Respek en waardigheid omdat God omgee
TOE Jesus op aarde was, het hy sy hemelse Vader se persoonlikheid en handelswyse volmaak weerspieël. Hy het gesê: ‘Ek doen niks op eie inisiatief nie; maar net soos die Vader my geleer het, spreek ek. Ek doen altyd die dinge wat hom behaag’ (Johannes 8:28, 29; Kolossense 1:15). As ons kyk na hoe Jesus vroue behandel het en let op sy gesindheid teenoor hulle, kan dit ons dus insig gee in God se beskouing van vroue en wat hy vir hulle in gedagte het.
Op grond van wat in die Evangelieverslae opgeteken is, het ’n aantal geleerdes al erken dat Jesus se beskouing van vroue niks minder as revolusionêr was nie. Hoe so? En selfs belangriker, het sy leringe vandag nog ’n bevrydende invloed op vroue?
Hoe Jesus vroue behandel het
Jesus het hulle nie as blote seksuele voorwerpe beskou nie. Volgens die beskouing van party Joodse godsdiensleiers kon kontak met die teenoorgestelde geslag slegs tot wellus lei. Aangesien vroue as ’n bron van versoeking beskou is, is hulle verbied om in die openbaar met mans te praat of sonder ’n sluier uit te Matteus 5:28.
gaan. Aan die ander kant het Jesus mans vermaan om hulle vleeslike begeertes in toom te hou en vroue met waardigheid te behandel eerder as om hulle van sosiale omgang af te sny.—Jesus het ook gesê: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander trou, pleeg egbreuk teen haar” (Markus 10:11, 12). Hy het sodoende die heersende rabbynse lering verwerp wat mans toegelaat het om “op sommer enige grond” van hulle vrou te skei (Matteus 19:3, 9). Die idee om teen sy vrou egbreuk te pleeg, was vreemd vir die meeste Jode. Hulle rabbi’s het geleer dat ’n man nooit egbreuk teen sy vrou kon pleeg nie—slegs ’n vrou kon ontrou wees! Een Bybelkommentaar stel dit soos volg: “Deur die man onder dieselfde sedelike verpligting as sy vrou te plaas, het Jesus die status en waardigheid van vroue verhef.”
Die uitwerking wat sy lering vandag het: In die Christengemeente van Jehovah se Getuies assosieer vroue vryelik met mans wanneer hulle vir vergaderinge bymekaarkom. Maar hulle hoef nie te vrees dat die mans op onbetaamlike wyse na hulle sal kyk of te familiêr sal raak nie, want Christenmans maak seker dat hulle “ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters met alle kuisheid” behandel.—1 Timoteus 5:2.
Jesus het tyd geneem om vroue te leer. In teenstelling met die heersende rabbynse beskouing wat vroue in onkunde gehou het, het Jesus hulle geleer en hulle aangemoedig om hulle uit te druk. Toe Jesus geweier het om Maria die vreugde te ontneem om geleer te word, het hy getoon dat ’n vrou se plek nie net in die kombuis is nie (Lukas 10:38-42). Maria se suster, Marta, het by sy lering baat gevind, soos gesien kan word uit haar intelligente antwoorde aan Jesus nadat Lasarus gesterf het.—Johannes 11:21-27.
Wat vroue gedink het, het vir Jesus saak gemaak. Destyds het die meeste Joodse vroue gedink dat hulle slegs gelukkig kon wees as hulle ’n seun gehad het waarop hulle trots kon wees, en soveel te beter as hy ’n profeet was. Toe ’n vrou uitgeroep het: “Gelukkig is die moederskoot wat u gedra het!” het Jesus van die geleentheid gebruik gemaak om haar van iets beters te vertel (Lukas 11:27, 28). Deur aan te dui dat geestelikheid belangriker is, het Jesus haar aangespoor om meer na te streef as net die tradisionele rol wat op vroue afgedwing is.—Johannes 8:32.
Die uitwerking van sy lering vandag: Onderrigters in die Christengemeente verwelkom die kommentare van vroue by gemeentelike vergaderinge. Hulle respekteer volwasse vroue omdat hulle “onderrigters [is] van wat goed is”, beide in hulle privaat lewe en deur die voorbeeld wat hulle andersins stel (Titus 2:3). Hulle maak ook op vroue staat om die goeie nuus van God se Koninkryk in die openbaar bekend te maak.—Psalm 68:11; sien die venster “Het die apostel Paulus vroue belet om te praat?” op bladsy 9.
Jesus het vir vroue omgegee. In Bybeltye het mense seuns bo dogters verkies. Die Talmoed weerspieël hierdie beskouing en sê: “Gelukkig is die een wat seuns het, en wee die een wat dogters het.” Sommige ouers het ’n meisie as ’n groter las beskou—hulle moes vir haar ’n huweliksmaat vind en die bruidskat betaal, en hulle sou nie op haar kon staatmaak om vir hulle op hulle oudag te sorg nie.
Jesus het getoon dat ’n meisie se lewe net so kosbaar is as dié van ’n seun—hy het Jaïrus se dogter opgewek sowel as die seun van die weduwee van Nain (Markus 5:35, 41, 42; Lukas 7:11-15). Nadat Jesus ’n vrou genees het wat “agtien jaar lank ’n gees van swakheid gehad het,” het hy haar “’n dogter van Abraham” genoem, ’n frase wat amper nooit in Joodse geskrifte voorkom nie (Lukas 13:10-16). Deur sy respekvolle en goedhartige woorde het hy nie net getoon dat hy haar as ’n volwaardige lid van die samelewing beskou nie, maar het hy ook erkenning gegee aan haar groot geloof.—Lukas 19:9; Galasiërs 3:7.
Die uitwerking van sy lering vandag: ’n Asiatiese spreuk lui: “Om ’n dogter groot te maak, is soos om die bure se tuin nat te gooi.” Liefdevolle Christenvaders word glad nie deur hierdie denkwyse beïnvloed nie en sorg goed vir al hulle kinders, seuns en dogters. Christenouers verseker dat al hulle kinders behoorlike opvoeding en gesondheidsorg ontvang.
Jesus het vroue vertrou. In die Joodse howe is die getuienis van ’n vrou geensins hoër geag as dié van ’n slaaf nie. Josefus, ’n eerste-eeuse geskiedskrywer, het gemaan: “Geen getuienis moet van ’n vrou aanvaar word nie weens die ligsinnigheid en onverskilligheid van hulle geslag.”
In skerp teenstelling hiermee het Jesus besluit om vroue te gebruik om van sy opstanding te getuig (Matteus 28:1, 8-10). Hoewel hierdie getroue vroue ooggetuies van die teregstelling en begrafnis van hulle Here was, het die apostels dit moeilik gevind om te glo wat die vroue sê (Matteus 27:55, 56, 61; Lukas 24:10, 11). Maar deur eers aan vroue te verskyn, het die verrese Christus getoon dat hy hulle net so waardig geag het om getuienis te lewer as sy ander dissipels.—Handelinge 1:8, 14.
Die uitwerking van sy lering vandag: In gemeentes van Jehovah se Getuies toon mans 1 Petrus 3:7; Genesis 21:12.
in verantwoordelike posisies bedagsaamheid teenoor vroue deur hulle insette in ag te neem. Wat getroude Christenmans betref, hulle ‘ken eer toe’ aan hulle vrouens deur aandagtig na hulle te luister.—Bybelbeginsels dra by tot vroue se geluk
Wanneer mans Christus navolg, word vroue die respek en vryheid gegee wat God oorspronklik vir hulle in gedagte gehad het (Genesis 1:27, 28). Getroude Christenmans staan nie manlike chauvinisme voor nie, maar laat hulle eerder deur Bybelbeginsels lei, wat tot hulle huweliksmaat se geluk bydra.—Efesiërs 5:28, 29.
Toe Jelena die Bybel begin studeer het, het sy in stilte gely weens die slegte behandeling van haar man. Hy het in ’n gewelddadige omgewing grootgeword waar die ontvoering van bruide en fisiese mishandeling iets algemeens was. “Wat ek uit die Bybel geleer het, het my krag gegee”, sê Jelena. “Ek het besef dat daar iemand is wat my baie liefhet, vir wie ek kosbaar is en wat vir my omgee. Ek het ook besef dat my man se gesindheid teenoor my kan verander as hy die Bybel studeer.” Haar droom is bewaarheid toe haar man uiteindelik ingestem het om die Bybel te studeer en as een van Jehovah se Getuies gedoop is. “Hy het ’n voorbeeld van selfbeheersing geword”, sê Jelena. “Ons het geleer om mekaar vryelik te vergewe.” Tot watter gevolgtrekking het sy gekom? “Bybelbeginsels het my werklik gehelp om nodig en veilig in my huwelik te voel.”—Kolossense 3:13, 18, 19.
Jelena se ondervinding is nie uniek nie. Miljoene Christenvrouens is gelukkig omdat hulle en hulle mans ’n gesamentlike poging aanwend om Bybelbeginsels in hulle huwelik toe te pas. Hulle vind dat hulle respek geniet, vertroosting put uit en vryheid ervaar in hulle assosiasie met mede-Christene.—Johannes 13:34, 35.
Christenmans en -vroue besef dat hulle as sondige en onvolmaakte mense deel is van God se skepping wat aan “nietigheid onderwerp” is. Maar deur nader te kom aan hulle liefdevolle God en Vader, Jehovah, het hulle die hoop om “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak” te word en “die glorieryke vryheid van die kinders van God” te geniet. Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog vir mans sowel as vroue vir wie God omgee!—Romeine 8:20, 21.