VOORBLADONDERWERP | STEL GOD BELANG IN JOU?
God wil jou help
“Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie.”—JOHANNES 6:44.
WAAROM PARTY TWYFEL: Baie mense wat aan God glo, voel ver verwyderd van hom. “Ek het hom net beskou as die God wat alles geskep het”, erken Christina, ’n vrou van Ierland wat elke week kerk toe gegaan het. “Maar ek het hom nie geken nie. Ek het nooit na aan hom gevoel nie.”
WAT GOD SE WOORD LEER: Wanneer ons verlore voel, hou Jehovah aan om ons te probeer help. Jesus het God se besorgdheid oor ons soos volg toegelig: “As ’n sekere man honderd skape het en een van hulle dwaal af, sal hy nie die nege-en-negentig op die berge laat staan en die een wat afdwaal, gaan soek nie?” Wat is die les? “Net so is dit vir my Vader wat in die hemel is, nie wenslik dat een van hierdie kleintjies vergaan nie.”—Matteus 18:12-14.
Elkeen “van hierdie kleintjies” is kosbaar vir God. Hoe ‘gaan soek God die een wat afdwaal’? Volgens die teks wat aan die begin aangehaal is, trek Jehovah mense na hom.
Kyk hoe God die inisiatief geneem het om opregte mense te trek. In die eerste eeu HJ het God die Christendissipel Filippus na ’n Etiopiese amptenaar se wa gestuur om ’n Bybelprofesie wat die amptenaar gelees het, te verduidelik (Handelinge 8:26-39). Later het God die apostel Petrus gestuur na die huis van ’n Romeinse leëroffisier met die naam Kornelius, wat smeekbedes gedoen het en God graag wou aanbid (Handelinge 10:1-48). God het ook die apostel Paulus en sy metgeselle na ’n rivier buite die stad Filippi gestuur. Daar het hulle “’n aanbidder van God” met die naam Lidia ontmoet, en “Jehovah het haar hart wyd oopgemaak om aandag te skenk”.—Handelinge 16:9-15.
In al hierdie gevalle het Jehovah seker gemaak dat diegene wat hom gesoek het, die geleentheid gekry het om hom te leer ken. Wie besoek mense vandag by hulle huise en in openbare plekke om die Bybel se boodskap oor God aan hulle bekend te maak? Baie sal sê: “Jehovah se Getuies.” Vra jou af: ‘Gebruik God hulle dalk om my te probeer help?’ Ons spoor jou aan om tot God te bid vir hulp om gunstig te reageer op sy pogings om jou na hom te trek. *
^ par. 8 Vir meer inligting, kyk na die video Waarom moet jy die Bybel studeer? by www.dan124.com/af.