JONGMENSE VRA
Moet ek my laat doop? – Deel 1: Wat dit beteken om gedoop te word
Elke jaar laat baie jongmense wat as Jehovah se Getuies grootgemaak word hulle doop. Dink jy daaraan om jou te laat doop? As dit die geval is, moet jy eers verstaan wat toewyding en doop beteken.
Wat is doop?
Die doop waarvan die Bybel praat, beteken dat ’n mens heeltemal onderdompel word in water – nie net dat daar water op jou gesprinkel word nie – en dit simboliseer iets baie belangriks.
Wanneer jy tydens jou doop onder die water gaan, wys jy in die openbaar dat jy nie meer net vir jouself sal lewe nie.
Wanneer jy uit die water opkom, wys dit dat jy ’n nuwe lewe begin wat daarop gefokus is om God se hart bly te maak.
Wanneer jy jou laat doop, erken jy in die openbaar dat Jehovah die gesag het om te besluit wat reg en wat verkeerd is. So wys jy ook vir ander mense dat jy belowe om vrywillig te doen wat Hy van jou vra.
Iets om oor te dink: Hoekom sal jy vir ander mense wil wys dat jy belowe het om ’n lewe van gehoorsaamheid aan Jehovah te lei? Sien 1 Johannes 4:19 en Openbaring 4:11.
Wat is toewyding?
Voordat jy jou laat doop, moet jy jou in ’n private gebed aan Jehovah toewy. Hoe?
In ’n persoonlike gebed sê jy vir Jehovah dat jy belowe om hom vir ewig te dien en dat jy sal doen wat hy van jou vra, maak nie saak wat gebeur of wat ander mense kies om te doen nie.
Wanneer jy jou laat doop, wys jy vir ander dat jy hierdie private toewyding gemaak het. Dit sê vir ander dat jy opgehou het om vir jouself te lewe en nou aan Jehovah behoort. – Matteus 16:24.
Iets om oor te dink: Hoekom word jou lewe beter wanneer jy aan Jehovah behoort? Sien Jesaja 48:17, 18 en Hebreërs 11:6.
Hoekom is doop belangrik?
Jesus het gesê dat doop ’n vereiste is vir sy dissipels (Matteus 28:19, 20). Daarom is doop nog steeds ’n vereiste vir Christene. Om die waarheid te sê, volgens die Bybel is doop nodig om gered te word. – 1 Petrus 3:21.
Maar jou motief moet reg wees – jy moet gedoop word omdat jy Jehovah liefhet en hom waardeer. Jou gesindheid moet soos dié van die psalmis wees, wat geskryf het: “Waarmee sal ek Jehovah terugbetaal vir al die goeie dinge wat hy vir my gedoen het? . . . Ek sal die naam van Jehovah aanroep. Ek sal my geloftes aan Jehovah betaal.” – Psalm 116:12-14.
Iets om oor te dink: Watter goeie dinge het Jehovah vir jou gedoen, en hoe kan jy hom terugbetaal? Sien Deuteronomium 10:12, 13 en Romeine 12:1.