Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONS LESERS VRA . . .

Waarom laat God toe dat die sterkes die swakkes onderdruk?

Waarom laat God toe dat die sterkes die swakkes onderdruk?

In die Bybelverslag is ’n paar ontstellende gevalle opgeteken waar die sterkes die swakkes onderdruk het. Dink byvoorbeeld aan die geval van Nabot. * Agab, ’n koning van Israel in die tiende eeu VHJ, het sy vrou, Isebel, toegelaat om Nabot en sy seuns te laat doodmaak sodat koning Agab Nabot se wingerd kon kry (1 Konings 21:1-16; 2 Konings 9:26). Waarom het God toegelaat dat mense hulle mag so misbruik?

“God [kan nie] lieg nie.”—Titus 1:2

Kom ons kyk na ’n belangrike rede: God kan nie lieg nie (Titus 1:2). Hoe hou dit verband met goddelose dade van onderdrukking? In die begin het God die mensdom gewaarsku dat opstand teen hom tot ’n wrede werklikheid—die dood—sou lei. Soos God gesê het, teister die dood die mensdom al sedert die opstand in die tuin van Eden. En die eerste mens wat gesterf het, het as gevolg van ’n daad van onderdrukking gesterf—toe Kain sy broer Abel vermoor het.—Genesis 2:16, 17; 4:8.

God se Woord som die mensegeskiedenis sedert daardie tyd soos volg op: “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel” (Prediker 8:9). Was dit werklik die geval? Jehovah het die nasie Israel, sy volk, gewaarsku dat hulle konings onderdrukkend sou wees, wat die volk tot God sou laat uitroep (1 Samuel 8:11-18). Selfs die wyse koning Salomo het die volk swaar belasting opgelê (1 Konings 11:43; 12:3, 4). Goddelose konings, soos Agab, het die volk nog meer onderdruk. Dink hieraan: As God al hierdie dade van onderdrukking verhoed het, sou hy dan nie sy eie woorde in ’n leuen verander het nie?

“Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel.”—Prediker 8:9

Onthou ook dat Satan beweer dat mense God net om selfsugtige redes dien (Job 1:9, 10; 2:4). As God al sy knegte teen alle vorme van oorheersing beskerm, sal dit dan nie Satan se bewering staaf nie? En as God verseker dat niemand enige onderdrukking ondervind nie, sal hy dan nie vir ’n selfs groter leuen verantwoordelik wees nie? As God sulke beskerming voorsien, sal baie dink dat die mens sonder God met welslae oor homself kan regeer. Maar God se Woord sê juis die teenoorgestelde—dat die mens glad nie in staat is om oor homself te regeer nie (Jeremia 10:23). Dit is belangrik dat God se Koninkryk kom; slegs dan sal ongeregtigheid tot ’n einde kom.

Beteken dit dat God niks omtrent onderdrukking doen nie? Nee. Beskou twee dinge wat hy doen: Eerstens, hy lê onderdrukking bloot. Sy Woord lê byvoorbeeld elke aspek van Isebel se sameswering teen Nabot bloot. Die Bybel openbaar ook dat sulke bose dade bevorder word deur ’n magtige heerser wat sy identiteit wil verberg (Johannes 14:30; 2 Korintiërs 11:14). Die Bybel toon dat dit Satan die Duiwel is. Deur goddeloosheid en onderdrukking bloot te lê en te openbaar wat die werklike oorsprong daarvan is, help God ons om self nie goddelose dade te pleeg nie. Sodoende beskerm hy ons ewige toekoms.

Tweedens, God voorsien ’n vaste hoop dat onderdrukking tot ’n einde sal kom. Die feit dat hy Agab en Isebel—sowel as baie ander soos hulle—aan die kaak gestel, veroordeel en gestraf het, gee ons die versekering dat hy sy beloftes sal nakom om alle kwaaddoeners eendag te straf (Psalm 52:1-5). God voorsien ook die betroubare hoop dat hy binnekort die slegte gevolge van goddeloosheid ongedaan sal maak vir dié wat hom liefhet. * Die tyd sal dus aanbreek wanneer die getroue Nabot en sy seuns vir ewig sal lewe op ’n paradysaarde waar daar geen ongeregtigheid sal wees nie.—Psalm 37:34.

^ par. 3 Sien die artikel “Volg hulle geloof na” in hierdie nommer.

^ par. 8 Sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.