradisie, wat in die vroeë eeue HJ op skrif gestel is, maar wat blykbaar baie ouer is, het die volgende reëls ingesluit:
▪ In sake waarin die doodstraf opgelê kon word, is argumente vir onskuldigbevinding eerste aangehoor
▪ Die regters moes alles in hulle vermoë doen om die beskuldigde te red
▪ Regters kon argumente vir die beskuldigde aanvoer, maar nie teen hom nie
▪ Getuies is gewaarsku oor die erns van hulle rol
▪ Getuies is afsonderlik ondervra, nie in die teenwoordigheid van enige ander getuie nie
▪ Getuienis moes in alle belangrike besonderhede ooreenstem—datum, plek, tyd van die dag waarop die daad gepleeg is, ensovoorts
▪ Aanklagte van ’n halsmisdaad moes in die dag verhoor word, en die saak moes in die dag afgesluit word
▪ Sake waarin die doodstraf opgelê kon word, kon nie op die vooraand van ’n Sabbat of ’n fees verhoor word nie
▪ Sake waarin die doodstraf opgelê kon word, kon op dieselfde dag begin en eindig as die uitspraak ten gunste van die beskuldigde was; as dit nie in sy guns was nie, kon die saak eers die volgende dag afgehandel word, wanneer die uitspraak gelewer en die vonnis voltrek is
▪ Sake waarin die doodstraf opgelê kon word, is deur ten minste 23 regters verhoor
▪ Regters het om die beurt, vanaf die jongste, gestem om die beskuldigde vry te spreek of te veroordeel; sekretarisse het die woorde opgeteken van dié wat hom wou vryspreek en dié wat hom wou veroordeel
▪ Die beskuldigde kon vrygespreek word deur ’n meerderheid van een, maar kon slegs skuldig bevind word deur ’n meerderheid van twee; as daar ’n meerderheid van net een ten gunste van skuldigbevinding was, is twee regters so dikwels as wat nodig was, bygevoeg totdat hulle tot ’n geldige besluit gekom het
▪ ’n Skuldigbevinding sonder dat ten minste een regter vir die beskuldigde gepleit het, was ongeldig; ’n eenparige skuldigbevinding is as “’n aanduiding van ’n sameswering” beskou
Ongerymdhede in Jesus se verhoor
▪ Die hof het geen argumente of getuies ten gunste van onskuldigbevinding aangehoor nie
▪ Nie een van die regters het Jesus probeer verdedig nie; hulle was sy vyande
▪ Die priesters het valse getuies gesoek sodat hulle Jesus ter dood kon veroordeel
▪ Die saak is in die nag agter geslote deure verhoor
▪ Die verhoor het op dieselfde dag, die vooraand van ’n fees, begin en geëindig
▪ Daar was geen aanklag voor Jesus se inhegtenisneming nie
▪ Jesus se aanspraak dat hy die Messias is, wat na bewering “godslastering” was, is nie ondersoek nie
▪ Die aanklag is verander toe die saak voor Pilatus gebring is
▪ Die beskuldigings was vals
▪ Pilatus het Jesus onskuldig bevind, maar het hom nogtans laat teregstel
[Venster op bladsy 22]
Getuies aanspreeklik vir lewe
In sake waarin die doodstraf opgelê kon word, het Joodse howe hierdie waarskuwing oor die waarde van lewe aan getuies gegee voordat hulle getuienis gelewer het:
“Julle is moontlik van plan om getuienis te lewer op grond van veronderstelling, hoorsê of van wat een getuie vir ’n ander gesê het; of julle dink dalk: ‘Ons het dit by ’n betroubare persoon gehoor.’ Of julle is onbewus daarvan dat ons julle eindelik op die proef sal stel met gepaste toetse van ondervraging en ondersoek. Julle moet daarvan bewus wees dat die wette met betrekking tot eiendomsake verskil van dié met betrekking tot sake wat die doodstraf tot gevolg kan hê. In die verhoor van ’n eiendomsaak betaal die persoon geld en vergoed hy so vir sy oortreding. In sake wat die doodstraf tot gevolg kan hê, word [die beskuldigde wat verkeerdelik skuldig bevind is, se] bloed en die bloed van al sy potensiële nakomelinge tot in ewigheid gehou teen hom [wat vals getuig].”—Babiloniese Talmoed, Sanhedrin, 37a.
As die aangeklaagde skuldig bevind is, moes die getuies aan die teregstelling deelneem.—Levitikus 24:14; Deuteronomium 17:6, 7.