JONGMENSE VRA
Is maniere werklik belangrik?
‘Mense maak nie vir my die deur oop nie; waarom moet ek dit vir hulle doen?’
‘Is daar nie belangriker dinge as om te onthou om “asseblief”, “dankie” en “verskoon my” te sê nie?’
‘Ek hoef nie maniere te hê wanneer dit by my broers en susters kom nie. Ons is mos familie.’
Klink enige van hierdie stellings soos iets wat jy sou sê? Indien wel, geniet jy moontlik nie die voordele wat dit inhou om goeie maniere te hê nie!
Wat jy omtrent maniere moet weet
Goeie maniere kan jou lewe in die volgende drie opsigte verbeter:
Jou reputasie. Hoe jy mense behandel, laat ’n indruk, hetsy goed of sleg. As jy goedgemanierd is, sal mense jou waarskynlik as ’n volwasse en verantwoordelike persoon beskou—en hulle sal jou daarvolgens behandel! Maar as jy onbeskof is, sal mense tot die slotsom kom dat jy net in jouself belangstel, en dan sal jy dit dalk moeilik vind om werk te kry en sal jy dalk ook ander geleenthede deur jou vingers laat glip. Soos die Bybel sê: “Die wreedaard stort sy eie liggaam in die skande.”—Spreuke 11:17, voetnoot in NW.
Jou sosiale lewe. Die Bybel sê: “Beklee julle ... met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Dit is beslis waar wanneer dit by vriendskap kom. Mense word aangetrek tot diegene wat goedgemanierd is en hulle goed behandel. Wie wil immers in die geselskap wees van iemand wat onbeskof is of ander aanstoot gee?
Hoe mense jou behandel. “As jy altyd beleefd is”, sê ’n jong vrou met die naam Jennifer, “sal jy dalk mettertyd ’n verbetering sien in hoe selfs die onbeskofste mense jou behandel.” Maar as jy onbeskof is, sal jy moontlik die teenoorgestelde reaksie kry. Die Bybel sê: “Met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle vir julle uitmeet.”—Matteus 7:2.
Die slotsom: Interaksie met ander is deel van ons daaglikse lewe. Hoe jy dit hanteer, kan ’n uitwerking hê op hoe mense jou beskou en jou behandel. Eenvoudig gestel, jou maniere maak werklik saak!
Hoe om te verbeter
Kyk hoe jy vaar wanneer dit by maniere kom. Vra jou vrae af soos: ‘Is ek respekvol wanneer ek met volwassenes praat? Hoe dikwels sê ek “asseblief”, “dankie” en “verskoon my”? Is my aandag op iets anders gerig wanneer ek met ander ’n gesprek voer—lees en stuur ek dalk selfs teksboodskappe? Behandel ek my ouers en my broers en susters met respek, of dink ek dat dit nie nodig is nie, want “hulle is mos familie”?’
Die Bybel sê: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.”—Romeine 12:10.
Stel doelwitte. Skryf drie opsigte neer waarin jy kan verbeter. Byvoorbeeld, die 15-jarige Allison sê: “Ek [moet] eerder meer luister as wat ek praat.” David, 19, sê dat hy sy bes wil doen om nie teksboodskappe te stuur terwyl hy tyd saam met sy familie en vriende deurbring nie. “Dis nie respekvol nie”, sê hy. “Ek sê basies vir hulle dat ek eerder met iemand anders wil gesels as met hulle.” Edward, 17, sê dat hy moet ophou om ander in die rede te val terwyl hulle praat. En Jennifer, wat vroeër aangehaal is, is vasbeslote om beter maniere aan die dag te lê wanneer sy met bejaardes te doen het. “Ek het altyd net vinnig ‘hallo’ gesê en dan ’n rede probeer vind om na my jong vriende toe te gaan”, sê sy. “Maar nou het ek werklik probeer om hulle te leer ken. Dit het my gehelp om baie beter maniere aan die dag te lê!”
Die Bybel sê: “[Moenie] uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.”—Filippense 2:4.
Monitor jou vordering. Kyk ’n maand lank hoe jy vorder wat jou doelwitte ten opsigte van jou spraak of gedrag betref. Vra jou aan die einde van die maand af: ‘Hoe het om goedgemanierd te wees my gehelp om ’n beter mens te wees? In watter opsigte moet ek nog verbeter?’ Stel dan nuwe doelwitte.
Die Bybel sê: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”—Lukas 6:31.