Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Jairo se oë—Sy manier om God te dien

Jairo se oë—Sy manier om God te dien

Kan jy jou voorstel hoe dit sou wees om geen beheer oor jou liggaam te hê nie, net oor jou oë? My broer Jairo is in so ’n benarde situasie. En tog lei hy ’n sinvolle lewe. Voordat ek verduidelik waarom die lewe vir hom die moeite werd is, wil ek julle graag sy verhaal vertel.

Jairo is gebore met ’n vorm van serebrale verlamming wat spastiese kwadruplegie genoem word. * Gevolglik het hy geen beheer oor sy liggaam nie. Sy brein kan nie duidelike seine na sy spiere stuur nie, en daarom maak sy ledemate spastiese draaibewegings. Soms veroorsaak Jairo se onvoorspelbare rukbewegings dat hy homself beseer. Ander kan ook seerkry as hulle nie versigtig is nie. Ongelukkig moet sy arms en bene dikwels aan sy rolstoel vasgebind word om sulke ongelukke te voorkom.

SY PYNLIKE GROEI TOT VOLWASSENHEID

Jairo se fisiese groei was baie pynlik. Toe hy drie maande oud was, het hy stuipe begin kry wat hom bewusteloos gelaat het. My ma het hom dikwels styf vasgehou en na die hospitaal met hom gejaag omdat sy oortuig was dat hy dood is.

Weens die styfheid en sametrekkings van Jairo se spiere, het sy bene mettertyd misvorm geword. Toe hy 16 was, het sy bekkenbeen uit lit geraak en moes ’n groot operasie op sy bobeen, heup en bekkenbeen gedoen word. Ek onthou nog hoe Jairo elke aand van pyn uitgeroep het terwyl hy herstel het.

Omdat Jairo so ernstig gestremd is, is hy heeltemal afhanklik van ander om hom met daaglikse take te help, soos om te eet, aan te trek en in die bed te klim. Ons ouers help hom gewoonlik hiermee. Hoewel Jairo altyd hulp nodig het, herinner hulle hom gereeld daaraan dat hy nie net van mense afhanklik is om te lewe nie, maar ook van God.

’N MANIER OM TE KOMMUNIKEER

Ons ouers is Jehovah se Getuies, en hulle lees al vandat Jairo ’n baba is, vir hom Bybelverhale. Hulle het geweet dat die lewe sinvoller is as ’n mens ’n verhouding met God het. Jairo was vasgevang in ’n brose liggaam wat die hele tyd spastiese bewegings maak. En tog kon hy ’n helder, vaste hoop vir die toekoms hê. Maar hulle het dikwels gewonder of Jairo Bybelkennis kon verstaan.

Toe Jairo ’n kind was, het my pa hom op ’n dag gevra: “Jairo, sal jy asseblief met my praat?” Toe voeg hy by: “As jy werklik vir my lief is, sal jy!” Terwyl hy hom gesoebat het om ten minste een woord te sê, het Jairo se oë vol trane geskiet. Hy het probeer om sy gevoelens met woorde uit te druk, maar hy kon net keelgeluide maak. My pa het sleg gevoel dat hy hom laat huil het. Maar daardie reaksie het getoon dat Jairo verstaan het wat my pa gesê het. Die probleem was dat hy nie kon praat nie.

Nie lank daarna nie het ons ouers opgemerk dat Jairo sy oë soms vinnig beweeg, blykbaar in ’n poging om sy gedagtes en gevoelens uit te druk. Dit was vir Jairo frustrerend dat mense hom nie altyd kan verstaan nie. Maar toe my ouers geleer het om sy oogseine te ontsyfer en hom gegee het wat hy nodig het, het Jairo van oor tot oor geglimlag. Dit was sy manier om dankie te sê.

’n Spraakterapeut het voorgestel dat ons moontlik beter sou kon kommunikeer as ons al twee hande in die lug hou wanneer ons hom ’n ja-of-nee-vraag vra. Die regterhand beteken ja, en die linkerhand nee. Hy kon toon wat hy wil hê deur na die regte hand te kyk.

’N MYLPAAL IN JAIRO SE LEWE

Jehovah se Getuies hou drie maal per jaar byeenkomste, waar Bybeltoesprake voor groot gehore gehou word. Jairo was altyd opgewonde gedurende die toespraak vir dié wat gedoop sou word. Op ’n dag, toe hy 16 was, het my pa hom gevra: “Jairo, wil jy gedoop word?” Hy het onmiddellik en vasbeslote na my pa se regterhand gekyk, wat getoon het dat dit sy begeerte is. Toe het my pa gevra: “Het jy God in gebed belowe dat jy hom vir ewig sal dien?” Weer eens het Jairo reguit na sy regterhand gekyk. Dit was duidelik dat Jairo sy lewe alreeds aan Jehovah toegewy het.

Ná ’n hele paar Bybelbesprekings was dit ook duidelik dat Jairo verstaan het wat Christelike doop beteken. In 2004 het hy dus die belangrikste vraag beantwoord wat hy nog ooit gevra is: “Het jy jou aan God toegewy om sy wil te doen?” Jairo het hierdie vraag beantwoord deur opwaarts te kyk. Dit was sy voorafgereëlde manier om ja te sê. Hy is dus op 17-jarige ouderdom as een van Jehovah se Getuies gedoop.

OË GERIG OP DIE DINGE VAN GOD

In 2011 het ’n nuwe manier om te kommunikeer, vir Jairo moontlik geword—’n rekenaar wat met sy oë beheer word. Hierdie toestel monitor die beweging van sy iris sodat hy ikone op die skerm kan aktiveer. As hy sy oë knip of na ’n ikoon staar, is dit asof hy op die muis van ’n rekenaar klik. ’n Skerm met piktogramme, prentjiesimbole vir woorde en frases, is geskep om Jairo te help kommunikeer. Wanneer hy sy oë knip terwyl hy na ’n piktogram kyk, skakel die sagteware ’n geskrewe boodskap in ’n elektroniese stem om.

Namate Jairo die Bybel beter verstaan het, het sy begeerte gegroei om ander geestelik te help. Gedurende ons weeklikse gesinsbybelstudie kyk hy dikwels na my en dan na die rekenaar en terug na my. Dit is sy manier om my te herinner dat ek kommentare moet neerskryf wat hy gedurende vraag-en-antwoord-besprekings by ons Christengemeente se vergaderinge kan gee.

By die vergadering vind hy geduldig die regte ikoon op die skerm, en dan word sy elektroniese stem deur almal gehoor. Elke keer wanneer hy die gemeentelede op hierdie manier aanmoedig, glimlag hy breed. Alex, een van Jairo se jong vriende, sê: “Dit beïndruk my altyd wanneer ek Jairo se kommentare oor ’n Bybelonderwerp hoor.”

Jairo gebruik sy rekenaar, wat met sy oë beheer word en sy kommentare in ’n elektroniese stem omskakel, om by die vergaderinge te antwoord en ander van sy oortuigings te vertel

Jairo gebruik ook sy oë om ander van sy oortuigings te vertel. Een manier waarop hy dit doen, is deur op ’n piktogram te klik wat ’n tuin uitbeeld waar diere en mense van alle rasse onder vreedsame toestande saamleef. Wanneer hy dit aktiveer, sê sy rekenaarstem: “Die hoop wat die Bybel bied, is dat die aarde ’n paradys sal wees waar siekte en die dood nie meer sal wees nie, Openbaring 21:4.” As die huisbewoner belangstelling toon, klik hy op nog ’n ikoon wat die rekenaar laat sê: “Wil jy die Bybel saam met my studeer?” Verbasend genoeg het my oupa hierdie aanbod aanvaar. Dit is hartroerend om te sien hoe Jairo, met die hulp van nog ’n Getuie, hom stadig oor die Bybel leer! Wat ’n vreugdevolle geleentheid was dit tog toe hy in Augustus 2014 by die streekbyeenkoms in Madrid gedoop is!

Die onderwysers by Jairo se skool het sy toegewydheid aan God opgemerk. Rosario, een van sy spraakterapeute, het eenkeer erken: “As ek dit ooit sou oorweeg om by ’n godsdiens aan te sluit, sou ek een van Jehovah se Getuies word. Ek het gesien hoe Jairo se geloof hom, ondanks sy moeilike situasie, ’n ware doel in die lewe gegee het.”

Jairo se oë straal van vreugde wanneer ek vir hom die Bybelbelofte lees: “Die kreupele [sal] net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep” (Jesaja 35:6). Hoewel hy soms mismoedig word, is hy gewoonlik opgeruimd. Die enigste rede waarom dit moontlik is, is omdat sy lewe om God en om sy Christenvriende draai. Sy positiewe uitkyk en sterk geloof bewys dat selfs ’n lewe vol uitdagings sinvol kan wees as jy Jehovah dien.

^ par. 5 Serebrale verlamming is ’n algemene term wat gebruik word om breinskade te beskryf wat ’n persoon se beweeglikheid raak. Dit kan ook lei tot stuipe, eetversteurings en spraakgebreke. Spastiese kwadruplegie is die ernstigste vorm van serebrale verlamming; dit kan veroorsaak dat al vier ledemate styftrek en dat die nek verslap.