30 JULIE 2024
JAPAN
Getuies van sewe lande neem deel aan spesiale predikingskampanje in Osaka en Tokyo, Japan
Vanaf 13 Mei tot 2 Junie 2024 het duisende Getuies van Jehovah van Japan aan ’n spesiale predikingskampanje in die stede Osaka en Tokyo, Japan, deelgeneem. En omtrent nog 350 Getuies van Australië, Kanada, Frankryk, Duitsland, Nieu-Seeland, Suid- Korea en die Verenigde State is genooi om die kampanje te ondersteun.
Meer as 15 miljoen mense bly in Tokyo en Osaka. Plaaslike verkondigers het saam met besoekende broers en susters aan verskillende vorme van die openbare bediening deelgeneem. Hulle het baie goeie gesprekke gehad en kon ’n hele paar Bybelstudies begin.
Terwyl een van ons susters by ’n lektuurtrollie was, het sy gebid om met iemand te praat wat graag ’n Bybelstudie wou hê. Kort daarna het ’n man na die lektuurtrollie gekom en gesê dat hy meer oor die Bybel wil leer. Aangesien hy hoofsaaklik Chinees praat, het die suster gereël dat ’n plaaslike broer wat Chinees praat, hom besoek. Die man het ’n gemeentelike vergadering bygewoon net twee dae ná die eerste gesprek.
Terwyl ’n suster aan die deur-tot-deur-bediening deelgeneem het, het sy met ’n vrou gepraat wat ingestem het om na die video Waarom moet jy die Bybel studeer? te kyk. Nadat sy dit gekyk het, het die vrou gesê: “Ek het al oor dieselfde vrae gewonder wat in hierdie video genoem word!” Sy het gretig ’n Bybelstudie aanvaar en die volgende gemeentelike vergadering saam met ons suster bygewoon.
Die kampanje het ook ’n wonderlike geleentheid gegee vir dié wat daaraan deelgeneem het om die warm liefde van ons internasionale broederskap te geniet. Aika, ’n 20-jarige suster van Tatsuno, Japan, het gesê: “Dit was ’n onvergeetlike ondervinding. Ek is so dankbaar dat Jehovah my toegelaat het om aan die kampanje deel te neem.” Akihiro, ’n plaaslike ouerman, het bygevoeg: “Ons was baie aangemoedig terwyl ons saam met ons broers en susters van ander lande gepreek het. Dit het ons bediening nog lekkerder gemaak.”
Ons is dankbaar vir die groot aantal plaaslike en internasionale vrywilligers wat ‘hulle gewillig aangebied’ het vir hierdie spesiale kampanje en “Jehovah geloof [het] met ’n groot gejuig”. – Psalm 110:3; Esra 3:11.