15 OKTOBER 2024
BRASILIË
Federale Hooggeregshof van Brasilië handhaaf ’n pasiënt se reg om mediese behandeling te kies
Hof beslis eenparig in twee sake in verband met Jehovah se Getuies
Op 25 September 2024 het die Federale Hooggeregshof van Brasilië ’n belangrike beslissing gelewer wat die regte van volwasse pasiënte handhaaf om bloedoortappings te weier en om mediese behandeling te kies wat nie die gebruik van bloed insluit nie. Die Hof het ook beslis dat die Departement van Gesondheid seker moet maak dat pasiënte wat bloedoortappings vir persoonlike of godsdiensredes weier, toegang het tot mediese sorg wat nie bloed insluit nie.
Hierdie beslissing hou verband met die sake van twee Getuies van Jehovah in Brasilië. In 2018 het suster Malvina Silva geweier om ’n vorm te teken wat haar dokters toestemming sou gee om haar bloedoortappings gedurende haar hartoperasie te gee. As gevolg hiervan het die hospitaal haar operasie gekanselleer. Dit het amper twee jaar gevat vir Malvina om uiteindelik behandeling te kry wat haar persoonlike oortuigings gerespekteer het.
In 2014 moes broer Heli de Souza ’n operasie ondergaan. Maar die plaaslike hospitaal het nie die nodige toerusting gehad om die operasie sonder ’n bloedoortapping te doen nie. Die regering het Heli se versoek afgekeur om na ’n ander hospitaal oorgeplaas te word wat bereid was om die operasie te doen en sy oortuigings te respekteer. Heli wag nog steeds vir sy operasie. Baie Getuies van Jehovah in Brasilië het soortgelyke uitdagings gehad, en dit sluit in dat party teen hulle sin bloedoortappings gekry het.
Toe die president van die Hof, regter Luís Roberto Barroso, die beslissing gelewer het, het hy gesê: “Die reg om ’n bloedoortapping op grond van godsdiensredes te weier, is gebaseer op die grondwetlike beginsels van menswaardigheid en godsdiensvryheid. Daarom, wanneer dit kom by die reg tot lewe en gesondheid, het [Jehovah se Getuies] die reg tot alternatiewe prosedures [en] die reg om mediese prosedures wat bloedoortappings insluit, te weier gebaseer op hulle reg om hulle eie besluite te maak.”
Hierdie jongste beslissing vereis dat howe regoor Brasilië ’n pasiënt se reg moet respekteer om hulle eie besluite te maak wanneer dit kom by mediese behandeling. Hierdie beslissing is soortgelyk aan beslissings deur Hooggeregshowe in ander lande, insluitende Australië, Japan, Kanada, Suid-Afrika en die Verenigde State. Hierdie beslissing stem ook ooreen met die beslissing van 17 September 2024 deur die Groot Kamer van die Europese Hof van Menseregte. Dit verplig 46 Europese lande om ’n pasiënt se reg te respekteer om sy eie mediese behandeling te kies.
Ons is dankbaar dat die Federale Hooggeregshof in Brasilië ’n beslissing gelewer het wat die persoonlike oortuigings van al sy burgers respekteer, sowel as hulle reg om besluite oor mediese behandeling te maak.