Hulle het aanhou preek gedurende die pandemie
Gedurende die onlangse COVID-19-pandemie het ons broers en susters die manier aangepas waarop hulle die Bybel se vertroostende boodskap met ander deel. Eerder as om openbare getuieniswerk te doen of om na mense se huise te gaan, het hulle meeste van die tyd hulle boodskap oor die telefoon of deur middel van briewe met ander gedeel. a Baie mense het hierdie pogings waardeer, en Jehovah se seëninge kan duidelik gesien word (Spreuke 16:3, 4). Kyk na ’n paar ondervindinge op ’n eiland.
Voor die pandemie het Helen ’n jong vrou gereeld besoek en aangebied om die Bybel met haar te studeer. Die vrou het altyd nee gesê. Maar die dag voordat ’n COVID-19-inperking begin het, het Helen vir haar ’n Bybel en die boek Wat kan die Bybel ons leer? gegee. Gedurende die inperking het Helen weer aangebied om die Bybel met die jong vrou te studeer en verduidelik dat die studie oor die telefoon gehou moes word. Hierdie keer het die jong vrou die studie aanvaar. Sy het die besprekings baie geniet en het kort daarna vir Helen gevra om elke dag met haar te studeer! Die vrou het ook begin om gereeld die Christelike vergaderinge oor die foon by te woon. Sy pas nie net Bybelleringe in haar lewe toe nie, maar sy deel ook die dinge wat sy leer met ander.
As deel van hulle persoonlike gebied het Getuies in een gemeente briewe geskryf vir die polisie in die gemeenskap om dankie te sê vir hulle waardevolle diens. Die polisie was verbaas oor die briewe. Een beampte het vir Jefferson, ’n ouerman in die gemeente, gesê: “Ek het gedink dat Jehovah se Getuies teen die polisie was.” Jefferson het verduidelik dat dit nie waar is nie. Die polisie het die positiwiteit van die briewe so baie waardeer dat hulle dit by die ingang van die polisiestasie opgesit het. ’n Ander beampte het gesê: “Dit kan ander dalk ook help om ’n positiewe gesindheid teenoor ons te hê.”
Edna en Ednalyn is albei gewone pioniers. b Omdat hulle nie toegang tot die internet in hulle huis het nie, kon hulle nie die vergaderinge deur videoverbinding bywoon nie. So hulle het hulle buurvrou wat nie ’n Getuie is nie, gebel en haar gevra of hulle haar internet kan gebruik. Hulle het ook aangebied om ’n bydrae te maak vir die koste van die internet. Die vrou het hulle vriendelik toegelaat om haar internet verniet te gebruik. Toe Edna en Ednalyn haar uitgenooi het om die vergaderinge saam met hulle te kyk, het sy ingestem. Nou studeer die buurvrou, een van haar kinders en twee kleinkinders die Bybel met die Getuies, en hulle woon gereeld die Christelike vergaderinge by.
Plaaslike broers en susters het hulle bure, werksmaats en ander genooi na ’n openbare toespraak wat oor videoverbinding gegee sou word. Ellaine, wat by ’n hospitaal in die area werk, was aan die begin huiwerig om haar werksmaats te nooi. Sy het gedink dat party dokters dalk negatiewe idees oor die Getuies gehad het. Maar sy het nog steeds vir die dokters by die hospitaal boodskappe gestuur om hulle vriendelik uit te nooi. Ellaine het veral gehuiwer om twee spesifieke dokters uit te nooi – ’n getroude paartjie. Maar nadat sy mooi daaroor gedink en gebid het, het sy vir hulle ’n uitnodiging gestuur. Die vrou het ’n boodskap teruggestuur en gevra: “So wil jy hê ek moet een van Jehovah se Getuies word?” Ellaine het gesê dat enige iemand die vergadering kan bywoon, nie net Jehovah se Getuies nie. Die volgende dag was Ellaine verbaas toe die paartjie vroeg by die vergadering ingeskakel het! Sy sê: “Voordat die vergadering verby was, het ek ’n boodskap van die vrou gekry wat sê: ‘Dit was die eerste keer wat ek ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon het. Dit was goed. Ek het dit geniet. Dankie dat jy my genooi het.’”
Ellaine het 20 dokters na die vergadering genooi en was opgewonde toe sy uitvind dat 16 van hulle die vergadering bygewoon het. Sy het die apostel Paulus aangehaal deur te sê: “Ek is bly ek het ‘die moed bymekaargeskraap’ om ‘die goeie nuus van God’ met my werksmaats te deel.” – 1 Tessalonisense 2:2.
Die pandemie was vir almal moeilik. Maar ons broers en susters op hierdie eiland en op ander plekke kon hulle vreugde en ’n positiewe gesindheid behou deur te doen wat hulle kan om ander te vertroos en te help. – Handelinge 20:35.