Spring na inhoud

Wanneer ’n ramp plaasvind, beweeg liefde ons tot dade

Wanneer ’n ramp plaasvind, beweeg liefde ons tot dade

In tye van nood verleen Jehovah se Getuies bystand aan medegelowiges en ander. Hulle doen dit uit liefde, ’n identifiserende kenmerk van ware Christene.—Johannes 13:35.

Hier volg ’n gedeeltelike lys van die hulp wat oor ’n tydperk van 12 maande tot die middel van 2012 verskaf is. Die lys sluit nie die geestelike en emosionele sorg in wat altyd met ons hulp gepaardgaan nie.

Noodlenigingskomitees wat deur ons takkantore aangestel word, het baie van hierdie hulp georganiseer. Verder het plaaslike gemeentes gereeld hiermee gehelp.

Japan

Japan: Op 11 Maart 2011 het ’n aardbewing en die gevolglike tsoenami die noorde van Japan getref en die lewens van altesaam honderdduisende mense geraak. Jehovah se Getuies regoor die wêreld het geld, vaardighede en hulpmiddele ruimhartig bygedra om met die noodleniging te help. Kyk na ons video (in Engels) oor noodlenigingspogings ná die aardbewing in Japan.

Brasilië: Oorstromings sowel as grond- en modderstortings het die dood van honderde mense veroorsaak. Jehovah se Getuies het 42 ton onbederfbare kos, 20 000 bottels water, 10 ton klere en 5 ton skoonmaakmiddels asook medisyne en ander artikels na die rampgebied gestuur.

Kongo (Brazzaville): Toe ’n ammunisieopslagplek ontplof het, is die huise van 4 van Jehovah se Getuies vernietig en die huise van 28 ander Getuies is beskadig. Kos en klere is gegee aan dié wat hierdeur geraak is, en plaaslike Getuies het gesinne ingeneem wat dakloos gelaat is.

Kongo (Kinshasa): Medisyne is voorsien vir slagoffers van cholera. Klere is geskenk aan diegene wat hulle besittings verloor het weens oorstromings wat deur stortreën veroorsaak is. Mediese hulp, saad om te plant en tonne klere is aan diegene in vlugtelingkampe gegee.

Venezuela: Swaar reëns het oorstromings en modderstortings veroorsaak. Noodlenigingskomitees het 288 Getuies gehelp wat hierdeur geraak is. Meer as 50 nuwe huise is gebou. Verder help noodlenigingskomitees diegene wie se huise deur die stygende watervlak van die Valenciameer bedreig word.

Die Filippyne

Die Filippyne: Tifone het oorstromings in ’n deel van die land veroorsaak. Die takkantoor het kos en klere aan die slagoffers gestuur, en plaaslike Getuies het met die opruimingswerk gehelp nadat die water weggeloop het.

Kanada: Ná ’n groot bosbrand in Alberta het die Slave Lake-gemeente ’n aansienlike bydrae van Getuies in die omgewing ontvang om met die opruimingswerk te help. Omdat die gemeente nie al die geld nodig gehad het nie, het hulle meer as die helfte daarvan geskenk om rampslagoffers in ander wêrelddele te help.

Die Ivoorkus: Voor, gedurende en ná ’n oorlog in die land, is goedere, verblyf en mediese sorg voorsien aan diegene wat dit nodig gehad het.

Fidji: Weens groot oorstromings ná swaar reëns het die meeste van die 192 Getuiegesinne in die rampgebied hulle plase verloor, hulle bron van kos en inkomste. Hulle is van kos voorsien.

Ghana: Slagoffers van oorstromings in die oostelike deel van die land is van kos, saad en nuwe behuising voorsien.

Verenigde State: Tornado’s het 66 huise van Getuies in drie state beskadig, en 12 huise van Getuies is vernietig. Hoewel die meeste huiseienaars versekering gehad het, is geld beskikbaar gestel om te help met die herstelwerk.

Argentinië: Gemeentes van Jehovah se Getuies het diegene in die suide van die land gehelp wie se huise deur vulkaniese as beskadig is.

Mosambiek: Kos is voorsien aan meer as 1 000 mense wat weens droogte gely het.

Nigerië: Finansiële hulp is gegee aan 24 Getuies wat in ’n ernstige busongeluk beseer is. Hulp is ook voorsien aan baie mense in die noordelike deel van die land wat haweloos gelaat is weens etniese godsdienskonflikte.

Benin: Medisyne, klere, muskietnette, vars water en huisvesting is voorsien vir die slagoffers van groot oorstromings.

Die Dominikaanse Republiek

Dominikaanse Republiek: Ná orkaan Irene het plaaslike gemeentes huise help herstel en materiële hulp verleen.

Etiopië: In twee gebiede wat deur droogte geteister is en in een gebied waar daar oorstromings was, is fondse beskikbaar gestel om te voorsien in die behoeftes van diegene in die rampgebiede.

Kenia: Noodlenigingsfondse is voorsien vir slagoffers van droogte.

Malawi: Hulp is verleen aan diegene wat in die Dzaleka-vlugtelingkamp woon.

Nepal: ’n Grondstorting het die huis van ’n Getuie erg beskadig. Sy is van ’n tydelike huis voorsien, en die plaaslike gemeente het hulp gebied.

Papoea-Nieu-Guinee: Brandstigters het agt huise afgebrand wat aan Getuies behoort. Reëlings is getref om dit te herbou.

Roemenië: Sommige Getuies het hulle huise weens oorstromings verloor. Hulp is verleen om dit te help herbou.

Mali: Fondse is van naburige Senegal gegee aan sommige wat nie kos gehad het nie weens ’n slegte oes wat deur droogte veroorsaak is.

Sierra Leone: Getuiedokters uit Frankryk het mediese hulp aan Jehovah se Getuies gegee wat in gebiede woon wat voorheen deur oorlog geteister is.

Thailand: Rampspoedige oorstromings het groot skade in talle provinsies aangerig. Noodlenigingspanne het 100 huise en ses Koninkryksale herstel en skoongemaak.

Tsjeggiese Republiek: Nadat oorstromings etlike huise in die Tsjeggiese Republiek beskadig het, het Getuies in die nabygeleë Slowakye met noodlenigingspogings gehelp.

Sri Lanka: Die grootste deel van die noodlenigingswerk ná ’n tsoenami is voltooi.

Soedan: Kos, klere, skoene en plastiekseile is gestuur aan Jehovah se Getuies wat weens gevegte ontwortel is.

Tanzanië: Gedurende swaar oorstromings het 14 gesinne hulle besittings verloor. Die gemeentes in die gebied het klere en huishoudelike artikels geskenk. Een huis is herbou.

Zimbabwe: Droogte het hongersnood in een deel van die land veroorsaak. Kos en geld is voorsien aan diegene wat hierdeur geraak is.

Burundi: Noodleniging, insluitende mediese sorg, word aan vlugtelinge voorsien.