Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is dit regtig so sleg om te vloek?

Is dit regtig so sleg om te vloek?

“Ek hoor so baie vuil taal dat dit my nie meer pla nie. Dis al normaal.”​—Christopher, 17.

“Toe ek jonger was, het ek baie gevloek. Dit was ’n gewoonte wat ek baie maklik aangeleer het en baie moeilik afgeleer het.”​—Rebecca, 19.

 Vasvra

  •   Hoe voel jy wanneer jy ander hoor vloek?

    •  Ek kom dit nie eens agter nie—dit klink vir my normaal.

    •  Dit pla my ’n bietjie—maar ek aanvaar dit net.

    •  Ek vind dit afstootlik—ek kan net nie daaraan gewoond raak nie.

  •   Hoe dikwels vloek jy?

    •  Nooit

    •  Soms

    •  Baie

  •   Hoe belangrik dink jy is die kwessie van vuil taal?

    •  Onbelangrik

    •  Ernstig

 Waarom dit saak maak

 Beskou jy vloektaal as iets ernstigs? ‘Nie regtig nie’, sê jy dalk. ‘Daar is groter probleme in die wêreld om oor bekommerd te wees. En almal vloek tog in elk geval!’ Is dit werklik so?

 Dis dalk moeilik om te glo, maar daar is baie mense wat nie vuil taal gebruik nie. En hulle het goeie redes waarom hulle nie vloek nie—redes waaraan ander nie gedink het nie. Byvoorbeeld:

  •  Vloektaal is meer as net woorde. Jou woorde toon wie jy werklik is. As jy vuil taal gebruik, kan dit toon dat jy nie omgee vir ander se gevoelens nie. Is dit die soort persoon wat jy werklik is?

     Die Bybel sê: “Die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart.”—Matteus 15:18.

    Vuil taal is besoedeling. Waarom sou jy jouself—of ander—daaraan blootstel?

  •  Vloektaal kan ander ’n negatiewe beskouing van jou gee. Die boek Cuss Control sê: “Die manier waarop ons praat, kan bepaal wie ons vriende sal wees, of ons familie en medewerkers ons sal respekteer, hoe goed ons verhoudings met ander sal wees, hoe invloedryk ons sal wees, of ons die werk of bevordering sal kry en hoe vreemdelinge teenoor ons sal optree.” Dit sê ook: “Vra jou af of jou verhoudings dalk selfs beter kan wees as jy nie vloek nie.”

     Die Bybel sê: “Moenie vloek ... nie.”—Efesiërs 4:31, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

  •  Vloektaal laat jou nie so cool klink as wat jy dalk dink nie. Dr. Alex Packer sê in sy boek How Rude!: “Dit is vervelend om na iemand te luister wat heeltyd vloek.” Hy voeg by dat ’n woordeskat vol vloekwoorde “dit nogal moeilik maak om insig, wysheid, begrip of empatie in jou spraak te openbaar. As jou spraak lui, vaag en verbeeldingloos is, sal dit later ook met jou verstand die geval wees.”

     Die Bybel sê: “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie.”—Efesiërs 4:29.

 Wat jy kan doen

  •  Stel ’n doelwit. Probeer om vuil taal binne een maand of minder af te leer. Jy kan jou vordering met behulp van ’n tabel of ’n kalender monitor. Maar om by jou doelwit te bly, sal jy dalk nog maatreëls moet tref. Byvoorbeeld:

  •  Vermy vermaak wat jou brein met vuil taal vul. Die Bybel sê: “Slegte geselskap bederf goeie sedes” (1 Korintiërs 15:33, NAB). “Geselskap” sluit nie net mense in nie, maar ook vermaak—die rolprente waarna jy kyk, die videospeletjies wat jy speel en die musiek waarna jy luister. Kenneth, 17, sê: “Dis maklik om saam te sing as jy van ’n liedjie hou en om die feit dat dit vloekwoorde bevat, heeltemal te ignoreer—net omdat dit ’n lekker ritme het.”

  •  Toon dat jy volwasse is. Party mense gebruik vuil taal omdat hulle dink dat dit hulle volwasse laat klink. Maar die teenoorgestelde is waar. Die Bybel sê dat volwasse mense “se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Hulle verlaag nie hulle standaarde net om ander te “beïndruk” nie.

 Vuil taal besoedel in werklikheid net die verstand (en die omgewing) met ongepaste gedagtes. En daar is reeds te veel daarvan in die wêreld! “Moenie tot die gemors bydra nie”, sê Cuss Control. “Doen jou deel om die omgewing vry te hou van vloektaal. Dit sal jou beter laat voel oor jouself en ander ’n beter beskouing van jou gee.”