Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Johannes 3:16 – “Want so lief het God die wêreld gehad”

Johannes 3:16 – “Want so lief het God die wêreld gehad”

“Want God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê.” – Johannes 3:16, Nuwe Wêreld-vertaling.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” – Johannes 3:16, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Johannes 3:16

God is lief vir ons en wil hê dat ons vir ewig moet lewe. Daarom het hy sy Seun, Jesus Christus, na die aarde toe gestuur. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy baie gedoen. Hy het sy volgelinge oor sy God en Vader geleer (1 Petrus 1:3). Hy het ook sy lewe vir die mensdom gegee. Om vir ewig te kan lewe, moet ons geloof in Jesus hê.

Die diepte van God se liefde word uitgedruk in die woorde “hy [het] sy eniggebore Seun gegee”. a Jesus was ’n unieke Seun van God. Hoe so? Net Jesus is direk deur God geskep (Kolossense 1:17). Hy is “die eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). Alle ander dinge, insluitende die ander engele, is deur middel van Jesus geskep. Maar Jehovah b God was bereid om sy geliefde Seun te stuur “om te dien en om sy lewe te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Jesus het ’n pynlike dood gesterf om ons vry te maak van sonde en die dood, wat ons by die eerste man, Adam, oorgeërf het. – Romeine 5:8, 12.

Om geloof in Jesus te beoefen behels meer as om net in hom te glo of te erken wat hy vir ons gedoen het. Ons moet bewys dat ons geloof in God se Seun het deur gehoorsaam te wees aan hom en in sy voetstappe te volg (Matteus 7:24-27; 1 Petrus 2:21). Die Bybel sê: “Die een wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe. Die een wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie.” – Johannes 3:36.

Konteks van Johannes 3:16

Jesus het hierdie woorde gesê terwyl hy met ’n Joodse godsdiensleier met die naam Nikodemus gepraat het (Johannes 3:1, 2). In daardie gesprek het Jesus besonderhede gegee oor die Koninkryk van God c en oor om “weer gebore” te word (Johannes 3:3). Hy het ook voorspel hoe hy sou sterf. “Die Seun van die mens [moet] opgelig word [aan ’n folterpaal gehang word], sodat elkeen wat in hom glo, die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:14, 15). Hy het toe beklemtoon dat dit God se groot liefde vir die mensdom is wat hierdie geleentheid om vir ewig te lewe moontlik gemaak het. Jesus het afgesluit deur te verduidelik dat ons moet wys dat ons geloof het en werke moet doen wat God gelukkig maak as ons die lewe wil hê. – Johannes 3:17-21.

a Die Griekse woord vir “eniggebore” is monogenes wat gedefinieer word as “enigste, . . . die enigste een van sy soort of klas, uniek (in soort)”. – A Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, bl. 658.

b Jehovah is God se persoonlike naam. – Psalm 83:18.

c Die Koninkryk van God, wat ook “die Koninkryk van die hemel” genoem word, is ’n hemelse regering (Matteus 10:7; Openbaring 11:15). God het Christus as die Koning van daardie Koninkryk aangestel. God se Koninkryk sal God se doel vir die aarde vervul (Daniël 2:44; Matteus 6:10). Vir meer besonderhede kyk na die artikel “Wat is die Koninkryk van God?