Spring na inhoud

Meer as 165 000 lektuurtrollies

Meer as 165 000 lektuurtrollies

Jehovah se Getuies, wat welbekend is vir hulle huis-tot-huis-bediening, word dikwels gesien waar hulle langs aantreklike lektuurtrollies op openbare plekke staan.

Hulle het onlangs meer klem begin lê op hierdie vorm van die predikingswerk. In November 2011 het ’n groep Getuies in die stad New York die Bybel se boodskap aan mense begin bekend maak deur uitstaltafels en lektuurtrollies te gebruik. Hierdie inisiatief was so suksesvol dat dit vinnig na ander stede versprei het.

Vanaf Maart 2015 is 165 390 trollies aan gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld voorsien. Duisende staanders, tafels en stalletjies is aangeskaf.

Die huis-tot-huis-bediening is nog steeds die vernaamste manier waarop die Getuies Bybelwaarheid bekend maak. Maar lektuurtrollies is baie doeltreffend. Kyk na die volgende voorbeelde.

In Peru het ’n man met die naam Raul die Getuies by een van die trollies genader en gesê: “Waar was julle? Ek soek al drie jaar lank na die Getuies! Toe ek julle trollie sien, het ek God gedank.”

Hoewel Jehovah se Getuies sy buurt dikwels besoek het, was Raul nooit by die huis gedurende die dag of oor naweke nie. Hy het verduidelik dat hy die Bybel voorheen met die Getuies gestudeer het en dat hy met sy studie wou voortgaan. Reëlings is getref sodat hy dit kon doen.

Een jong egpaar wat ’n trollie in Bulgarye genader het, het die boek Die geheim van gesinsgeluk geneem. Die volgende week het hulle teruggekeer en nog twee boeke geneem: My boek met Bybelverhale en Leer by die Groot Onderwyser. Die Getuie wat by die trollie was, het hulle gevra hoeveel kinders hulle het. Hulle het gesê: “Ons het nog nie kinders nie, maar wanneer ons wel kinders kry, wil ons hulle van God leer. Hierdie boeke is presies wat ons nodig het.”

’n Man wat ’n militêre uniform aangehad het, het Getuies langs ’n lektuurtrollie in die Oekraïne genader. Hy het gesê: “Meisies, sê vir my wanneer Armageddon kom.” Die man was direk betrokke by die onlangse konflik in die Oekraïne. Wêreldgebeure het hom oortuig dat Armageddon binnekort sal plaasvind, en hy het gewonder waarom God nie vroeër optree nie. Die verkondigers het uit die Bybel verduidelik dat God ’n goeie rede het waarom hy nog nie in menseaangeleenthede ingegryp het nie en dat hy binnekort alle goddeloosheid sal vernietig. Die man het Die Wagtoring en die Ontwaak! sowel as die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? geneem.

In Masedonië het ’n jong man vir die Getuies by ’n trollie gesê dat hy vertroud is met hulle tydskrifte, maar dat hy nou graag die boek Wat leer die Bybel werklik? wil hê. Hy het gesê dat hy reguit na die openbare biblioteek sal gaan om dit te gaan lees.

Ongeveer twee uur later het die man teruggekeer nadat hy die eerste 79 bladsye van die boek gelees het. “Hierdie boek verander lewens!” het hy gesê. “Ek besef dat baie van die dinge wat ek geglo het, verkeerd is. Alles wat in die boek verduidelik word, klink vir my logies. Dit verander my beskouing van die lewe heeltemal!”