LEER JOU KINDERS
Petrus en Ananias het gelieg—Watter les kan ons leer?
Soos jy weet, is ’n leuen iets wat jy sê wat jy weet nie waar is nie. Het jy al ’n leuen vertel?— * Selfs party grootmense wat vir God lief is, het al gelieg. Jy weet waarskynlik van ’n persoon in die Bybel wat dit gedoen het. Sy naam is Petrus, een van Jesus se 12 apostels. Kom ons kyk waarom hy leuens vertel het.
Nadat Jesus in hegtenis geneem is, word hy na die huis van die hoëpriester geneem. Dit is lank ná middernag. Petrus kom tot in die binnehof van die priester se huis sonder dat iemand hom herken. Die hoëpriester se diensmeisie wat Petrus ingelaat het, herken hom in die lig van ’n vuur. “Jy was ook saam met Jesus”, sê sy. Petrus word bang en sê dat hy nie saam met Jesus was nie.
Die Bybel sê dat “’n ander meisie hom [later] opgemerk” het. Sy het gesê: “Hierdie man was saam met Jesus.” Petrus ontken dit weer eens. Ná ’n rukkie kom ander mense na Petrus toe en sê hulle: “Jy is beslis ook een van hulle.”
Petrus is bang. Daarom lieg hy vir die derde keer en sê: “Ek ken die man nie!” ’n Haan kraai. Jesus kyk na Petrus, en Petrus onthou dat Jesus ’n paar uur vroeër vir hom gesê het: “Voordat ’n haan kraai, sal jy my drie keer verloën.” Petrus huil bitterlik. Hy is so jammer!
Kan so iets met jou gebeur?— Jy is dalk by die skool en hoor dat die kinders oor Jehovah se Getuies praat. “Hulle salueer nie die vlag nie”, sê een. “Hulle veg nie vir hulle land nie”, sê ’n ander. Nog ’n ander beweer: “Hulle is nie werklik Christene nie, want hulle vier nie Kersfees nie.” Dan draai een na jou toe en vra: “Is jy nie een van Jehovah se Getuies nie?” Wat sal jy sê?—
Voordat so iets gebeur, moet jy voorbereid wees om ’n goeie antwoord te gee. Petrus was nie voorbereid nie. Toe druk op hom geplaas is, het hy gelieg! Maar hy was baie jammer oor wat hy gedoen het, en God het hom vergewe.
Ananias, nog ’n vroeë dissipel van Jesus, het ook gelieg. Maar God het hom nie vergewe nie, en ook nie sy vrou, Saffira, nie. Sy en haar man het saam besluit om ’n leuen te vertel. Kom ons kyk waarom God Ananias en Saffira nie vergewe het nie.
Tien dae nadat Jesus die apostels verlaat het en teruggegaan het na God in die hemel, word sowat 3 000 mense in Jerusalem gedoop. Baie het uit verre lande gekom om die Pinksterfees te vier, en noudat hulle dissipels van Jesus geword het, wil hulle langer bly om meer oor hulle nuwe geloof te leer. Daarom gebruik party van Jesus se dissipels hulle eie geld om na hulle om te sien.
Ananias en sy vrou verkoop ’n stuk grond om geld te kry om die pasgedooptes te help. Wanneer Ananias die geld na die apostels bring, sê hy dat dit al die geld is wat hy vir die stuk grond gekry het. Maar dit is nie! Hy hou van die geld vir homself! God maak dit aan Petrus bekend, en daarom sê Petrus vir Ananias: “Jy het nie teenoor mense oneerlik opgetree nie, maar teenoor God.” Daarop val Ananias dood neer! Omtrent drie uur later kom sy vrou in. Sy weet nie wat met haar man gebeur het nie en sy vertel ook ’n leuen en val dood neer.
Wat ’n kragtige les: Dit is belangrik om die waarheid te praat! Ja, ons moet almal hierdie les leer! Maar ons sal almal foute maak, veral wanneer ons jonk is. Is jy nie bly dat Jehovah lief is vir jou en jou sal vergewe soos hy Petrus vergewe het nie?— Maar onthou, ons moet die waarheid praat. En as ons ooit die groot fout maak om te lieg, moet ons God vra, ja, smeek, om ons te vergewe. Dit is sekerlik wat Petrus gedoen het, en hy is vergewe. As ons hard probeer om nie weer te lieg nie, sal God ons ook vergewe!
Lees in jou Bybel
^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.