Spring na inhoud

KIRGISTAN

Oorsig van Kirgistan

Oorsig van Kirgistan

Jehovah se Getuies is al sedert 1956 in Kirgistan en het in 1998 wetlike erkenning verkry. Hoewel daar in die verlede ernstige skendings van hulle godsdiensvryheid was, het die staat hulle regte in onlangse tye al hoe meer begin beskerm.

In November 2013 het die Konstitusionele Kamer van die Hooggeregshof eenparig beslis dat Kirgistan se wet op alternatiewe diens ongrondwetlik is en die regering aangesê om dit te wysig. Kirgistan se howe het die besluit van die Konstitusionele Kamer uitgevoer, en sedert die begin van 2014 word Getuies nie meer vervolg omdat hulle weier om militêre diens te doen nie. Op 29 Junie 2015 het Kirgistan die wet op militêre diens gewysig sodat gewetensbeswaardes alternatiewe burgerlike diens kan doen wat nie onder beheer van die weermag is nie.

In September 2014 het die Konstitusionele Kamer van die Hooggeregshof ten gunste van Jehovah se Getuies en godsdiensvryheid beslis deur gedeeltes van die wet op godsdiens van 2008 ongrondwetlik te verklaar. Die Staatskomitee oor Godsdienssake het egter die Hof se besluit verontagsaam en geweier om die Getuies se plaaslike godsdiensorganisasies in die suidelike dele van die land te registreer. Omdat die Getuies nie daar geregistreer is nie, word hulle bedrywighede deur party owerhede as onwettig beskou. Maar as Getuies met amptenare vergader om misverstande op te klaar, word hulle gewoonlik toegelaat om vryelik vir aanbidding bymekaar te kom en met hulle bure oor hulle oortuigings te praat. Die Getuies hoop dat die regering die Konstitusionele Kamer se beslissing ten volle sal implementeer en hulle plaaslike godsdiensorganisasies in die suide van Kirgistan sal registreer.