HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP
Hoekom dit belangrik is dat kinders moet lees – Deel 1: Lees of kyk?
Wanneer dit tyd vir jou kinders is om te ontspan, wat sal hulle verkies om te doen: video’s kyk of lees? Wat sal hulle meer geneig wees om te kies: ’n slimfoon of ’n boek?
Dekades lank al moes lees tweede in die ry staan omdat dit moes kompeteer – eers teen die televisie en toe teen die visuele media wat oral aanlyn beskikbaar is. In haar boek Endangered Minds wat in 1990 gepubliseer is, het Jane Healy geskryf: “Mense sal mettertyd dalk heeltemal ophou om te lees.”
Toe sy daardie woorde geskryf het, het mense dalk gedink dat so iets nooit sal gebeur nie. Maar nou, dekades later, het party onderwysers in lande waar tegnologie baie gebruik word, gesê dat jongmense oor die algemeen nie meer so goed kan lees soos wat dit in die verlede die geval was nie.
In hierdie artikel
Hoekom is dit belangrik dat kinders moet lees?
Lees stimuleer die verbeelding. Byvoorbeeld, wanneer ’n mens ’n storie lees, hoe klink die karakters se stemme? Hoe lyk hulle? Hoe lyk die plek waar hulle is? Die skrywer verduidelik party van die dinge, maar die leser moet sy verbeelding gebruik om die volle prentjie te kry.
“Wanneer ons na flieks of video’s kyk, sien ons iemand anders se verbeelding”, sê ’n ma met die naam Laura. “Al kan dit baie lekker wees om na flieks en video’s te kyk, is daar iets spesiaals omtrent lees – jy vorm ’n prentjie van iemand anders se woorde in jou eie gedagtes.”
Lees bou karakter. Terwyl kinders lees, ontwikkel hulle hulle vermoë om oor probleme te redeneer en dit op te los. Lees dwing kinders ook om te konsentreer. Deur dit te doen, ontwikkel hulle eienskappe soos geduld, selfbeheersing en meegevoel.
Meegevoel? Ja! Party navorsers glo dat die stadige en doelbewuste proses daarvan om ’n storie te lees, kinders help om aan die gevoelens te dink van die karakters oor wie hulle lees. En dit kan kinders dan help om meegevoel te hê vir die mense met wie hulle te doen het.
Lees help ’n mens om diep te dink. Deeglike lesers lees teen hulle eie pas – en wanneer nodig, lees hulle iets selfs weer ’n keer – om te verstaan wat die skrywer sê. Dit help hulle dan om makliker te onthou wat hulle gelees het en om daarby baat te vind. – 1 Timoteus 4:15.
’n Pa met die naam Joseph sê: “Wanneer jy lees, is dit maklik om te dink aan die betekenis van die gedeelte wat jy lees, aan hoe dit verband hou met wat jy weet en aan die lesse wat jy daaruit leer. Video’s en flieks moedig ons nie altyd aan om so diep oor dinge te dink nie.”
Die slotsom: Video’s en ander visuele media het hulle plek, maar as jou kinders nie baie plek in hulle lewe het vir lees nie, is daar dalk belangrike lesse wat hulle nie sal leer nie.
Hoe om kinders aan te moedig om te lees
Begin vroeg. Chloe, die ma van twee seuns, sê: “Ons het vir ons kinders gelees vandat ek swanger was en ons het daarmee aangehou nadat hulle gebore is. Ons is bly ons het nie opgegee nie. Met verloop van tyd het lees – selfs vir ontspanning – deel van hulle roetine geword.”
Bybelbeginsel: “Jy [het] van jongs af die heilige geskrifte geken.” – 2 Timoteus 3:15.
Maak jou huis ’n plek waar dit lekker is om te lees. Maak dit vir jou kinders makliker om te lees deur te sorg dat hulle leesstof maklik in die hande kan kry. “Soek na boeke wat jou kind sal geniet om te lees, en sit die boeke langs sy of haar bed neer”, stel Tamara, ’n ma van vier, voor.
Bybelbeginsel: “Lei ’n kind op in die weg wat hy moet volg. Selfs as hy oud word, sal hy dit nie verlaat nie.” – Spreuke 22:6.
Beperk die gebruik van die Internet. ’n Pa met die naam Daniel stel voor dat die gesin een aand het waar hulle geen elektroniese toestelle gebruik nie. Hy sê: “Selfs al was dit net een aand ’n week, sou ons ’n stil aand hê en nie die TV aansit nie. Dan het ons tyd gemaak om te lees – saam, of elkeen op sy eie.”
Bybelbeginsel: “[Maak] seker . . . van die belangriker dinge.” – Filippense 1:10.
Stel die voorbeeld. Karina, ’n ma van twee meisies, beveel aan: “Help jou kinders om hulle in die storie in te leef deur die manier waarop jy lees en deur opgewonde te wees oor wat jy lees. As jy lief is daarvoor om te lees, sal jou kinders dalk ook lief word daarvoor.”
Bybelbeginsel: “Jy [moet] aanhou om hard te werk aan openbare voorlesing.” – 1 Timoteus 4:13.
Nie alle kinders sal lief wees daarvoor om te lees nie. Maar jou aanmoediging sal jou kinders dalk net die hupstootjie gee wat hulle nodig het. David, ’n pa van twee meisies, het daardie idee ’n bietjie verder gevat. Hy sê: “Ek het gelees wat my dogters gelees het; dit het my ’n idee gegee van die dinge waarin hulle belangstel en vir ons iets gegee om oor te gesels. Ons het ons eie leesgroepie gehad. Dit was lekker!”