20 APRIL 2022
BELGIË
Europese Hof van Menseregte beslis ten gunste van Jehovah se Getuies in België oor belasting
Al die regters van die Europese Hof van Menseregte (EHMR) het saamgestem dat die Belgiese regering onregverdig was toe hulle besluit het om belasting op die eiendom van nege gemeentes van Jehovah se Getuies te vra. Die uitspraak in die saak Christian Assembly of Jehovah’s Witnesses and Others v. Belgium, wat op 5 April 2022 gepubliseer is, kan ons godsdiensvryheid nie net in België nie, maar ook in ander Europese lande beskerm.
Tot en met 2018 het alle godsdienste in die Brusselse Hoofstedelike Gewes belastingvrystelling gekry op hulle plekke van aanbidding. Daardie jaar het hierdie streek die belastingwetgewing aangepas sodat net ses “erkende godsdienste” kon baat vind by hierdie vrystelling. Omdat hierdie wet verander het, sou Jehovah se Getuies baie belasting op Koninkryksaaleiendomme in Brussel moes betaal. Dit sou ’n jaarlikse bedrag van amper 45 000 euro (amper R844 000) wees.
Die EHMR het beslis dat die Brusselse Hoofstedelike Gewes teen Jehovah se Getuies gediskrimineer het. Hulle het ook die Europese Konvensie oor Menseregte geskend deur die belastingvrystelling tot die Staat se ses “erkende godsdienste” te beperk.
In die beslissing het die EHMR ook genoem dat die Belgiese regering gelieg het toe hulle gesê het dat Jehovah se Getuies aansoek kon doen om deur die Staat erken te word. Die EHMR het gesê dat in België net die Minister van Justisie die mag het om ’n prosedure te begin om staatserkenning aan ’n godsdiens te gee. En die besluit om hierdie erkenning te gee of nie, word eiemagtig deur die regering gemaak.
In hulle amptelike beslissing het die EHMR gesê dat die proses om staatserkenning in België te kry, eiemagtig is. Dit het ook gesê dat dit nie redelik is om te verwag dat godsdiensgroepe vir erkenning aansoek moet doen sodat hulle vrystelling van eiendomsbelasting kan kry sonder dat daar ’n waarborg is dat hulle regverdig behandel sal word nie. Die Hof het eerder vir België gesê om “neutraal en onpartydig” te wees wanneer dit met godsdiensgroepe soos Jehovah se Getuies te doen het.
Die EHMR se beslissing beklemtoon dat staatsowerhede nie kan besluit of sekere godsdiensoortuigings opreg is en hoe mense hulle aanbidding moet beoefen nie. Dit sal ook help keer dat ander Europese nasies belastingwette maak wat teen ons organisasie kan diskrimineer.
Ons dank Jehovah vir al die regsoorwinnings wat ons help om ons begeerte om sy naam te verheerlik, te vervul. – Openbaring 15:4.