VOORBLADONDERWERP | IS DIE EINDE NABY?
Baie sal die einde oorleef—Jy kan ook
Die Bybel sê vir ons dat daar tydens die einde vernietiging sal wees: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie . . . Trouens, as daardie dae nie verkort is nie, sou geen vlees gered word nie” (Matteus 24:21, 22). Maar God belowe dat baie mense die einde sal oorleef. Die Bybel sê: “Die wêreld gaan verby . . . , maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.
Wat moet jy doen as jy die vernietiging van hierdie wêreld wil oorleef en ‘vir ewig wil bly’? Moet jy voorraad begin opgaar of ander fisiese voorbereidings begin tref? Nee. Die Bybel spoor ons ten sterkste aan om ander prioriteite te stel. Ons lees: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou” (2 Petrus 3:10-12). Die konteks toon dat “al hierdie dinge” wat tot niet gemaak gaan word, die heersende elemente van hierdie korrupte wêreld insluit, sowel as almal wat hierdie heerskappy eerder as God se heerskappy kies. Dit is duidelik dat ons nie hierdie vernietiging kan oorleef deur voorraad op te gaar nie.
As ons die einde wil oorleef, moet ons getrou wees aan Jehovah God en leer watter soort gedrag en dade hom gelukkig maak (Sefanja 2:3). Ons moenie die meerderheid volg en die duidelike tekens ignoreer dat ons in sulke belangrike tye lewe nie. Ons moet eerder “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah . . . goed in gedagte hou”. Jehovah se Getuies kan jou uit die Bybel wys hoe jy hierdie toekomstige dag kan oorleef.