“Verset wat respek afdwing”
“Verset wat respek afdwing”
GEDURENDE sy verwoestende termyn as Duitse kanselier het Adolf Hitler tienduisende briewe ontvang. In 1945, nadat die Russe die gebied rondom Berlyn beset het, is baie van hierdie briewe na Moskou geneem en daar geberg. Die geskiedkundige Henrik Eberle het duisende van hierdie briewe in die Moskou-argief ondersoek om vas te stel wie aan Hitler geskryf het en waarom. Eberle het sy bevindinge in die boek Briefe an Hitler (Briewe aan Hitler) gepubliseer.
“Onderwysers en studente, nonne en priesters, die werkloses en vooraanstaande sakemanne, admiraals en gewone stormsoldate—hulle het almal aan Hitler geskryf”, sê dr. Eberle. “Party het hom opgehemel as die wedergebore Messias; ander het hom as die beliggaming van goddeloosheid beskou.” Het Hitler beswaarbriewe van kerkamptenare ontvang in verband met die gruweldade wat deur die Nasionaal-Sosialiste, oftewel die Nazi’s, gepleeg is? Daar was sulke briewe, maar hulle was maar yl gesaai.
In die Moskou-argief het Eberle egter ’n lêer met etlike briewe daarin gevind wat deur Jehovah se Getuies uit verskeie dele van Duitsland aan Hitler gestuur is waarin hulle beswaar gemaak het teen die gedrag van die Nazi’s. Trouens, Getuies uit sowat 50 lande het ongeveer 20 000 briewe en telegramme aan Hitler gestuur waarin hulle beswaar gemaak het teen die mishandeling van Jehovah se Getuies. Duisende Getuies is in hegtenis geneem, en honderde is tereggestel of het gesterf as gevolg van mishandeling deur die Nazi’s. Dr. Eberle het tot die volgende slotsom gekom: “Wanneer ’n mens dink aan die miljoene slagoffers van die Nazi-regime, lyk hierdie getal [Getuie-slagoffers] maar klein. Maar dit getuig nietemin van ’n daad van gesamentlike en onwrikbare verset wat respek afdwing.”